Om in Afrika te reis, beteken om oorlaai te word met baldadige kleur, verskeidenheid van teksture en vrye ruimtes. Dit is wat ons aangryp en bekoor, waaraan ons wat ‘n band met die kontinent het, vashou. Die vroue wat ons op ons reis sien, dra helder kleure, hulle dra natuurlike juwele. Hulle hou van tradisie, dit sien ons in hulle haarstyle. En hulle is gemaklik. Ons leer by hulle. Ons hou ook van mooi klere en wil graag goed voel in dit wat ons dra. Die inspirasie vir die artikel kom uit ons eie ryk tradisie en grootwordjare in Afrika, maar ook uit die voorbeeld van ons susters boontoe op ons vasteland. Ons is ook vroue van Afrika.
Die uitrustings waaroor dit hier gaan, is saamgestel uit elke model se gewone klerekas. Jy sal verbaas wees wat mens rondom kleur en ‘n tema kan saamsit uit jou eie kas. Probeer gerus. Geen besoek aan ‘n duur boetiek is nodig nie, ‘n bietjie waagmoed en kreatiwiteit kan ‘n mooi prentjie oplewer.
Vir die veld, wanneer ons gaan voëls kyk, op ‘n wildrit gaan of selfs stap, is natuurlike kleure van ons bos die keuse. Hier werk skakerings en kombinasies van groen, bruin en kakie, asook gryse uitstekend. Ons het ‘n ryke nalatenskap van safarimodes. Met ‘n bietjie moeite kan die lieflikste prentjie geskep word: serp, hoed, leergordel, stewels of tekkies. Houtkrale, been, volstruisdop of sade is so eie aan ons stuk aarde, dit is uniek, dis lig, dit pas in. Die landskap is óns grootse voorbeeld van tekstuur. Dit maak ‘n prentjie net mooier. Ons materiaalkeuse is koel katoen en rekbare, eietydse kombinasiestowwe.
‘n Onderbaadjie van ‘n growwe tapisserie of gordynstof kan ‘n uitrusting komplimenteer en ‘n lang, safaristyl bloes met sakke is ‘n wenner. Dit beskerm ook sommer teen die son. ‘n Toer deur Afrika, om verskillende lande en eksotiese plekke te besoek, saans te kamp, vereis ‘n ander klerekas. Dit is ook ‘n kas wat min plek in beslag neem. Nogtans kan jy tooi in helder kleur en dan pas jy in by die vrolike, bont markte, die stapels bloedrooi tamaties langs die pad, die ryp oranje
mangos en papajas. Ry ook nie ‘n kamerjas saam nie, vou jou toe in ‘n Masaidoek en dra ‘n sarong as ‘n romp. Hier is ‘n ryk geskiedenis van juwele: koraal, koper, silwer en amber. Om nie te praat van al die mooi stene uit die Namibwoestyn nie!
Dit is belangrik dat reisklere gemaklik is. Ons is nou ook al ‘n bietjie verweer en goed ingeleef. So moet ons klere ook wees en sonder stremming om ons vou en pas. Dit is noodsaaklik dat die styl en ontwerp van jou uitrusting by jou figuur pas. Enige figuur kan met die regte styl gekomplimenteer word. Belê gerus in slim items wat gereed is as jy skielik besluit om ‘n avontuur aan te pak, dan is die pakproses ook sommer veel makliker en die vooruitsig net lekkerder. En jy is ‘n elegante reisiger.
Die seisoen en temperatuur bepaal jou voorbereiding. Afrika is ‘n kontinent van uiterstes – versengende hitte en ysige, hoë winde, droë, stowwerige savannas en langdurige reën in die trope. Dit is ‘n wonderlike uitdaging om reg aangetrek te wees vir al die ekstreme.
Koop gerus langs die pad. Die winkeltjies bied ‘n verrassende verskeidenheid lappe en dis boeiend om te gaan kyk en te onderhandel oor prys. Dikwels is opwindende ontdekkings ook deel van so ‘n besoek en groot pret vir vriendinne. Op die
manier ondersteun ons dan ook die plaaslike ekonomie.
Nou ja, ons voorgeslagte het stylvol en gepas gereis en in die veld geleef. Ons doen dit met entoesiasme en ons sien reeds die volgende geslag is passievol besig om hul reissakke met n plan te pak. Die kampvoertuie staanreg!

Deur ElsaCatharien Winckler

Gepubliseer in Plus 50,  April/Mei 2020