Luister na drie passievolle jong stemme

Maak die goue verhouding deel van jou lewe …

AJ laat ons luister en bereken
Hanru maak ons oë oop
Joan kry ons betrokke

MUSIEK  |  BEELD  |  GROEI

AJ Maree

AJ Maree

Koor Dirigent

Verken die verhouding tussen musiek en wiskunde

LEES MEER
Hanru Marais

Hanru Marais

Fotograaf

Hanru herhinner ons om betrokke te raak by ons lewens

LEES MEER
Joan Greeff

Joan Greeff

Boom Entoesias

Ontdek die wêreld van Suid-Afrika se inheemse bome

LEES MEER

Hoor die MUSIEK, sien die WISKUNDE!

AJ Maree- wiskundige en passievolle musiekgees aan die woord.

Telling en simbole, tempo en patrone, golwe en simmetrie, vibrasies en harmonie… dis hier waar die lyn tussen wiskunde en musiek effe dof raak.

Wiskunde is die taal van die wetenskappe – ‘n studie gevul met orde, logika en rekenkunde. Musiek is die taal van die hart – ‘n kunstige samevoeging van emosies, kreatiwiteit en interpretasie. Musiek bring gereeld vrede en wiskunde kweek soms vrese, maar vir meer as 2 500 jaar voer hierdie dissiplines ‘n interafhanklike bestaan met baie meer in gemeen as wat ons besef.

Klik op die onderstaande opskrifte om meer te lees.

Pythagoras, Plato en Aristoteles

Pythagoras, Plato en Aristoteles was drie vindingryke akademici en het elk ‘n groot bydra gelewer in die uiteensetting van die historiese verwantskap tussen musiek en wiskunde.
Hierdie antieke baanbrekers het nie net wiskunde én musiek studeer nie, maar musiek as ‘n subafdeling van wiskunde beskou.
Die studie van wiskunde het in hierdie vroeë tye uit vier afdelings bestaan nl. getalleteorie, meetkunde, sterrekunde en musiek. Hierdie viervoudige vertakking van wiskundeonderrig was prominent tot aan die einde van die Middeleeue (+/- 1 500 n.C.)

René Descartes

René Descartes was ‘n Franse wiskundige, wetenskaplike en filosoof en word beskou as die vader van Analitiese Meetkunde – koördinaat-meetkunde op ‘n assestelsel. Sy eerste boek, Compendium Musicale (1618) het egter oor musiekteorie gehandel.

Pythagoras

Vanuit ‘n Europese oogpunt word Pythagoras as die heel eerste musiekteoretikus beskou. Sy musiekskaal is waarop vandag se Westerse 12-nootskaal gebaseer is.
Wanneer ons ‘n musieknoot hoor, bestaan dit eintlik uit ‘n sikliese reeks vibrasies. Klankgolwe (in die vorm van ‘n sinusfunksie) word gedefinieer deur die frekwensie waarteen die maksimum en minimum lugdruk per sekonde afwissel. Sodra die frekwensie van ‘n noot verdubbel word, klink hierdie twee note eenders en vorm dit ‘n oktaaf-interval – 12 halftone hoër. Dit is waarom die nootname in ons moderne musiekskaal elke dertiende halftoon herhaal.
Hier is die verhoudings tussen 4 C-note se frekwensies (in Hertz) met betrekking tot die eerste C-noot:

Vandag kan musikante en komponiste probleemloos tussen toonsoorte transponeer, aangesien die relatiewe grootte van intervalle tussen note in elke toonsoort dieselfde is.

Leonardo Fibonacci

Leonardo Fibonacci, die Italiaanse wiskundige, is grootliks bekend vir sy reeks waar ‘n term bepaal word deur die vorige twee terme bymekaar te tel. Die verhouding tussen twee opeenvolgende terme in hierdie reeks neig na die getal 1,61803398875… toe – ook bekend as die Goue Verhouding.

Nie net is hierdie reeks en verhouding prominent in die estetiese aanklank van natuur, biologie, kuns en argitektuur nie, maar dit maak ook interessante verskynsels in musiek, musiekteorie en musiekinstrumente.

 

AJ Maree het nadat hy ‘n graad in B.Sc. Aktuariële Wiskunde voltooi het sy korporatiewe skoene uitgetrek vir ‘n loopbaan in die onderwys. Hy is tans ‘n wiskundeonderwyser en koordirigent by die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria.

AJ is ‘n entoesiastiese musiekliefhebber en gebruik graag sy talent om gehore te vermaak. Onder sy leiding het die Affie-koor in 2018 by die Wêreldkoorspele ‘n goue medalje ontvang in die kategorie vir Jong Mannekore.

“Ek is dankbaar dat my liefde vir mense, musiek en wiskunde my die geleentheid gee om daagliks te groei, te leer en te inspireer.” – AJ Maree
“Sing om mense se harte aan te raak” – Die leuse van die Affie-koor
FACEBOOK
E-POS

Ontmoet vir Hanru Marais

Ek het reeds op ’n vroeë ouderdom die waarde van ’n joernalistieke/ verhalende benadering tot fotografie besef. Ek was op ’n Drakensberg staptoer op skool waar ek met my heel eerste kamera die staptoer vasgevang het, en na afloop van die staptoer het ek van klas tot klas gegaan om die CD met die herinneringe wat afgeneem is te verkoop aan mede klasmaats. Dáár is die vlam behoorlik aangesteek van hoe belangrik dit vir my is om vir ander te kan weergee wat ek/ ons ervaar het.

Die verskil tussen KYK en SIEN het ’n enorme impak in hoe ek my werk as voltydse fotograaf benader. KYK is vlietend en SIEN is om werklik in te neem en om dit wat ek sien vas te vang, of dit nou emosie of ’n besonderse landskap is.

Dit word vasgevang en kan opnuut weer en weer beleef word. 

Ons lewe in ’n wêreld waar kyk vinnig is en sien skaars is, en ek poog met elke foto-sessie om die ewigheidswaarde vas te vang met my kamera. Soms moet jy jouself in jou eie spore stop en jouself dwing om die mooi om jou raak te sien. Soos wat jy hierdie lees wil ek jou uitdaag om vir ’n oomblik stil te sit en om jou te kyk om iets moois te bewonder, of dit nou ’n skildery is of ’n mooi kers. Die vakmanskap wat in dit ingegaan het raak te SIEN. Soms is dit so eenvoudig om net mekaar net raak te SIEN in hierdie harwar lewe waarin onsself bevind.

SIEN die mense om jou raak wat vir jou lief is en maak hulle attend daarop. Jy mag dalk net iemand se dag in ’n ander rat sit en ook hulle weer laat SIEN. Ons lewe meestal met klappe op ons oë en mag ons mekaar elke dag herinner van wat regtig saak maak. Vir my persoonlik op elke foto-sessie waar ek is sien ek die mooi raak, vang dit vas en weergee die mooi vir iemand anders – wat ’n voorreg om dit te kan doen vir ’n werk.

SIEN die mense om jou raak wat vir jou lief is en maak hulle attend daarop. Jy mag dalk net iemand se dag in ’n ander rat sit en ook hulle weer laat SIEN. Ons lewe meestal met klappe op ons oë en mag ons mekaar elke dag herinner van wat regtig saak maak. Vir my persoonlik op elke foto-sessie waar ek is sien ek die mooi raak, vang dit vas en weergee die mooi vir iemand anders – wat ’n voorreg om dit te kan doen vir ’n werk.

Ek het sopas teruggekeer van Frankryk/ Italië waar ek weer met film geeksperimenteer het. Die konsep van SIEN bly dieselfde maar die proses is so delikaat waar ek met elke foto die ‘hoop’ koester dat dit gaan uitkom soos wat ek dit geSIEN het. Om in ’n donker kamer in te gaan en die fotos te ontwikkel met chemikalië is hoe ons ouers/groot ouers fotos ontwikkel het. Ek neem in swart en wit en met elke foto wat ontwikkel word voel ek weer soos ’n kind met die opwinding van hoe mooi die eindproduk is, die afwagting en hoop is werklik ’n ander gevoel as wat ek ervaar met ’n digitale kamera. ’n Voorbeeld van só oomblik was toe ek in Frankryk in ’n bakkery ingestap het met my film kamera om my nek, daar het ek hierdie toneel sien afspeel waar ’n man vars gebakte   croissants gekoop het en dit het Frankryk vir my in ’n foto vasgevang.

Ek gaan van 2022 vir elke bruid 10/ 15 swart en wit film fotos ontwikkel en dit so deel maak van my trou pakkette. Daar gebeur iets met ’n mens as jy iets vashou, voel en SIEN met jou eie oë. Ek het in die proses geleer om werklik in te neem en asem te haal, haal vir ’n oomblik jou voet van die pedaal af en SIEN wat gebeur om jou. Ek kan jou waarborg dat jy iets gaan raak SIEN as jy werklik die tyd neem. Dit gaan oor ’n ander ingesteldheid wat ek mens moet deelmaak van jou lewe om anders te sien. Maak dit jou intensie om rondom jou te sien, werklik te sien.

 

My ervaring en JOU storie maak gee my werk waarheid.

Hanru Marais

WEBWERF
FACEBOOK
INSTAGRAM

Innemend Inheems

Deur Joan Greeff

Mens kan nie help om te glimlag as jy aan Suid-Afrika se inheemse bome dink nie. Elke liewe een bars uit sy nate met karaker en kleur. Dis die name, lyfies, geaardhede en die geselskap wat hulle hou.

Deftige langbeen appelblaar is beroemd vir geselsies met luiperde maar in die koekerasie van ‘n deurmekaarbos is daar skaars plek vir ‘n mossie. ‘n Platkroon doringboom lok sedige kameelperde. Agter die rokspante van ‘n trosvy is daar ‘n huisie vir alles wat leef en beef. 

Kremetarte is sagte introverte, koraalbome het ongetwyfeld elkeen ‘n Kuns- en Kultuurbalkie en vlam-van-die-vlakte is ‘n besige eksemplaar. Baie inheemse bome is eerste in Afrikaans benoem wat hulle eweknie-name in Engels so lagwekkend lomp laat klink soos byvoobeeld huilboerboonboom wie se Engelse naam ‘weeping boer bean tree’ is.

JH Pierneef – Boabab, NT

Ek kan getuig dat die reis van leek na boomkenner lank en vol draaie is. Eers lyk alle bome dieselfde, stamme, takke en blare. Dan begin hulle stadig persoonlikheid kry. En skielik wil jy dies wat jy wel ken vir almal uitwys. Vinnig word dit duidelik dat die bekoring van inheemse plante nie net beperk is tot hoe hulle lyk nie. Baie is eetbaar en het medisinale waarde. Jy kan jouself tot bederf met tuisgemaakte noem-noem/carissa stroop.

Ons unieke land het ‘n geskatte 1 700 inheemse boomspesies. Die hele VSA het maar 950 en die hele Engeland so 60. Ons het ook van die rykste blomstreke in die hele wêreld. Die Kaapse streek het 8 600 plantspesies, die Maputaland/Pondolandstreek het 7 000 spesies en die Vetplant Karoostreek het 5 000 spesies. Dis amper ‘n sonde om nie meer betrokke te raak nie.

Die beloning vir kennis van jou streek se inheemse bome en plante, is meervoudig. Die plante is gewoonlik waterwys en sal met vrolike entoesiasme in jou tuin groei. Hulle bied onverbeterlike tuistes vir goggas en voëls en koester ‘n veelsydige en uitgebreide natuurlike ekosisteem.

Twee van die interessantste tuinmaak voorstelle wat jy gerus kan oorweeg, is:  

  • Verander ‘n hoek van jou tuin in ‘n inheemse bos ‘(bush clump’ op Engels). Vestig plante wat pas by jou streek met bome, struike en grasse wat sielsgelukkig sal groei en gedy sonder dat jy regtig inmeng.
  • Die tradisionele grasperk is eintlik nadelig vir biodiversiteit. Grasperke gebruik onregverdigbare hoeveelhede water, verg baie moeite en vernietig ekosisteme. Hulle bied geen skuiling vir bestuiwers, goggas, kewers of vlinders nie. Mens moet darem by sê dat hulle baie goed is vir die sporadiese krieketwedstryd. Jy sal egter nie spyt wees as jy ‘n paar alternatiewe vir ‘n grasperk ondersoek nie.

baardbessie, lekkerbreek,  bliksembos, helikopterboom,  kanniedood, moepel,  oordeelboom, renosterkoffie,  snotappel, snuifkalbassie,  sprokiesboom, stinkbos,  treurperdestert, voëlsitboom, waterkeurtjie,  wortelboom

 

Uit al die bogenoemde is my hunkering na my eie kwekery gebore. Die idee groei nou al vir ‘n paar jaar op my. Ek wil graag ‘n platform skep waar mense plante kan ontmoet. Nie net sien en koop nie, maar waar plante voorgestel word, waar mense opgevoed word. Waar interessante stories, feite en nuttige inligting toeganklik is en op ‘n aangename manier tentoongestel word.

In my kwekery sal jy ‘n inheemse plant kan uitsoek wat jy vir jou geliefdes as geskenk kan gee. ‘n Plant wat in ‘n mooi pot (indien nodig) met herwinbare verpakking by hulle deur afgelewer sal word. Plante met pragtige instruksies wat sin maak vir die gewone mens. Jy kan vir jou student ‘n voorplantingstasie met wortelsteggies bestel en vir jou kleinkinders vet en vrolike bolle wat sommer voor hulle oê begin wortels en blare kry.  Met ‘n hoekie vir kunstenaars waar hulle hul uitsonderlike mooi botaniese sketse kan verkoop, wie weet.

In grendeltyd was daar internasionaal ‘n golf van belangstelling in tuinmaak en plante, een van die bedekte seëninge van die pandemie. Kom ons hou aan om die planteryk te verken. Kom ons lê die klem op ons pragtige plaaslike planteryk. Ons is bederf met ‘n onverbeterlike verskeidenheid en ek belowe, as jy eers begin het om inheemse plante te ontmoet, gaan jy nie weer ophou nie.

Joan Greeff

BESOEK MY kweekery.co.za

Kom vier saam die vreugde van LEWE, die skat van kuns en die immer teenwoordige behoefte om nuut te skep.

Kopiereg van alle intellektuele eiendom op die webwerf behoort aan Elsa Catharien Winckler behalwe as anders vermeld.

Kontak Vorm
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google