12 Aug 2020
Dit is die wêreld se
Olifantdag!
Ons is bekommerd oor die aarde, oor die olifante en oor so baie bedreigde spesies… Daar is te veel mense . Die ou moeder kreun. Ons wil iets doen, ons weet nie regtig hoe nie? Ons verskil ook. Sommige is aan die mense se kant, honger vir grond beteken uit met die natuurlike bosse, honger vir ivoor meen uit met die tande van die olifante, sommer net honger beteken stroop vir geld om kos te koop, ook uit met die bome om houtskool te verkoop om ‘n lewe te maak.
Vandag is Olifantdag. Vandag bekommer ons ons oor die ou groot reuse van die oop en groot savannas en ook in die woude. Hulle wat so stil en grys en knus saam in Afrika se bos leef, ons dikwels so ligvoets verras… hulle wat met hulle ongewone lywe en maniere, die prentjie van Afrika en ons belewenis van die natuur, só verryk. Die statistiek sê daar word elke 15 minute ‘n olifant gejag, vier per uur en 96 per dag. Die ergste is, díe proses is eeue oud, konings uit die vroegste tye, Arabiere, die kolonialiste, die grootwildjagters, en die onversadigbare behoefte van hulle wat koop: tande koop, horings koop, skubbe koop… almal skuldig.
Maar vandag behoort aan olifante. Ons moet waarlik iets doen. Praat en bekommer alleen , help niks. Ondersteun etiese toerisme organisasies wat die mense en diere gebalanseerd bestuur en bewaar. Namibië is so ‘n goeie voorbeeld, ondersteun organisasies wat die natuurlike habitat van olifante bewaar en nuwe korridors skep vir die diere om te kan beweeg, ondersteun gesonde alternatiewe en volhoubare nedersettings wat geskep word vir die mense in díe streke dat daar plek vir die wilde diere is. Besoek parke en plekke waar groot werk gedoen word om olifante se veiligheid te beskerm. Sinvolle toerisme help mens en dier ewe veel wat dieselfde habitat deel. Die huidige afwesigheid van toerisme in al die parke, het ‘n groot impak op die totale ketting van betrokkenheid. Uiteindelik is dit vir die plaaslike bevolking al moeiliker om ook hulle bydrae te lewer om die natuur te beskerm. Betoog saam teen stropers en teen diesulkes wat geen gevoel vir die natuur het nie…
Jy kan ook ‘n bydrae maak aan organisasies wat wonderlike werk in die veld doen, jy kan selfs ‘n klein olifantjie aanneem…as donateur.
Vandag besing ons die lof van die olifantfamilies wat so lojaal en ‘n leeftyd bymekaar oor Afrika se woestyne, klowe en diep bosse bly swerf. Families en vriendekringe wat mekaar vrolik met water natspuit en hul kleintjies speels karnuffel, wat tieners en kleuters en oususse en tannies en oumas nodig het om saam te leef, wat almal saam ‘n pasgebore baba beskerm teen gevare. Hulle kan treur soos ons, by ‘n geliefde wat dood is, waak. Hulle is die kosbare reuse van die veld! Olifante verryk en verruim ons lewe.
Ons het ‘n groot taak!
Kunstenaars en illustreerders is oor eeue heen geprikkel deur olifante…
Hier is skilderye van Beau van Zyl en ‘n besondere illustrasie deur Alida Bothma.
Die kremetart het tussen die bome dieselfde posisie as wat die olifant het tussen die diere. Daar is ook ‘n besondere simbiose tussen die twee. Hier is ‘n insiggewende storie daaroor.
Storie en fotos: Marissa Greeff
Reisigers en staatsamptenare in Afrika in vorige eeue het dikwels hul staan gemaak onder kremetartbome en hul voorletters in die sagte stam uitgekerf. Die graffiti was ‘n nuusbrief en ‘n rekord van reisigers vir ander wat op dieselfde pad verbygekom het. In die 19de eeu was die reisiger se trek ‘n uitgebreide affêre met waens, osse, perde, baie keer draers, en ander personeel wat die omslagtige onderneming van ‘n reis wat maande sou duur, moes help gebeur.
In 1890 was die ou Transvaalse Republiek, die ZAR, se landmeter-generaal, Gideon Retief von Wielligh en landmeter M. C. Vos deel van die gesamentlike ZAR-Mosambiekkommissie wat finaal die grenslyn tussen die ZAR en Mosambiek oor die lengte van die Lebomboberge sou vasstel en met bakens sou bevestig.
In Julie 1890 het die kommissie kamp gemaak onder die kremetart wat vandag langs die S44 tussen die Letaba en Olifantsruskampe in die Krugerwildtuin staan. Die landmeter-generaal het in 1891 weer onder dieselfde boom gekamp en dis toe dat sy naam op die stam uitgekerf is. Die graffiti het 94 jaar gehou totdat olifante in die droogte van 1985 die bas in repe afgeskeur en gekou het vir die vog in die veselryke bas. Dit was die einde van die Von Wielligh-graffiti, maar die kremetart is nog daar danksy kremetarte se merkwaardige vermoë om nuwe bas te groei. Die olifante het met die onlangse droogte weer die bas afgevreet en die kremetart behoort weer nuwe bas te groei – sonder graffiti.
Spesiale kinderboeke met ‘n olifant as hoofkarakter, kostelik en heerlik … Dit is beide deel van ‘n reeks en word uitgegee deur Protea Boekhuis.
Vewysings en webwerf waar mens ‘n klein olifant kan aanneem
Ode aan 'n Eik
Saam met jou o Grote Eik, huil ons ook trane vol spyt!
Jou lewensdraad nou kortgeknip, hoe graag ons dit ook sou wou keer
om jou te sien na onder val, is hartverskeurend seer…
Stuk vir stuk en tak vir tak, word jy al hoe kleiner-
jou skadu al hoe minder, jou lewe al hoe korter…
tot later net n stomp daar staan,
wat ook maar na die hert sal gaan.
Waar gaan die voëltjies dan nou slaap?
en waar gaan die uiltjies skuil?
as die donker nagte kom, as die winde droewig huil?
Die vesting van jou takke weg, die ritsel van jou blare stil…
Saam met jou o Grote Eik, huil ons stééds trane vol van spyt,
oor n reus van soveel jaar, wat ons toe tóg nie kon bewaar!
Oor hierdie dinge kan ons bespiegel, verskil, heftig raak. Niemand weet regtig nie! Ons weet een ding verseker: ons moet oorleef! Ons moet die beste planne uitdink om op die regte tyd en met die regte produk op die regte plek te wees. Dit is op sigself ‘n uitdaging! Ons moet ook beskerm wat ons het: ons beroepe, ons beleggings, ons besittings. Ons moet rondom dit ook slim dink en beplan. Ons kan!
Al hierdie dinge kan ons net doen met die hulp en aan die hand van die Here. Hy is die Rots wat altyd vas bly staan en sal ons nooit verlaat nie. Dit word dus nou geloof in aksie. Alleen kan ons nie die draai van die wiel keer nie, maar ons kan elke dag tooi met mooigoed en goeie goed… een opbeurende storie, een verbeeldingryke ideal, ‘n opkrul-laggrappie… en siedaar!
Hierdie herfs word regtig ryp en diep en innig… Dis so wonderlik, ook in elkeen se eie klein lewe, in jou huis en tuin. Die somerblomme staan nog vol in die blom: petunias en impatience, die eerste sagte kamelias verskyn en laventel blom op sterk stele, beddings vol. Die ryke kleure en stilwees van die seisoen word deel van hierdie ongewone ervaring. Roes, koper en ougoud kom lê in jou gemoed en wêreld, sommer so stil-stil bring dit jou tot stilstand. Dit laat jou wéét, hierna kom die winter… nog stiller, kouer en alles dan botstil. Maar daarna wag die lente en die somer! Wat ‘n heerlike vooruitsig!
In die noordelike halfrond is Meimaand volgens die ou Romeinse kalender die maand wat die eerste lentebloeisels inwag en ook die maand van vrugbaarheid. Dis die maand waarin ons so stuk vir stuk begin werk. Ons sien dit so… dit lei ‘n tyd in vir sterkwees, vir slimwees en vir vol hoop wees! Ons is taai, ons is gebrei deur geslagte heen, ons kan en sal hierdie uitdaging vat en wen!