Category: Storie

Anthonie span die seile

Dit was Anthonie Botha se droom – seil, die see en die ver, oop horison wat so onweerstaanbaar wink. Sir Robin Knox-Johnston se boeke en inspirerende storie van sy alleenvaart om die aardbol in 1969 het bygedra om Anthonie te inspireer om dit ook te doen. En hy het, skryf ElsaCatherien Winckler.

Die Clipper Round the World Yacht Race vind elke tweede jaar plaas. Amateur bemanning betaal om aan een of meer bene van die resies deel te neem. Elf identiese seiljagte van Clipper Ventures neem deel en professionele skippers en ander gekwalifiseerde bemanningslede lei elke span op wat aan die tien maande-lange wedvaart gaan deelneem. Die wedvaart samel ook geld in vir die Verenigde Nasies se kinderfonds, UNICEF.

Anthonie – mediese dokter op Ermelo vir die afgelope 40 jaar –  se avontuur was ‘n gesinservaring. Sy vrou, Lizélle en hulle gesin het die droom van die begin af met geesdrif ondersteun en almal het intens in die logistiek en omvang van die reis belang gestel. Anthonie moes voor die reis drie keer Engeland toe gaan vir voorbereiding en opleiding.

Maar Lizélle was op die wal toe die eerste wegspringskoot op 1 September 2019 by South End, Engeland, gedawer het. Sy het die Unicef, die seiljag waarop Anthonie was, ingewag op die hawe in Punta del Este in Uruguay. Die hele gesin het hulle weer weggewuif met hul vertrek uit die Kaapstadse hawe op die volgende been na Fremantle in Australië.

Anthonie, seeman op 18 in die Vloot in Simonstad, sê 50 jaar later oor die seiljagvaart tussen die kontinente deur, die hele ervaring was een groot hoogtepunt. “Net na ons wegspring vanaf South End het ons die Baai van Biskaje se berugte 40 tot 60 knope wind van agter ervaar. Al 24 van ons moes daardie nag agter op die boot sit sodat ons gewig die boot kon stabiliseer en meer beheerbaar maak. Ons het letterlik aan mekaar vasgeklou, die spoedmeter dopgehou, gejuig en geskree as die boot se spoed met tye 35 knope was. Dit was ‘n onvergeetlike nag!”

Anthonie vertel die boot is voor die wedvaart nuut uitgerus met toue, seile en noodtoerusting wat deurlopend en veral in elke hawe geïnspekteer is. Noodonderhoud aan die meganiese komponente soos die dieselenjin, kragopwekker en watermaker is op die boot tydens die reis gedoen en groter herstelwerk is by hawens gedoen. Die bemanning  moes dikwels met ‘n naaimasjien geskeurde seile aanboord regmaak.

 

 

“Ons was in twee spanne verdeel wat mekaar bedags elke ses ure afgelos het en snags elke vier uur. Almal het gehelp met navigasie, met die stuur van die boot en met die seile. Ons het ook kosgemaak, toilette geskrop, boot skoongemaak, genavigeer, veiligheidstoerusting nagegaan en noodsaaklike onderhoud gedoen.

Life at 45 degrees was wel ‘n uitdaging. Die boot het meestal teen 45 grade oorgehel as die wind sterk gewaai het. Om onder in die boot te beweeg, kos te maak, aan en uit te trek en op jou bed te klim, het dikwels akrobatiese vernuf geverg.

Vir baie bemanningslede was die onverwagte windstorms (“squals”) op die oop see vreesaanjaend. “Swart wolke pak saam, kom dreigend nader en dit lyk asof ‘n groot,  onsigbare hand die water optel en laat val. Dan moet ons die seile baie vinnig stryk en die boot voorberei word vir stormsterk wind, donderweer, weerlig, vlae reën en hael. So ‘n windstorm duur net ‘n kort rukkie, dan moet ons  spring om die seile weer te span en resies te jaag.”

As mediese dokter was Anthonie  verantwoordelik vir die hantering van noodgevalle en siektes volgens riglyne van Praxes, ‘n Kanadese telemediese diensverskaffer  wat 24/7 beskikbaar was vir mediese hulp en raad. “Benewens kleiner beserings soos snye, kneusings en gebreekte ribbes was ons enigste ernstige ongeval ‘n bemanningslid wat dringend ‘n blindedermoperasie moes kry. Ons was al twee weke van Kaapstad af op pad Australië toe en moes omdraai Durban toe. Dit het ons tien dae laat gemaak in Fremantle, Australië.”

Op die drie bene van die wedvaart waaraan hy deelgeneem het, het Anthonie ‘n hegte vriendskap gesmee met drie  ander bemanningslede, almal bo 60 – Mike en Lindsay uit Engeland en Mario uit Colombië. “Ons het later vir John, ook van Engeland en net 58 jaar oud, as erelid van die ‘bende’ toegelaat.”

Lizélle sê vir hulle as gesin en famiie- en vriendekring, was dit ‘n weergalose ervaring. Almal was meegevoer en het die vordering van veral die Unicef, met opwinding gevolg. Selfs die kleindogters kon elke dag sien waar trek Oupa nou.

Die Covid-19 pandemie het die Clipper Seiljagresies van 2019/20 in Subic Bay in die Filippyne ingehaal. Gelukkig was Anthonie se drie bene afgehandel en die herinneringe en ervaring vir altyd syne.

Deur ElsaCatherien Winckler

Gepubliseer in Plus 50

 

Hierdie artikel het onlangs in die Plus 50 verskyn. Soos dit is met tydskrifte, is die plek beperk. Omdat di took in die grendeltyd op die rake was, was dit moeilik om in die hande te kry. Hier is dus nog fotos om hierdie uitsonderlike ervaring in beeld vir ons toeganklik te maak.
Geniet en droom en doen ook sommer…

Dankie Anthonie en Lizélle!

 


Die Dammetjie

‘n Reisverhaal

Ons moes Ermelo toe. Ná Windhoek, Pretoria en Hartebeestfontein, moes ons Ermelo toe. Dit was hartjie-van-die-winter-yskoud, doodgeryp … diep Hoëveld.

In ons kar, ’n rooi Peugeot 504, was ons twee, ons drie voorskoolse seuntjies en Marion, ons hond. Op pad na ’n nuwe lewe … werk, dorp, mense, plek. Op die Hoëveld, waar dit wyd en oop is en ’n mens ver kan sien … of hoe lui Toon van den Heever se bekende woorde nou weer?

Dit was met die eerste rit dat die dammetjie my aandag getrek het. Rond met ’n hoërige wal aan die onderkant. ’n Ou dammetjie, met wintermos wat aan die wal klou, ’n ingeleefde stukkie waterwêreld daarbinne. Nie vandag se dammetjie nie. Verweer, deurleef, ’n dammetjie met jare se lê agter hom, baie spore …

So het ons, aanvanklik moeilik, maar later wel, nes geskrop op die koel en oop Hoëveld. Maar ons het gery, stad toe en Noord-Transvaal toe, lughawe toe, Middelburg en Witbank toe en met vakansies Namibië toe … Altyd op die pad langs die dammetjie verby.

Moenie dink dit was die enigste dammetjie op die pad nie. Nee! Daar is baie damme : sulke mensgemaaktes met reguit walle met die water opgedam aan die een kant; party sien jy van die water se kant, ander sien jy van die walkant. Daar is ronde sementdamme met ’n krip naby en ’n windpomp … soms sien jy die watertjie wat so saam met die draai van die windpomp spoeg-spoeg in die krip. Daar is ou damme waarvan die walle gebreek is en splinternuwe, oopgevlekte grond met nuwe walle waar die landhere besluit het om nóg water op te vang vir die groeiende kuddes. Hier en daar is daar ’n watertjie wat sommer self begin staan het in ’n laagtetjie in die veld. Maar dié word sommer gou droog.

Dan is daar nog panne ook. Groot en rond, maar nie koeëlrond nie; dié is immers deur die liewe Heer gemaak. Groot en rond en in natuurlike laagtes met riet of daarsonder. Die Hoëveld het baie water… party panne het vars water met plante en voëls, ander lê sommer net so – sonder dier of voël of riet …

So ry ons keer op keer deur die seisoene die pad by die dammetjie verby. In die reënseisoen is hy vol en beur teen die wal. Die mos pak groen rondom en kiewiete is vet en vrolik in die vlak watertjie. In die herfs sak die water ’n bietjie en weerkaats die ryp gras se koringkleur in die ronde poel.

Vele kere in die winter het ons in die vroegoggend daar verbygery, die water in die dammetjie kliphard geys van die koue. Toe was die Hoëveld nog vir weke snags onder vriespunt, ysdruppels aan die drade waardeur jy na die geyste water kyk. Spesifiek dáár het die kar se termometer telkens gewys hoe die temperatuur met ’n graad of twee val. Dan het ons gereeld die kolganse daar gekry, ook maar koud en bedremmeld.

In die lente was dit ’n vrolike gedoente, veral na die eerste reën. Dit was goeie reënjare, die lente was soos ’n geboorte na die slaap-stil winter. Die veld het in ’n verstommende groen uitgebars en die uitspansel het ’n kleurespel van wolke teen die blou lug geword. Dan het die tafereel bo hom in die weerkaatsing op die water herhaal. ’n Mens moes altyd gou kyk; in die ry móét alle kyk vinnig wees!

In die somer was daar klein parmantige gansies vol dons.

Maar dit was veral die afgelope klompie jaar dat die kyk ’n verhouding geword het. Vreemd ja, maar tog. Van ons kant af kry jy eers die stil pan aan die linkerkant, die bloekombos aan die regterkant met die verwaarloosde karavaan wat sommer net daar staan. Dan oor ’n hoogtetjie en plotseling, hier onder jou aan die sonopkant, lê die dammetjie. Jy kan amper jou hand uitsteek en aan die water vat. Die dammetjie lê dikwels loom en half aan die slaap in die son met die waaiende gras in die vallei af. As jy verby is, ’n entjie verder, kry jy weer ’n pan links, die een vol flaminke wat die water pienk kleur en vol patrone maak.

Ek en die dammetjie. Die dammetjie en ek … Nou het ons ook kleinkinders. Hulle het ouma se dammetjie geken. Dit was ’n baken op die lang pad en is keer op keer met afwagting begroet. En dan is ouma ook ingelig van die stand van sake daar. Is die kiewiete daar of die kolganse of vlieg die swerm vinke oor die dammetjie? Of staan die spekvet rooi beeste daar met hul groot dors? Draai die windpomp?

So het ons keer op keer op pad en met ’n vol dagprogram voor na die dammetjie gekyk, ons het gesien wat daar gebeur. In droogtetye het ek swaargekry saam met die water en die wal … die blink water al meer ingedruk deur ’n kring modder wat al harder word aan die kante. ’n Sirkel van droog. Dan het die windpomp, ’n entjie ondertoe, gewoerrr in die wind …

Maar die swaarste was die wal wat stukkend geraak het. Nie gebreek het nie. Soos ’n ou mens wat plooie kry. So het die dammetjie diep plooie in sy onderste wal gekry. En die water het daardeur begin syfer. Eers bietjie-bietjie, en toe al meer.

So met die verbyry, óf suide toe, óf noordwaarts, het my kwelling al groter geword. Waar is die boer? Hoekom doen hy nie iets nie? ’n Mens behoort tog nie onverskillig te staan teenoor sulke verwaarlosing nie!

Ek kan my ook verstout om te sê ek het die dammetjie se versugting gehoor: Help, asseblief!

Die verhouding het wedersyds al sterker gegroei …

Tot op ’n dag. Ons was op pad terug van die vuil en rokerige Witbank en al die kragstasies, haastig af na die skoon lug en oop heuwels, verby die prentjiespan vol flaminke, tot waar my stil dammetjie lê. Maar wat sien ons? ’n Oopgestote stuk grond tussen die dammetjie en die windpomp. Moenie dit vir my sê nie! ’n Nuwe damwal? Ag nee!

Toe maak ek werk daarvan om uit te vind wie die boer is. In die kar, op die pad, begin ek uitvind. Wie het kaart en transport van die grond waarop my dammetjie is? Ek vat nie nee vir ’n antwoord nie.

Tot my verbasing is dit iemand wat ek ken. ’n Gawe jong man. Hy het saam met ons kinders in die hoërskool se marsorkes gespeel. Nogal trompet, of was dit tuba? ’n Jong man met ’n fyn gees, uit ’n goeie familie, mense met aansien. Aha! My kop is deur. Die dammetjie gaan wen …

Ek bel. Heerlik om na jare weer te gesels. Hy is nou groot, al ’n pa van ’n spannetjie. Hy was ’n mooi skoolseun, lank. Ek sien die prentjie. Die jare stap. Nou die rede vir die oproep? Wilhelm, die rede is my dammetjie en die geskroppery onder die dammetjie en hoekom het julle nie al lankal die wal reggemaak nie? En my dammetjie kry swaar …

Watter dammetjie? Tannie se dammetjie? Op my grond? Verbaas.

Ja, sê ek. En ek verduidelik. By die eerste arm pan links verby, dis nou van Hendrina se kant af, dan by die bloekombos met die karavaan verby en dan my dammetjie aan die regterkant, knus teen die pad … voor jy die ryk pan vol lewe weer links kry. Dís die dammetjie!

’n Rukkie stilte. Ja, Tannie. O, dáái ou dammetjie. Dis my swaer. Hy skrop ’n nuwe damwal. Die diere word meer en daardie ou dam is gedaan .

Maar Wilhelm, julle mag nie my dammetjie breek nie! Dis my en my kleinkinders se dammetjie en die kiewiete en kolganse en die groot swerm vinke en die mos en die modder en die reënboog wat soms in die water lê, dis alles ons s’n. En ek wou nog sê die liewe Heer het die dammetjie gemaak en die verhouding is nie net aansit nie, dis regtig … toe sny die lyn uit en ek staan langs die pad met die foon in my hand.

Daar kom ’n boodskap deur. Dankie vir die gesels, Tannie! Ons lyne hier op die plaas maar treurig. Alles wat mooi is! Groete, W

Toe, na ’n week of twee, ry ek weer. Koel watertjie wat ek so stadig, stadig deur ’n strooitjie suig, orrel en saksofoon die kar vol en gedagtes wat ver paaie loop. Nie bekommerd nie. Dink nie eers oor die dammetjie nie. My span is mos nou groot en … by die pan verby, by die bloekombos verby oor die hoogtetjie …

Dammetjie is nie meer daar nie! Sy moedige wal, reg rondom, is meedoënloos platgestoot. Gevoelloos, wreed. Daar lê net ’n hartseer, nat kol. Mos weg. Baie jare se waterlewe weg. Geen voël, geen weerkaatsing. Net droef en verlate …

’n Ent agtertoe staan ’n uitdagende reguit grondwal.. Koel en koud en kil. Kurkdroog.
Hartloos.

Ouma, waar gaan ons weer ’n dammetjie kry? Ons soek, my lief. Maar ek sien nog nie een nie; miskien treur ek nog. Dit was immers 28 jaar… en dis nie meer lekker om die pad te ry nie …

 

deur ElsaCatharien Winckler

gepubliseer in Reisverhale, Saamgestel deur Marissa Greeff, 2016.

Somer- en winterskilderye van die dammetjie deur Drinie Jacob.

Maak kennis met die besondere kunstenaar: Drini Jacob. Kyk by Bydraes.

Die storie van Studio EW

In ’n òu huisie, in ’n groot tuin op die wye en oop hoëveld, skep ons al vir baie jare allerhande goed. Dit het begin met ’n droom… lap is die inspirasie, die swaai en sweef van ligte stowwe om ’n vrouefiguur, die elegansie van vroulikheid en die kringloop van ’n gedagte tot perfekte uitrusting, is die bekoring en verslawing.

Hier is dus lap, ’n kaleidoskoop van kleure en teksture. En dan prentjies, ou modesketse en nuwes wat elke dag ontstaan, ontwerpe vir spesiale geleenthede vir wonderlike vroue. Dan word ’n idee, ’n uitrusting, ’n skepping. Ja, dit lééf, dit beweeg, dit word deel van jou vrouwees en van jou. Ons is ’n familie van vroue uit ’n voorgeslag wat lief was vir mooi aantrek, wat die passie deel. Dis ook ’n ou passie…deur al die eeue is die mens besig met klere: wyd of nou, lank of kort, mooi gemaak met kraletjies en kant, fluweel en brokaat en sy, katoen en linne. ’n Kultuur, ’n kuns en meesterlike vakmanskap!

Ja, ‘n ydele wese is die mens! Maar tog, ons moet elke dag aantrek, ons kan dit gerus met passie en styl doen! En daardeur die wêreld ‘n mooier plek maak …

Uit: Kwatryne
Op hierdie kleed borduur ek week na week
soos jy beduie, Lewe, elke steek.
O laat my hierdie ingewikkelde patroon voltooi
voordat die ragdun garing breek!
– Ina Rossouw

 


Mooi in die veld en op pad

Om in Afrika te reis, beteken om oorlaai te word met baldadige kleur, verskeidenheid van teksture en vrye ruimtes. Dit is wat ons aangryp en bekoor, waaraan ons wat ‘n band met die kontinent het, vashou. Die vroue wat ons op ons reis sien, dra helder kleure, hulle dra natuurlike juwele. Hulle hou van tradisie, dit sien ons in hulle haarstyle. En hulle is gemaklik. Ons leer by hulle. Ons hou ook van mooi klere en wil graag goed voel in dit wat ons dra. Die inspirasie vir die artikel kom uit ons eie ryk tradisie en grootwordjare in Afrika, maar ook uit die voorbeeld van ons susters boontoe op ons vasteland. Ons is ook vroue van Afrika.
Die uitrustings waaroor dit hier gaan, is saamgestel uit elke model se gewone klerekas. Jy sal verbaas wees wat mens rondom kleur en ‘n tema kan saamsit uit jou eie kas. Probeer gerus. Geen besoek aan ‘n duur boetiek is nodig nie, ‘n bietjie waagmoed en kreatiwiteit kan ‘n mooi prentjie oplewer.
Vir die veld, wanneer ons gaan voëls kyk, op ‘n wildrit gaan of selfs stap, is natuurlike kleure van ons bos die keuse. Hier werk skakerings en kombinasies van groen, bruin en kakie, asook gryse uitstekend. Ons het ‘n ryke nalatenskap van safarimodes. Met ‘n bietjie moeite kan die lieflikste prentjie geskep word: serp, hoed, leergordel, stewels of tekkies. Houtkrale, been, volstruisdop of sade is so eie aan ons stuk aarde, dit is uniek, dis lig, dit pas in. Die landskap is óns grootse voorbeeld van tekstuur. Dit maak ‘n prentjie net mooier. Ons materiaalkeuse is koel katoen en rekbare, eietydse kombinasiestowwe.
‘n Onderbaadjie van ‘n growwe tapisserie of gordynstof kan ‘n uitrusting komplimenteer en ‘n lang, safaristyl bloes met sakke is ‘n wenner. Dit beskerm ook sommer teen die son. ‘n Toer deur Afrika, om verskillende lande en eksotiese plekke te besoek, saans te kamp, vereis ‘n ander klerekas. Dit is ook ‘n kas wat min plek in beslag neem. Nogtans kan jy tooi in helder kleur en dan pas jy in by die vrolike, bont markte, die stapels bloedrooi tamaties langs die pad, die ryp oranje
mangos en papajas. Ry ook nie ‘n kamerjas saam nie, vou jou toe in ‘n Masaidoek en dra ‘n sarong as ‘n romp. Hier is ‘n ryk geskiedenis van juwele: koraal, koper, silwer en amber. Om nie te praat van al die mooi stene uit die Namibwoestyn nie!
Dit is belangrik dat reisklere gemaklik is. Ons is nou ook al ‘n bietjie verweer en goed ingeleef. So moet ons klere ook wees en sonder stremming om ons vou en pas. Dit is noodsaaklik dat die styl en ontwerp van jou uitrusting by jou figuur pas. Enige figuur kan met die regte styl gekomplimenteer word. Belê gerus in slim items wat gereed is as jy skielik besluit om ‘n avontuur aan te pak, dan is die pakproses ook sommer veel makliker en die vooruitsig net lekkerder. En jy is ‘n elegante reisiger.
Die seisoen en temperatuur bepaal jou voorbereiding. Afrika is ‘n kontinent van uiterstes – versengende hitte en ysige, hoë winde, droë, stowwerige savannas en langdurige reën in die trope. Dit is ‘n wonderlike uitdaging om reg aangetrek te wees vir al die ekstreme.
Koop gerus langs die pad. Die winkeltjies bied ‘n verrassende verskeidenheid lappe en dis boeiend om te gaan kyk en te onderhandel oor prys. Dikwels is opwindende ontdekkings ook deel van so ‘n besoek en groot pret vir vriendinne. Op die
manier ondersteun ons dan ook die plaaslike ekonomie.
Nou ja, ons voorgeslagte het stylvol en gepas gereis en in die veld geleef. Ons doen dit met entoesiasme en ons sien reeds die volgende geslag is passievol besig om hul reissakke met n plan te pak. Die kampvoertuie staanreg!

Deur ElsaCatharien Winckler

Gepubliseer in Plus 50,  April/Mei 2020


Neels!

6 Januarie. Wlotzkabaken langs die Atlantiese Oseaan, ’n heerlike sonskyndag oor die woestyn. Dis die einde van die vakansie en almal is al terug huistoe, die jaar moet begin. Ek lees die whatsapp-boodskap.

Graeme, De Rust, ’n skildery van Neels Coetzee, myne…hoe is dit moontlik? Hoe gebeur dit?

Neels Coetzee was ’n vriend van my, van ons, vir jare. Hy was ’n musiekonderwyser by ons hoërskool en het vir Rudo, ons oudste, klavierles gegee. Hy het ons tweede seun, Christiaan, gehelp met ’n kunsportefeulje met sy aansoek vir argitektuurstudie net na die millenium. So het hy, hier op die hoë hoëveld in baie gesinne se lewens ’n besondere rol gespeel. Neels was ’n kunstenaar met vele talente. Buiten sy kundigheid om tieners in die wêreld van musiek in te lei, was hy self ’n besondere pianis. Sy kunsuitlewing het ook oor vele genres in die kunswêreld gestrek; mosaiek, olieverf, potloodsketse , en altyd die klavier… hy het self ure voor die klavier deurgebring, sy slanke vingers vaardig oor die note en sy oë vasgenael op die bladmusiek. Dikwels het hy uit sy kop gespeel, die note op die notebalk, elk op sy plek in sy kop.

Op ’n manier was Neels tog ’n afvlerk voëltjie. Mens het die gevoel gekry dat hy met kneusplekke leef wat net nie heeltemal wou genees nie. Dit het te make gehad met sy ouerhuis en kinderdae. Hy, met sy kunssinnigheid, is nie regtig ernstig opgeneem nie. Mens sou kon sê dat hy steeds geworstel het met neerhalende opmerkings en ’n gebrek aan ondersteuning vir die wêreld wat hy so passievol liefgehad het… musiek en skilder. So asof ’n mineurmelodie in sy kop bly draal het…

Soos ’n ware kunstenaar, het hy ook nie ’n groot ophef gemaak van aardse goed nie. Sy waardevolste besittings was sy klavier, sy boeke en sy palet, kwaste en doeke. In sy wêreld kon hy sy hartsbegeerte uitleef, klavierspeel, verf. Groot was ons verbasing toe hy op ’n dag aangekondig het hy gaan verhuis, Oudtshoorn toe, Karoo toe. Dit was ook sommer gou, toe is hy weg. Sy huis leeg en in sy klaskamer was iemand anders. Hy gee musieklesse in Oudtshoorn, verf waar hy bly en voorsien aan ’n galerytjie of twee. Gou was die kunstenaarsdorpie, De Rust, vir hom ’n versoeking en vestig hy hom daar en geniet die interaksie met ’n mengelmoes van interessante en skeppende mense. Die inspirasie van die groot en wye en oop Karoo, omraam deur ’n horison van kartelberge in skakeringe van blou en bruin, het sy doeke al groter gerek en sy ure gevul. Die musiek het nooit agterweë gebly nie…

Ons het hom genooi om op ons stoep, op die koel en groen hoëveld, ’n klavierkonsert te kom hou. Gaste genooi, stoep vol rye houtstoele gepak, klavier laat stem, konsertklere aangetrek en met lang glase vonkel gewag vir Grieg en Debussey en Scarlatti, Mozart en Beethoven. Hy was ’n meester… in aandpak met sagte wit hemp en strikdas…die stoep en tuin ’n teater…en Neels ’n ster, die akteur, die musiek wat deur hom vloei en almal wegvoer na ’n ander dimensie waar drome leef, ontroerend, meesleurend.

Hy was ook ’n paar keer die virtuoos in die statige wit NG Kerk van George, middaguurkonserte: die impromptu energie van Scarlatti, die romantiek van ’n Amadeus… En onverpoos musieklesse gegee en al meer geskilder, groter en wyer doeke…om plek te maak vir die grensloosheid van Kannaland, daardie vergesigte wat soms so sag en deinserig op die horison verdwyn, ander kere sterk afgeëts die horison beklemtoon. Hy kon voorwaar die gemoed van daardie spesiale landskap aanvoel en op doek weergee.

So sien ons ’n Neels Coetzee in ’n gallery in die hart van Pretoria. In die Eikestad in die suide, hang sy werke tussen groot name… En dit verkoop en bring die verlatenheid en robuuste teenwoordigheid van daardie wêreld, wat sy wêreld geword het, in vooraanstaande huise. Hy verf die droë rivierlope en die ver berge in al die bloue, purpers en karmosyne van die landskap wat deur die son in ’n ewige kaleidoskoop van kleur en diepte getooi word. Maar jy sien die ware prentjie. Nie verdraai of skeefgetrek nie, en hy trek jou daarin…onweerstaanbaar!

Ons gaan kuier vir hom in De Rust. Sy huis hogerig, jy kan ver sien. Ons drink koffie uit ingeleefde bekers, sit saam met die klavier en esel met doek en verf in sy sitkamer , olie en terpentyn die lug vol. Hy vertel van Jans en sy skool, Vlakteplaas. Hy gee lesse daar. Leer die kinders anders kyk, maak hulle oë en ore oop vir ’n droomwêreld. In sy eie huis, wat ook sy ateljee is en sommer ook ’n musiekstudio, speel hy ure aaneen klavier en verf verbete.

Neels, ons het nie ’n skildery van jou nie! Daar neem ons die besluit: hy kom vir ons op Wlotzka kuier, in die Namibwoestyn, dan kom verf hy vir ons ons rooi sandduine en onbegrensde ruimtes. Dit is mos daar ook ’n bietjie soos die Karoo, oop en wyd met skoon winde wat deur eeue heen oor die duine waai. Ons moet tog ’n Neels Coetzee hê! Hy lag sy skamerige laggie, altyd effe ongemaklik met sy eie sukses, of dalk verbaas oor die erkenning vir sy werk. Tog, hy het ’n nuwe staanplek gevind in die Karoo, homself ontdek as ’n mens wat sy nis gevind het. Hy kon daar sy passie uitleef en daar was waardering. Hy kon sy siel daar uitstort op doek of voor die klavier en daar is met bewondering en erkenning na hom gekyk.

Weke gaan verby, dalk ’n maand, ons praat weer. Neels het sy huis verhuur, hy woon nou op die plaas van Jans, Oulap, in ’n klein huisie met deure en vensters wat wyd oopskuif en die buitekant innooi. Dis asof binne en buite ’n simbiose vorm, droom, landskap, die lugruim en die klanke van die klavier… Grense verdwyn, alles word een. Sy kwaste kras oor die doek in sonsondergangkleure en vloeiende lyne, sy vingers speel oor die wit en swart note.

Maar, sê Neels, ek is siek, ek het pyn. Is gereeld by dokters. Ek is bekommerd.

Tog kry hy ’n groot opdragwerk. ’n Besondere skildery van die Klein Karoo vir ’n bekende sakeman in die Kaap. Hy trek sy asem in en begin werk. Hy skilder aaneen. Sy onderwerp is by hom en rondom hom. Hy skilder met dringendheid, dis asof sy onderwerp, die Klein Karoolandskap, oor die rante van die doek tuimel… Hy voltooi en lewer. Nog ’n bestelling volg. Amper skaam sê hy vir wie…

Ek kry ’n oproep. Elsa, raai wat het ek met die geld van my mees onlangse en grootste opdragskildery gedoen? Hy was nooit ’n man vir vertoon nie, het homself ook nie so geag om hom te omring met luukshede nie. Wat sou dit wees?

Ek het vir my ’n vleuelklavier gekoop! Hy staan op my stoep, ek speel en speel, my bladmusiek se ore verweer. Die klanke en die melodieë maak bokspringe oor die veld en plas deur die strome en sit saam met die voëls hoog in die bome…Ander kere …’n heimwee, ’n verlatenheid. Hoor ek legatoklanke in sy stem?

Neels het kanker, ’n aggressiewe kanker. Meer dokters, meer weg, die musiek meer ’n mineurtoon, nostalgie en ’n hartseer oor die landskap…Sy kragte minder vir verf, vinnig uitasem, die kwaste word droog, die bladmusiek op ’n hoop.

Ons gesels die laaste keer. Sê Neels: Elsa, julle het toe nooit ’n skildery gekry nie. Ek wou nog so graag die grens oorsteek na julle duineland, wou dit so graag op my doek vasvang, vir julle… Dit was nie moontlik nie. Ek het my laaste skilderytjie vir ’n vriend gegee wat my ondersteun het die laaste weke voor ek na die hospice gegaan het. Hy het my seer bene gevryf, my geswelde voete versorg.

Dit is goed, Neels. Dankie dat jy met jou werk en droom en lewe ons oë en ore so oopgemaak het en ons lewens so verryk het!

Dit was ’n week voor sy dood.

Nou is dit meer as twee jaar later. Ek staan op ons stoep op Wlotzka, kyk uit oor die woestyn en hoor die branders agter my breek. My foon piep met ’n boodskap: Graeme van De Rust. Hy het van my en my verbintenis met Neels gehoor. Toe onthou hy ’n gesprek en hy weet een ding verseker: hy het ’n Neels Coetzee en dit wil hy vir my gee. Dit is my skildery!

Ek raak yskoud en voel die hoendervleis teen my bene opkruip. Hoe gebeur dit?

Hy is die man wat Neels se bene en voete versorg het toe hy nie meer kon loop nie. In ’n gesprek met Annemarie, met wie ons in Ermelo kort gelede gekuier het, en wat na De Rust verhuis het, het Graeme van my vriendskapstorie met Neels gehoor. Hy het geweet hy moet my vind. Neels het hom ook vertel van ons, van ons konsert en dat ons nog een beplan het.

Pos ek vir jou die skildery? Hoe maak mens nou?

My skildery is nou veilig by my. Ek het dit self in De Rust gaan haal. Twintig oor vier die Saterdagoggend hier weg, gevlieg tot in George, my sussie Lucia het my daar gekry en ons is oor die Outenikwaberge Oudtshoorn en De Rust toe. Ons het in ’n snikhete warm kamertjie vir Graeme ontmoet en die kleinood ontvang. Ons al drie se trane het oor ons warm, rooi wange geloop.

Ek en Lucia en die klein skildery het in ’n jagtershuisie van klip alleen onder ’n strepie sekelmaan in die pikdonker Karoo gesit die nag. By ons vuurtjie gekuier en geluister na die baldadige klaviermusiek van Chopin, die dromerigheid van Debussey, die hartstog van Mozart en die speelsheid van Grieg, saam met die groot stil van daardie onbegrensde wêreld. Dit was so asof jy die vleuel kon sien met Neels in sy aandpak en strikdas meegevoer…’n eenheid van musiek en wêreld, van gees en werklikheid, van gister en vandag… Hy en die vleuel was die onderwerp van die nagskildery, die kwashale die melodie…

deur ElsaCatharien Winckler

gepubliseer in Reisverhale, Saamgestel deur Marissa Greeff, 2016.


Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google