Briewe

Die lewe is wyd en oop. Elke tydperk het eiesoortige en opwindende uitdagings wat dit kenmerk.

Lees hier van sprankelende en liggewende gebeure…vol energie!

AKKERBOS KERSPROGRAM
KINDER KERSPROGRAM
STIL BRIEF

Stil oomblik in die
Akkerbos

Ons het na hierdie woorde en musiek in ‘n liggroen, lente getooide akkerbos gesit en luister. Die stilte, die hemelse melodieë en die woorde het bly hang tussen die bas en donker stamme onder die jong blaredak. Ons was betower…

Mens kan ook deur een of twee Kersgedigte by te voeg, ook ‘n Kerslied of twee, dit aanbied as ‘n heerlike Kersprogram.

KINDER KERSPROGRAM
Akkerbos KERSPROGRAM
Tjello: Bach solo cello Prelude uit suite no 1 in G maj

Tjello: Wees stil en weet Ek is die Heer (LvK 519) 2x

1 Konings 19: 11 , 12

In die wind was die Here nie
In die aardbewing was die Here nie
In die vuur was die Here nie
Na die vuur was daar ‘n fluistering in
die windstilte…

STILTE 2 minute


Ps 8: 4 en 5

As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?

Instrumenteel: Op berge en in dale (LvK 509)


Tjello: O Heer my God (LvK 464)

Bidplek

van Koos van der Merwe

ek het vanoggend in u lig kom sit
ek kon net stamelend by u voete bid
ek het soekend deur u boek kom blaai
toe die donkerwinde in my waai

ek het dors en honger brood kom vra
moes my vrae en klagtes na die bidplek dra
ek het gekom met soveel huiwering
en gehoop vir slegs u fluistering

ek het my pyn en hartseer saamgebring
en ook my oortrokke rekening
ek het geweet ek kan dit nooit betaal
ek is te arm en te ver verdwaal

kon ek ooit vermoed dat hier alleen
deurboorde hande my sou seën
dat hier in my gebrokenheid
ek deel sou word van heiligheid?

ek wil weer in u lig kom sit
en by deurboorde voete bid
en soekend deur u boek kom blaai
waar die hemelwinde oor my waai


In potlood

Hennie Nortje

Teen die wit lug
in ry op ry
staan die bome
grys geskryf.

Ou simbole gerangskik
volgens kodes,
maar wie kyk

sien wat hul wil:
party gewoon,
ander droom
‘n koninkryk.

Tussen lyne,
tussen lanings,
merk ‘n paar selfs die ewigheid.

Tjello:  Melodie van Die Swaan van Saint-Saens


Tjello: Melodie van On wings of a song v Mendelsohn

As ek oud word

van Stef Bos

As ek oud word,
Wil ek oud wees
Geen gladgestrykte plooie
Geen uitgewiste spore
Van geluk en verdriet
N landkaart wil ek wees
Waarop jy my lewe
Kan lees


Die mense wat ek liefhet

van Anton Goosen en Stephan Bouwer

Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
-beskut teen die koue-
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie

En as daar ‘n oorlog kom
Word die mense wat ek lief het
‘n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepantser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self:
Ek met my moskombersie

Maar as iemand wat op my gegroei het
Weg moet gaan
Dan sit daar ‘n seerplek
Dan sluip ek deur die wêreld
Die kwesbaarheid self:
Ek met my seerplek wat net nie wil genees.

Tjello: Traumerei van Schumann


‘n Greintjie Wulpsheid

van Lidi de Waal

   Iewers het jy dalk nog ‘n greintjie wulpsheid
   Wat onder ‘n vetrol of drie
   In vergetelheid weggesink lê
   Soek dit
En wys dit
Iewers iewers het jy beslis nog
‘n vonkie malligheid
Wat konvensie en gebooie nog nie uitgewis het nie
Ontdek dit weer
En deel dit
   Iewers iewers het jy sekerlik nog
   ‘n tikkie waagmoed
   ‘n skoot andersheid
   ‘n verborge smagting
   ‘n diep weggesteekte droom
Haal dit uitstof dit af
En omhels dit
Dis jou lewe
Leef dit


Van vreemde lande en mense

van Philip de Vos

Ek plant ‘n piepklein saadjie.
Die saadjie word ‘n boom,
en in my boom se takke
sal ek my drome droom
van verre berge, verre lande,
verre vlaktes, verre strande,
ander name, ander tale,
vreemde woorde en verhale:
Baba Jaga, maraboe,
Lorelei en kaketoe.
‘n Piepklein, piepklein saadjie;
‘n grote, grote boom.
En hier kan ek elke dag
van vreemde lande droom.

Melodie van La Paloma


O Holy Night! – Adolphe Adam

Gebed

van Ernst van Heerden

Maak ons eenvoudig soos
hulle wat naby die aarde staan,

die sterre sien,

die winde hoor,

en glo…


KLEINKINDER

KERSPROGRAM

Liedere en voorlesings vir kleinkinders en families

Voorspel: Stille nag, heilige nag (348) 


Aankondiging: Lukas 26:26-33

Al was ek nie daar nie (355) vers 1 & 2


Geboorte: Lukas 2:3-7

Die Heiland is gebore (353)

Vers 1 –  Kinders
Vers 2 – Almal


Die Herders: Lukas 2:8-12 en 16, 17

Herders op die ope velde (364)

Vers 1 – Al die meisies
Vers 2 – Al die mansmense


Die Sterrekykers: Matteus 2: 1,2 en 9-11

Kom alle getroues (345)

Vers 1 – Almal
Vers 3 – Pappas


Johannes 1:1-4
Welkom o stille nag van vrede (358)

Vers 1 – Dogtertjies
Vers2 – Oupa


‘n Os en ‘n eseltjie

Toe Jesus in sy krippie lê
die eerste Kersfeesnag,
het ‘n os en ook ‘n eseltjie
met Josef saam gewag.

Toe Jesus in sy krippie lê
van engeltjies omring,
het ‘n os en ook ‘n eseltjie
hul liefde na Hom gebring.

Toe Jesus in sy krippie lê
die Heer van mens en dier,
het ‘n os en ook ‘n eseltjie
met engele fees gevier.

Kom laat ons saam na Betlehem gaan
en langs sy krippie sit
was ‘n os e nook ‘n eseltjie
die Christuskind aanbid.

  • Elizabeth van der Merwe


Maak my

Langs my bedjie kniel ek.
Al wat ek wil sê:
“Maak my, Liewe Jesus,
Soos U my wil hê.”

Nic J. Strydom

Illustrasie deur Cora Coetzee


MY STIL BRIEF
Goeie more liewe leser,
Hierdie is sommer ‘n outydse brief uit StudioEW vir hierdie vreemde en ruwe tyd wat ons beleef. Voorwaar ook ‘n nuwe tyd met ‘n ewigheidsimpak…ons dra maskers, ons neem afskeid van geliefdes, ons wonder oor die toekoms. Dit is nie meer die uitsondering nie, dit word die reël.

Tog bly die aarde in sy baan, die vol maan kom en gaan meedoënloos; rond, boggel, half en sekel, oor en oor. Diep skeurvalleie volg onsigbaar nuwe weë en die seisoene kom en gaan so saam met die opkoms en ondergaan van die son. Hier, vanuit ons Studio, kyk ons na die wêreld met ‘n oop oog, ‘n droom oog, ‘n oog met ‘n vonkel…ongeag wat in die wêreld aangaan. Selfs met ‘n seer hart sien ons steeds die mooie raak.

Ons het vir twee weke deur die suide van Namibië gereis. Die hele weste van die Afrikakus onder die ewenaar is ‘n grafiese, veelvlakkige kunswerk, ‘n doek wat net ‘n Meester so kon beskilder. Eeue-oue skeurvalleie kloof diep die aarde oop en lê soos ‘n oerdier en hiberneer…die sandduine se omlynde rante trek esse in donker strepe op die kruine. Mens snak na jou asem: die skouspel, die bewus wees van tydloosheid en ‘n voortdurende skeppingsverhaal wat voor jou oë afspeel. Hier waai die ou woestynwind of die koue souterige suidwester sommer nuwe, skoon lewe in jou gees in…jy stap en klim en kyk en sien…hier hoor jy nie net nie, jy luister, jy voel so klein in die grootsheid van die landskap.

Kan ‘n millennia-oue figuur op ‘n oorhangrots geteken in oker en oksied, mens waarlik roep, vir jou wink? ‘n Vreemde konsep, tog moontlik. Die hele storie van die Witvrou van die Brandberg is boeiend en meesleurend. Sy bestaan in ‘n rotstekening, rondom 2000 jaar gelede gedoen, onder ‘n graniet oorhangrots. Haar storie is misterieus, meesleurend en boeiend. Afhangende van jou gees en ontvanklikheid, kan sy jou vriendin word, ‘n persona met so véél fasette, ‘n inspirasie. As jy daar doodstil sit, hoor jy oerstemme, ook die berg se swye vertel.

Terug hier, op die hoëveld, is dit ysig: wit gerypte oggende, hard gevriesde voëlwaterbakke, blink ysbome in die yl oggendson. Maar ook heerlike warm baadjies, truie, snoesige stewels, wolserpe en musse. Ai, en kan ons ons verlustig in die kaneel en warm gemmer uit die kombuis, die wit wasem bo die pruttende brediepot. Nooit verruil ons die lang, aande by die kaggelvuur met harpconcertos en lang glase wyn wat kaats in die kerslig nie. Hierdie winter is ‘n ryk en stil een, ook teer.

Vakansietyd bring kuiermense, kleine kinders. Ons besoek bosse: ‘n dennebos van hoë bome met die geur van naalde en seder, ‘n bloekombos met droë, bleek blare wat ritsel en ‘n bosvloer vol verrimpelde basstompe, eucaluptus die lug vol. Die akkerbos staan op ‘n koper blaremat, akkerdoppies word feetjiekoppies en die son maak goue ligflitse, wat paadjies word vir die feetjies, deur die kaal stamme. Ons sit tjoepstil en luister na die stem van die bos terwyl ons opkyk na die blou lug omraam deur die hoogste, wiegende boompunte. Ons kom vrolik terug met dennebolle en bloekombas en akkerdoppies as versamelstukke. Handjies het ysvingertjies, wange is rooi kolle en ogies blink…die hoëveldse winter ís ‘n droom… ‘n bos lewe, haal asem, het ‘n stem en emosie.

Liewe leser, hou aan droom en glo.

Sien die mooi om jou. skep jou eie wêreld, leef ‘n lewe wat mooi en bekoorlik is…vol aroma en kleur, tyd en liefde en geloof.

Ghandi het gesê:  BE THE CHANGE YOU WANT TO SEE FOR THIS WORLD.

Kom vier saam die vreugde van LEWE, die skat van kuns en die immer teenwoordige behoefte om nuut te skep.

Kopiereg van alle intellektuele eiendom op die webwerf behoort aan Elsa Catharien Winckler behalwe as anders vermeld.

Kontak Vorm
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google