Kinderboek-uitstalling

‘n Keurige versameling Afrikaanse kinderboeke bymekaargesit deur Studio EW en Protea Boekhuis.

Verken en word verryk!

Inleiding

Welkom by ons uitstalling van droomboeke vir ons klein kinders! 

Ons is opgewonde oor die pragtige verskeidenheid inspirerende stories, die boeiende prente wat die verhaal in beeld vertel, die wonderlike reise en fabelagtige avonture wat alles hier in een Boekrak bymekaarkom.

Hier vat ons hande met stories uit ons eie Afrikabodem en ons wortels uit ver lande wat ons verryk en ons in verbinding hou met die groot wêreld daar buite. Ons kry dit reg om ‘n eie skat van kinderboeke in Afrikaans te hê, ten spyte van ons verspreidheid oor die aarde, en die klein groep Afrikaanses wat ons is, in vergelyking met die groot wêreldtale.

Ontmoet die dromers wat die stories in beeld verwoord, maak kennis met Protea Boekhuis wat ons lewe inkleur met ‘n kaleidoskoop van kleur en gedagtes in kwaliteit kinderboeke wat die asem wegslaan. Ons koester ook ons lieflike boeke uit ons grootwordjare…

Klik op die boek vir meer inligting oor die storie. Al die boeke is te koop en kan bestel word deur op die skakel te klik, Die pakkette verseker ook ‘n mooi versameling.

Geniet hierdie reis!

BOEK UITSTALLING
Waarde van boeke vir jong kinders klein en groot, al geslagte lank! Sarah Slabbert

Wat is ‘n goeie kinderboek?

As jy ook ‘n ouma is soos ek, onthou jy seker ook die Afrikaanse boeke waarin ons as kinders ons verlustig het: Langenhoven se Mof en sy mense, en Brolloks en Bittergal. Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas en Katrientjie van Keerweder, PJ Schoeman se Op ver paaie, Sangiro se Uit Oerwoud en Vlakte. En dan was daar natuurlik die reekse: Saartjie, die Uile, Keurboslaan.
Hier in die laat sestigerjare was dit my baie intellektuele moeder se boekklubbeurt. Die onderwerp wat sy gekies het, was een wat haar na aan die hart gelê het: kinderboeke.
Met haar gewone deeglikheid was die resultaat omtrent ‘n Magisterverhandeling met lyste van verwysings en nog langer lyste van die beste kinderboeke van regoor die wêreld. Sy en Oudtshoorn se wonderlike bibliotekaresse het hulle bestel en vir my en my sus aangedra: Esther Hautzer se The endless steppe, Rosemary Sutcliff, Ian Serraillier… en nog baie meer. Onvergeetlike ervarings.
Baie van hierdie boeke is nog in my boekrak, maar as ek van hulle vir my kleinkinders lees, voel hulle dikwels so ouderwets: Ek moet die heeltyd stop en woorde soos ‘’transportwa’’ of ‘’borsspeld’’ verduidelik, of lang beskrywings oorslaan om die tempo te versnel en hulle aandag te hou.
Aan die ander kant het ek al dikwels deur ‘n boekwinkel se hele rak van moderne Suid-Afrikaanse kinderboeke geblaai-lees en die een storie na die ander oppervlakkig en vervelig gevind. Of hulle preek vir jou en dit is nog verveliger.
En dan tel jy by Protea ‘n boek soos Die woordfabriek op en dis heerlik opwindend want jy weet jou kleinkind gaan dit net so geniet soos jy.
Dit het my laat wonder oor ‘n generasiegaping in kinderboeke en wat dit is wat sekere boeke tydloos maak. Ek onthou ‘n paar van die riglyne wat my ma uit die literatuur gehaal het: ‘n Goeie kinderboek is vir ‘n volwassene net so boeiend soos vir ’n kind. ‘n Goeie kinderboek is nooit uitgesproke didakties nie. En: “Enid Blyton is nou nie eintlik goeie kinderlektuur nie, maar die kinders kan daarmee identifiseer en dit kry hulle aan die lees.” (Enid Blyton was daardie jare se J K Rowling.)
Dalk geld al drie hierdie riglyne vandag nog. Party kinderboeke is eenvoudig eietyds; ander oorspan tyd en generasies. En lessies werk net in fabels.

Ons Boekrak, gepak vir hierdie uitstalling!

Hier volg ‘n versameling inheemse en vertaalde Afrikaanse kinderboeke wat ewe parmantig en spelerig in kinderharte kruip. Ook kom lê dit knus in grootmensharte wat ewig saam kan lag en sing en spring en jubel… en ook hartseer wees.
Geniet elke een en verlustig jou in die lieflike beelde wat saam storielyn, seisoen en emosie uitbeeld…

All
Bundel
Niefiksie
Plaaslik
Vertaal

Illustrasies deur Cora Coetzee. Kleuterverseboek

Die stem van Protea Boekhuis

“Afrikaans is ’n klein taal, daarom is dit nie verbasend nie dat vertalings uit die buiteland ’n groot rol speel om oorspronklike kinderboeke in Afrikaans aan te vul. Vertalings stel Afrikaanse kinders aan klassieke internasionale kinderliteratuur bekend. Dink maar net aan vertalings soos Pippie Langkous, Winnie-die-Poeh en Die Goorgomgaai. Dit stel ook Afrikaanse kinders aan internasionale tendense in kinderliteratuur bloot, soos die Harry Potter-fenomeen, en kan ’n verrykende invloed hê op die ontwikkeling van plaaslike Afrikaanse kinderliteratuur deur nuwe illustrasiestyle en nuwe genres plaaslik bekend te stel. As die grootste uitgewer van vertaalde Afrikaanse kinderboeke in Suid-Afrika is Protea Boekhuis daarop toegespits om die inheemse Afrikaanse kinderliteratuurskat uit te brei en verder te ontwikkel deur middel van internasionale vertalings van goeie gehalte.”

Dr. Anzette Williams, redakteur by Protea Boekhuis 

PROTEA BOEKHUIS

Twee onderhoude met bekende illustreerders

Piet Grobler en Alida Bothma

‘n Goeie kinderboek bestaan uit ‘n storie wat oor ‘n aantal bladsye afspeel met ‘n vertelling in beeld wat net so hard werk om die boodskap oor te dra. Dit is dus ‘n hegte eenheid tussen woord en beeld om ‘n verhaal van die een bladsy na die ander te vertel. 

‘n Klein kind wat nog nie kan lees nie, moet kan kyk en blaai en na ‘n voorlesing of twee, self die storie kan lees deur die prentjies. Dit word ‘n visuele taal. In Piet Grobler se woorde: 

Die illustrasie is nie gewoon ‘n nagedagte nie. Dis nie maar net ‘n kwessie van die kies van prentjies wat die teks laat mooi lyk nie. Woord en beeld tree in ‘n ingewikklede gesprek met mekaar in ‘n goeie prenteboek. En die illustreerder se oordeel moet vertrou word. ‘n Kundige uitgewer/redakteur is dus onontbeerlik.

Piet Grobler en Alida Bothma, albei ervare en geliefde illustreerders en kunstenaars, met ritse prenteboeke op hul kerfstok, het ‘n paar vrae beantwoord om ons in te lei in hierdie misterieuse en beeldskone kunsvorm.

Onder: Alida Bothma

Hoekom boei kinderboekillustrasies jou?

Alida: 

Die kinderboek is dikwels die eerste kunswerke waarmee ‘n jong kind te doen kry – sy eerste kunsuitstalling, kan mens amper sê! Prente maak so ‘n blywende indruk op ‘n kind, en dit is vir my opwindend as ek dit vir hulle  ‘n lekker ervaring kan maak en hulle lief maak vir boeke.

Alida Bothma

Piet: 

Miskien het ek ‘n kinderlike mentaliteit! Ek onthou hoe mal ek self  as kind was oor prenteboeke en hoe dit my verbeelding op reis geneem het. Miskien het dit in my psige bly sit. Ek vind dit ook boeiend dat die leserspubliek van prenteboeke so groot is: Alle mense is op ‘n tyd ‘n kind …en gee hul eerste treë na  ‘n belangstelling in letterkunde of gewoon lees, deur prenteboeke. Ek dink ook dis  ‘n hoogs onderskatte vorm. Ek het al vele prenteboeke gesien wat hoogs gesofistikeerd is en visuele geletterdheid en ‘n groot verwysingsraamwerk verg om sinvol gelees te kan word.

Hoe beplan jy jou prente om by die storielyn te pas? Mens wonder oor die verhouding tussen die skrywer en die illustreerder?

Piet: 

‘n Mens doen navorsing of dink daaroor na wat die geaardheid van die teks is. As voorbeeld kan ek drie boeke noem wat Philip de Vos geskryf het en ek geïllustreer het. Die hele drieluik is deur Protea uitgegee. Hulle is al drie geïnspireer deur die musiek van komponiste: Karnaval van die diere (Saint-Saëns se musiek); Vandag is ek ‘n windlawaai (Schumann se musiek) en Prente by ‘n uitstalling (oor  ‘n musiekstuk van Mussorgski). 

Alida: 

Die storie is my inspirasie en bepaal die gevoel en atmosfeer wat in die boek uitgebeeld gaan word. Ek sal die insidente wat ek uitbeeld, kies met die kind wat die boek lees in gedagte. Afhangend van die aard van die storie, sal ek die verskillende karakters uitbeeld waar aksie plaasvind en ook die gebeurtenisse in die storie wat ‘n kind sal boei.

Om die kunstenaar te wees wat prenteboeke skep, is ‘n genre op sy eie. Wou jy dit altyd doen?

Alida: 

Toe ek grafiese kuns na skool gaan studeer het, het ek nie geweet dat ek uiteindelik by boeke sou land nie. Ek was altyd lief vir kinderboeke en kon nie ‘n boek met mooi illustrasies weerstaan nie. Vroeg in my loopbaan het ‘n uitgewer in die Kaap my genader om ‘n boek vir hulle te illustreer, en daar het die gogga my gebyt, en bly boeke steeds my gunsteling manier om my kuns te deel.

Ek wissel boeke illustreer af met skilder, wat ek ook baie geniet.

Is hierdie kunsvorm jou hooflyn en skryf jy self stories?

Piet:

Ek het as kind gedroom daaroor dat ek dit wou doen, maar het nie kon dink ek sou dit kon verwesenlik nie! Ek was rasend opgewonde toe ek so op die ouderdom van 26 ‘n paar prente voorgelê het aan ‘n opvoedkundige uitgewer en hulle vir my ‘n reeks boeke gegee het om te doen. Dit was die begin vir my ….

Ja. Ek maak ook illustrasies wat as eenmalige kunswerke figureer (geraam, teen ‘n muur, verkoop in ‘n galery), maar my eerste liefde is die prenteboek.

Piet Grobler

Party mense behou ‘n lewe lank hul kindwees in hul gees. Sou jy sê dis noodsaaklik om kinders te boei met prente?

Alida : 

Ek sou dink dat dit verseker baie belangrik is om deur ‘n kind se oë te kan kyk en regtig in hul vel te probeer klim en indink hoe hulle iets sou sien of beleef.

Piet : 

Miskien moet jy ‘n jong gees behou, ja. Maar ek vind dit ook onwaar en onmoontlik as illustreerders/skrywers sê dat hulle self steeds kind moet bly om dit te kan doen. Ons kan gewoon nie. Ons het ons onskuld verloor. Ek dink eerder dat sommige mense se samestelling so is – of dat hulle skrywerstem of hulle visuele taal so is – dat dit bevatlik of ideaal is vir kinders.

‘n Wonderlike wêreld is dié van prente wat ’n storie vertel.

Hier is spesifieke milieu, karakters, seisoene, dag en nag en kulture aanwesig in elke kunswerk.

Piet Grobler

Dankie aan Protea Boekhuis vir die verbeeldingryke, wye wêreld wat deur hulle in ons huise kan leef deur al die prenteboeke vol stories en beelde! Dit lê op koffietafels en in speelgoedkamers, in kleuterskoolklasse en in tasse saam op reis. So hou Spoortjies saam vakansie, onder elke boom soek ons ‘n Stokmanfamilie, Sneeuleeu leef teen ons mure of in die wolke, Vlekkie en Spaghetti vir die Jeti en en en…leef gewoon saam in ons huise, regoor die wêreld. Elke boek is ‘n juweel, ‘n kunsuitstalling op sigself.

Hierdie handjievol boeke is ‘n druppel in die emmer van die skat van boeke in die Afrikaanse kinderboekliteratuur. Bederf jouself, jou kinders of kleinkinders deur nog verder te gaan soek…die tweedehandse mark lewer kleinode op. Maar wees snoep, dring aan op kwaliteit en wees verseker kieskeurig. Hierdie is die boustene van die kreatiwiteit in die kunstenaars en skrywers van die toekoms!!
Geniet en droom!

Geniet die droom!

Kom vier saam die vreugde van LEWE, die skat van kuns en die immer teenwoordige behoefte om nuut te skep.

Kopiereg van alle intellektuele eiendom op die webwerf behoort aan Elsa Catharien Winckler behalwe as anders vermeld.

Kontak Vorm
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google