Afrika reis

deur Elsa Winckler

Liewe familie en vriende, ons gaan weer op safari. Díé keer noord, tot in Rwanda, dan draai ons oos tot by Lamu-eiland noord van Mombasa, dan kuslangs tot teen die Mosambiekgrens. Daarna langs die Malawimeer suid en met ‘n paar draaie terug huistoe. Twee maande lank. Ons vorm ‘n uitsaailys vir almal wat graag die joernaal wil volg met stories en kiekies. Laat weet as jy eerder na die tyd sommer wil kom kuier, dan spaar ons jou die skrywes.
Ons ontmoet nou-nou ons reismaats in Kasane. Ons het al ver paaie saam gery.
Afrika bly in ons leef en sy misterie gryp ons steeds aan….

22 & 26 Aug

Spring

29 Aug & 1 Sept

Spring

4 & 10 Sept

Spring

13 Sept

Spring

19 Sept

Spring

27 Sept & 2 Okt

Spring

8 & 10 Okt

Spring

22 Augustus 2023

Vandag is dag ses. Ons ry op ‘n goeie pad saam met stringe busse en groot lorries noordoos bo in Zambië, oppad na die Tanganyikameer. Ons leef al meer soos nomade. Die son se kom en gaan bepaal ons dae.
Ons vuur het gebrand langs die Limpopo en by Sinyati langs die watergat, saam met ons toermaats langs die groot Zambezi, bewus van die sproei van die valle voor ons…. Laasnag onder lieflike hoë bome naby die Kongogrens het ons gelag en gekuier onder ‘n klein sekelmaantjie.
Ons mik tussen die lorries deur…Woldemar sê dis groot konsentrasie en konsternasie…en dit is voorwaar!

Die Augustuslandskap is droog, stowwerig, baie mense, bekende Afrikaprentjies. Die bome van Zambië is uitstaande, die kaal kronkelstamme met nuwe blink blare of yl sade wat lyk soos kersversierings, hier en daar kolle koraal en koper. Baie mooi!

Vanaand lê ons in die warm water van Kapishya terwyl die maantjie groei…

26 Augustus 2023

So kruip ons al hoër op langs mere verby, deur bosse en valleie, nader aan die ewenaar. Ons aand by Kapishya Hot Springs was verkwikkend, welliswaar saam met twee ander Kaapse groepe wat ook oppad is Oos-Afika toe. Ons mense ry…

Ons verwonder ons steeds aan die fassinerende boomwêreld waardeur ons ry…randjies wat ingekleur is in rooi en koper met nuwe lenteblare , op ander plekke ruie boombos met kaal, hoë stamme met ver arms wat wag vir nuwe blare: kastaiing en maroela, appelblaar en Rhodesiese kiaat, reuse kapokbome (vir piekniek oor middagete) , worsbome en vele onbekendes… ‘n droombos in die Katavi NP. Hier het ons ook langs ‘n rivier afgery en seekoeie, lummels van krokodille, kameelperde, olifante en baie kleinwild gesien.

Ons dae bly gevul met kilometers wat ons moet aflê om in Rwanda te kom. Gisteraand het ons langs Sitaleke se rivier in ‘n kampterrein geslaap saam met spraaksame seekoeie en vrypostige ape. Die eienaar het ‘n kleurvolle tafel vir ons voorberei en ons het weggelê aan Riéth en Louis se heerlike maal.

Na drie karre met ‘n papwiel elk,’is ons nou oppad na Kigoma, langs die Tanganjikameer. Ons sien uit! Dis waar die legendariese ontmoeting van Henry Stanley en ‘n ou en poegaai David Livingstone in 1871 plaasgevind het..
En dis ons twee se kosbeurt ?

In Mpanda het ons so pas gekyk na ‘n besondere Morawiese kerkgebou. Vir ons kosbaar…duidelik ‘n akiewe gemeente tussen al die harwar van die Afrikabestaan: toektoeks, swaargelaaide motorfietse, kleurvolle stalletjies.

Ons gesels oor koloniale tye, vorige epiese safari’s en filosofeer oor ons kontinent en ons almal se toekoms…

29 Augustus 2023

En so groet ons die Tanganjikameer. ‘n Meer om te onthou, voorwaar ‘n watermassa met charisma. Ons het geswem in die helder water, na die son se groet gekyk en al sy kleurespel oor die water en onder ‘n halfmaan langs die vuur gesit en luister na die klots van die water, die ou stem van ‘n lewende antieke watermassa. Vir eeue, vir millennia woon inheemse volke rondom die meer, vaar tot vandag op hul selfgemaakte , (eie weergawe) dhows oor die water, vang vis, plant en bewerk hul groentelandjies en leef ryk, rustige dae en maande om klein hawens. Markte is vol gedroogde vis, mandjies vol produkte, hope nette en geselsende vroue geklee in mooi rokke. Ook die klein dogtertjies…met wye lang rokkies van tradisionele Afrikalappe speel  tussen turkoois en oranje houtbote, ook palms en piesangbome.

En die geskiedenis van hierdie langste en diepste meer van Afrika…in die 1850’s opgeteken vir die eerste keer deur dapper Britse ontdekkers, Burton en Speke. Hulle was, ook soos Livingstone en Stanley, op soek na die oorsprong van die Nyl. Die latere plek van ontmoeting was ook hier. Ons het die museum en monument besoek. Weereens het die impak van die weerloosheid van Afrika ons getref, die brutale slawehandel deur die Arabiere millennia gelede, toe die kolonialiste en Afrika se eie mense… Nou bou die Chinese goeie paaie en moderne hawens, kry die mynregte…is dit iets anders?

In Kigoma se hawe sien ons op ‘n afstand die legendariese oorlogskip die Liema lê. Voor die Eerste Wêreldoorlog was dit ‘n Duitse oorlogskip, na die Duitsers die oorlog verloor het is dit met ghries besmeer en gesink, daarna herwin en vir meer as ‘100 jaar daarna het dit mense, karre, diere, produkte oor die meer, tussen vier lande van strand na strand vervoer… ‘n Besondere storie, heroïes die ou stoomskip en mooi!
Kigoma se stasiegebou…eie aan die argitektuur van die Duitsers voor die WO I, is behoue en vertel ‘n eie storie van stoomlokomotiewe wat goedere en mense en soldate oor die ver wydtes van Afrika vervoer het.

Hierdie meer is deel van die Groot Skeurvallei van Afrika se meresisteem en is gevorm deur die skeuring, immer bewegende beweging van die diep, tektoniese plate onder die aarde…
Tanganjika is ‘n samestelling van die Swahiliwoord ,tanga’ , wat beteken vaar/,sail’ en yika wat beteken groot oop ruimtes/wildernis. Dus, iets soos VAAR OOR GROOT RUIMTE…

Nou is ons oppad na Rwanda. Eers gou ‘n sweisjoppie langs die pad deur een van die plaaslike werkswinkels…haha!

1 September 2023

Rwanda is totaal anders: goed versorgde teerpaaie (mens ry aan die regterkant), dig bevolk, mooi huise met hoë sinkdakke, geen rommel, elke stukkie grond is bewerk. Waar ons nou ry is die berge vol laslappielande en terrasse… Kleinboere produseer piesangs, pynappels, hout, eiers, hoenders en vele meer. Landelike ryslande in die nat laagtes en hoë teeplantasies maak die landskap ‘n prentjie. Dis anders as die res van ons reis. Ons sien min diere, baie motorfietse en fietse met swaar vragte en sterk trappers. Tog is ons diep bewus van die brutale volksmoord hier ‘n skamele 30 jaar gelede. Ons ervaar ‘n huiwering om spontaan en oop te glimlag…ons is diep bewus van ‘n groot seer wat deel is van hierdie mense se geheue.

Tog is dit besig en produktief met ‘n regering wat wondere verrig vir eenheid en heling.

Ons was nou twee nagte in die Nyungwe NP. Dis ‘n droombos, een van die min reënwoude van dîe aard wat die ystydperk oorleef het. Reuse bome, kronkelende bobbejaantoue, mos en woudhare wat in die skoon bries waai…ook helder, soet water en ‘n manjifieke vol maan. Hier bly sjimps en eksotiese vreemde, steeds stoute ape…en die pragtige blou loerie!

Baie Christenkerke. Sou dit deel  van die rede wees vir hierdie gedissilineerde samelewing met ‘n eie kenmerkende leefwyse?
Nou ry ons noordoos, nader na die Virungaberge, die Volcanos NP waar ons na die gorillas gaan kyk…

4 September 2023

Lake Kivu is groot, deel van die Skeurvallei, plek met onmenslike geskiedenis tydens die volksmoord, maar ook swemmende koeie, vlermuise en sagte sonstrale oor die water…
Ons groet vandag die hoë Virungaberge met sy mosbegroeide reeks vulkane na twee  onvergeetlike dae hier. Dit reën vanoggend in Kinigi, hoog teen die hange, die landskap is toe onder ‘n miskombers.
Gister is ons saam met 90 (dis die getal permitte per dag) mense, Amerikaners, Kanadese, Chinese…ons van Afrika is die uitsondering…in 12 groepe na verskillende gorillafamilies in die Volcano NP. Ons was agt, ons drie en vyf Amerikaners. Ons groep se silwerrug…Agashya beteken ‘spesiaal’. En spesiaal was dit: eers aartappel- en magrietjielande, oor ‘n hoë muur gepak van vulkaniese klip en toe die woud in, op en op in die dun lug. Eers een gorilla, toe na nog ‘n uur se klim en stap oor bamboes en brandnetel en riet in ‘n regte egte ,oerwoud het ons die groep gekry: Agashya en sy familie…rollende kleuters en ‘n skugter babatjie en groot , waarlik… die skaars berggorilla!! Dit was ‘n belewenis!

Ek en Riéth het gistermiddag ‘n kuriokompleks besoek met heerlikhede vir alle sintuie, gemaak deur die plaaslike mense. Party sit en kerf, ander verf, ander stik Afrikalappe in sakke, in broeke en sarongs, in krale, plekmatte ens …’n vrolike mengelmoes van kleur, hout en verfreuke die lug vol en die sang van die stemme.
Met kleinkinders en ons eie Afrika-aard, het ons baljaar…haha!

Nou net deur Muzanse, voorgekeer deur die verkeerspolisie en al vyf karre kry spoedboetes. Deur die hele land staan werkende kameras en dis betaaltyd! Nodeloos om te sê, nou kruie ons aan na Kigali, hoofstad van hierdie interessante land vol verrassings. Voel of die hele land in voue lê met hoë kruine en diep valleie…mense en huise en landbou orals.
Ons twee praat vanoggend oor groot opoffering wat ongekende ervarings teruggee (hierdie reis vra ook uithou oor skurwe, onmoontlike paaie, badkamers onder verdenking, rooi en vulkaanstof op en oor als, lae gemiddelde spoed en reën…) Tog groet jy en die son saam elke nuwe dag en snags hang die skerpioen en ‘n boepensmaan oor ons as ons opklim in ons tente in…

10 September 2023

Ons het ‘n besondere Rwanda gegroet, na ‘n besoek aan die Akagera NP, toe langs die Victoriameer in Tanzanië gery. een aand op ‘n idilliese skiereiland se puntjie geslaap, die grootste meer (oppervlak)  in Afrika, gespikkel met reuse, ronde klippe en elegante houtbote wat oor die blink water vaar… Ons het weereens kamers bygehuur vir badkamers, dîe keer met warm water en skoon en ruim. Baie lekker!
Die watermassa is groot en wyd, oral hawetjies en vissersbote, heel nag hoor jy die gesprek van die water…’n ou een.
Hierdie meer is in 1858 deur die eerste Europeërs , Speke en Burton, geïdentifiseer as die oorsprong van die Nyl en gedoop. Die Wit Nyl ontspring uit die uitloop vd Victoriameer, in Soedan word Blou en Wit Nyl een…mond uiteindelik uit in die Middelandse See.

Maar nou is ons in Kenia, Masai Mara…die Kenia-deel van die Serengeti. Jou asem slaan spontaan weg as jy eensklaps voor jou die uitgestrekte vlakte sien…ver op die deinserige horison heuwels, koppe. Dit lê net skielik voor jou, ‘n enorme kunstenaarsdoek met dik kwashale in oker, koper, roes…hier en daar ylgroen aksente. Een-een staan witgatbome met die kenmerkende vreetlyn van kameelperde. Dis grasvlaktes met donker voue bome en wild: troppe olifante, elande, ‘n klomp kameelperde teen die rant, buffels en ‘n skat van voëls…
Die son, wolke en ‘n reënbui sorg vir ‘n aandskemering wat die uitspansel in ‘n wonderwerk omskep. Ons wil die nag weghou om langer van die mooi dag te kan hê.

Maar gister was die hoogtepunt. Dis migrasietyd. Derduisende , Woldemar sê miljoene, wildebeeste is onrustig oppad na die Mararivier… Serengeti se groen gras voor oë. Lang rye is aan die beweeg, die hele  landskap is vol, familiegroepies koek bymekaar, jong kalwers jol onbewus van die erns van die saak… So ver soos jou oog kan sien, staan die wildebeeste. Teen die rivier begin die wildkykers plek inneem. Die krokodille lê rustig en tevrede. Die drama begin.
Jy, as toeskouer/ buitestaander, ervaar ‘n onrustigheid, ‘n dringendheid. Maar ons is verstom, dis asembenemend, onbeskryflik. Hier is ‘n oerritme aan die werk, ‘n drif wat in die natuur vasgelê is…soos seisoene.
Dit laat my dink aan die bekende Serengeti shall not die deur. Bernhard en Michael Grzimek, wat op my pa se boekrak gestaan het, nou in ons s’n. Jy weet ook solank die parke Parke bly, sal ons kinders en kleintjies ook nog die skouspel kan beleef.

Dis vroeg, ‘n stil Sondagoggend, ons is oppad. Die wildebeeste is nie meer waar hulle gister was nie, zebras en topi’s en aasvoëls en hiënas is oor. Die troppe staan donker en onrustig al nader na die rivier, 12 lugbalonne met mandjies vol toeriste hang oor hierdie tafereel. So ver soos ons uitry tou die safarivoertuie by ons verby… oppad in.
Ons is dankbaar, in verwondering…dis veilig in die hande van ons Skepper en groot Onderhouer…

Geen kamera, veral nie ‘n selfoon, kan iets van die skouspel op doek vaslê nie…jammer!

13 September 2023

Ai tog, dit klink onmoontlik. Ons leef nou al ‘n maand lank soos nomade…ons ry deur ver wêrelde op vreemde paaie. Die wind waai deur ons hare, ons reën nat en die nagte is donker, maar die sterre is helder in elke naghemel.

Amboseli was die grootste verrassing en die berg het sy blakende gesig vir ons gewys.
Voor dit was ons eers ‘n middag en aand in Nairobi. Voel soos ‘n groen stad, eintlik voel die hele land Kenia groen. En dis lente, baie bome het bloeisels, rooi kruine, geel poeierballe, die mooiste wit oral in die veld. In die stad is die sypaadjies uitgepakte kwekerye met kleurvolle potte opgestapel op rakke. ‘n Moderne Afrika stad. Ons het rugby gekyk, heerlik aankope gedoen in ‘n groot winkelsentrum en Kenia simkaarte gekry, toe weer die pad gevat suidwaarts, tot teen die Tanzanië grens.

Terug by Amboseli en die Berg. Ons ry deur droeë stowwerige, kaal geëete wêreld, die berg is vol wolke. Ek onthou die ou fotos en skilderye van die olifante van Amboseli met ‘n yslike Kilimanjaro met ‘n groot wit kruin, agter…die bekende Hollywood-beeld. Eers sien ons niks hiervan nie.
Skielik is ons by die vleilande….panne vol helderskoon water, groen gras en ‘n oorvloed van wild en voëls. Mens se brein kan dit nie glo nie, dis asof Noag se ark hier oopgegaan het en al die diere is hier, en voëls…terwyl die visarend se roep oor alles hang. In teenstelling met die Masai Mara, kry jy die gevoel van rustigheid, ‘n tevredenheid. Hier migreer niemand nie. Die water is silwerskoon bergwater, gefiltreer deur vulkaniese rots, buffels, olifante en kwaggas staan lyfhoogte in die water en wei. Flaminke staan pienk in die vlak water en pelikane maak groot wit kolle op die turkoois-blou.
Die berg wys sy klein yskruin deur die wolke, later meer en vroeg, die volgende more, maak hy wyd oop vir ons… staan daar in al sy glorie. Hoendervleis…so ‘n misterieuse persona…Kilimanjaro! ‘n Magiese’teenwoordigheid!

Na ‘n nag in Tsavo, die verstommende lawavelde en Mzimafonteine is ons uit die wêreld van: The Maneaters van Tsavo.
Nou wink die warm, blink Indiese Oseaan en Lamu-eiland…

19 September 2023

Malindi is ‘n ou hawestad wat die Arabiere van die vroegste tye af gebruik het as poort in Afrika in vir ivoor en ander produkte, asook vir die uitvoer van slawe. Vasco da Gama het ‘n kruis hier in Malindi geplant op 15 April 1498. Hy is goed ontvang deur die sultan van Malindi en weggestuur met vars voorraad van kos en water. Die Portugeuse skeepsvaarders was onder sy leiding met 4 skepe oppad na Indië. Ons het ‘n draai by die monument gemaak – ’n besondere gedagte – hierdie was van die vroegste tye ‘n handelspos, het ook ‘n hartseer slawestorie.

Ons sien tekens van glorieryke dae, herehuise wat getuig van ‘n goeie lewe – nou, dikwels verweer en vergane. Tog is hier lieflike lodges en  steeds indrukwekkende villas – , Italianers, ons hoor ook Frans en Duits.

Die heerlikste is die blinkskoon warm oseaan! Ons het geswem en gaan snorkel en onsself bederf met besoeke by die Billionaires Hotel wat net langs ons kampplek was met allerhande verleidelikhede, verkwikkende G&Ts.

Ons sou ry na Lamu-eiland, maar weens al-Shabaab bedrywighede in die woude en onlangse aanvalle, moes ons vlieg.

Ons vlieg Lamu toe,  20 minute lank, van die Malindilughawe af, oor moerasse en ‘n hele delta van water en mangroves – ’n verstommende landskap van groen met die breë kronkels van riviere wat in die see uitloop. Geland op Mandalughawe en per boot na Lamu.

Ons was opgewonde, vol verwagting. Ons stap in klein stegies,  4/5 verdiepings hoog, mure en paadjies dikwels gebou van ou koraal, klein, vaal donkies dra swaar aan mense en meel, groente, blokke koraalstene, enige iets. Gelate.

Mans kuier, dryf handel, bid in matbedekte moskees, vrouens  beweeg stilweg, versluier, net 2 oë wat kontak maak.

 

Ons kyk na antieke juwele, kunsfotos wat ‘n storie vertel. Ons woon in ‘n gastehuis, Jannat’s House, in ongekompliseerde kamers op verskillende vlakke met oop terrassitkamers met ou, swaar, uitgekerfde houtmeubels en diep sitbeddens vol geblomde kussings, ‘n koel wind wat verfrissend is. Dis warm, bedompig. Die medina is besig, donkies balk met oorgawe dag en nag, vrolike kinderstemme klink van onder af op en die afgemete singstem van die imam uit die moskeetoring elke nou en dan… Ons verken die eiland op ‘n dhow, seil geluidloos oor die stil water, eet by ‘n drywende  restaurant (ons moet tog ‘n yskoue bier kan drink), loop op ‘n lang, uitgerekte strand, eet gebraaide tuna en luister na Bob Marley, Coenie en Kinders vd wind… dankie Thys…dit alles op die dhow op die water, terwyl die reuse seil en wind ons koers bepaal.

Lamu is, soos Zanzibar, ‘n eiland met ‘n storie van glorie, beproewing, misbruik en magsbehepte moondhede…millinea lank.

Ou koraal word as boustene gebruik, grensmure…selfs om paaie op te vul, oral langs hierdie ver, vreemde kus.

Ons is vanoggend uit Malindi, het eers gou by die Vasco da Gama monument teen die ruwe kus, ‘n draai gemaak. Die ou seevaarders was darem merkwaardig! Dit besef mens as jy by die kruis staan, 900 jaar gelede daar geplant en die grootheid van die oseaan ervaar…ook die ontstuimigheid. Die Arabiere was meedoënlose slawehandelaars…die Portugeuse het dit voortgesit. Die kus van Oos Afrika dra steeds die letsels van ‘n weemoedige en traumatiese verhaal…

Gister was dit Mombasa: Afrikastad, reuse riviere, baie mense, weer tuktuks, motorfietse en astrante taxis. Maar ook ‘n ou fort, Fort de Jesus. Portugeuse, toe Arabiere en later die ,English’. Wat ‘n storie!!!

Vandag lê ons en droom by ‘n juweel. Net son en see …en ‘n heelike massering op die strand…

21 September 2023

Oh, my word! Ons het lekker gelag. Ons word wakker by Twiga kampplek met ‘n son wat oor die see deur die goud-gekartelde wolke op ons skyn. Toe kom die mense… een bied ‘n staptog aan met die laagwater oor die rotse, tot by poele in die vorm van Afrika (Madagaskar en al) ook ‘n Australiëpoel. die ander maak krale-armbande met jou naam daarop, dan die vollyf massering onder kokospalms op die strand, nog een wat wasgoed was. Lekker was die man wat gaan seekos uithaal het, calamari en kreef en garnale en vis. Hy kom wys vir ons, en na Chrisna se aankope, maak hy dit deeglik skoon. Dan nog Masaidoeke en gestreepte sarongs op die strand by vroue te koop… nodeloos om te sê: ons dag was te kort.

Ons het in Afrika en Autralië gesnorkel en geswem, ons is geolie en gevryf, hier ry ons met armbandjies met liefste kleinkinders se name op, ons klere ruik na son, en ons het die dag afgesluit met ‘n heerlike pot seekos en yskoue wyn.

Maar als is nie so rooskleurig nie. Paaie is soms baie treurig en dit hou vir ure aan, soms soek ons na kampplekke, maar dan is die GPS en Tracks nie op datum nie en die kampplek/lodge al jare lank toe, soms sit ons in lang rye lorries vasgekeer- soos nou oppad in Dar es Salaam in.

Die badkamers is ‘n uitdaging van ‘n ander aard. Is dit ‘n porselein of Talibantoilet?!?. Ons wonder nie eers meer oor warm water nie, staan dapper onder die stroom koue water. Ons het gisteraand sommer ‘n trippelbuitestort gehad, ewe prettig!

Dan die lewe in en om ons voertuig: wakkerword en wikkel, oppak en wegpak en koffiemaak en eksotiese broodjies. Agtuur draai die sleutels en daaar gaan ons, skilpad met sy hele huis op sy dak en binne-in. En met Woldemar aan stuur van sake moet elke ding op sy plek wees – vir my loskoppie is dit maar ‘n ding.

Ons is suidwaarts oppad, stadigaan huistoe. Ons weet ook Afrika se gesig, soos als, verander. So baie van die ou bekoring sien ons nie meer nie. Kleipotte is vervang deur geel plastiek kanne, sarongs en bont Afrikadoeke is dikwels vervang deur vervelige, half Amerikaanse kleefklere, pakdiere is hoeka vervang met motorfietse en tuktuks en nog baie meer. Die ou romantiese bekoring is steeds in die soel water van die Ooskus, in die wit kroon van Kilimanjaro, die loom, ongesteurde ritme van die lewe op Lamu en in die oerdrif van wildebeeste wat moet trek en donker die heuwels toestaan. Ook in die skilpadnes vol eiers by gister se kamp en in ons stop vandag toe Corna se kleinseuntjie John gebore is en ons die eerste fotos sien. Ons planeet bly ‘n wonder, ons Skepper in beheer.

27 September 2023

Steeds hang die vrugte van die kremetarte aan die blaarlose reuse, die klein mangobome is vol harde, groen vruggies en die kruine van die Terminalias is ‘n die ene koper en salm.
Nou is ons al fluks oppad na Malawi, ses dae later.
Ons het ‘n harde dag van ry gehad op verleggings en verby Chinese padbouers, tot in Dar es Salaam.
Dar is ’n groot stad, baie vragmotors, mense, hoë, moderne geboue en straatverkopers – klere, produkte, vis (sommer ‘n knewel van ‘n tuna). Ons moet weer met ‘n pont oor om by ons kampplek langs die see te kom. Ons gebruik ‘n oorstaandag om inkopies te doen, gas vol te maak, karre te was. Daan laat selfs sy hare sny, hou sy lyf lekker laventelhaan.
Ons besoek ‘n kunssentrum, TigaTiga, met ‘n besondere storie. Pragtige , kleurvolle, naïewe kunswerke, skeppings in die moment met hout en klei en olieverf wat saam hierdie kunssentrum vorm. Na ‘n verkwikkende draai by ‘n heerlike restaurant, is ons weer met die taxi en ons aankope na ons kamp.

Ons besluit om ons roete te verander en vertrek Saterdagoggend uit die stad na die Selous,  nou Nyerere NP. Ons  is vol gelaai met water, bier en vars voorraad. Die GPSe, Tracks en kaartboeke word ingestel, ons boom- en voëlboeke uitgehaal, ons sien uit na bos en die Rufijirivier!

Bome leef, bome het persoonlikhede. Party is netjies, ander slordig, sekeres is mooi uitgesorteer, elegant. Ander is bekonkeld met krulle en knoetse en sommige het veelkleurige bas, maar satynsag, of oud met deurleefde skurwe bas, of jonk en groen en vol vog en lewe… ander het sommer fluitjies ingebou, soos die fluitjiesdoring (staan soms velde vol, die ‘whistling thorn’). Die allerboomste boom bly die kremetart. Hier staan hulle in ‘n ruie woud met uitgestrekte arms en reik na die die son, kop en skouers bo die bos. Die Selous is ‘n mooie park, híerdie bome, die rivier en die mere. En dan die wild, die hele prentjie is ‘n kleinood om saam te vat, ‘n ware ingeprente en wonderskone belewing.
Ons het twee aande net buite die park geslaap, met ‘n boot op die rivier gevaar,  vir ure, warm gebak in die son en teruggekom by ons kamp in die aandskemering, die hele bos en lug was die ene karamel en karmosyn, klingelende G&Ts.
‘n Fassinerende en ondeunde klein nagapie het kom kuier en ons het weer ‘n bospawiljoen gehad vir die wedstryd tussen die Bokke en die Iere. Ai tog, die skoppe!?!
Gister was ‘n drentel en draal dag langs die rivier. Ons het dwarsdeur die Park gery en op ‘n koppie by Lemara Eco Camp na die uitganghek, gekamp. Hoe lekker kan ‘n yskoue vonkel nie wees na so ‘n dag nie?
Die eienaar/bestuurder van die kamp, Lepo, is ‘n Masai met ‘n droom en verwagting van homself en sy lewe. Hy het sy lewensstorie vir ons vertel. Ons is geïnspireer daardeur en gaan ‘n bydrae op sosiale media maak om hom te help. Toe tref ons gister die lieflikste, veelsydigste pad, ons ry deur die een tuin na die ander. Begin met kastaiings met lang wit stamme wat jou tot stilstand dwing, later reënwoude vol palm en palmiet en afgesluit met kremetarte, velde en valleie vol – dit lyk soos lewende oerwesens, net waar jy kyk. Klink soos ‘n sprokie… en die maan groei.

Ons beur suid. Nog een aand in Tanzanië, dan na Malawi, “the warm <3 of Africa”

2 Oktober 2023

Malawi, die lang landjie langs die turkoois meer met sy wit strande en baie vis vir sy mense, ou houtbote en die visarend, hoog en duidelik, is nou ons plek.
Ons eerste kamp teen die meer was nog in Tanzanië, ‘n Switserse sendingstasie. Oppad by ‘n mooi kerk verby gery, by een dans en sing kinders, by die Lutherse kerk sing ‘n mooie koor in  sterk Afrikastemme, gewyd, in harmonie. Dit hou mens vas.
Dit was ons beurt vir kosmaak en dit was die aand voor volmaan, die meer ‘n stil watervlak met die kleure van die sonsondergang op die water en die maan ‘n sjampanje bal, groot en blink.
Ons besluit ons moet aan hierdie oomblik vashou, maak ‘n opskiet restaurant op die strand. Ons word deel van die magiese Afrikanag. Skaapboud in gerookte uie en knoffelsous, kapokaartappels en ‘n tropiese lietsjieslaai is op die spyskaart. Na die tyd met al die heen en weer draery van als het ons gewonder oor die sin van die onderneming, tog, als die moeite werd!

Ons poging om die Nyika Plato te besoek het ons op ‘n onmoontlike twee-spoorpaadjie laat beland wat onrybaar geword het, ons was genoodsaak om die plan te laat vaar. Dit het ons ‘n ekstra luilekker dag langs die meer gegee.
Die droom leef voort met die maan en son wat byna kompeteer vir die mooiste skouspel, aand vir aand en elke oggend. Die groot ligte van die natuur boei ons en almal probeer die kunswerke op die oosterkim op foto vaslê.

Ons besoek ‘n houtsneestalletjie: kiaat en ebbe, rooi ivoor. Die houtsnyers maak beelde van mense,  diere, bakke en lepels. Noag se ark met al die diere daarin, aardbolle en krale, armbande ens. By die meer rol kunstenaars geverfde doeke op die strand oop en wil so graag erkenning kry en verkoop…mooi dansende figure, ander speel kitaar en drom. Nou is ons oppad na ‘n keramiekstudio. Almal skep, plant en oes en moet verkoop om aan die lewe te bly, om te kan sorg. Mens wens so dit kon makliker wees. Tog loop baie met ‘n selfoon teen die oor.

Ons skrop en skuur tussendeur, lees en werk fotos, swem en kuier, vier kleinkinders se verjaarsdae en doen en late. Thys, die dokter. dokter Woldemar se oor wat pyn van die swemmery in die meer.

Malawi is bekend vir sy geografiese verskeidenheid, die derde grootste meer in Afrika, ook nog deel van die Groot Skeurvallei en die hoë Nnyikaplato, die Zombaplato en dan die uitsonderlike Mulanjeberge in die suide vorm als deel hiervan.
Ek kan nie anders as om terug te dink aan ‘n vroeëre reis, in 1977, nie. Ons was vier vriendinne wat met rugsakke in lang rompe en kaalvoet deur Malawi geryloop het…’n storie op sy eie.
Ons program bly vol, ons klou nou aan die dae.
Reis, swerf, spore op ver paaie bring nuwe gedagtes, verfrissende perspektiewe, die lewe is ‘n skat!!

Of the gladdest moments in human life, methinks, is the departure upon a distant journey into unknown lands. Shaking off with one mighty effort the fetters of Habit, the leaden weight of Routine, the cloak of many Cares and the slavery of Civilization, man feels once more happy.

Richard Francis Burton

8 Oktober 2023

Dis Sondagoggend. Ons is oppad huistoe. Ons dink aan ons kerk, ons kinders, ons mense en ons lewe. Ons is reg daarvoor. Tog suig ons nog lekker aan ons laaste suikerklontjie – bietjie oos na wes deur Zambië, dan vat ons twee Zimbabwe, mooi, ou Rhodesië… moet vir oulaas die gees van die Zambezi deur ons lywe voel.
Nege grensposte lê agter die rug, nog twee voor. Ons het Malawi gegroet met gemengde gevoelens. Soveel glimlagte, soveel kuns op doek en uit hout en klei, rottangwerk…  Tog is dit vuil en droog, die mense veels  te veel en als ‘n bietjie uitsigloos. Ons verstaan hoekom Malawiërs met oemf in die suide van Afrika gaan werk en geleenthede soek.
Ons het die Mua Mission besoek. ‘n Katolieke sendingstasie, ‘n fassinerende dogma wat die Christelike geloof en die tradisionele kombineer(??). Maar hier slaan die houtsneewerk mens se asem weg. Uit een stuk hout word hele tonele uitgekerf – stambome met figure, kerklike rituele en vele meer uit ebbe, sering, rooi ivoor en kiaat.

Ons het ‘n aand op die Zombaplato geslaap, hoog en koel. Dit was ‘n woud. Nou dra die vrouens lang bondels hout vir kilometers daar af, die mans laai hulle fietse, soms ou mense. Dit vir ‘n inkomstetjie. Jou hart breek vir ‘n kaal berg, tog sien jy die honger. Gelukkig stroom die water kabbelend oor die rotse en speel die son met sy verfkwas in die wolke.
Die kunstenaars woeker met hout en doek, ander dra skottels met vars moerbeie, aarbeie en appelliefies aan. Ons stap en kuier en was uit ‘n skotteltjie warm water in die donker onder die sterre.
Die Liwonde Nasionale Park het ons verras. Lê aan die Shirerivier: lang regop mopanies op ‘n blaremat, vleilande, ‘n diereparadys. En die kampplek splinternuut en loom. Dîe park word deur African Parks bestuur, mens sien dit en dis ‘n posiiewe storie.
Ons laaste was ‘n Barefoot-aand in Lilongwe.
Ons het met nostalgie gister in twee rigtings gegaan na ons onderskeie grensposte toe. Andriette en Annemarie, Daan en Corna is na Suid Luangwa en ons drie voertuie mik vir Lusaka. Chrisna het ‘n ernstige rugbesering, sal seker van Katima Windhoek toe vlieg. Dankie tog vir Thys wat kan behandel en goed toegerus is met medikasie.
Afrika bly steeds ‘n kontinent met sy eie gees en ritme. Hier dink jy anders oor ‘n fiets, ‘n motorfiets, oor wat jy op jou kop kan laai, oor handel dryf, oor sing en oor leef.
En ons spore, ons voorvaders se spore en dié van sendelinge en sendingstasies lê ver en wyd oor die kontinent…

Tog, die wêreld is ons woning nie!

10 Oktober 2023

Zimbabwe is steeds ‘n landskap van oorvloed! Die Zambezi groot en stil. Ek mis die wilde geesdrif, die charisma van die Zambesi voor die Karibameer, sy energieke ontstuimigheid oor rotse en deur skeure en duisend watervalle. Nou vloei die rivier, stil en breed, getem en ingebreek – ai!
Ons ry vandag die tweede dag deur die interessante, geografiese landskap. Lekker kronkelpaaie oor heuwels en deur valleie, dorpies met duidelike nalatenskap van ‘n sterk koloniale verlede, blommende bougainvillas, breë strate met eilande en lanings ou flabojante,’ook pers jakarandas, lankal geplant.
Vanoggend ry ons op ‘n minder bekende pad van Gweru na  Beitbrug.Woldemar en sy Tracks kies vele kere die ongewone. Dis landelik, met  granietkoppe, reuse klipstapelings en die bome, weer die bome! Nou oortrek met nuwe jong blare, die msasas bly rooi, selfs die kremetarte staan ook hier met ‘n wasige groen kruin.
Die pad van Beitbrug na Masvingo is ‘n bekende pad vir my. My pa se sussie en haar man het altyd in Marondera gewoon. Ons het dikwels gaan kuier, ook vir Geloftefeeste, dan was my pa die spreker/prediker. Dit was wonderlik, vol pret en speletjies vir ons vyf kinders, lieflike herinneringe, toe nog ‘n ander land.
Zim is anders: stalletjies onder veelkleurige verbleikte sambrele, verkoop gaskoeldrank uit koelbokse, vrouens dra sonhoede, jy sien min Afrikalap en die volgelaaide fietse en motorfietse is vervang deur ou, klein karre.

Ons laaste grenspos lê voor. Byna agt weke van ry, ervaar, sien en hoor lê agter ons. Ons bly in verwondering oor die diepte van die Tanganjikameer, oor die uitgestrektheid van die MasaiMara, oor die hoë Virungas met sy gorillas, die aura van Kilimandjaro, die loom slaperigheid van Lamu, die magiese bekoring van die ou Oos-Afrikakus en nog vele meer…
Ons is veral dankbaar vir Vaderhande wat ons vyf kampkarre en ons, ou  ingeleefde swerwers,  veilig bewaar het en al hierdie mooi vir ons gegee het op ons eie kontinent!

Dankie vir julle saamry deur hierdie joernaal.

Kom vier saam die vreugde van LEWE, die skat van kuns en die immer teenwoordige behoefte om nuut te skep.

Kopiereg van alle intellektuele eiendom op die webwerf behoort aan Elsa Catharien Winckler behalwe as anders vermeld.

Kontak Vorm
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google