Kersstories

Volg Studio EW se uitgesoekte reeks Kersstories die Kersseisoen. 

Die Engeltjie wat agtergebly het

– PJ Cillie

Daar was eendag twee dogtertjies wat elke jaar by Willie se Baai vakansie gaan hou het saam met hulle ouers.

Die een kindertjie was Anna en die ander Susanna en dit was ‘n hele paar jaar gelede toe Willie se Baai nog ongerep was. Net ‘n paar witgekalkte strooidakhuise teen die duine en geen jaagbaan na die stad toe nie.

So, Anna en Susanna gaan speel op die hoogste duin soos gewoonlik. Altyd en nie te lank nie of ‘n fraai seuntjie vra of hy mag saamspeel gee hulle om?

Hulle sê dis ‘n plesier en hoe voer hy die van? Want hulle het hom nog nooit tevore by Willie se Baai opgemerk nie.

Die seuntjie sê hy was ook nog nooit tevore daar nie om die waarheid te sê. Maar hy hou van die plek. Hy sê dit steek nie sleg af by waar hy eintlik vandaan kom nie behalwe vir die suidoos. Maar sê hy, hy gaan boompie verplant as hulle ‘n teerpad bou na Willie se Baai toe.

So, Anna vra wie is hy nou werklik?

Die seuntjie sê hy is ‘n engeltjie.

Susanna sê seker maar figuurlik gesproke.

Die seuntjie sê o nee. Hy is ‘n baie letterlike engeltjie. En hy trek sy hemp op om sy goue vlerkies te wys.

Anna vra wat op aarde maak hy op die aarde en boonop by Willie se Baai?

Die engeltjie sê hy het eeue gelede saamgekom met ‘n hele groot koor. Hy was een van hulle beste seunsoprane volgens die kenners.

Susanna vra of julle hom dan vergeet het toe hulle terug is?

Die engeltjie sê hy het self agtergebly. Hy hou van die aarde want dit is vol afwisseling as mens ʼn bietjie rondgaan. En hy het die mense ook liefgekry behalwe party.

Susanna sê maar dan is hy mos ‘n stout rondloper-engeltjie.

So, die engeltjie ruk hom op. Daar is nie so iets soos ‘n stout engeltjie nie sê hy. ‘n Engeltjie is altyd soet volgens definisie. Net af en toe ‘n bietjie afwykend miskien.

Susanna vra of hy nooit terugverlang nie?

Die engeltjie sê so ‘n bietjie. Veral soms. Maar vir hom is dit nie so ver soos dit vir die mense lyk nie. As die mense net kon weet hoe naby dit alles is.

Anna vra of hy dan verlof gekry het om op die aarde te bly?

Die engeltjie sê o ja. Solank hy net nie sing nie. Dit is streng verbode. Sodra hy sing moet hy dadelik terug en dit is baie swaar want hy sing graag en ook baie mooi al sê hy dit self.

Susanna sê sy het ‘n plan. Hulle hou die volgende aand ‘n Kersboom in die saaltjie by Willie se Baai. En dáár sal ‘n kinderkoortjie liedere sing.

Susanna sê die engeltjie moet kom saamsing. Sy stem sal gemeng wees met al die ander en die betrokke owerheid sal dit nie eens oplet nie.

Die engeltjie twyfel eers ‘n bietjie. Hy sê hulle ken nie sy owerhede nie. Daar is omtrent niks wat hulle ontgaan nie.

Maar die dogtertjies praat hom om want hy het baie lus vir sing veral Kersliedere.

So, die volgende aand staan hy tussen die kinders by die Kersboom van Willie se Baai en hulle sing Stille Nag en Kom Herwaarts Getroues baie mooi.

En toe meteens styg ʼn goue kinderstem bo al die ander uit in ‘n onbekende lied so skoon soos nog nooit op die aarde gehoor is nie behalwe één keer.

Die kinderkoor raak stom van verbasing en almal sien dit is die vreemde seuntjie wat alleen sing.

Anna fluister vir Susanna nou sal hy moet teruggaan. Maar die engeltjie sing voort vir die eerste keer in byna tweeduisend jaar.

En skielik word oor Willie se Baai die geruis gehoor van ‘n magtige koor wat niemand kan sien nie. Hulle val in by die hoë stem van die engeltjie en hulle sing ‘n lofsang asof die hemel oopgegaan het. Hosanna in excelsis!

Die stemme sterwe weg en stilte kom oor die strand. Net die see prewel soos ‘n ou dominee wat die seën uitspreek. En die engeltjie is nie meer tussen die kinders nie.

Die Christus-Draer

– Hester Heese

Op ‘n stormagtige nag sit ‘n veerman in sy houthuisie op die wal van ‘n rivier. Sy kaggelvuur vlam rooi en laat skaduwees teen die mure dans. Die wind ruk aan die vensters en deure van die huisie, en tier om die hoeke. “Op so ‘n onweersnag sal niemand tog oor die onstuimige water wil vaar nie,” dink die veerman. “Wie sal dit nou op so ‘n nag buite waag?”

Hy voel lomerig van die vuur se hitte en wil net indommel. Bo die windgeraas hoor hy opeens ‘n veraf dowwe geroep. Kan dit wees dat iemand tóg in dié onweer oor die rivier wil gaan?

Hy staan op en vat sy lantern. Toe hy die deur oopmaak, ruk die wind aan sy jas en die reën waai koud in sy gesig. Die geluid buite klink byna soos die gekerm van ‘n kind. Die veerman kyk na die donker bome wat laag buig, hulle blare blinknat in die lig van sy lantern.

“Dis maar net die wind wat so huil deur die bome,” sê hy hardop. “Dis ‘n wilde nag.” Hy gaan weer sit en gooi ‘n paar stukke hout op die vuur, wat laag begin brand het. Die vuurtonge spat in die skoorsteen op.

“In so ‘n nag sal niemand dit buite waag nie,” verseker hy homself en trek sy jas stywer om hom.

Die windgedreun word hewiger, sodat dit voel asof die huisie daarvan skud. Hy is dankbaar dat niemand geroep het nie. Om in so ‘n nag, in die koue donkerte, oor die rivier te vaar, sal moordend wees.

Maar daar is dit weer! Die dowwe huilgeroep! ‘n Kind in hierdie nag? ‘n Kind alleen langs die waterkant? Dis onmoontlik!

Die veerman spring weer op en loop na die deur. Toe hy die grendel oopskuif, swaai die deur na binne soos die wind daarteen aandruk. “Is daar iemand?” skree hy, en lig die lantern hoër.

Hy hoor weer die dowwe gehuil. ‘n Oomblik luister hy. Toe skud hy sy kop.

Nee, dit kan net die wind wees! Dis tóg nie die gekerm van ‘n kind nie.

Die vertrek voel ineens koud, al het hy die deur weer toegegrendel en al brand sy vuurtjie nog. Die woeste wind het na binne gewaai en saam met die wind het ‘n kilheid gekom, wat die hele kamer vul. Die veerman ril. Hy gooi ‘n droë stomp op die vuur en hurk voor die vlamme. Die rooi gloed van die kole en die dansende vlamme laat hom beter voel. Net toe hy orent kom om op sy stoel te gaan sit, hoor hy weer die langgerekte gekerm. Sy liggaam word styf soos hy luister.

“Dit ís ‘n kind!” skree hy. “Dis ‘n kind daar buite in die stormnag.” Hy gryp sy lantern, storm uit, en hardloop na die waterkant. By die ankerplek lê sy vasgemeerde boot aan sy meertoue en ruk,

Die reën slaan in die man se gesig. Die lantern in sy hand swaai wild heen en weer. Die veerman gaan ‘n oomblik staan om te luister.

Van die oorkant kom die huilende gekerm van ‘n kind.

“Ek kry koud . . . ek verkluim . . . ek sterf!”

Dis ‘n jammerlike geroep, wat die man by die boot se hart woes laat klop.

“Ek kom! Wag vir my, ek kom!”

Bo die windgetier klink sy stem.

Hy maak die boot los en begin met sterk hale na die oorkantste oewer roei. Die reënwater stroom oor sy gesig; die wind dwing die boot stroom af, asof dit ‘n blaar of ‘n takkie is. Sy hande is ysig vasgeklem om die roeispane. Hy moet al sy krag inspan om die boot oor die stroom te kry.

“Ek kom, ek kom!” troos hy die kind aaneen.

Soos lang moeisame ure voel dit vir die man voordat hy die oewer bereik en die boot daar vasmeer. In die donkerte soek hy na die plek waarvandaan ‘n flou snikkende geklaag kom. In ‘n bondeltjie kry hy die kind lê. In die lig van die lantern lyk hy klein en verlate, en amper dood. Net die aanhoudende gekerm wys dat hy nog lewe.

“Stil, my kind. Stil maar, my kind,” sus die veerman.

Hy tel die kind op en druk hom vas teen sy lyf, onder die dik jas wat hy aanhet; en dra hom na die ankerplek. Só wild is die storm en die wind dat dit die boot losgeruk het van sy tou en dit stroom af weggesleur het.

Die man druk die kind stywer teen hom vas. Hy staan verslae. Toe tel hy die kind op sy skouers en begin waad deur die ysige water.

“Ons gaan na ‘n warm huis,” troos hy, maar sy eie hart bewe voor die geweld van die stormnag.

Met elke moeisame trap van sy voete voel die veerman hoe sy kragte minder word. En hoe kan so ‘n tingerige kind so swáár op sy skouers rus?

“Daar is ‘n warm vuur . . . Daar is kos . . .” praat hy hortend met die stil kind. Benoud wonder die man, is hy nie reeds dood nie?

Die kind op sy skouers is so swaar dat dit vir die veerman voel asof sy voete dieper en dieper in die sandbodem van die rivier gedruk word, en die golwe lek al hoër teen sy lyf.

Toe hy sy voete op die klippe aan die oorkantse ower neersit, hyg hy na asem. Gebuk onder die gewig op sy skouers, strompel hy tot by sy huis. Hy maak die deur met bewende, yskoue vingers oop.

Die huis is opeens vol van ‘n wonderlike lig en warmte toe hy – tot die dood toe vermoeid – oor die drumpel tree.

“Daar, my kind,” sê die veerman, toe hy neerhurk voor die vuur om die kind van sy skouers te tel, “het ek jou nie belowe ek sal jou veilig tuis bring nie?”

Toe hy orent kom, voel hy wonderlik sterk en sy skouers is los en lig asof daar geen gewig op hulle gerus het nie. Hy steek sy hand uit om die kind na die vuur te lei. Maar dis nie ‘n kind wat in die hemelse gloed van die kamer staan nie. Dis ‘n Man. Sy gesig blink.

Die veerman sak op sy knieë neer. Dan was dit die Christus-kind . . .

En die stem wat die vertrek vul, is soos geen stem wat die veerman ooit gehoor het nie!

“Dis ‘n wilde nag. Jy was nie bang nie. Die boot het verlore gegaan, maar jy het nie gewanhoop nie. Jy het die storm trotseer om My te red! Jy het My warmte gegee toe ek koud was. Van nou af sal jy genoem word Christophorus, die Christus-draer,”

Die Geseënde Kersfees

– Gerhard Burger

Onder die peperboom waar dit so na aan koel is soos dit in Desember op die plaas kan wees, het Jacobus met ‘n stokkie in die sand tussen sy voete sit en strepe trek. Dit was sommer gewone strepe wat niks beteken nie – ‘n hele paar op en af en twee dwars, soos kruispaaie – maar op ‘n manier het dit ons gedagtes uitgebeeld. Ons het nie geweet watter kant toe nie. Jacobus was amper dertien en die oudste van ons vyf. Ons het gehoop hy het ‘n plan, al het party van sy planne ons al in die moeilikheid laat beland. Niemand is so arm dat hy die tyd van die jaar nie iets aan iemand kan gee nie, het Oupa dikwels in die paar dae voor Kersfees gesê.

Ons het gemeen hy onderskat ons armoede.

Dit was nie ‘n geval dat ons min geld gehad het nie. Ons het geen geld gehad nie. Die bietjie wat ons miskien nog as ons geld kon beskou, was onbereikbaar in die poskantoor en Ma het die boekies gehou. Van vier geskenke koop – vir Pa en Ma en Ouma en Oupa – was daar nie eens gedagtes nie, wat nog te sê, sprake.

Petrus het gesê as Oupa nie klaar drie kieries gehad het nie, kon ons weer vir hom een in die rivier gaan sny het. Ons kan vir Pa ook ‘n kierie sny, maar ons weet mos wat hy met die kierie gaan doen. Buitendien is Pa te jonk vir ‘n kierie.

Maria en Grieta kan miskien weer vir Ma en Ouma lappies maak, maar hulle het klaar laaie vol lappies.

Die vorige jaar het ons vier voetstoeljies van planke gemaak, maar ons het later besef die “meubels” staan eintlik net in die pad wanneer Ma-hulle moet skoonmaak.

Klein katjies en hondjies en kuikens, wat ons verniet op die buurplase kon kry, het ons op ons eie werf genoeg gehad.

Blomme en vrugte, het Petrus gesê, is geskenke vir ‘n verjaarsdag; nie vir Kersfees nie.

Dit is ook Petrus wat gesê het hy wonder of dit sonde sal wees as ons twee sakkies tabak en twee koekies lekkerruikseep in die dorpswinkel gaps.

Ons het daar onder die peperboom sit en dink tot dat Grieta gesê het sy is nou moeg gedink en gaan met haar pop speel.

“Dit is net soos julle is,” het Jacobus gesê, “julle laat al die dinkwerk aan my oor”

Die oggend voor Kersfees het ons weer daar onder die peperboom gaan sit en praat. “Al wat ons nou kan doen,” het Jacobus gesê, “is om môreoggend vir die grootmense Die Heiland is gebore te sing en vir elkeen ‘n soen en ‘n drukkie te gee. Dit is al wat ons het om te gee.”

Ons het mistroostig geknik en die bokke, die hoenders en die donkies gaan versorg. Daardie aand kon ek nie slaap nie. Ek het lê en luister hoe Petrus en Jacobus rondrol. Dit was al amper twaalfuur toe Jacobus weet hy het ‘n plan.

Ons is stilletjies deur die venster skuur toe, waar Jacobus sy klipversameling uit die paraffienblik gehaal het “Gaan haal vir ons ‘n potlood, twee kerse en die twee meisiekinders,” het hy aan Petrus gesê.

Toe het hy ‘n ou stuk plank agter die perdekar gaan uithaal en gesê ons moet dit mooi skoon was terwyl hy sy klippe regpak.

Met die potlood het hy in groot letters op die plank geskryf:

Geseënde Kersfees – Met al ons liefde

Ons het die klippe met kersvet styf teen mekaar al op die potloodstrepe langs begin vasplak: die groot, bruin tieroë in die boonste reël en die ronde wittetjies in die onderste reël.

Petrus het blink sigaretpapier gaan haal en Maria het by kerslig blare en twee rose in die voortuin gaan pluk.

Dié het ons netjies in die hoeke van die plank geplak.

Toe het ons die plank versigtig kombuis toe gedra en saggies op die groot tafel neergesit waar die grootmense dit die volgende oggend sou sien.

Al het ons seker eers twee-uur in die bed gekom, het ons wakker geskrik toe Ma die volgende oggend saggies vir Pa kombuis toe roep. Ons het bly lê totdat hulle vir Ouma en Oupa gaan haal het en toe het ons op ons tone in die gang af geloop en by die middeldeur gaan staan en Die Heiland is gebore gesing.

Ma het haar oë met haar voorskoot afgevee en Pa het wegedraai en weer na ons plank met Jacobus se klippe daarop gekyk.

‘Jacobus!” het hy skielik gebulder.

Ons het sommer geweet Jacobus se planne het weer skeef geloop.

Pa het sy dik wysvinger soos ‘n bewende stok oor die deelteken van die Geseënde gehou.

“Jacobus! Waar kry jy die goed?”

Ons ouboet het met sy regtervoet teen die binnekant van sy linkerknie getrap soos sy gewoonte was wanneer hy kwaad gedoen het.

“Daar agter in die rantjieskamp, Pa; in die ou delwersgate.”

Pa se mond het gebewe. Hy het gesê Ma moet nog koffie skink en Oupa moet kom kyk.

Oupa het die deeltekenklippies uit die kersvet losgewikkel en by die agterdeur in die lig daarna gaan kyk. “Genadige Vader,” is al wat hy gesê het.

Immanuel se Adres

– Annemarie van der Walt

Daar is altyd, áltyd iets wat sy vergeet om te koop en dis twee dae voor Kersfees en sy het werklik nie die krag om weer af te sit na ’n winkelsentrum nie en dis boonop so warm al haar bietjie geduld smelt weg. 

Sy pak die laaste inkopies – met die vergete pak broodnodige suiker se plek soos ’n kind se haasbek op die rak – in die spens, val oor die hond met die omdraaislag en voel die frustrasie opdam in haar oë.

Regtig, sy wil ook net vir ’n keer Kersfees geniet. Hande gevou sit in iemand anders se huis waar nie sy nie hoef te sweet voor die stoof en verreikende probleme op te los

soos te min opdienlepels en poedingsbakkies met getjipte randjies. Hoe het dit wou weer gebeur dat dit vir die sesde agtereenvolgende jaar háár beurt is?

Sy is ook sommer geïrriteerd met die simpel verslete Kersboom en stokou versiersels.  Maar sy het eenvoudig nie die energie om iets daaraan te doen nie; die engel op die boomtop se afvlerk is bloot muur se kant toe gedraai. 

“Halloo?” Dis haar oorkantste buurvrou se stem. “Nou daar!” roep sy en druk met haar vuis op die krop van haar maag, haal diep asem en plak ’n glimlag op haar gesig. “Dis nou lekker om jou te sien. Gedog julle is al weg.”

Haar buurvrou stap die huis in en los ’n voetpaadjie droë gras oor die skoon vloer. “Iets het skeef geloop met die bespreking…  maak nie saak nie, dis gelukkig mos net ek en Lukas, en o ja, hier’s vir jou iets.” Haar buurvrou stap weer uit, buk net buite sig op die stoep, en kom kreunend met ’n emmer in. “Ek hoor jy’t weer jou mense hier. Rof, hè? En jy mag nie lag nie, maar hier is vir jou een van daai emmers met goete. Gelukkig kon ek self kies wat moet in en wat nie.” Haar buurvrou lag haar aansteeklike lag uit haar maag. “Mens voel mos so bietjie soos ’n skropvrou met te min groceries as almal jou toesak, so dè.”

Sy begin self lag; karring aan die emmer se deksel om dit oop te kry. Bo-op is een van haar buurvrou se Kerskoeke wat ander siele maande voor die tyd moet bestel. Sy hou dit lank teen haar neus, sit dit dan op die toonbank, en haal verder twee stawe botter uit, drie liter boksmelk, ’n pot Marmite, ’n blikkie gouestroop, ’n pak koffie en ’n sak suiker.

Sy moet haar oë teen die klamte knip. Dit kom nou van so aanhoudend lag.

“Nou maar reg, ek moet hol,” sê haar buurvrou, “sterkte en geniet die familie. Geseënd!”  en voordat sy self heeltemal tot verhaal kom, slaan die voordeur toe.

Sy gaan haal die besempie en skoppie en vee die spore droë gras op en vryf oor die hond se ore.

Iets by die agterdeur ritsel en sy maak die deur behoedsaam oop. Haar buurvrou van langsaan kom met ’n rooi gesig orent en sê: “Ag sjoe-sjoe man … ek dog jy’s nog in die dorp. Toe-toe, in is jy. Ek is nie hier nie.”

Al die mandjies waarin haar eie huishouding se herwinning gedoen word, staan in ’n streit straaip gelaai agter op die buurvrou se bakkie. Toe sy nie beweeg nie, druk haar buurvrou die hande in die sye: “As jy weer so baie mense soos laasjaar kry is hier nie meer plek vir al die rommel nie. Ek moet buitendien my eie gemors wegry. Geniet jou mense. Geseënd!”

Sy kyk verdwaas die stofwolk na. Die hond lek aan haar hand met vraende oë. “Nee wraggies, ek weet ook nie,” sê sy en stap badkamer toe om hande te was.

Terwyl sy besig is, kyk sy deur die venster uit na die huis agter hare. Wanneer laas het sy ’n geluid gehoor van daardie kant, of Stella-buurvrou met ’n oog gesien? Sy weet dit gaan nie goed daar nie, maar weet ook nie hoe sleg nie. Sy moet tog ná die Kerstyd ’n draai maak.

Dis Oukersaand en die kos is in die oondlaai en die huis vol en warm en die dogters wys vir almal wat wil kyk ingenome die nuwe engel op die Kersboom wat hulle teen ’n winskoop in die hande gekry het, en die hond is onder almal se voete en lag oopbek.

“Kom, kom!” Sy hou die voordeur oop en en hulle stap raserig soos die ses voorafgaande jare deur die dorp na die klein kapel vir die Oukersdiens.

En, soos elke jaar, raak dit haar. En kom alles tot rus binne haar. Sy is ’n herder, ’n engel in die leërskare, die velde van genade lê wyd om haar. Die laaste gesang is Lied 335, Die Heiland is gebore. By die reël “kom maak by ons sy woning” is daar beroering agter in die kapel. Sy kyk om; hou op sing.

Stella, haar sieklike, meestal bedlêende buurvrou van die huis agter, staan in ’n bloedrooi rok met haar arms amper deurskynend omhoog en die lig val deur haar kroon grys hare. Sy stap die gang af, stadig, baie stadig, en sing in haar deskant-stem totdat dit naderhand net háár stem is. Wanneer die lied eindig draai Stella om en almal is so stil haar fluisterstem klink helder op: “God is met ons. Geseënd.”

Iewers tydens die uitgerekte Oukersete, miskien voor die nagereg wat sy nie kon bak sonder suiker nie en voor haar een swaer opstaan om die geskenkpapier en leë bottels agerstoep toe te neem, sê een van die dogters skielik: “Beteken die naam Stella nie nou weer…?”

Sy kyk na die lang tafel met háár mense en ignoreer dat die hond wat skelmpies deur almal bederf word en sien glad nie die vuil skottelgoed raak nie. “Ster,” sê sy. “Haar naam beteken ster.”

Later, baie later, sal sy in die donker uitgaan en na haar buurvroue se huise kyk en weet, Sy woning is al om.

Kuns deur Isabel Naude

Uitgevang! ‘n Kersfeesstorie

– Van Vollie, Sarah Slabbert

Desember is vakansietyd by Ouma Mariet op Gouritz. Die pa’s en ma’s moet werk op Mosselbaai, want die vakasiegangers word siek en hulle kry tandpyn en hulle motors breek. Dis oestyd vir grootmense, sê Ouma. Maar vir die kleinkinders is dit seetyd en speeltyd by Ouma.

Dis ook Kersfeestyd. En Kersboomtyd. Ouma is nie van die sagte groen denneboom soort wat in die berg by George groei nie. Of van die soort wat hulle langs die pad verkoop nie. Dis uitlands, sê Ouma. Ouma hou van garingbome, tolbosse of sommer ʼn tak wat uit die see uitgespoel het.

Roelf het vanjaar die beste Kersboom op die strand langs die rivier opgetel.  ʼn Tak met fyn, dun, maar sterk, takkies en klein, trossies saadjies wat soos klokkies lyk. “O Roelf”, het Ouma uitgeroep, “maar dis te mooi!”. Ons het amal saam gewonder waar die tak kon vandaan gekom het. Dalk uit die Karoo en toe al met die Gouritzrivier tot by die mond…Dalk iewers uit die midde-Afrika soos Kenia of Uganda…. Dalk van ʼn eiland met palmbome en wit sand….

Tannie Gene spuit die tak silwer en toe lyk dit skielik anders. Dit verander na ʼn towerboom – ʼn Kersboom.  Sy plant dit in ʼn sinkblompot met mooi klippies wat ons vir haar opgetel het. Toe hang sy aan elkeen van die fyn, dun silwer takkies silwerblink kerspakkies, silwerklokkies, rooi blaartjies en pienk rosies, rooi, blink appeltjies en silwer strikkies. Heel onder teen die blompot het ouma ʼn versiering staan gemaak. Daarop staan: “Kleinkinders is ʼn handvol, maar altyd n hartvol.”

Toe alles klaar was, het Ouma die toegedraaide sjokoladedoos gaan haal wat tannie Klara van Duitsland af gestuur het. Binne-in is allerfraai klein sjokoladediertjies met prentjies op wat ʼn mens kan ophang. Ouma en tannie Gene het versigtig die sjokolandetjies tussen die ander versierings opgehang. “Daar is vir julle elkeen enetjie vir Oukersaand”, het Ouma gesê.

Kersboom is op die lae tafel langs Oupa Tam se foto gesit waar almal dit kon sien.

Oukersaand na presente uitgedeel is, het Ouma die kleinkinders na ʼn boom geroep. “Nou kan julle vir julle elkeen ʼn sjokoladetjie uitkies. Een op n slag.” Ons het lootjies getrek. Heilie het gewen en sy kon eerste kies.

“My sjokoladetjie is gebyt!”

“Vat dan dan maar ʼn ander een” sê Ouma.

“Hierdie een is ook gebyt!”

“Almal is gebyt!”

“Kyk hierdie een ook!”

“Dis Wiehahn!”, sê almal gelyk.

Wiehanhn is die jongste van Ouma se kleinkinders. Hy is vier en hy is altyd in die moeilikheid. Sy hare bloedrooi. “Die rooi hare kom van die Kamfers af”, vertel Ouma altyd as mense vra. Oupa Tam was ʼn Kamfer.

“Is nie!” sê Wiehahn. “Dit was nie ek nie!” “Dit was nie ek nie!”

Ons skree almal gelyk. Ouma raas met ons.

“Sjuuuut”, sê Ouma. Sy tel Wiehahn op haar skoot en pak die gebyte sjokoladetjies mooi netjies op ʼn rytjie.

“Dis darem mooi sjokoladetjies, né Wiehahn”, sê Ouma.

“Ja” sê Wiehahn. “Het hierdie enetjie lekker gesmaak?” vra Ouma. “Ja”, sê Wiehahn.

Ons wil weer begin skree, maar Ouma kyk ons kwaai aan en maak ‘sjuuut’ met haar lippe.

“En hierdie enetjie, Wiehahn, hoe het hy gesmaak?”

“Lekker”, sê Wiehahn. “En hierdie enetjie?” “Ook lekker”.

“Watter enetjie het die lekkerste gesmaak?” vra Ouma. “Die hasie”, sê Wiehahn.

Ouma druk vir Wiehahn styf vas en knipoog ons bo-oor sy bloedrooi hare.

“Nou toe” sê Ouma, “Wiehahn het hulle vir julle uitprobeer. Kies nou elkeen vir julle enetjie”.

“Ek vat die hasie”, sê Heilie.

Sterretjie

– Wendy Maartens

Noudat die ergste byt nie meer in die lug is nie en die Kerstyd nader sluip, sak ek en my seeman soggens vroeg af strand toe. O, die vreugde om iets warms sommer bo-oor my pajamas aan te trek en my sonhoed op te sit.

Klaasvakie wat sleepvoet agter my deur die los sand aanslenter. Ek het my mandjie in die hand. Koffie en beskuit met die gaanslag. Dryfhout en skulpe, vere of wat die groot blou dam ook al deur die nag kon optower, met die terugkomslag. My seeman met sy vismes en mosselsak oor die skouer. Sy grys vlegsel, nog met ʼn slaapkinkel, laag oor sy rug.

Al stap hy reeds ses dekades langs hierdie water, is hy elke oggend kleinseuntjie-bly. Bring hy elke oggend vir pa Kosie saam, en oom Jannie, oom Con, oom Koot, oom Divvie en al die ander wie se voetstappe nie meer spore in die sand maak nie. Dit keer hom nie om nog hule stemme snags op die seewind te hoor nie : “Trap die lote! Hou op die kurke! Dop om die kuil! Rol die toue!”

Geharde seemanne wat hom geleer het om snoek te vlek, vis te rook, harders te trek, ʼn boot deur die wildste poort te skipper. Bowenal het hulle hom ontsag geleer. Nie ʼn pak en das boordjie-ontsag nie. ʼn Stille ontsag wat tussen ʼn seeman en die wye water lê. Durf jy daaroor vra, is die antwoord eenvoudig : “Seewater is nie teewater nie! ”

Eers pluk ons voorlangs mossels. Dan gaan haal my seeman ʼn paar grotes uit die dieper sloepe. Ek keer terug strand toe om optelgoed te soek. Met die lenteson op my rug staan die tyd stil. Dís wanneer gister en eergister se koerantopskrifte en nuusbulletins deur ʼn mens se gedagtes maal.

Ek facebook, twiet en Instagram nie. Ek lees selektief koerant en kyk min TV. Tog kan ek nie anders as om op te merk hoe woedend hierdie wonderlike wêreld van ons is nie. Dis so anders as hier langs ons stukkie strand waar ʼn Golden Arrow-busbestuurder tydens ʼn verposing die busdeur oopmaak om sy Ngwenya (vleis)-vetkoek met my te deel. ʼn Jong werker van ʼn nabygeleë hotel ʼn plak sjokolade uit sy inkopiesak haal om vir ʼn geleentheid dankie te sê. Die verkoopster van Afrika-curios sing-sing my lastige bra-bandjies verstel sodat ek onverstoord verder kan stap.

Op pad terug huis toe vat ek en my seeman kortpad tussen twee strandhuise deur. In die skaduwee trek ʼn nat bondeltjie vere my aandag. Ek draai die koue lyfie vol groen skuim om. ʼn Ogie knip en hou myne vas.

Dis ʼn jong sterretjie. Ek draai haar in my serp toe. My seeman ry met ons om hulp te kry terwyl die ogie my heeltyd dophou. Toe ek haar in die bekwame assistent se hande sit, voel ek hoe die Vader Sy hande om my vou en fluister : “Woon en werk rustig voort … ”

Ek vul die register in en klim tevrede langs my seeman in die bakkie. Ek wéét Hy het ons nie gemaak om elke oomblik van elke dag tred te hou met wat in die hele wye wêreld gebeur nie. Nog minder om dit te probeer verander of mekaar daaroor die stryd aan te sê.

Al wat ek hoef te doen, is om die lappie aarde waar ek geplant is met vreugde te bewoon en te bewerk. Hy sorg vir die res en Hy gee ons elke jaar dié Baba opnuut.

‘n Sprokie

– Jules Supervielle

Oorvertel deur Wilhelm Jordaan

Die os en die donkie was saam met Josef en die swanger Maria op pad na Bethlehem. By die stal aangekom, het die os en die donkie begin stry oor wat hulle by die geboorte moet doen.

Toe die os sy asem oor die baba blaas om hom warm te hou, het die donkie gekla: “Moenie so naby aan Hom kom nie. jou horings gaan hom seermaak.” En toe die donkie sy lang ore aanbied om die baba gerus te stel (soos ‘n ‘soft toy’ nou maar doen), berispe die os: “Moenie in sy gesig balk nie. Dit sal die baba se dood beteken.”

Na baie stryery begin hulle verstaan hier is ‘n groot ding aan’t gebeur. Die os het gesien hoe die klippe, wat gewoonlik baie tyd nodig het om iets te verstaan, die wonder begryp. Ook die veldblomme, die gras, die water en die lug het “geweet”.

So vol vreugde was die os dat hy ophou eet het. Hy het nie meer water gedrink nie en hy was bang om asem te haal, ingeval hy dalk ‘n besoekende engel deur sy neusgate opsnuif.

Met die hulp van die os en die donkie het al die mak diere, die diere van die veld en al die goggas gekom om die kind in die krip te leer ken. Die visse, wat ‘n bietjie sukkel met asemhaal op droë grond, het ‘n seemeeu in hul plek gestuur. Selfs die diere wat nog nie ontdek was nie en in die skoot van die aarde en in die see se maag op ‘n naam gewag het, was gretig om te kom dagsê.

Maria het almal die klein stal laat binnekom: “My kind is hier net so veilig as in die hoogste hemel,” het sy gesê.

Die diere het elk iets van hulself by die kind agtergelaat. Die voëls hul sang, die duiwe hul liefdespel; die bobbejane hul manewales, die katte hul manier van staar, die tortelduiwe die sagte kleure van hul keelveertjies. En die volstruis het stilletjies ‘n eier gelê waarvan Josef, tot die donkie se verbasing, ‘n omelet vir almal gemaak het.

Later het wyse manne uit die Ooste gekom om, saam met die heelal se atome, om die krip te versamel.

Die sterrebeeld van die Bul het sy horings uit die hemelboog losgehaak en afgekom aarde toe, sodat sy lig oor die krip skyn terwyl ‘n wolk in sy plek in die hemelruim wag gestaan het. Ander vreemde dinge het ook gebeur. Die skilpad het sy stadige gang versnel en haastig geraak. Die blitsige likkewaan het stadig geword. Die lomp seekoei het ligte kniebewegings gemaak en die papegaaie was doodstil.

Eensklaps het die sterrebeeld van die Bul hoog in die lug gespring en hom, met een stoot van sy horings, weer op sy ou plek vasgehaak. Die ganse kosmos het gegloei van opwinding en asem opgehou oor die kind wat gekom het…

Hout Léwe

– ‘n Kersverhaal deur Lucia

Geskryf op 7 November 2019

“Daar’s hy,” sê Mamma. “Nou blink jy mooi, liewe tafel.” Haar stem word nóg sagter. “More is dit Kersfees, dan sit ons weer almal om jou. Dink hoe lekker gaan dit wees: Oupa en Ouma, Marietjie, Arrie, Patrys en die hele res van die familie.”

Arrie sit doodstil hier onder die tafel. Sy ma weet nie hy sit hier nie, en sy mág dit nie weet nie, want hy het van haar kersfeeskoekies met die lekker versiersuiker en die rooi kersies bo-op gegaps, en kou dit saggies-saggies hier onder die tafel. Sy tree effens terug, en hy weet sy staan nou met haar hande op haar heupe en betrag die tafel. Dan tree sy weer nader en vryf nog hier en nog daar met haar tafellap in sulke ronde sirkeltjies. “Ai, hoeveel Kersfeeste het ons nie al hier om jou gesit nie. Hoeveel stories sal jy nie kan vertel nie, my ou getroue geelhouttafel.”

Arrie byt nog ‘n stukkie koekie saggies af. Hy het sy ma al so baie die tafel sien olie gee en blink vryf. “Hy léwe, Arrie. Hout lewe en moet gevoed word. As die tafel nie olie kry nie, sal hy droog en dor word en verkrummel.”

Gmf. Arrie bekyk die pote van die tafel. Hulle lyk vir hom so dood. Daar is geen lewe in hierdie tafel nie. Hoekom sy ma dink die tafel lewe is vir hom ‘n raaisel, om nie te praat van haar idee dat die tafel kan hoor en stories vertel nie.

“Kosbare erfstuk,” sê Mamma nou vir die tafel. “Eendag word jy Arrie s’n, hoor. Hy dra die familienaam en jy moet eendag in sy huis staan.” Dan loop Mamma die huis in om seker verder aan die Kersfeesete te gaan voorberei.

Arrie wag tot alles doodstil is, en kruip onder die tafel uit. “Ek wil jou definitief nie hê nie, simpel tafel,” sê hy nukkerig en laat waai na die agterkant van die tuin en klim in die wildevyboom. Almal moet hom vanmiddag uitlos, want hy is kwaad. Hy kan nie die Kerspersent kry wat hy wil hê nie. Hy het vir liewe Jesus gebid, al gesmeek en so mooi gevra, maar dit gebeur net nie, en nou is hy baie baie omgekrap. Hy is al ses jaar oud en die enigste van al sy maatjies wat nie ‘n boetie of sussie het nie. En hy is alleen, en moet altyd alleen speel, en dit is nie lekker nie. En more kom sy niggies Marietjie en Patrys vir Kersfees, en hulle is ook simpel meisies wat ouer is as hy en nie eers meer in die wildevy wil klim nie.

Arrie sit opgeblaas soos ‘n brulpadda in die mik van die boom. Daar waai ‘n wind vanmiddag en dit voel vir Arrie of die stam van die boom kreun en daar ver bo in die lug waai die takke met hulle groen blare wild rond. Hy hou daarvan, want hy voel veilig hier in die mik van die reuse ou boom. Dis sy gunstelingspeelplek en dis ‘n feetjieboom, sê Mamma altyd, want hy het oral wegkruipplekkies en holtetjies en hy het wortels wat uit die dik stam ondertoe groei en lekker gangetjies maak, en dan nog sulke slierterige uitgroeisels wat soos ‘n man se baard lyk, sê Mamma, en daartussen kruip die feetjies en kabouters weg.

Ja, hy kan verstaan dat die wildevy lewe. Hy groei en hy kry altyd nuwe blare en party jare dra hy sulke klein vruggies wat baie mors, maar dit is weer lekker kos vir die voëls, sê Pappa. En hier bly allerhande diertjies in die boom soos akkedissies en miere en vlêrmuise en die voëls maak neste hier en die verpestelike hadidas met hulle geskree en gekerm kom slaap saans hier in sy takke. Pappa wil die goed net skiet, maar Mamma keer en sê ons boom is hulle veilige huis.

Dis lekker gedagtes oor die boom en die voëls en amper-amper vergeet Arrie hy is mos eintlik kwaad. 

Daardie aand is dit soos gewoonlik voor slaaptyd eers ‘n Bybelstorie.

“Soek solank die verhaal van Jesus se geboorte, Arrie. Ek kom, ek sit net gou hierdie Kersfeesskaapboud in die oond,” roep Mamma van die kombuis af. Arrie vat die Kinderbybel en begin rondblaai. Skielik val die Bybel oop by daardie prentjie waarvan hy nie hou nie: waar Jesus gekruisig word. Hy sit en staar na die prentjie van die drie houtkruise. Aan elkeen hang ‘n man. Arrie druk met sy vinger op die middelste kruis. “Dit is Jesus,” sê hy saggies. Hy weet baie goed dat Jesus vir die mense se sondes gekruisig is, en dat Hy weer oopgestaan het uit die dood, maar hierdie prentjie maak hom bitterlik hartseer en hy verstaan nie heeltemal hoekom dít nou nodig was nie.

Mamma kom die kamer saggies binne en kom sit langs Arrie op die bed. Sy kyk ook na die prentjie van die kruisiging.

“Jesus het seker baie alleen gevoel toe Hy daar gehang het, né Mamma?” vra Arrie.

“Ja, ek dink so, my seuntjie.”

Arrie kyk na die houtkruis. Hy voel ook baie keer alleen en wil so graag ‘n boetie of ‘n sussie hê, maar jinne, hy hoef darem nie alleen aan ‘n kruis te hang nie.

Hy kyk stip na die prentjie en dan tref dit hom: “Hi, Mamma,” en hy kyk op na Mamma, “as die tafel op die stoep dan lewe en stories kan vertel soos Mamma altyd sê, dan…” en Arrie druk met sy wysvinger op die kruis, “dan het Liewe Jesus se kruis ook mos gelewe? Dan was Hy mos nie alleen daar aan die kruis nie?”

‘n Sagte glimlag verskyn op Mamma se mooi gesig. “Arrie-kind, natuurlik is jy reg. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, maar ja, die Here was nie alleen nie.”

“Dalk het die kruis vir Hom ‘n storie vertel, toe voel Hy nie die spykers nie,” bespiegel Arrie verder. “Né, Mamma?” Hy voel nou vir die eerste keer in sy lewe beter oor díe saak.

“Jy is baie slim, Arrie. Ja, dit is ‘n mooi gedagte. Baie mooi. Ek hou daarvan en ek glo dit is wat gebeur het. Maar kom ons blaai na die geboorteverhaal toe. More is dit Kersfees en ons vier die geboorte van Jesus.”

Nou sit hulle en kyk na die mooiste prentjie van Josef en Maria in die stal in Betlehem, met die diere rondom die krip waarin die babseuntjie lê. “Ons grootste Kersgeskenk lê in ‘n krippie wat van hout gemaak is.” sê Mamma.

Arrie sit en vergaap hom aan die prentjie. “Jesus was nooit alleen nie, Mamma.”

“Nee, en jy is ook nooit alleen nie, Arrie. Want Hy lewe hier in jou hartjie.”

Karoo Kersfees

– Deon Meyer, uit Karoo Suite

Ons gaan haal hulle op die lughawe – twee bleek Franse seuns met hul smal skouers en verwilderde gesigte. Hulle het moles gemaak op universiteit, hulle is geskors vir die akademiese jaar. Een is die seun van my Franse uitgewer. Robert het benoud uit Parys uit gebel. “Hoe maak ek nou met die kind?” het hy gevra.

Ek het gesê: “Stuur hulle Afrika toe. Ek sal werk reël op Jakhalsdans.”

Ons vat hulle Karoo toe. Hulle is stadsjapies, hulle raak stil oor die wye horisonne en die reuse-afstande. Dit is honderd-en-tien kilometer van grondpad tussen Beaufort-Wes en Loxton, klowe en bergpasse, vlaktes, skape en springbokke en koedoes. Ek hoor die bang in hul benoude vrae.

Wanneer ons die Sondag vertrek, sien ek in die truspieël hoe verwese hulle ons agterna kyk – die enigste mense wat hulle op die donker kontinent ken, ry nou weg, los hulle by wild- en skaapboer Nicola en die twee bruin vroue wat destyds vir hom huis gehou het, Betjie en Jeanette.

Ek bel elke paar dae om te hoor hoe dit gaan met die twee Franse. Dan sê Betjie, “meneer, dit sukkel maar. Hulle kom nie op in die oggend nie.” Of, “meneer, hulle

kan nie eens ’n toebroodjie maak nie.” Of: “meneer, hulle sit saans so onder die sterre met die kitaartjie, en dan sing hulle baie sad songs.”

“Is daar hoop, Betjie?”

“Die Karoo kan jou net die ster wys,” sê sy. “Jy moet self opstaan om hom te volg.”

Dan bel ek Parys toe en ek lieg vir Robert. Ek sê, “nee, wat, dit gaan goed, hulle geniet dit.” Maar ek bekommer heimlik, was dit nie ’n fout nie?

Algaande raak die nuus beter. Hulle kan al met ’n tang werk. Hulle het help skaap laai. Hulle het help wild vang. Hulle kan nou die trekker ry. Hulle is soggens sesuur op. Die son brand hulle nie meer so seer nie. Die liedjies onder die sterre raak vrolik.

Vir vyf maande sien ek hulle nie, want dis boektoere en reis.

En wanneer hulle in laat Desember op eie stoom in die Kaap aankom, herken ek hulle nie. Die twee kêrels wat voor die deur staan, is lank en fors en breed van skouer, diep bruin gebrand. Daar is nuwe kennis in hul oë.

Hulle vlieg terug huis toe.

Kersoggend lui die telefoon. Dit is Robert uit Parys. Hy is bewoë. Hy sê, hy het die wonderlikste Kersgeskenk van sy lewe gekry. Sy seun het ’n man geword in Afrika. ’n Man wat weet wat hy met sy lewe wil doen, ’n man met ’n vasberade kyk en ’n vaste tred. Hy wil net dankie sê.

Agterna skryf ek vir hom. Ek sê, “Robert, dit was nie ek nie. Dit was jou seun. En die Karoo. Die woestyn het vir hom die ster gewys, maar hy het self besluit om dit te volg.”

Geseënde Kersfees.

kuns deur Isabel Naude

Díe Nag, ‘n storie

– ElsaCatharien

Almal moes na Bethlehem om getel te word. Groepe en enkelinge was in wit doeke toegedraai, oppad. Hierdie man en vrou was met ʼn pakdonkie en kinders haastig, hulle het laat uit Galilea weggekom. Oppad het hulle by ‘n lang, skraal man verby gegaan, by hom was ‘n vrou op ‘n donkie. Die man, die geboë vrou op die donkie was merkbaar uitgeput, tog was daar ‘n dringendheid in hulle gang. Die Galileërs het teruggekyk… in verwondering. Iets was ongewoon, maar hulle kon nie vertoef nie, hulle moes roer.

Dit was ‘n gewoel by die stadspoorte. Mense, skape, beeste, hoenders, handelaars, almal het geroep, gebulk, geblêr. Iewers het iemand op ‘n fluit gespeel. Op die stadsplein was dit ‘n gedrang van mense. Geliefdes groet mekaar, skuur teen bondels met kos of warm goed in geborduurde doeke vasgemaak. Die klein seuntjie klou aan sy pa, sy sussie. Die mense druk en stoot, hy val. Skielik is hy alleen. Hy soek, hy roep. Hy het hulle verloor. Hy dwaal en kyk, word rond gestamp. Hy kry hulle nie. Nou drentel hy rond, honger, alleen. ‘n Oom braai neute in ‘n erdepan. Hy vra iets om te eet. Die kwaai man gee vir hom ‘n warm neut, dit brand sy hand. Hy eet dit tog gretig, hy lek sy handjie af,dit help.

Moedeloos, bang en alleen beland hy weer in die stowwerige stadspoort. Hy wonder hoe nou? Hy is moeg, die son sak. Hy hoor weer die fluit.

‘n Vrolike groep skaapwagters kom uit die stad uit, oppad veld toe. Hulle het wit jurke aan, lappe om hulle koppe gedraai, daar is ook jong seuns.hulle dra ook bondels. Hy dag hy herken iets, iemand, hardloop agterna. ‘n Man sien die seuntjie, hy vra hom wie hy is. Die verlore seuntjie huil, sê hy het sy ouers verloor en weet nie hoe gaan hy hulle ooit weer vind nie. Die skaapwagters neem hom saam, die vreemde man dra hom later. Hulle gaan na hul kudde in die veld, dis ‘n helder sterligaand. Iets is vreemd aan die nag, donker en helder gelyk, warm en koud tegelyk. Hulle maak kos, die seuntjie eet gretig, maar is uitgeput, hy raak sommer met sy kop op ‘n klip aan die slaap.

Hy skrik wakker. Daar skyn ‘n helder lig. Bo in die lug hang die grootste ster wat hy nog ooit gesien het. Hy staar in die lig in, daar staan ‘n engel. Hy het nog nooit ʼn engel gesien nie. Dit maak sy ogies seer. Hy begin bewe, almal is vol vrees. Al die herders staar na die engel, hulle staan roerloos in ‘n helder ligkol. Die engel sê: “Moenie bang wees nie. Ek bring goeie nuus, Christus, die Verlosser, is gebore. Gaan terug dorp toe, julle sal hom daar in ‘n krip in ‘n stal vind.” Skielik was die hele nag vol engele wat sing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde…”

Hulle het in verwondering bly staan. Toe klaargemaak en vertrek na die stal.

Baie jare later: Johannes sit langs die see van Galilea, sy fluit in sy hande, hy dink oor sy lewe,die verdwaalde kind daardie nag in Bethlehem. Hy is verwonderd oor die groot misterie, al die vreemde weë van ‘n lewe. Hy is bewus van die krag en die liefde van die groot God wat hy dien, en die Seun wat hy volg. Die babatjie in die krip daardie nag…

Friena Maritz het die storie onthou en oorvetrel. Hierdie is ‘n verwerking van die vertelling.

kuns deur Isabel Naude

Kersverhaal: Krismis

– Martie Swanepoel

Krismis – ‘n Kersverhaal vir kinders wat al grootmense is.

24/11/2016

Net so voor Kersfees het daar moeilikheid in die stal uitgebreek.

Die probleem het met die bekroonde Ayrshire-koei begin. Sy het ʼn stamboek vol glorie en toekennings gehad.

Soos altyd dié tyd van die jaar het die diere begin praat oor Kersfees en oor Boer se vrou se jaarlikse Kersspel in die skuur op Krombult.

Die plaaswerkers se kinders van die distrik sien altyd vreeslik uit na die konsert en daar is gewoonlik ‘n stryery oor wie die jaar beurt gaan kry am Josef, Maria, die herders en die wyse manne te wees.

Nadat Fya en Mercy van Krombult se ma’s die laaste keer by die boervrou woes gaan kla het oor die onregverdigheid dat Elsie van Agnes van Buffelskrans twee keer na mekaar Moeder Maria was, het Boer se vrou begin boek hou oor die rolverdeling.

Min het sy geweet dat sy hierdie jaar moles in haar man se stal gaan kry wat die vrede van Kersfees sal bedreig. Daar was vir dae ‘n fluisterende gebulk onder die koeie oor watter een dié jaar ‘n ereplek in die Kersspel sal kry.

Almal behalwe een. Sy het nie getwyfel nie.

Eintlik het die onmin al na die groot veiling op Bredasplaas begin toe Boer met die nuwe Ayrshire-koei hier aangekom het. Bell. Hy het glo ‘n fortuin vir haar betaal en sy was haar prys werd as mens kyk na die rosette wat sy by die daaropvolgende landbouskoue gewen het. Boer het Bell se toekennings trots in ʼn glaskas in die stal vertoon. Tot die ander koeie se verdriet. Bo-aan die glaskas het hy ʼn bord laat aanbring: Hoofkoei: Belladine, dogter van Belladarius en Belladame van Grootvlei.

As Boer se vriende kom kuier, het hy graag met sy stoetkoei gespog. Dan het hulle met biere in die hand voor die glaskas kom staan en Boer gekomplimenteer oor sy koei se uier.

Bell haarself het ook graag voor die glaskas gestaan en pronk, en nooit nagelaat om die ander diere te herinner dat sy by Kannavlei se skou as die Groot Kampioen Koei aangewys is nie. Dit het gevolg op haar prestasie as Kampioen Jong Koei nog voor Boer haar gekoop het. Dan is sy ook laasmaand aangewys by Kromburg se skou as die koei met die grootste uier!

Dis na laasgenoemde wat haar kop so groot geword het dat Perd gesê het daar sal een van die dae nie meer vir almal plek in die stal wees nie. Met die dat Bell se kop so baie plek inneem.

Perd was juis die eerste een wat by Krismis, die donkie, kom kla het oor die onmin onder die diere oor wie vanjaar die eer behoort te kry om in Boer se vrou se Kersspel te wees.

Krismis is lankal beskou as die dier in die stal in beheer van Kersfees. Sy naam was immers Krismis, en hy bly reeds donkiejare in die stal.

Hy het in die stal beland nadat Boer se vrou hom as klein donkie by die slagpale raakgesien het. Sy ma is verkoop, geslag en na salami-fabriek gestuur. Boer se vrou het die wees donkie jammer gekry en Boer beveel om hom te koop. Dit was net voor Kersfees en sy het gedink die klein donkie sal te fraai lyk in haar Kersspel.

Sedertdien het Krismis nog nie een Kersspel gemis nie.

Maar vir Bell was die verering van klosserige ou donkie te veel.

“Jy word net vir die Kersspel gekies omdat jy die enigste donkie op die plaas is,” het sy kort voor Kersfees bitsig vir hom gebulk.

Bell was nie vreeslik gewild in die stal nie. Trouens, sy was glad nie gewild nie. Veral omdat Boer haar verhef het tot hoof koei. Sy het nie in dieselfde kamp as die koeie van twyfelagtige herkoms gewei nie.

Drie dae voor Kersfees het ‘n koor van koeie gebulk en die varke ,wat nie Kersfeeshamme geword het nie, luidkeels geknars oor die onuitstaanbare snobisme van Bell.

Die onrustige onmin so in die feestyd het Krismis as die hoofdier van Kersfees laat besluit om in te gryp en Bell aan te spreek.

Bell, synde ‘n welberese stoetkoei wat al by al die skoue ʼn die Krombult-distrik was, het haar kennis van wêreldgebeure teen die klosserige ou donkie se vermaninge gebruik.

Die meeste van haar kennis doen sy op as sy voor Boer se kantoor in die stal staan en na RSG luister, het sy graag gespog as iemand die moeite gedoen het om te luister. Dis veral aan die klassieke musiek-programme van Wouter de Wet te danke dat haar uier so fluks melk produseer, het sy geglo. Sy het ook beweer daar is al navorsing oor die uitwerking van Barokmusiek op melkproduksie gedoen.

Die weke voor Kersfees het sy veral aangedring op stilte in die stal as haar programme op die radio is. Glo alles ter wille van die volgende skou net na Nuwe Jaar. Sy het haar hart gesit om weer die roset vir die grootste uier te wen.

Krismis het ondanks sy swak kennis van wêreldgebeure voortgegaan met sy vermaning oor die toenemende onmin in die stal so kort voor die herdenking van die geboortedag van die Liewe Heer.

Bell het haar groot oë ‘n paar keer meewaardig gerol en besluit sy wil die klosserige ou donkie op sy plek sit.

“O, maar wie dink jy is jy?” het sy na Krismis gekap. “Jy hoort nie eens in die Kersspel nie! Nie een van julle nie! Ek het op die radio gehoor die Pous homself het aangekondig dat die gebruik van diere in Kersspele nie eintlik gehoord is nie. Hy sê dis net ʼn mite dat daar diere in die stal was toe Jesus gebore is. Ek het die nuusflits self op RSG gehoor!”

Krismis het verstom en verontwaardig gebalk.

“Waar het jy nou sulke nonsens gehoor? As Jesus in ʼn stal gebore was, was daar diere! Waar dink jy het die donkie geslaap waarop Maria tot in Betlehem gery het? Hmmm?”

Krismis het hom gruwelik vererg en Bell ingelig dat hy dalk niks van die nuusflitse op radio weet nie, maar dat Martiens al vir hom vertel het daar is negentien verse in die Bybel wat na donkies verwys. Martiens is ʼn kerkman en hy weet.

Maar Bella se kennis het nie teruggedeins nie.

“0, en wat van die 23 verse in die Bybel oor koeie?” Krismis het gehoop hy is reg toe hy Bella op haar plek sit: “Ja, maar was hulle Ayrshire-koeie?”

Dit het Bella ‘n rukkie laat dink. Met al haar kennis het sy goed geweet die trotse ras van Ayrshire-koeie is eers rondom 1800 in Ayr in Skotland aangeteken.

Krismis was in sy wese ‘n vredeliewende dier en het besluit dit gaan nie deug om so met Bell te staan en stry nie. Hy het ook geweet Boer se vrou sal voortgaan met haar Kerskonsert al sê die Pous ook wat.

Hy het ook geweet dis ʼn feit soos ‘n koei dat Boer sal sorg dat sy bekroonde koei ‘n ereplek in die Kersspel kry. Al die boere van die distrik gaan immers daar wees. Hy kan al sien hoe Boer met die komende skou na Nuwe Jaar op hande sal spog oor Bella se allemintige uier.

Krismis weet dit en hy het geweet Bell weet dit maar te goed.

Ondanks die geskinner en gekyf in die stal, het die diere dus soort van berus.

Toe tref ‘n groot moles Krombult twee dae voor die herdenking van die geboortedag van onse Liewe Heer.

Bell het in die natuur van haar eiewysheid besluit om ‘n bietjie verder as haar kamp te gaan wei.

Die ander koeie het reeds dae lank fluisterend gebulk oor Bell en Boer se buurman se stoetbul wat so oor die vlaktes flirteer. Mens kon die buurman se bul al vroegoggend sy beste bulk oor die vlaktes hoor stuur. Dan het Bell koketterig gevolg van Krombult se kant. Fyntjies, soos dit ʼn stoetkoei betaam.

Dis ‘n kwessie van tyd, het een van die afgetrede Ayrshire-koeie gesê. Sy het immers geweet haar dae op die plaas is getel en dat dit haar voorland is dat sy na Nuwe Jaar as afslag boerewors by ʼn supermark gaan re-inkarneer. Sy het dus nie meer omgegee wat sy bulk nie.

“Daardie Bell gaan nog draad spring, julle sal sien,” en toe verwys sy in verskeie onkuise terme na Bell en die bul se gebulk oor die vlaktes.

Met Bell se uitbreek uit haar kamp kom die ou koei se profesie toe waar. Sy en die andere koeie het met spits ore staan en luister hoe Bell en die bul al nader aan mekaar bulk.

Maar toe verander Bell se bulk in ‘n benoude hulpkreet.

Daar was groot drama op Krombult toe Boer hoor sy bekroonde koei het in die swart klei van die buurman se plaasdam vasgeval.

Bell se bulkery om hulp het vir ure temend oor die vlakte weerklink.

Krismis en Martiens was op pad om ‘n vrag hooi vir die Kersspel na die skuur te vat toe hulle Bell se hulpkrete hoor.

Dis Martiens wat aan Boer voorgestel het dat hulle die hooi voor die bedremmelde Bell op die klei moet gooi om die arme koei vastrapplek te gee. Martiens het ʼn tou om Bell se nek gebind en Krismis aan die ander kant ingespan. Krismis het getrek so al hy kan. Balkend het hy Bell moed ingepraat. Brullend het Boer bevele uitgedeel aan Krismis en Martiens. Hy het ook skietgebede opgestuur dat sy bekroonde koei se uier tog ongeskonde moet bly.

Dit was ‘n gesukkel. Elke keer as Krismis dit regkry om Bell ‘n entjie uit die klei te trek, sak sy moeg terug en dan syg die klei weer vas om haar hoewe.

Al was hy reeds donkiejare oud, was Krismis taai van al die swaar vragte wat hy en Martiens al met die wa getrek het. Hy het getrek dat die klei so spat. Sy klosserige pels was later pikswart van die klei.

Boer het gepleit, geswets, gebid.

Toe doen Boer ‘n vreeslike ding.

“Nee wat Martiens, gaan haal die perd. Hierdie ou donkie is gedaan. Hy is nou net goed vir die slagpale.”

Sy woorde het Krismis laat lam word van vrees. Hy het teruggedink, hoe hy as klein donkie moes toekyk hoe sy ma by die slagpale se deur ingaan en hy het later gehoor sy ma het waarskynlik in ‘n paar worse salami opgeindig.

Krismis het balkend geprotesteer dat hy nog nie reg is om salami te word nie. Hy het immers nog ʼn Kersspel om in te speel.

Toe skop Krismis sy hoewe vas en trek dat dit bars. Hy het nie een keer gerus nie. Elke keer as Bell terugbeur om te rus, het hy haar aangemoedig om uit te hou.

“Dink aan die skou. Dink aan die roset vir jou groot uier,” het hy haar moed ingepraat.

Toe skep Bell moed. Sy het saam met Krismis gebeur en gebulk. Treetjie vir treetjie het hulle twee die klei gewen. Die salpeter het op Krismis se klosse uitgeslaan soos hy trek. Hy het getrek asof sy lewe daarvan afhang.

“Onthou die roset. Dink net aan die roset,” het hy Bell vir oulaas moed gegee.

“Trek! Trek! Trek!” het Boer geskree.

Die buurman se stoetbul het hulpeloos eenkant gestaan en bulk.

Toe gebeur dit. Bella het dapper ‘n paar tree op die droë hooi gegee en gedaan op die grond langs die dam neergesyg. Sy was bevry!

Dit het ‘n span werkers gekos om haar later op die trok te laai. Die ander koeie het staan en kyk hoe die bekroonde koei gewas en gepamperlang word.

Die afgetrede Ayrshire-koei het die stilte verbreek: “Ek het julle mos gesê dis net ‘n kwessie van tyd.”

Krismis was tot met Kersfees nie homself nie. Die reddingsdrama was net te veel vir ‘n donkie wat reeds donkiejare oud is. Hy het met moeite saam met Martiens tot by die skuur gestap vir die Kersspel. Hy het moeg op die hooi langs die krip gaan lê.

Die distrik se kinders het gesing van die Heiland wat gebore is “in stille Bêhetlêhemmmen” en Boer het ná die Kersspel saam met die ander boere rondom Bella saamgedrom om te praat oor die bekroonde koei wat so byna in die klei verswelg het.

Dis Martiens wat later besef het Krismis lê vreeslik stil in sy posisie langs die krip. Hy het stilgebly oor Krismis se heengaan tot al die gaste vertrek het.

“Langs die krip van Jesus waar ‘n donkie hoort. Nevermaaind die Pous,” het Bella later, na haar bekroning as die koei in die distrik met die grootste uier, in haar bedankingstoespraak in die stal hulde gebring aan Krismis.

Kom vier saam die vreugde van LEWE, die skat van kuns en die immer teenwoordige behoefte om nuut te skep.

Kopiereg van alle intellektuele eiendom op die webwerf behoort aan Elsa Catharien Winckler behalwe as anders vermeld.

Kontak Vorm
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google