Drie bome het langs mekaar op ‘n heuwel in ‘n woud gestaan. Op ‘n dag het hulle vir mekaar vertel wat hulle wens eendag met hulle sal gebeur. Die eerste boom het gesê: Ek wens ek kan eendag ‘n pragtige houtkis wees gevul met allerhande edelstene en kosbaarhede soos goud en silwer. Die mense sal in verwondering na my kyk en sê, kyk na hiérdie juwelekis. Kyk hoe mooi is dit gemaak.

Die tweede boom sê toe, my droom is om eendag `n groot skip te word. Konings en heersers moet op my dek staan en na al die uithoeke van die aarde reis en almal moet veilig voel omdat ek so stewig is.

Toe sê die derde boom, ek wil net `n boom bly. Ek wil net hier bly staan, maar ek wens dat ek die grootste en mooiste boom op die heuwel kan word. Mense moet verstom na my kyk, na my dik, sterk stam. Ek wil die indrukwekkendste boom van alle tye wees sodat mense my vir altyd sal onthou.

Jare het verbygegaan. Die drie bome het aanhou gesels oor hulle drome en ideale, hulle het ‘n vriendskapsband gehad, hulle sou mekaar graag wou volg op hul lewenspad. Ja, hulle het baie in gemeen gehad, hulle was dromers, hulle wortels het diep in dieselfde grond gegroei. Hulle sou graag die besondere band behou.

Op ‘n dag, kom daar ‘n klomp houtkappers op die heuwel aan. Toe hulle by die eerste boom kom, sê hulle, hierdie is ‘n pragtige, sterk boom. Ons kan hierdie boom afsaag en die hout aan ‘n skrynwerker verkoop. Terwyl hulle die boom afkap is die boom baie bly want hy het gedink sy droom gaan waar word. ‘n Skrynwerker gaan hom in ‘n besondere juwelekis omskep, een wat van fyn vakmanskap getuig, soos hy gedroom het.

Toe hulle by die tweede boom kom het die houtkappers gedink, die hout van die boom is ideaal om aan ‘n skeepswerf te verkoop. Die boom was baie bly want sy droom om ‘n groot, stewige skip te word waarop konings en heersers oor die see seil was ook besig om waar te word.

Die manne kom staan toe om die derde boom. Hierdie boom se hart het inmekaar gekrimp want as hulle besluit om hom af te kap, gaan sy droom om die grootste boom op die heuwel te word, nooit kan waar word nie.

Ek het niks spesiaals nodig nie, sê die een houtkapper. Ek sal hierdie boom vir my afkap. Dalk kan ek hom eendag vir iets nuttigs gebruik. Die arme boom was gebroke. Waarom moet so ‘n lot my tref?

Die eerste boom het by die skrynwerker se werkswinkel aangekom maar in plaas van ‘n juwelekis, het die skrynwerker ‘n rowwe houtbak van die dik, bonkige balke gemaak. Die houtbak beland in ‘n afgeleë stal, vol voer vir die diere. Hierdie was die allerlaaste ding waarvoor hierdie boom gebid het. In plaas van ‘n juwelekis vir konings en prinse, ‘n voerbak vir diere in ‘n vuil stal!

Die tweede boom is opgesaag en hulle het ‘n vissersboot van sy hout gemaak. Geen imposante skip nie, geen konings of heersers en glad nie die groot, oop see nie! Nee, ‘n krakerige skuit op ‘n meer! Hoogstens goed genoeg om daaruit vis te vang.

Die lot van die derde boom was die ergste. Hierdie boom is in balke opgesaag en êrens in ‘n stoorkamer gebêre, vergete en vol stof. Sy ydele droom en behoefte aan bewondering het aan skerwe gelê.

Jare het gekom en gegaan. Die bome en die drome was vergete. Iewers, diep in die gees van elke boom, het elkeen gewonder wat het van sy vriende geword. Waar is al die drome heen?

Tot, op díe dag… ‘n moeë man en sy jong vrou strompel uit die skemerte in die stowwerige stal in. Alles verander, daar is ‘n helder lig, als voel mild en soos in ‘n sagte droom. Die man lê ‘n pasgebore baba, toegedraai in doeke in die houtbak neer… Skaapwagters kom stilletjies in, en toe ook sterrekykers, als is soel en byna onwerklik.

Die boom kon dadelik die grootsheid van die oomblik aanvoel. Die stal en die houtkrip het in ‘n tydlose teater verander, grensloos…

Hierdie houtvoerbak was nou wel nie vol goud en silwer waarvan hy gedroom het nie, maar die grootste Skat van alle tye, die Koning van alle konings, is in hóm neergelê.

Die tweede boom was vir jare ‘n visserskuitjie waarmee ‘n klompie manne elke dag uitgegaan het op die See van Galilea om vis te vang. Op ‘n dag, op die meer, het ‘n geweldige storm losgebars met rukwinde en bruisende, brekende branders, die manne het gevrees die skuit gaan sink. Die vissers het haastig en vol verwagting ‘n slapende man agter in die skuit wakker geskud. Hy het opgestaan en met die storm gepraat en als het bedaar, die vreeslike wind het gaan lê. Só ‘n stilte, so n heilige vrede het oor die skuit en oor die meer gehang.

Hierdie boom het ook baie meer gekry as waarvoor hy gewens en gedroom het. In plaas van ‘n droomskip vol aardse konings en heersers, was hy ‘n visserskuit waarop Jesus, die Koning van alle konings gevaar het. Hy was deel van n wonderwerk…

Die derde boom was vir jare net ‘n stapel ruwe balke wat in ‘n donker stoorkamer gelê het. Op ‘n dag was sterk balke dringend nodig om misdadigers te kruisig. Een uitgeputte en mishandelde man moes sy eie dwarsbalk dra. Die hout het ‘n krag en liefde en ongekende deernis ervaar en beleef deur sy kontak met díe sagmoedige man in ongekende pyn. Die hout en hierdie man het ‘n eenheid geword…Toe word hierdie man aan die dwarsbalk vasgespyker, die kruis word regop getrek.

Hierdie boom se droom was om die grootste en mooiste boom op die heuwel te word. Toe word die balke wat uit daardie boom gesny is op Golgota geplant, vir almal om te sien. Die derde boom was die kruishout wat vir ewig leef, voortleef en red.

Jesus, die baba in die houtkrip, die man wat die storm stilgemaak het op die nederige visserskuit, was ook die gekruisigde aan die groot houtbalk teen die heuwel.
Daar, waar die drie bome eens op ‘n tyd saam gestaan en droom het, was dit stil, so stil. As jy lank, roerloos daar sit en luister, hoor jy tog ‘n fluistering. Dalk, as jy baie fyn luister, die sagte melodie van ‘n engelelied…stille nag, heilige nag.

Klik op fotos vir vol weergawe