Boom Nuusbrief

Liewe leser/kyker/dromer,

Hoe sal ons mekaar aanspreek?

Ons is mense wat krampagtig bly vasklou aan die mooi, aan die goeie en aan ons eie…of dit ons mense, ons goed, ons plek of ons toekoms is. Die wêreld en die mense daarop en al die woelinge rondom, wou al vele kere in die verlede, ons beleef ook iets daarvan nou, die mens probeer ontneem van sy vreugde. Ons is geensins gewillig om so afgetrek te word nie. Ons sit ons delikate winterblomme in ons ou vase, ons steek ons lang, geriffelde wit kerse aan, pak ons kaggel vol gekapte bosveldhout wat skiet en kraak as dit brand, en skink ‘n diep glas rooiwyn uit die Kaapse wynlande. Dan kuier ons, ons gesels, ons lees gedigte of stories van ver plekke en droom drome, maak die oomblik ‘n heerlike warm prentjie vol hoop.

Dit laat my dink aan n kinderboek van jare gelede, Die Tuindorpie. Dis geskryf deur Eveline Hasler en geíllustreer deur Stepan Zavrel, in Afrikaans vertaal en uitgegee deur Daan Retief Uitgewers…1989. In kort gaan dit oor hierdie kleurvolle, blomoorlaaide dorpie vol dartelende skoenlappers en gelukkige, gewone mense. Nie te ryk nie, nie arm nie, nie gejaagd nie, ook nie ledig nie, maar gelukkig en vrolik, en tevrede.

Op ‘n dag besluit die nare burgemeester en stadsvaders die blomme en skoenlappers is die rede vir al die plesier. Daar moet meer gewerk word, meer bereik word, basta met die mooi en drome. So word al die blomme, al die skoenlappers in ‘n begraafplaas toegesluit. Mense is vaal, jaag, kwaai, wedywer, word bang. Maar ‘n dogtertjie en seuntjie begin blomme teken…op die klas se swartbord, in hulle skoolboeke. Almal kweek ‘n skelm plantjie: die kleremaakster in haar vingerhoed, die posmeester in sy laai en sommiges se blommetjies groei in hul koppe… Hier en daar vlieg ‘n getekende skoenlapper op ‘n muur, teen ‘n paal. Toe gaan maak die kinders een nag die hekke van die blommebegraafplaas oop, die stormwind waai alles uit en die volgende dag is die dorpie weer ‘n vrolike warboel vol geel en rooi en groen in die goue sonskyn. En die mense se voetstap is ligter. Oral lag almal en kuier en die kinders speel en die dorpie is weer ‘n prentjie.

Balans is terug, die natuur en aarde moet die wipplank balanseer. Die mens alleen verdrink die aarde en uiteindelik homself…
Ons lewe is nog steeds ‘n prentjie. Bome is een van ons ankers; hulle lewe, hulle treur, hulle kry so bibberkoud, hulle is dors en honger vir suurstof en son, hulle is jonk of baie oud, hulle groei en is soms baie siek, hulle kry swaar en bars uit in vreugde en blomme. Hulle gee beskutting, deel kos uit, beskerm, gee medisyne… Hulle leef saam met ons, is ons lewenskamerade, kleur ons stuk aarde, hier waar ons spore lê, in met skoonheid. Blomme, plante en bome is een van die ankers om ook nou, in díe tye, ons dae vrolik en vol te maak.
Bome staan hul staan deur dik en dun. Ons staan ook ons staan!
Hier is ‘n gedigteprogram: Ter ere van bome!

‘n Bome-gedigteprogram ter viering van die rol wat bome in ons totale lewe speel, ook vanaf antieke tye, en ook in die toekoms.

‘n Besondere simbiose, ‘n handevat van bome en die taal wat só beeldskoon is.

Deur Anita Bester

Ode aan 'n Eik

Stemme uit die Suiderland X 2014

Saam met jou o Grote Eik, huil ons ook trane vol spyt!
Jou lewensdraad nou kortgeknip, hoe graag ons dit ook sou wou keer
om jou te sien na onder val, is hartverskeurend seer…

Stuk vir stuk en tak vir tak, word jy al hoe kleiner-
jou skadu al hoe minder, jou lewe al hoe korter…
tot later net n stomp daar staan,
wat ook maar na die hert sal gaan.

Waar gaan die voëltjies dan nou slaap?
en waar gaan die uiltjies skuil?
as die donker nagte kom, as die winde droewig huil?

Die vesting van jou takke weg, die ritsel van jou blare stil…

Saam met jou o Grote Eik, huil ons stééds trane vol van spyt,
oor ‘n reus van soveel jaar, wat ons toe tóg nie kon bewaar!

Ou Voortrekkerliedjie

Skrywer Onbekend

O Vaderland

O Vaderland, ek ken jou bome:

Kiepersol, kiaat en koorsboom,

Ou wildevy, karee en rooibos

en daar’s vir my, Suid-Afrika

Geen ander land soos jy nie.

OUHOUT

Deur Piet de Jager

noudat die ryp my vang
en ek slyts toiingrig
met opkrulskille teen die stam
gebas word
wil ek voluit ouhout raak:
groen kartelblare rondom my
lemmetjiefonteine
blom-blom bo my kroon
uit dink uit maak

Kremetartboom

Deur TT Cloete

die kremetart is ‘n boom
hy laat nie sommer mense in hom klim nie
hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop
die olifante het hom bygekom en sy bas gestroop
dit laat hom ongeroer
die kremetartboom is ‘n boom

die ape mag maar in hom klouter
baljaar en hom beskyt dit laat hom ongeroer
hy laat die slang en vlermuis in hom boer
die leeus mag aan sy basis pis
hy bly maar wat hy is
die kremetartboom is ‘n boom

diep in sy sagte bruin ou bas
het harteloses hulle éie harte uitgesny
dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye
vol van hulle blommesoet gemaak
die spinnekoppe span in hom hul sterrerak en radar
die kremetartboom is ‘n allerboomste boom

hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug
meer aarde toe terug en ín as in die lug
mens sien hom as hy oud is raker raak
vol rimpels sag vol vog en sap
geen ander boom lyk naasteby
so enig bomelik soos hy
alleen die GrootVoet kan hom trap
sy swaar liggaam totaal toemaak
die kremetartboom is my boom

Wilgerbome

Deur E Eybers
Die vrou en ander verse
1945

Die einde van die dag het my gebring
na hierdie rookblou uur waarin hul staan
wasig en tinger, met ‘n wasbleek maan
tussen hul ragwerk en die skemering.

Die lente het deur hul slankheid opgestoot
om in ‘n teergroen tinteling oor te stort
maar in die droefheid van die skemer word
hul glansloos en gebonde aan die dood:

drie yl gedaantes aan die watersoom
in slingerende fraiings gedrapeer
en weerloos teen die spruitwal vasgekeer
soos geeste op die drumpel van ‘n droom,

wagtend om deur die donker uitgewis
en weer eens in vergetelheid gevou
te word – Wie sal hul môre nog onthou
as alles swart-op-wit en helder is

Lemoene

Deur Heilna du Plooy
Versindaba
2006

Sy pluk lemoene in die tuin.
Hoeveel lemoene, vra die vrou,
kan ek in my hande hou?
Sy wil vir almal van die vrugte vat.
Hoeveel lemoene, wil sy vra,
kan mens in jou arms dra?
Buite die tuin waai ‘n woedende wind.
Hoe ver gaan ek kom? dink die vrou,
en sy buig oor haar vrag soos ‘n kind.
Een lemoen val, dan val daar meer.
Vir hoe lank, wonder die vrou,
kan mens so teen die wind in beur?
Jare daarna kom die vrou
weer te staan voor ‘n boom.
Sy dink oor haar lewe soos oor ‘n droom.
Sy gee nie meer om hoeveel nie.
Waarheen, vra sy nou, waarheen?
Lemoene is padkos. Die vrou pluk net een.

Jaarringe

Deur Hennie Nortjé
In die skadu van soveel bome, 2012

Tussen die lyne lees jy dan
hoe lig en uitgelate al my lentes was,
hoe oomblikke van somer
my jaarliks donkerbrons kon brand.
Maar oor landskappe geverf,
in die groot galery uitgestal elke herfs;
my gebibber winter op winter,
my gedweë gebuig voor wind en weer –
hieroor meld die geskrif nie veel.
Oor die klein heldedade van ‘n halwe leeftyd
staan daar geen word gekryf
in hierdie stomp vertaling van my lyf.

Bome

Deur E Eybers
Tussensang
1950

Eers, in verbygaan, het ek iets so skoon
en vreemd gesien: twee bome in die veld
vlak langs mekaar, soos met die teer geweld
van kunstenaarshand gebuig in ‘n patroon
van sagte kurwes wat na buite vloei
so lenig soos blomkelke op ‘n steel.
Elkeen kon sprei en sonlig drink en leef,
en saam was hulle ‘n suiwere geheel.
Al was hul wortels hoe intiem omsluit,
hul takke het nie verstrengel of gebots
-Vir my was hulle fier en vry en trots
en nogtans nederig in hul hoflikheid.

Dit is die liefde waaraan ek getrou
sal bly tot aan die slot-die enkele, ware,
wat donker wortel in my kinderjare
omdat die teerste dinge wat ‘k onthou
verbonde is aan bome…

Hierdie geur,
nou, ná die reent, en hierdie skuifellied
wat altyd vaagweg fluister van verdriet
wat eindeloos en soet is, flonker deur
die dun, verwarde beeld van baie dae.
Grou en gehurk, of groen en vertikaal,
was hulle n anker vir die oog se trae
en dwalende verlange deur die vaal
en effe veld…

Die leer van bome

Deur Lucas Malan
Woordreise-dieper dinger
2012

As kind het hy die geur van hout
leer ken, in saagsels klam van hars
geruik hoe seders hul teen pyn verset
en vaag vermoed hy hoor ‘n mens uitroep
as saag en spyker deur die balke knars;

al spelend so onder maats het hy
gemerk hoe vlek die soet granaat
‘n meisiekind se hande en haar mond;
alreeds begryp hoe taai die boom
se vrug akkoord hou met die smaad.

Later het die palm groen hosannas
voor hom oopgestraat, het hy vervloek
die vyeboom se vrugtelose aard. En toe
hy struikelend op pad na Golgota
wou rus, die skadu van ‘n boom gesoek –

en ná hy met die ander kon vergader,
toe hy in daardie laaste tuin alleen
moes worstel met sy eerste Vader,
toornig van die vrank olyf geleer
dat bome wroegend soos ‘n mens kan ween.

Commiphora

Deur ElsaCatharien Winckler

Vir Caren

Gegrendel in kwarts en doloriet
reik geskilferde kurkarms op in
die oop son, gryp die ragfyn maandrade van die nag.
Tog onbegrens, turend na die vér horison

Wortels dring deur klip en vou rankend omheen
ankers teen storwind en barre dae
Die oerhart klop ritmies deur jou onderaardse are,
bind eeue vas aan mekaar soos lae van geplooide gesteentes

Skilferskubbe en basbondels omhul jou stam en tak
vorm teen die bleek lug ‘n yl blaredak,
verbind lewegewend wortels en kroon, gekrul en geknoets,
vorm drieheilig een, bring skadu, lewe en ewigheid

Uit hierdie verweerdheid, hierdie seer geskubte vergroeisels drup
amber taai trane, klouend teen die stam, vorm dan stadig ‘n
harskristal. Deur pars en beitel word dit edel mirre, olie, wierook-
oor tyd en grense heen, heel, balsam, salf

o Commiphora, droomboom, towerboom
oor kontinente heen, vandag more en antiek!
o, vreemde sprokiesboom op harde kwarts en doloriet
wie is jy wat so teer, so wyd kan aanraak?

Commiphora: Kanniedood

Gebed

Deur Ernst van Heerden

Maak ons eenvoudig soos hulle wat naby die aarde staan,

die sterre sien,

die winde hoor,

en glo…


Mag jy in elke dag vreugde vind!

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google