Category: Storie

Olifants, Mogol, Limpopo, Shashi…en nou die Chobetivier en die groot Zambezi…

Ons het die winter- hoëveld eergister gegroet. Gepak en uitasem gespook om vir drie weke op die pad te wees… Op die hoëveld, deur die bosveld agter die Waterberg vloei alle riviere en strome met energie. Die veld staan heuphoogte en Afrika se horisonne wink vir ons.

Ons het gisteraand, in die laaste aandskemering, ons vriende by Namwi langs die Zambezi gekry. Vanoggend deur ‘n voëltjiekoor wakker gemaak… die heerlike welkomsgroet van die visarend en ‘n skugter uiltjie net bo ons daktent… Nou oppad na die grens, dan is ons in Zambië.

Shesheke grenspos was ‘n uitdaging: ure, agente met rolle Kwatcha, van bakboord na stuurboord en uiteindelik deur en verlig… toe stop ons sommer langs die Zambezi by Ngonye. Reuse valsmopanies, wildevye met kronkeltakke en combretum met die mooiste gevleuelde sade. Die hoogtepunt was ‘n rit saam met Ernest, skipper van ‘n sterk boot wat ons op ‘n rivieraf-rit geneem het, oor stroomversnellings na die hart van die Ngonyevalle…’n weergalose skouspel van watervalle…skielik is jy nie meer n toeskouer nie, maar deel van die siel van hierdie lewende wese, die Zambezi.

Nou is ons heel wes in die Liuwa Nasionale Park. Met ‘n ferrie oor die vloedvlakte en oor die rivier… Vanaand maak ons kos…hoëveldse skaaptjops op die kole en allerhande lekkernye…

Ons het weer sein…uit die aangrypende Liuwa…hier is Riéth se woorde, ons almal se fotos…almal skrywers:

Almal wat hou van hierdie soort avonture moet eenkeer op ‘n pont of n ferrie oor ‘n rivier gaan. Dit word al hoe skaarser. Só opwindend en ‘n bietjie vreesaanjaend want die ponte is oud. Die manne ken hulle storie. Maar dit sal beslis nie EU standaarde vir veiligheid slaag nie. Maak staat op mense se gesonde verstand en oordeel. Nog ‘n rede hoekom ek hou van ons reise hier. Daar is nie vir alles reëls nie. Dink bietjie vir jouself. Jy weet mos wanneer jy kanse vat.

Liuwa:

Ons het lank gedroom daaroor om die vloedvlakte hier in die sentraalweste van Zambie te besoek. Nou is ons hier. Dit is ‘n onbeskryflike oop en wye landskap. Sover as wat jy kyk, is ‘n groen grasvlakte, geen bome geen koppies, geen mense, die horison lê ver… Die oopte en leegheid word gebreek deur troppe zebras, of groepies hardlopende blouwildebeeste met hul kenmerkende styl of letchwes wat rustig staan en wei. Dit is voorwaar ‘n vloedvlakte, water is volop…in panne vol waterlelies en eende, pelikane, en dan die beeldskone mahems…kol kol bymekaar. Dit is ‘n paradys!

Teen namiddag moet ons planne maak om weer by die kamp te kom. Chrisna soek pad, die GPS’se sukkel en ons ry ons eie paaie oop in die laaste strale van die ondergaande son. Vreemde en onseker wêreld… ’n ondervinding op sy eie met geen mens in sig, geen liggie, net ons rytjie voertuie. En ons wéét: óns beleef een van Afrika se weggesteekte juwele, ‘n uitsondering!

Ons was tog dankbaar dat ons voertuie en ons heelhuids by ons kampplek aangekom het. Daardie aand het die vonkelprop vrolik geskiet en die knertsies mooi geloop.

Ons het twee aande op ‘n heerlike grasperk in Kaoma gestaan. Louis en Riéth se landrover het elektriese probleme gehad. ‘n Ene Saul, auto electrician’ van dîe dorpie het gevroetel en planne gemaak…nou is ons op ‘n tweespoor, sandpad oppad na Zambezi (Noordelike streek in Zambia). Die sand is dik, die middelman hoog en wyd en die ander karre is cruisers of landrovers, ons amarok moet alles uithaal… weer ‘n ferrie Nou staan ons, na n uitdagende dag op rowwe paaie, langs die Kabomporivier, langs die West Lunga National Park. Absoluut idillies, onaangeraak. Nog ‘n oeroue waterspoor, omlyn deur ruie bosse en reuse bome maak ‘n es voor die kampplek. Die aandskemering, die eerste lig van die oggend, ‘n prentjie… ‘n Lekker lees- en wasgoeddag. Nounou gaan ons met ‘n boot opry…blykbaar goeie tierviswater.

Ons het twee aande op ‘n heerlike grasperk in Kaoma gestaan. Louis en Riéth se Landrover het elektriese probleme gehad. ‘n Ene Saul, ‘auto electrician’ van dîe dorpie het gevroetel en planne gemaak…nou is ons op ‘n tweespoor, sandpad oppad na Zambezi (noordelike streek in Zambië). Die sand is dik, die middelman hoog en wyd en die ander karre is Aruisers of Landrovers, ons Amarok moet alles uithaal… weer ‘n ferrie Nou staan ons, na n uitdagende dag op rowwe paaie, langs die Kabomporivier, langs die Wes Lunga nasionale park. Absoluut idillies, onaangeraak. Nog ‘n oeroue waterspoor, omlyn deur ruie bosse en reuse bome maak ‘n es voor die kampplek. Die aandskemering, die eerste lig van die oggend, ‘n prentjie… ‘n Lekker lees- en wasgoeddag. Nou-nou gaan ons met ‘n boot opry…blykbaar goeie tierviswater.

Na 10 ure se ry, eergister, op werklik onmoontlike pad, deur verstommende natuurlike woude het ons Mwinilunga bereik. Ons opgewondenheid oor teerpad gou getemper deur reuse, diep gate. Dis die heel tyd ‘n stryd of dit op of langs die pad die beste is… Maar ons karre hou en ons geesdrif hou. Ons kampplek nou het ‘n interessante geskiedenis…koloniaal, ingeleef, versorg… natuurlike, opgepaste woud, ‘n fassinerende krater en ‘n groeiende maan. Wina wa Nzambi…the eye of God. Ons stap, kyk na boeiende boeke oor die ou Afrika.

Toe ry ons vandag na die oorsprong van die Zambezi.

Het jy al iewers gestaan, geluister, gekyk, gevoel…en geweet…hierdie is grond om liggies op te trap. Dit is die begin van iets groots, dit word deur niemand besit nie, selfs tyd kan dit nie vashou nie! So is dit binne daardie woud met ‘n fonteintjie, stroompie, ‘n gekabbel, self die bos bly stil…hier begin die Zambezi, later ‘n magtige stroom water wat tuimel oor diep en ver en ou waterweë en dan uitmond in die warm Indiese oseaan.

Wat ‘n rivier…

Afgesluit in ‘n kerkie met die mooiste sang deur ‘n handjievol gemeentelede… wat ‘n dag!

Hoe is dit dat elke land sy eie bekoring en identiteit het? Hier is die bome verseker hoër: party met

sterk stamme, ander vol krulle en kronkels met kruine in ronde lagies wat lyk of die wit wolke agter in die blou, die vorm van die bome eggo. Die woude in wes Zambië is besonders.

Die mense, mense van Afrika, vroue toegedraai in pragtige, helderkleurige lappe, veelkleurige produkte in skottels op hul koppe, babas in doeke op die heup met breë glimlagte en rye spierwit tande. Maar die kleintjies is baie… groepies van ses of tien nuuskierige agies langs die pad. Gelukkig is hier ook skole in elke dorpie. Namiddae tou rye kinders in skoolklere rustig na hul blyplekke.

Ons koop die rooiste tamaties, aartappels, patats, pampoen, rys en vele meer langs die pad of op die markies in die dorpies., ook natuuurlik die gedroogde mopaniewurms en vissies,dit gaan ons verby… Ons koop graag vars gebakte vetkoeke en eet dit met stroopsoet plaaslike heuning . ‘n Lekker bederf!

Ons is 5 karre, 9 mense. Aandetes is ‘n hoogtepunt…watertandlekker vleisdisse met kreatiewe bykosse, bont Masai-tafeldoeke met kerse op windstilaande onder die sterre…dan loop die stories. Dikwels van vêr reise, vergete tye en ander kontinente en onbekende wêrelde. Dis so goed om self ingeleef te wees, ryk aan ervaring en nog vol passie en drome. Ons lag lekker en baie. ‘n Vrolike gedoente.

‘n Vonkelaand langs die Kafue…

Die Kafue is ‘n rivier. Dis ook n park, ‘n wildtuin. Maar eintlik is dit ‘n rivier, ‘n rivier met ‘n charisma. So stil en sterk, sonder groot vertoon… Twee tot driehonderd meter breed vloei die water, snags lê die sterre en die maan binne in. In die vroegoggend hang die stoom rokerig en later strooi die son die hele sonkant vol goue spikkels.

Die seekoeie praat, die krokkodille lê stil. Die voëls sit ook in die vroe-oggendson in die bome en kyk …die visarend roep roekeloos, wild en vry daarbo.

Hierdie is die rivierste rivier. Die bome staan, so half op hul gekronkelde wortels…ingesink en verweer.

‘n Skouspel…

Ons het twee aande langs die Kafue geslaap: gisteroggend gevlug vir die tsetsevlieë. Laasnag onder ‘n amper volmaan weer. Gelukkig sonder tsetse’s…muskiete ook min en nie bytende miere nie. Ja nee, ons moes ligloop…

Nou ry ons suidwaarts, oppad na die groot Valle… en vanaand is dit ‘n vol maan… ‘n bloedmaan. Ons sal ‘n rosige vonkel knak…

Mens kan nie help om te dink aan die ontdekkingsreisigers van toentertyd in Afika nie. Toe was die landskap nog onaangeraak … geen paaie, geen kosproduksie, geen mediese versorging…eintlik te voet. Moes jag vir die pot. En hierdie is voorwaar malaria-wêreld, die hele Zambië – en die tsetsevlieë, die miere en die wilde diere… en ‘n son wat intens en baie warm is. Die inheemse bevolking van daardie tyd, ook nie noodwendig vriendelik nie. David Livingstone was verseker dapper, ‘n vasbyter was hy, sy nalatenskap fassinerend!

Maar mooi was dit…die oorvloed, die vlaktes van Afrika vol wild, die ongesteurde landskappe, die riviere in hul natuurlike spore…geen damme en brûe en kanale nie … die verruklike sondergange ,die sterre in hierdie naghemel en die kom en gaan van die maan… Hy sal seker dîe roeping weer kies…

Toe kom ons gistermiddag in Livingstone aan: modern, toeristies, ‘n gees van afwagting… Ons is terug langs die Zambezi, nou groot en breed en diep. Hier is ‘n geologiese streep deur die rivier getrek. Die deel voor die Valle en onder dit. In die volksmond MOSI-OA-TUNYA, The mmoke that thunders.

Na die goeie reënseisoen is die rivier vol. Ons kyk met ander oë na hierdie skouspel. Ons het die nederige begin aanskou, ons het die eindelose vloedvlakte gesien, ons het deur die vleilande gery… nou is al daardie water hier, op plekke kilometers breed.

Vanoggend hierdie skouspel vanuit die lug gesien: wat ‘n belewenis! Jy bly net stil, daar is nie woorde nie.

Ons safari maak klaar.

Vanaand is dit ons laaste aand. Ons slaap by Senyati net oor die Botswanagrens. Hierdie is ‘n paradys vir olifantfotografie…n skuiling wat jou tot teenaan die ou reuse bring.

Ons het vanoggend vir Daan en Corna gegroet, altyd ‘n afskeid… Wens julle kon almal se stories hoor. Twee sussies met twee niggies wat met hul manne en kinders Afrika ry van 1994 af. Hulle ken die kontinent, die kampplekke, die mense en paaie…ook die voëls, die bome. Ingeleefde ryers van Afika se paaie, ook met ingeoefende temprament. Dit is noodsaaklik op so ‘n reis.

So ons groet mekaar moreoggend.

Vandag het ons Zambië se riviere en landskap, watervalle en woude, vrolike vlinders en voëls en sy mense gegroet.

Moreaand iets oor die Limpopo…dan maak ons vir nou, die joernaal toe.

Ons safari is klaar. Ons is dankbaar, voel ryk aan nuwe ervaringe en volgestop met die beelde van ‘n wye en vry kontinent, ons s’n. Hier ervaar mens ‘n onvernietgbare oerritme. ‘n Genade! My laaste pos

Ons is toe vir die eerste keer oor die indrukwekkende nuwe brug oor die Zambezi by die Kazungulagrenspos. So modern, vaartbelyn, ‘n effektiewe grenspos…mens verlang skoon na die ferrie en die chaos by die grenspos. Laas is ons saam in gietende reën, onder sambrele van geboutjie na geboutjie, en toe die nat rit in ons kampkarre op die ferrie.

Sinyati kampplek het ons bederf met olifante, met eerste lig ‘n groot trop buffels in konfrontasie met sewe leeus… ons bly verwonderd…toe groet ons mekaar. Nie lekker nie, tog so ‘n kosbare besit.

Glo my, die Limpopo vertel sy eie storie. Vloei rustig omring deur fluweelrosyntjie, haak en steek, knoppiesdoring, maroela en reuse wildevye. Ons twee alleen vir oulaas by ‘n besondere vuur.

Wat sê mens nou na drie sulke weke?

Klik op fotos vir vol weergawe


Die drie bome

Drie bome het langs mekaar op ‘n heuwel in ‘n woud gestaan. Op ‘n dag het hulle vir mekaar vertel wat hulle wens eendag met hulle sal gebeur. Die eerste boom het gesê: Ek wens ek kan eendag ‘n pragtige houtkis wees gevul met allerhande edelstene en kosbaarhede soos goud en silwer. Die mense sal in verwondering na my kyk en sê, kyk na hiérdie juwelekis. Kyk hoe mooi is dit gemaak.

Die tweede boom sê toe, my droom is om eendag `n groot skip te word. Konings en heersers moet op my dek staan en na al die uithoeke van die aarde reis en almal moet veilig voel omdat ek so stewig is.

Toe sê die derde boom, ek wil net `n boom bly. Ek wil net hier bly staan, maar ek wens dat ek die grootste en mooiste boom op die heuwel kan word. Mense moet verstom na my kyk, na my dik, sterk stam. Ek wil die indrukwekkendste boom van alle tye wees sodat mense my vir altyd sal onthou.

Jare het verbygegaan. Die drie bome het aanhou gesels oor hulle drome en ideale, hulle het ‘n vriendskapsband gehad, hulle sou mekaar graag wou volg op hul lewenspad. Ja, hulle het baie in gemeen gehad, hulle was dromers, hulle wortels het diep in dieselfde grond gegroei. Hulle sou graag die besondere band behou.

Op ‘n dag, kom daar ‘n klomp houtkappers op die heuwel aan. Toe hulle by die eerste boom kom, sê hulle, hierdie is ‘n pragtige, sterk boom. Ons kan hierdie boom afsaag en die hout aan ‘n skrynwerker verkoop. Terwyl hulle die boom afkap is die boom baie bly want hy het gedink sy droom gaan waar word. ‘n Skrynwerker gaan hom in ‘n besondere juwelekis omskep, een wat van fyn vakmanskap getuig, soos hy gedroom het.

Toe hulle by die tweede boom kom het die houtkappers gedink, die hout van die boom is ideaal om aan ‘n skeepswerf te verkoop. Die boom was baie bly want sy droom om ‘n groot, stewige skip te word waarop konings en heersers oor die see seil was ook besig om waar te word.

Die manne kom staan toe om die derde boom. Hierdie boom se hart het inmekaar gekrimp want as hulle besluit om hom af te kap, gaan sy droom om die grootste boom op die heuwel te word, nooit kan waar word nie.

Ek het niks spesiaals nodig nie, sê die een houtkapper. Ek sal hierdie boom vir my afkap. Dalk kan ek hom eendag vir iets nuttigs gebruik. Die arme boom was gebroke. Waarom moet so ‘n lot my tref?

Die eerste boom het by die skrynwerker se werkswinkel aangekom maar in plaas van ‘n juwelekis, het die skrynwerker ‘n rowwe houtbak van die dik, bonkige balke gemaak. Die houtbak beland in ‘n afgeleë stal, vol voer vir die diere. Hierdie was die allerlaaste ding waarvoor hierdie boom gebid het. In plaas van ‘n juwelekis vir konings en prinse, ‘n voerbak vir diere in ‘n vuil stal!

Die tweede boom is opgesaag en hulle het ‘n vissersboot van sy hout gemaak. Geen imposante skip nie, geen konings of heersers en glad nie die groot, oop see nie! Nee, ‘n krakerige skuit op ‘n meer! Hoogstens goed genoeg om daaruit vis te vang.

Die lot van die derde boom was die ergste. Hierdie boom is in balke opgesaag en êrens in ‘n stoorkamer gebêre, vergete en vol stof. Sy ydele droom en behoefte aan bewondering het aan skerwe gelê.

Jare het gekom en gegaan. Die bome en die drome was vergete. Iewers, diep in die gees van elke boom, het elkeen gewonder wat het van sy vriende geword. Waar is al die drome heen?

Tot, op díe dag… ‘n moeë man en sy jong vrou strompel uit die skemerte in die stowwerige stal in. Alles verander, daar is ‘n helder lig, als voel mild en soos in ‘n sagte droom. Die man lê ‘n pasgebore baba, toegedraai in doeke in die houtbak neer… Skaapwagters kom stilletjies in, en toe ook sterrekykers, als is soel en byna onwerklik.

Die boom kon dadelik die grootsheid van die oomblik aanvoel. Die stal en die houtkrip het in ‘n tydlose teater verander, grensloos…

Hierdie houtvoerbak was nou wel nie vol goud en silwer waarvan hy gedroom het nie, maar die grootste Skat van alle tye, die Koning van alle konings, is in hóm neergelê.

Die tweede boom was vir jare ‘n visserskuitjie waarmee ‘n klompie manne elke dag uitgegaan het op die See van Galilea om vis te vang. Op ‘n dag, op die meer, het ‘n geweldige storm losgebars met rukwinde en bruisende, brekende branders, die manne het gevrees die skuit gaan sink. Die vissers het haastig en vol verwagting ‘n slapende man agter in die skuit wakker geskud. Hy het opgestaan en met die storm gepraat en als het bedaar, die vreeslike wind het gaan lê. Só ‘n stilte, so n heilige vrede het oor die skuit en oor die meer gehang.

Hierdie boom het ook baie meer gekry as waarvoor hy gewens en gedroom het. In plaas van ‘n droomskip vol aardse konings en heersers, was hy ‘n visserskuit waarop Jesus, die Koning van alle konings gevaar het. Hy was deel van n wonderwerk…

Die derde boom was vir jare net ‘n stapel ruwe balke wat in ‘n donker stoorkamer gelê het. Op ‘n dag was sterk balke dringend nodig om misdadigers te kruisig. Een uitgeputte en mishandelde man moes sy eie dwarsbalk dra. Die hout het ‘n krag en liefde en ongekende deernis ervaar en beleef deur sy kontak met díe sagmoedige man in ongekende pyn. Die hout en hierdie man het ‘n eenheid geword…Toe word hierdie man aan die dwarsbalk vasgespyker, die kruis word regop getrek.

Hierdie boom se droom was om die grootste en mooiste boom op die heuwel te word. Toe word die balke wat uit daardie boom gesny is op Golgota geplant, vir almal om te sien. Die derde boom was die kruishout wat vir ewig leef, voortleef en red.

Jesus, die baba in die houtkrip, die man wat die storm stilgemaak het op die nederige visserskuit, was ook die gekruisigde aan die groot houtbalk teen die heuwel.
Daar, waar die drie bome eens op ‘n tyd saam gestaan en droom het, was dit stil, so stil. As jy lank, roerloos daar sit en luister, hoor jy tog ‘n fluistering. Dalk, as jy baie fyn luister, die sagte melodie van ‘n engelelied…stille nag, heilige nag.

Klik op fotos vir vol weergawe

LEES ONS ANDER KERSVERHALE HIER

Theodora se droom

Ons is aan die pak. Oor ‘n paar dae klim ons in ons Amarok en vat die pad deur die Noord-Kaap na ons woestynland. Maar ons moet gou kuier en groet.
Op Mei se volmaanaand, ‘n Woensdagaand, kom Frans en Theodora en Christine rondom sesuur. Ons skink gou vir elkeen ‘n glas borrelende vonkelwyn, haas ons agtertuin toe, klim op met die skuins trappies van die kleintjies se klimraam, staan op die dek en wag… Met ingehoue asem kyk, eers ‘n bietjie van ‘n gloed, dan die baldadige ronding van ‘n vol geel skyf wat met stadige selfvertroue agter die horison uitkom. Ons is só opgewonde, dis soos die eerste keer. Ons drink ‘n gesondheid op die maan wat so véél geheime bewaar, die ewige volmaan wat ‘n vreemde roering in jou gees bring…keer op keer.
Ons sit op die klimraam se platform en laat die maan, wat nou met ‘n vol gesig op ons neerkyk, sy spel van emosie en bekoring met ons speel…só heerlik, só blywend ongewoon.

Terug in die huis, om die kombuistafel, in kerslig, kuier ons, gesels, lag en droom. Vertel vir mekaar van ons planne, as ons tog net weer kan reis. Die Boshoffs wil Kanada toe, na Corneli en die kleinkinders. Maar, sê Theodora, sy wil graag barbiepopklere saamvat vir Stefani, vier jaar oud en verknog aan haar barbiepoppe. Spesiale popklere is daar skaars. Theodora het ‘n droom, Christine begin planne maak. Sy hou van mooi en van sag en van klere, elegant en ongewoon. Ons, wat oppad is Namibië toe, die Suide, se koppe is vol prentjies van grafiese landskappe met kleure en duine en waaiende grasvlaktes. Die gesprek haak vas by daardie oer wêreld wat steeds hiberneer… nou met ‘n lang glas rooiwyn in die hand beraam ons planne vir ‘n gesamentlike Namibië besoek. Maar ons gaan vlieg, sommer vroeg volgende jaar, twee vliegtuigies…ons is opgewonde.
Twee dae later verdwyn ons op die lang pad en in ‘n skoon en ongerepte land in.

Klik op fotos vir vol weergawe

‘n Week daarna gaan kuier Theodora by Christine, hulle beplan popklere vir Stefani. Theodora vertel van die vrolike blondekoppie en haar passie vir haar barbiepoppe. Die vooruitsig om te kan gaan kuier is daar, hulle pluk hulle vere reg. Maar, die volgende dag is Theodora siek, nog ‘n dag, covid.

Christine is ‘n meester…kleur, tekstuur en styl is deel van die beplanning. Die barbies pronk in modieuse uitrustings, gebrei. Die klein handjies van dogtertjies trek dit makliker aan as materiaalkleertjies. Nog vriendinne val in, Lizélle, Leonie, Lena. Die droom kry vlerke.

 

Ons gesels per whatsapp: 

Theodora: Liewe Elsa, ek kyk na jou fotos. Die natuur is so mooi. Waar is julle?

Ek: Die fotos is op ons safari deur die Suide geneem. Die land se vergesigte en vistas is weergaloos. Mooiste wense vir julle! 

Sy: Ongelooflike natuur. Volgende jaar trap ons spore daar…

Maar Theodora word sieker, hospitaal. Die breipenne van die vriendinne knikker rondom die fyn wol. Al vinniger…so saam met die sieker word. So asof die mooie popklere hierdie siekwees-gety sal laat draai, daar kom ‘n dringendheid daarin, brei en bid, sommer saam.

Toe kry ons die nuus: oorgeplaas stad toe…  

 

Ons gesels per whatsapp. Dis weer volmaan:

Ek: Ons bid vir die Here se seën en wonderlike genesing hier uit die woestyn onder die helder lig van die volmaan.

Theodora: Dankie! Dat die genesende woestynwinde sy gebede vir my waai….   

Ek: Woestynwens: Vanmiddag stuur die woestyn ‘n wasige miskombers met spatsels goue son vir jou!

Die seebries waai ryke asem oor jou en die ou sandaarde anker jou stewig vas aan hierdie lewe.

Sy het hierdie woestynwens nooit gelees nie. Sy het sieker geword, ventilator, intensief…

Die maan is weer koeelrond. Ons staan en tuur oor Chrissiesmeer na die horison en sien weer die asemrowende botterbal wat oor die horison hang. Toe kom die boodskap: sy is weg, dis verby.

Ons almal se harte is seer, ons is verslae. Dit is so ontydig, dis tog eintlik onmoontlik. Sy was op so ‘n goeie plek, so vol ligte energie.  

Nou is Corneli hier. Ons reël ‘n geleentheid, drink saam tee. Christine nooi die vriendinne wat saam gebrei het, of gestik het. Ons sit, op ‘n koue winteroggend, saam waar Theodora, net meer as twee maande gelede, vertel het van haar droom. Ons verwonder ons aan almal se fyn vakmanskap: wye rompies, bypassende hoedjies en handsakke, modieuse baadjies met serpe… ‘n volledige uitset. Ons het ook gesorg vir ‘n bypassende klein reissak vir die uitset. Die poppe kan inpas, knus op die kleertjies lê. Hier is ons almal, die popklere ook. Hoe leeg kan ‘n plek wees?

Corneli is terug Kanada toe met die klein reissak met haar ma, Theodora Stephanie, se droom, ook ‘n sakkie vol barbiepopskoentjies wat sy in haar ma se kas gekry het. Nou speel klein Stefani daar ver, daar is genoeg uitrustings vir al haar barbiepoppe. Haar ouma se geskenk was ‘n droom, een wat waar geword het en wat voortleef in die spel van ‘n klein dogtertjie. 

Drome is soos die maan. Dit laat hul nie vashou nie, dis vry en sonder perke. Die vliegtuigies sal vlieg en op ver plekke land. Oumas, mammas, dogtertjies, vriendinne, maak spore, droomspore, in die gewone lewe, oor wye onaangeraakte wêrelde, oor ver woestyne en kontinente. Dit leef

Deur ElsaCatherien Winckler

Klik op fotos vir vol weergawe


Ons Reis deur Afrika

Hierdie is Deel 1 van die vertelling van ons epiese reis in Desember 2019 en Januarie 2020 van Ermelo en Windhoek na Ethiopië. Die joernaal is saamgestel uit WhatsApp boodskappe, een elke paar dae, wat vertel van indrukke en belewenisse op die pad. Die konvooi het uit vier voertuie bestaan, ses dames, twee mans: Chrisna en Corna, Andriëtte en Annemarie, Riéth en Louis, Woldemar en Elsa.

Ingesluit is ook vertellings van Andriëtte wat gereelde Facebookinskrywings was. Daar volg nog twee dele na Deel 1.

Geniet die reis!

Ons Reis deur Afrika

30 November 2019

Ons is op pad. Nou word die wapad ons woning vir 60 dae… Ons deel graag hoogtepunte met julle, die lesers en hier en daar ‘n foto. Ons sien uit na die groot riviere, die Zambezi, die Kafue, en die berge, Meru en Kili en dan die juweel daar bo… Dankie vir jul meelewing! Ons is opgewonde.

 

The Journey is the destination

Ons vertrek van Pretoria, slaap naby Francistown en kry die ander drie voertuie en vriende by Namwi naby Katima in die Caprivistrook.

 

 

2 Desember 2019

Nou is ons bymekaar: vier voertuie, interessante geselskap. Namwi, op die wal van die Zambezi is ‘n voëlparadys, die charisma van Afrika alomteenwoordig… Die grensposte is geen teleurstelling nie…

Vir 3 km staan gelaaide lorries en wag, die verkeer is chaos en die beamptes drink tee. Ons het horlosies, hulle het tyd.

Ons roete vandag is deur Zambië noordwaarts al langs die kronkelende Zambezi, groot bome en ‘n veranderende landskap, vanaand is ons langs die Kafue. Hier is mens bewus van groot riviere wat in ou spore oor ‘n kontinent vloei, stil en breed, onder ’n wolkehemel so vol belofte!

 

3 Desember 2019

Ons het ‘n rustige oggend langs die Kafue. Dit was gister ‘n lang dag deur Zambië se westelike vloedvlakte, na ‘n sukkelende gedraal om deur die grens te kom. Ons het al langs die Zambezi gery tot by Mongu. Daar by Shoprite ‘n paar goed gekoop, saam met ‘n skare locals wat mieliemeel, wat op ‘n uitverkoping was, gekoop het… ‘n gemaal tussen die rakke.

Daarvandaan wes na die Kafue. Die pad is ‘n uitdaging; dongas en slaggate kwalik sigbaar onder ‘n flikkerende en blitsende aandhemel. Ons ry in die donker onder die skouspel in tot op die wal van die rivier. Dit reën iewers naby, die taai nat turf pak onder ons skoene aan. Mark, die kampopsigter, maak vir ons ‘n groot kampvuur, ‘n klein sekelmaan kyk vir ons deur die wolke, sterre kom uit. Dit word ‘n magiese aand in die diep bos van Afrika…die donker sterredak, die groot water waarin die weerlig en sekelmaan kaats, die afwagting wat so aan jou gees kom roer…

Wat ‘n rivier is die Kafue nie! Groot en stil seil die waterslang in ‘n oeroue spoor oor die kontinent; en die visarend roep.

Die son het jubelend en sierlik oor die oostekim opgekom, die oggend was ‘n juweel.

Nou na Lusaka, en Forest Inn.

 

5 Desember 2019

Ons het uiteindelik wifi. Kamp vanaand in die noorde van Zambië. More in Tanzanië! Hoor Kenia spoel weg. Het vandag gumboots langs die pad gekoop…bid jou aan.

 

7 Desember 2019

Kasanka Park was ‘n verfrissende en verrassende belewenis…kaalstam bome,’n ruie boswêreld met oop vleilande tussenin en blink panne. ‘n Idilliese prentjie is dit met swaar vol wolke wat oral op die horison lê… Jy kan amper nie glo dis waar nie! En dan die reuse vlermuise, meer as 13 miljoen. Ons het gaan kyk. Toe die son sak het hulle saam opgestyg voor ‘n karamel en goue

,Abendhimmel’… mens weer herinner aan die oerritme wat sò als bepaal.

Daarna die droom van Steward Gore Browne, Shiwa Ngandu. Ons ry tussen reuse bome deur, jy kry sommer gou die gevoel hier was lank terug iemand met ‘n eie plan. Mens ruik die bloekom en verstom jou aan die dansende stamme van die inheemse bome met hul blaredak in lagies. Dan staan daar skielik die mooiste huisies, rooi bakstene met kleiteël dakke, ’n ander boustyl, ‘n ander argitek as wat die wêreld gewoond is. Lanings vaalstam ou bloekombome, vol knoetse en knobbels, merk bestaande en vergane paaie.

En skielik is jy voor die mooiste ingang na die herehuis, mak kwaggas wei daar. Ons volg ‘n paadjie, omraam deur ‘n laning bome, gedraaide verweerde bas om die ou stamme.

Wat ‘n droom, wat ‘n storie!

Ons sluit die dag af in die stomende warmwaterbron by Capishaya…Salig!

Bo: Kasanka

Bo: Shiwa Ngandu – Africa House

Bo: Capishaya

Nou is dit Dag sewe. Ons maak roete-aanpassings: soek stiller grensposte, minder lorries. Na kajuitraad, of eerder, bonnetraad, ry ons nou na die Tanganyikameer. Ons slaap hier vanaand langs een van Afrika se groot mere. More Tanzanië in.

Tanganyika meer

 

Andriétte se beskrywing van ons vertrek op 8 Desember by die Tanganyikameer. Fokkelientjie is Chrisna, ons toerleier, se kleurryke safarivoertuig:

Na ‘n nag se lekker rus, is ons weer vroeg in die pad. ‘n Toeris, wat van die noorde af kom, raai ons aan om nie verder op die Great North (pad), Tunduma toe te ry nie. Ons ken die Tundumagrenspos as die nagmerrie-grenspos op ons hele roete, daar spandeer mens maklik 4 ure. Volgens hom is daar ‘n enorme klomp lorries op die pad en word daar ook aan die slaggat-besaaide pad gewerk. Na bonnetberaad; soos Elsa sê, besluit ons ons gaan liewers wes uitwyk en by Mbala oor die grens. Slaap by Mpulungu …….lê aan die suidelike punt van Lake Tanganyika en ons word, soos 6 jaar gelede, deur ‘n vriendelike Charity ontvang. Sy reël ook sommer gou-gou dat ons wasgoedjies gedoen word. Dalk nie so ‘n slim besluit nie, want die hemele gaan oop en dit stortreën. Die halfdroog of liewer halfnat wasgoedjies hang nou knus op ‘n wasgoedlyntjie in my kar. Raai wie se kookbeurt is dit…die uwe s’n (appelkooshoender….), so dié sjef moes dit net warm maak, rys by kook en ‘n slaaitjie maak. Die poeding was Oreokoekies

Ons groet vir Charity en vat die dag met nuwe verwagtinge. Ons beur teen die bulte uit…die karre is swaar gelaai. Fokkelientjie gooi heelwat meer dampe af, as wat van ‘n ouer vrou verwag word. Ek ry tot op haar agterstewe en sien die “ou mens” verloor vog. Diagnose: die brackets wat die pyp vashou, wat die 2 dieseltenks verbind, het gebreek. Die pyp gaan lê op die uitlaatpyp en brand ‘n gat in. Soos net in Afrika is dié probleempie baie vinnig en goedkoop opgelos en was Fokkelientjie weer stert in die lug. Ons is sonder slag of stoot, deur grenspos. Was 8 ure agter stuurwiel met ‘n gemiddelde spoed van so 45 kmh. Gery op paaie wat totaal weggespoel het, tot nuutste teerpaaie met ergere Afrikaverkeer. Slaap vanaand op Utungela koffieplaas. Baie mooi!

 

12 Desember 2019

Tanzanië is ‘n verrassing: mooi geboude huisies met die interessantste sinkdakke, allerhande tierlantyntjies en kleure. Landelikes woon in dorpies, nie meer die wêreld vol nie. Ons ry op goeie teerpaaie, te veel spoedhobbels, 50 km spoedgrense en spietkops in wit uniforms en kameras op verskuilde plekke. Ons het goeie verskonings, verbeeldingryke redes, en oorleef…

Dit bly reën, sak sommer so uit. Soms kom ‘n warm tropiese son uit, as jy weer sien, val die strome water weer…ons is nat, en ons goed. Haha!

Die landskap is magneties, wissel tussen groot grasvlaktes vol langsteelbome met sambreelkruine en groen kremetarte, sommer baie. Lyk amper soos ‘n landery. Granietkoppe, bergpasse en kronkelende riviere kleur die wêreld in.

Ons sien die Ngorgoro met ‘n kruin van wolke, Ol Donyo Lengai, in die verte en ry langs die Manyarameer verby…en toe maak die wolke oop, Meru kyk op ons af onder ‘n amper vol maan. Magies!

Ai, in Arusha is die verkeer ‘n uitdaging! Toektoeks vervoer passasiers en ry die paaie vol, motorfietse of fietse gelaai met suikerriet/houtskool/passasiers/honde/bokke en taxis en mense…

’n chaotiese gewoel. Ons reël ‘n taxi vir noodsaaklikhede soos gas, ‘n skakelaar vir ons watertenk, ens. En natuurlik moet ons na die mooigoed ook kyk…

Masaidoeke,antieke krale , verstommende Afrikakuns en immer iets vir ons kleinkindertjies… Dit was groot pret! En ons is papsopnat.

Onder: Meru en maan

 

Nou is dit Kenia. Hier is dit wragtag nat. Julle het mos gewaarsku?! Die riviere loop walle bruin water, teen die koppe en teen die berge blink die strome en plons oor watervalle. Die lug bly ‘n blou kristal met die wolke onheilspellend saamgepak oor die hele horison.

Ons is bewus van ‘n sterk Indiese en Mosleim teenwoordigheid: argitektuur, universiteite, moskees, kleredrag…

Vanoggend het ons by Kampfontein verbygery, wes van Arusha. Hier het my ouers in die middel 1950s gewoon en gewerk. Die kerkie vir die Afrikaners en ook ‘n skool en koshuis is nou ‘n Duitse Teologiese  Kollege. Die monumentjie ter nagdagtenis aan die boere en hul bydrae, is van die pad sigbaar. Hier lê so véél stories, mens kan nie anders as om nostalgies te raak oor die ou spore van ons mense wat oor Afrika se savannas lê nie…

 

Kenia

 

 

Vanaand kamp ons by Nanyuki, aan die voet van die Keniaberg. Dis die plek waar Joy Adamson en haar man George, die leeutjies grootgemaak het van Born Free’. Elsa het by hulle agtergebly en haar welpies is uiteindelik in Serengeti vrygelaat. Forever Free!

Kentrout, ‘n spesiale kampterrein wag ons in, met diep koloniale spore, varkore en tuinery, wat van ‘n eertydse anderse lewe getuig.

Links en middel: Noorde van Kenia. Regs: Nanyuki

 

Ons bly ry in die valleie in en om die Groot Skeurvallei van Afrika.

Ons moet soms stil staan en diep asem haal…

Moreaand, saam met die vol maan, is ons op die grens met Ethiopië, Moyale. Wat ‘n gedagte!

 

Ons jubel saam oor wondelike reën in SA en ons kry omtrent ‘n dokumentêr van die reën in Namibië. Wat ‘n seën!

15 Desember 2019

Ons het onder die vol maan uit Kenia gery, sy magiese bekoring saam met ons gebring. Ons het in die Nature Conservation Camp in Moyale geslaap, nou is ons in Ethiopië.

Hier is dit nie grappies nie; dit voel wilder, verder, waarlik anders en verseker Afrika… meer die ou, amper donker Afrika. Die wêreld van Cutting for Stone…’n onvergeetlike verhaal.

As ons gedink het die verkeer in Arusha was erg, is hierdie veel erger. Donkiekarre, beeste, skape en bokke, toektoeks, motorfietse en baie mense is almal saam op die pad. Ons bestuurders moet regtig wakker wees.

Ons het gisteraand langs die Awassameer geslaap, die visarende het ons vanoggend in ‘n koor wakker geroep. Hoe is dit dat daardie klief deur die lug, altyd ‘n glimlag en ‘n ver gedagte afdwing?

Ons ry nou deur koringwêreld, modderhuisies, grasdakke en almal toegedraai in lappe. Lang, skraal figure met fyn gesigte…Mens wonder wat word als verbloem deur die baie lae lap?

Nou lê die Baleberge voor ons: hoog en koud en ongerep en verlate…

Ons sien uit!

Oor tien dae is dit Kersfees. Ek en Riéth het gister ‘n salige wegglip-tee in ‘n restaurant gedrink, in Awassa, die bestuurders het brandstof gesoek…lang rye toektoeks en motorfietse wat vir petrol wag. Toe speel Amazing Grace…ook hiér is Sy verstommende genade, die suiderkruis en die reëlmaat van son en maan.

 

In Andriétte se woordeBaie lekker gekamp by Wondo Genet Hot Springs. Vroeg vanoggend opgestaan om te gaan voëls kyk. Sien ‘n klomp lifers/nuwe spesies. Ons ry terug na Shashemeni om Oromo tradisionele klere te gaan koop. In die chaotiese verkeer van lorries, taxi-bussies, toektoekies, donkiewaentjies, skape, bokke, beeste en mense wat na hartelus oor die straat loop, gebeur dit dat Louis en ‘n toektoekie teen mekaar verby skuur en net daar besluit die toektoekie-eienaar dat dit veroorsaak het dat sy voorruit gebars het en met ‘n vriendelike polisieman byderhand, besleg hulle die saak daar in die straat. ń N$1000 later uit Louis se sak, ry ons daar weg. Om net tot verhaal te kom, stop ons by ‘n koffieshoppie en drink tradisionele Ethiopiese koffie met wierook en al wat op kole in ‘n houertjie gebrand word. 60km later trek ons af by Lake Langano……..dankie tog……geen verkeer en bedelende mense…….ek dink bedel is die nasionale sport van Ethiopië. Chrisna en Riéth besluit om vd massas bruin water gebruik te maak en begin summier wasgoed was en detail aandag word gegee aan die fyner goedjies soos toonnaels verf ens. Louis begin sleg voel…….koue koors ens. Gelukkig kan ons toets vir malaria, waarvoor hy dan ook positief toets. Hy begin dadelik met ń kursus Cuartum en hy behoort sommer vinnig beter te voel. Wollie & Elsa kook vanaand …skaapboud In Weber. Heerlik!

 

Dit is die mooiste oggend by Lake Lagano en ons weet ons moet die laaste stilte en vrede geniet voor ons Addis tref of sal ek sê voor Addis ons tref. Ons gaan kamp weer, soos 8 jaar gelede,by Wim’s Holland House. Die stad het in 8 jaar dramaties verander met die mooiste nuwe wolkekrabbers en oorweë. Vroeg die volgende oggend sluit Annemarie, wat ingevlieg het van Windhoek af,by ons aan. Vir 4 weke sal ek ook nou geselskap in die kar hê en ‘n paar oë wat kan help kyk, wanneer alles wat leef en beweeg op jou afstorm, terwyl jy jou pad probeer vind……..wat die radio soms kan bevrou, op die gps kan help kyk, terwyl ek soms soos ‘n slagorkesdirigent moet lyk, soos ek ratte wissel. Ons slaap 2 aande by Wim’s. Ons vat taxis om bietjie voorrade aan te vul, markte te besoek ens. Na 2 dae in Addis val ons weer in die pad, maar eers moet ons brandstof ingooi en die mees misterieuse ding gebeur……nie my of Louis se Cruisers se immobiliseerders wil werk nie, ook nie dié aan ons spaarsleutels nie. Ek het gelukkig ‘n ekstra “sleutel” waarmee ek die immobiliseerder kan bypass. Intussen laat kom die vulstasie “auto”- elektrisiëns wat aan Louis se kar kan werk. Die toeval is vir my net te groot, Dat 2 karre gelyktydig so ‘n probleem het. Dis waarom ek dink dit kan dalk ‘n sein of iets wees. Chrisna se kar het nie meer ‘n imobiliseerder nie. Ons kry terugvoer van kenners in Namibië dat dit kan gebeur wanneer mens deur elektriese velde beweeg…….dis my verstaan van dit en dat ons net uit die gebied uit moet beweeg, wat toe so is, maar intussen het dié “manne” mos nou al aan Louis se kar begin werk en eintlik meer kwaad as goed gedoen, met dié dat sy kar se flikkerligte en ruitveërs nou nie meer werk nie. Ons ry so 50 km uit die stad en slaap in die mooiste Forest Reserve………paradys, met mooiste bome en voëls. Ons eet heerlik aan Corna en Chrisna se stroganoff en njokkie.

Onder: Mark in Addis Abeba

Onder: Oppad na en in die Bale Berge

Onder: Bale Berge

 

21 Desember 2019

Die Baleberge is hoog en oud en plek-plek toegegroei onder die mos. Die Sanettiplato is 4200m bo seevlak met, Afro-alpinynse vleie op die plato. Helder poele yswater, wit plate sewejaartjies, ons sien die skaars Ethiopiese wit wolf en elegante, beeldskone kraanvoëls wag ons in.

Oral is skaars en spesiale voëltjies, dit is ‘n voëlkyker se droom… ‘n yswindjie waai dwarsdeur jou.

Addis Abeba is ‘n ervaring. Mense, baie mense, Moslem, Christen, Ortodoks, tradisioneel en modern… Díe stad is voorwaar ‘n wêreldstad, hoë geboue, nuwe wolkekrabbers, party klaar en blink, baie onklaar met ysterstawe of betonpanele wat op die boonste verdieping in die lug bly staan; paaie vol verkeer en voetgangers en verkopers. Dis ‘n bont bewegende mengelmoes van mense en produkte en voertuie… tog sien jy die hoë vesting van die OAE.

 

Mens wonder waarheen is ons kontinent oppad, so kreunend onder so baie mense?

Dis ‘n ware reis, Riéth het tekens van hoogtesiekte gehad, Louis het positief getoets vir malaria, die medikasie gelukkig so effektief, en toe karprobleme en backyard mechanics

Laasnag het ons in die Menagesha Forest gekamp, teen die hang van ‘n ou vulkaan. Die park is die oudste park in Afrika, bestaan van die 14de eeu af, reuse bome wat hoog in die lug op troon en onder, ‘n feetjiesbos.

Vandag is ons op ‘n slakkepas oppad noorde toe. Ons sien uit om die stad, die massas en die krotbuurte agter te laat…hoe noorder, hoe meer Christene, hopelik minder van die temerige geneul van die Moslems vroeg in die oggend!

Weet jy hoeveel arm, honger mense het díe wêreld? En dis nou vier dae voor Kersfees, ons verlang…

 

Word vervolg

 

Deur ElsaCatherien Winckler

 

 


Anthonie span die seile

Dit was Anthonie Botha se droom – seil, die see en die ver, oop horison wat so onweerstaanbaar wink. Sir Robin Knox-Johnston se boeke en inspirerende storie van sy alleenvaart om die aardbol in 1969 het bygedra om Anthonie te inspireer om dit ook te doen. En hy het, skryf ElsaCatherien Winckler.

Die Clipper Round the World Yacht Race vind elke tweede jaar plaas. Amateur bemanning betaal om aan een of meer bene van die resies deel te neem. Elf identiese seiljagte van Clipper Ventures neem deel en professionele skippers en ander gekwalifiseerde bemanningslede lei elke span op wat aan die tien maande-lange wedvaart gaan deelneem. Die wedvaart samel ook geld in vir die Verenigde Nasies se kinderfonds, UNICEF.

Anthonie – mediese dokter op Ermelo vir die afgelope 40 jaar –  se avontuur was ‘n gesinservaring. Sy vrou, Lizélle en hulle gesin het die droom van die begin af met geesdrif ondersteun en almal het intens in die logistiek en omvang van die reis belang gestel. Anthonie moes voor die reis drie keer Engeland toe gaan vir voorbereiding en opleiding.

Maar Lizélle was op die wal toe die eerste wegspringskoot op 1 September 2019 by South End, Engeland, gedawer het. Sy het die Unicef, die seiljag waarop Anthonie was, ingewag op die hawe in Punta del Este in Uruguay. Die hele gesin het hulle weer weggewuif met hul vertrek uit die Kaapstadse hawe op die volgende been na Fremantle in Australië.

Anthonie, seeman op 18 in die Vloot in Simonstad, sê 50 jaar later oor die seiljagvaart tussen die kontinente deur, die hele ervaring was een groot hoogtepunt. “Net na ons wegspring vanaf South End het ons die Baai van Biskaje se berugte 40 tot 60 knope wind van agter ervaar. Al 24 van ons moes daardie nag agter op die boot sit sodat ons gewig die boot kon stabiliseer en meer beheerbaar maak. Ons het letterlik aan mekaar vasgeklou, die spoedmeter dopgehou, gejuig en geskree as die boot se spoed met tye 35 knope was. Dit was ‘n onvergeetlike nag!”

Anthonie vertel die boot is voor die wedvaart nuut uitgerus met toue, seile en noodtoerusting wat deurlopend en veral in elke hawe geïnspekteer is. Noodonderhoud aan die meganiese komponente soos die dieselenjin, kragopwekker en watermaker is op die boot tydens die reis gedoen en groter herstelwerk is by hawens gedoen. Die bemanning  moes dikwels met ‘n naaimasjien geskeurde seile aanboord regmaak.

 

 

“Ons was in twee spanne verdeel wat mekaar bedags elke ses ure afgelos het en snags elke vier uur. Almal het gehelp met navigasie, met die stuur van die boot en met die seile. Ons het ook kosgemaak, toilette geskrop, boot skoongemaak, genavigeer, veiligheidstoerusting nagegaan en noodsaaklike onderhoud gedoen.

Life at 45 degrees was wel ‘n uitdaging. Die boot het meestal teen 45 grade oorgehel as die wind sterk gewaai het. Om onder in die boot te beweeg, kos te maak, aan en uit te trek en op jou bed te klim, het dikwels akrobatiese vernuf geverg.

Vir baie bemanningslede was die onverwagte windstorms (“squals”) op die oop see vreesaanjaend. “Swart wolke pak saam, kom dreigend nader en dit lyk asof ‘n groot,  onsigbare hand die water optel en laat val. Dan moet ons die seile baie vinnig stryk en die boot voorberei word vir stormsterk wind, donderweer, weerlig, vlae reën en hael. So ‘n windstorm duur net ‘n kort rukkie, dan moet ons  spring om die seile weer te span en resies te jaag.”

As mediese dokter was Anthonie  verantwoordelik vir die hantering van noodgevalle en siektes volgens riglyne van Praxes, ‘n Kanadese telemediese diensverskaffer  wat 24/7 beskikbaar was vir mediese hulp en raad. “Benewens kleiner beserings soos snye, kneusings en gebreekte ribbes was ons enigste ernstige ongeval ‘n bemanningslid wat dringend ‘n blindedermoperasie moes kry. Ons was al twee weke van Kaapstad af op pad Australië toe en moes omdraai Durban toe. Dit het ons tien dae laat gemaak in Fremantle, Australië.”

Op die drie bene van die wedvaart waaraan hy deelgeneem het, het Anthonie ‘n hegte vriendskap gesmee met drie  ander bemanningslede, almal bo 60 – Mike en Lindsay uit Engeland en Mario uit Colombië. “Ons het later vir John, ook van Engeland en net 58 jaar oud, as erelid van die ‘bende’ toegelaat.”

Lizélle sê vir hulle as gesin en famiie- en vriendekring, was dit ‘n weergalose ervaring. Almal was meegevoer en het die vordering van veral die Unicef, met opwinding gevolg. Selfs die kleindogters kon elke dag sien waar trek Oupa nou.

Die Covid-19 pandemie het die Clipper Seiljagresies van 2019/20 in Subic Bay in die Filippyne ingehaal. Gelukkig was Anthonie se drie bene afgehandel en die herinneringe en ervaring vir altyd syne.

Deur ElsaCatherien Winckler

Gepubliseer in Plus 50

 

Hierdie artikel het onlangs in die Plus 50 verskyn. Soos dit is met tydskrifte, is die plek beperk. Omdat di took in die grendeltyd op die rake was, was dit moeilik om in die hande te kry. Hier is dus nog fotos om hierdie uitsonderlike ervaring in beeld vir ons toeganklik te maak.
Geniet en droom en doen ook sommer…

Dankie Anthonie en Lizélle!

 


Die Dammetjie

‘n Reisverhaal

Ons moes Ermelo toe. Ná Windhoek, Pretoria en Hartebeestfontein, moes ons Ermelo toe. Dit was hartjie-van-die-winter-yskoud, doodgeryp … diep Hoëveld.

In ons kar, ’n rooi Peugeot 504, was ons twee, ons drie voorskoolse seuntjies en Marion, ons hond. Op pad na ’n nuwe lewe … werk, dorp, mense, plek. Op die Hoëveld, waar dit wyd en oop is en ’n mens ver kan sien … of hoe lui Toon van den Heever se bekende woorde nou weer?

Dit was met die eerste rit dat die dammetjie my aandag getrek het. Rond met ’n hoërige wal aan die onderkant. ’n Ou dammetjie, met wintermos wat aan die wal klou, ’n ingeleefde stukkie waterwêreld daarbinne. Nie vandag se dammetjie nie. Verweer, deurleef, ’n dammetjie met jare se lê agter hom, baie spore …

So het ons, aanvanklik moeilik, maar later wel, nes geskrop op die koel en oop Hoëveld. Maar ons het gery, stad toe en Noord-Transvaal toe, lughawe toe, Middelburg en Witbank toe en met vakansies Namibië toe … Altyd op die pad langs die dammetjie verby.

Moenie dink dit was die enigste dammetjie op die pad nie. Nee! Daar is baie damme : sulke mensgemaaktes met reguit walle met die water opgedam aan die een kant; party sien jy van die water se kant, ander sien jy van die walkant. Daar is ronde sementdamme met ’n krip naby en ’n windpomp … soms sien jy die watertjie wat so saam met die draai van die windpomp spoeg-spoeg in die krip. Daar is ou damme waarvan die walle gebreek is en splinternuwe, oopgevlekte grond met nuwe walle waar die landhere besluit het om nóg water op te vang vir die groeiende kuddes. Hier en daar is daar ’n watertjie wat sommer self begin staan het in ’n laagtetjie in die veld. Maar dié word sommer gou droog.

Dan is daar nog panne ook. Groot en rond, maar nie koeëlrond nie; dié is immers deur die liewe Heer gemaak. Groot en rond en in natuurlike laagtes met riet of daarsonder. Die Hoëveld het baie water… party panne het vars water met plante en voëls, ander lê sommer net so – sonder dier of voël of riet …

So ry ons keer op keer deur die seisoene die pad by die dammetjie verby. In die reënseisoen is hy vol en beur teen die wal. Die mos pak groen rondom en kiewiete is vet en vrolik in die vlak watertjie. In die herfs sak die water ’n bietjie en weerkaats die ryp gras se koringkleur in die ronde poel.

Vele kere in die winter het ons in die vroegoggend daar verbygery, die water in die dammetjie kliphard geys van die koue. Toe was die Hoëveld nog vir weke snags onder vriespunt, ysdruppels aan die drade waardeur jy na die geyste water kyk. Spesifiek dáár het die kar se termometer telkens gewys hoe die temperatuur met ’n graad of twee val. Dan het ons gereeld die kolganse daar gekry, ook maar koud en bedremmeld.

In die lente was dit ’n vrolike gedoente, veral na die eerste reën. Dit was goeie reënjare, die lente was soos ’n geboorte na die slaap-stil winter. Die veld het in ’n verstommende groen uitgebars en die uitspansel het ’n kleurespel van wolke teen die blou lug geword. Dan het die tafereel bo hom in die weerkaatsing op die water herhaal. ’n Mens moes altyd gou kyk; in die ry móét alle kyk vinnig wees!

In die somer was daar klein parmantige gansies vol dons.

Maar dit was veral die afgelope klompie jaar dat die kyk ’n verhouding geword het. Vreemd ja, maar tog. Van ons kant af kry jy eers die stil pan aan die linkerkant, die bloekombos aan die regterkant met die verwaarloosde karavaan wat sommer net daar staan. Dan oor ’n hoogtetjie en plotseling, hier onder jou aan die sonopkant, lê die dammetjie. Jy kan amper jou hand uitsteek en aan die water vat. Die dammetjie lê dikwels loom en half aan die slaap in die son met die waaiende gras in die vallei af. As jy verby is, ’n entjie verder, kry jy weer ’n pan links, die een vol flaminke wat die water pienk kleur en vol patrone maak.

Ek en die dammetjie. Die dammetjie en ek … Nou het ons ook kleinkinders. Hulle het ouma se dammetjie geken. Dit was ’n baken op die lang pad en is keer op keer met afwagting begroet. En dan is ouma ook ingelig van die stand van sake daar. Is die kiewiete daar of die kolganse of vlieg die swerm vinke oor die dammetjie? Of staan die spekvet rooi beeste daar met hul groot dors? Draai die windpomp?

So het ons keer op keer op pad en met ’n vol dagprogram voor na die dammetjie gekyk, ons het gesien wat daar gebeur. In droogtetye het ek swaargekry saam met die water en die wal … die blink water al meer ingedruk deur ’n kring modder wat al harder word aan die kante. ’n Sirkel van droog. Dan het die windpomp, ’n entjie ondertoe, gewoerrr in die wind …

Maar die swaarste was die wal wat stukkend geraak het. Nie gebreek het nie. Soos ’n ou mens wat plooie kry. So het die dammetjie diep plooie in sy onderste wal gekry. En die water het daardeur begin syfer. Eers bietjie-bietjie, en toe al meer.

So met die verbyry, óf suide toe, óf noordwaarts, het my kwelling al groter geword. Waar is die boer? Hoekom doen hy nie iets nie? ’n Mens behoort tog nie onverskillig te staan teenoor sulke verwaarlosing nie!

Ek kan my ook verstout om te sê ek het die dammetjie se versugting gehoor: Help, asseblief!

Die verhouding het wedersyds al sterker gegroei …

Tot op ’n dag. Ons was op pad terug van die vuil en rokerige Witbank en al die kragstasies, haastig af na die skoon lug en oop heuwels, verby die prentjiespan vol flaminke, tot waar my stil dammetjie lê. Maar wat sien ons? ’n Oopgestote stuk grond tussen die dammetjie en die windpomp. Moenie dit vir my sê nie! ’n Nuwe damwal? Ag nee!

Toe maak ek werk daarvan om uit te vind wie die boer is. In die kar, op die pad, begin ek uitvind. Wie het kaart en transport van die grond waarop my dammetjie is? Ek vat nie nee vir ’n antwoord nie.

Tot my verbasing is dit iemand wat ek ken. ’n Gawe jong man. Hy het saam met ons kinders in die hoërskool se marsorkes gespeel. Nogal trompet, of was dit tuba? ’n Jong man met ’n fyn gees, uit ’n goeie familie, mense met aansien. Aha! My kop is deur. Die dammetjie gaan wen …

Ek bel. Heerlik om na jare weer te gesels. Hy is nou groot, al ’n pa van ’n spannetjie. Hy was ’n mooi skoolseun, lank. Ek sien die prentjie. Die jare stap. Nou die rede vir die oproep? Wilhelm, die rede is my dammetjie en die geskroppery onder die dammetjie en hoekom het julle nie al lankal die wal reggemaak nie? En my dammetjie kry swaar …

Watter dammetjie? Tannie se dammetjie? Op my grond? Verbaas.

Ja, sê ek. En ek verduidelik. By die eerste arm pan links verby, dis nou van Hendrina se kant af, dan by die bloekombos met die karavaan verby en dan my dammetjie aan die regterkant, knus teen die pad … voor jy die ryk pan vol lewe weer links kry. Dís die dammetjie!

’n Rukkie stilte. Ja, Tannie. O, dáái ou dammetjie. Dis my swaer. Hy skrop ’n nuwe damwal. Die diere word meer en daardie ou dam is gedaan .

Maar Wilhelm, julle mag nie my dammetjie breek nie! Dis my en my kleinkinders se dammetjie en die kiewiete en kolganse en die groot swerm vinke en die mos en die modder en die reënboog wat soms in die water lê, dis alles ons s’n. En ek wou nog sê die liewe Heer het die dammetjie gemaak en die verhouding is nie net aansit nie, dis regtig … toe sny die lyn uit en ek staan langs die pad met die foon in my hand.

Daar kom ’n boodskap deur. Dankie vir die gesels, Tannie! Ons lyne hier op die plaas maar treurig. Alles wat mooi is! Groete, W

Toe, na ’n week of twee, ry ek weer. Koel watertjie wat ek so stadig, stadig deur ’n strooitjie suig, orrel en saksofoon die kar vol en gedagtes wat ver paaie loop. Nie bekommerd nie. Dink nie eers oor die dammetjie nie. My span is mos nou groot en … by die pan verby, by die bloekombos verby oor die hoogtetjie …

Dammetjie is nie meer daar nie! Sy moedige wal, reg rondom, is meedoënloos platgestoot. Gevoelloos, wreed. Daar lê net ’n hartseer, nat kol. Mos weg. Baie jare se waterlewe weg. Geen voël, geen weerkaatsing. Net droef en verlate …

’n Ent agtertoe staan ’n uitdagende reguit grondwal.. Koel en koud en kil. Kurkdroog.
Hartloos.

Ouma, waar gaan ons weer ’n dammetjie kry? Ons soek, my lief. Maar ek sien nog nie een nie; miskien treur ek nog. Dit was immers 28 jaar… en dis nie meer lekker om die pad te ry nie …

 

deur ElsaCatharien Winckler

gepubliseer in Reisverhale, Saamgestel deur Marissa Greeff, 2016.

Somer- en winterskilderye van die dammetjie deur Drinie Jacob.

Maak kennis met die besondere kunstenaar: Drini Jacob. Kyk by Bydraes.

Die storie van Studio EW

In ’n òu huisie, in ’n groot tuin op die wye en oop hoëveld, skep ons al vir baie jare allerhande goed. Dit het begin met ’n droom… lap is die inspirasie, die swaai en sweef van ligte stowwe om ’n vrouefiguur, die elegansie van vroulikheid en die kringloop van ’n gedagte tot perfekte uitrusting, is die bekoring en verslawing.

Hier is dus lap, ’n kaleidoskoop van kleure en teksture. En dan prentjies, ou modesketse en nuwes wat elke dag ontstaan, ontwerpe vir spesiale geleenthede vir wonderlike vroue. Dan word ’n idee, ’n uitrusting, ’n skepping. Ja, dit lééf, dit beweeg, dit word deel van jou vrouwees en van jou. Ons is ’n familie van vroue uit ’n voorgeslag wat lief was vir mooi aantrek, wat die passie deel. Dis ook ’n ou passie…deur al die eeue is die mens besig met klere: wyd of nou, lank of kort, mooi gemaak met kraletjies en kant, fluweel en brokaat en sy, katoen en linne. ’n Kultuur, ’n kuns en meesterlike vakmanskap!

Ja, ‘n ydele wese is die mens! Maar tog, ons moet elke dag aantrek, ons kan dit gerus met passie en styl doen! En daardeur die wêreld ‘n mooier plek maak …

Uit: Kwatryne
Op hierdie kleed borduur ek week na week
soos jy beduie, Lewe, elke steek.
O laat my hierdie ingewikkelde patroon voltooi
voordat die ragdun garing breek!
– Ina Rossouw

 


Mooi in die veld en op pad

Om in Afrika te reis, beteken om oorlaai te word met baldadige kleur, verskeidenheid van teksture en vrye ruimtes. Dit is wat ons aangryp en bekoor, waaraan ons wat ‘n band met die kontinent het, vashou. Die vroue wat ons op ons reis sien, dra helder kleure, hulle dra natuurlike juwele. Hulle hou van tradisie, dit sien ons in hulle haarstyle. En hulle is gemaklik. Ons leer by hulle. Ons hou ook van mooi klere en wil graag goed voel in dit wat ons dra. Die inspirasie vir die artikel kom uit ons eie ryk tradisie en grootwordjare in Afrika, maar ook uit die voorbeeld van ons susters boontoe op ons vasteland. Ons is ook vroue van Afrika.
Die uitrustings waaroor dit hier gaan, is saamgestel uit elke model se gewone klerekas. Jy sal verbaas wees wat mens rondom kleur en ‘n tema kan saamsit uit jou eie kas. Probeer gerus. Geen besoek aan ‘n duur boetiek is nodig nie, ‘n bietjie waagmoed en kreatiwiteit kan ‘n mooi prentjie oplewer.
Vir die veld, wanneer ons gaan voëls kyk, op ‘n wildrit gaan of selfs stap, is natuurlike kleure van ons bos die keuse. Hier werk skakerings en kombinasies van groen, bruin en kakie, asook gryse uitstekend. Ons het ‘n ryke nalatenskap van safarimodes. Met ‘n bietjie moeite kan die lieflikste prentjie geskep word: serp, hoed, leergordel, stewels of tekkies. Houtkrale, been, volstruisdop of sade is so eie aan ons stuk aarde, dit is uniek, dis lig, dit pas in. Die landskap is óns grootse voorbeeld van tekstuur. Dit maak ‘n prentjie net mooier. Ons materiaalkeuse is koel katoen en rekbare, eietydse kombinasiestowwe.
‘n Onderbaadjie van ‘n growwe tapisserie of gordynstof kan ‘n uitrusting komplimenteer en ‘n lang, safaristyl bloes met sakke is ‘n wenner. Dit beskerm ook sommer teen die son. ‘n Toer deur Afrika, om verskillende lande en eksotiese plekke te besoek, saans te kamp, vereis ‘n ander klerekas. Dit is ook ‘n kas wat min plek in beslag neem. Nogtans kan jy tooi in helder kleur en dan pas jy in by die vrolike, bont markte, die stapels bloedrooi tamaties langs die pad, die ryp oranje
mangos en papajas. Ry ook nie ‘n kamerjas saam nie, vou jou toe in ‘n Masaidoek en dra ‘n sarong as ‘n romp. Hier is ‘n ryk geskiedenis van juwele: koraal, koper, silwer en amber. Om nie te praat van al die mooi stene uit die Namibwoestyn nie!
Dit is belangrik dat reisklere gemaklik is. Ons is nou ook al ‘n bietjie verweer en goed ingeleef. So moet ons klere ook wees en sonder stremming om ons vou en pas. Dit is noodsaaklik dat die styl en ontwerp van jou uitrusting by jou figuur pas. Enige figuur kan met die regte styl gekomplimenteer word. Belê gerus in slim items wat gereed is as jy skielik besluit om ‘n avontuur aan te pak, dan is die pakproses ook sommer veel makliker en die vooruitsig net lekkerder. En jy is ‘n elegante reisiger.
Die seisoen en temperatuur bepaal jou voorbereiding. Afrika is ‘n kontinent van uiterstes – versengende hitte en ysige, hoë winde, droë, stowwerige savannas en langdurige reën in die trope. Dit is ‘n wonderlike uitdaging om reg aangetrek te wees vir al die ekstreme.
Koop gerus langs die pad. Die winkeltjies bied ‘n verrassende verskeidenheid lappe en dis boeiend om te gaan kyk en te onderhandel oor prys. Dikwels is opwindende ontdekkings ook deel van so ‘n besoek en groot pret vir vriendinne. Op die
manier ondersteun ons dan ook die plaaslike ekonomie.
Nou ja, ons voorgeslagte het stylvol en gepas gereis en in die veld geleef. Ons doen dit met entoesiasme en ons sien reeds die volgende geslag is passievol besig om hul reissakke met n plan te pak. Die kampvoertuie staanreg!

Deur ElsaCatharien Winckler

Gepubliseer in Plus 50,  April/Mei 2020


Neels!

6 Januarie. Wlotzkabaken langs die Atlantiese Oseaan, ’n heerlike sonskyndag oor die woestyn. Dis die einde van die vakansie en almal is al terug huistoe, die jaar moet begin. Ek lees die whatsapp-boodskap.

Graeme, De Rust, ’n skildery van Neels Coetzee, myne…hoe is dit moontlik? Hoe gebeur dit?

Neels Coetzee was ’n vriend van my, van ons, vir jare. Hy was ’n musiekonderwyser by ons hoërskool en het vir Rudo, ons oudste, klavierles gegee. Hy het ons tweede seun, Christiaan, gehelp met ’n kunsportefeulje met sy aansoek vir argitektuurstudie net na die millenium. So het hy, hier op die hoë hoëveld in baie gesinne se lewens ’n besondere rol gespeel. Neels was ’n kunstenaar met vele talente. Buiten sy kundigheid om tieners in die wêreld van musiek in te lei, was hy self ’n besondere pianis. Sy kunsuitlewing het ook oor vele genres in die kunswêreld gestrek; mosaiek, olieverf, potloodsketse , en altyd die klavier… hy het self ure voor die klavier deurgebring, sy slanke vingers vaardig oor die note en sy oë vasgenael op die bladmusiek. Dikwels het hy uit sy kop gespeel, die note op die notebalk, elk op sy plek in sy kop.

Op ’n manier was Neels tog ’n afvlerk voëltjie. Mens het die gevoel gekry dat hy met kneusplekke leef wat net nie heeltemal wou genees nie. Dit het te make gehad met sy ouerhuis en kinderdae. Hy, met sy kunssinnigheid, is nie regtig ernstig opgeneem nie. Mens sou kon sê dat hy steeds geworstel het met neerhalende opmerkings en ’n gebrek aan ondersteuning vir die wêreld wat hy so passievol liefgehad het… musiek en skilder. So asof ’n mineurmelodie in sy kop bly draal het…

Soos ’n ware kunstenaar, het hy ook nie ’n groot ophef gemaak van aardse goed nie. Sy waardevolste besittings was sy klavier, sy boeke en sy palet, kwaste en doeke. In sy wêreld kon hy sy hartsbegeerte uitleef, klavierspeel, verf. Groot was ons verbasing toe hy op ’n dag aangekondig het hy gaan verhuis, Oudtshoorn toe, Karoo toe. Dit was ook sommer gou, toe is hy weg. Sy huis leeg en in sy klaskamer was iemand anders. Hy gee musieklesse in Oudtshoorn, verf waar hy bly en voorsien aan ’n galerytjie of twee. Gou was die kunstenaarsdorpie, De Rust, vir hom ’n versoeking en vestig hy hom daar en geniet die interaksie met ’n mengelmoes van interessante en skeppende mense. Die inspirasie van die groot en wye en oop Karoo, omraam deur ’n horison van kartelberge in skakeringe van blou en bruin, het sy doeke al groter gerek en sy ure gevul. Die musiek het nooit agterweë gebly nie…

Ons het hom genooi om op ons stoep, op die koel en groen hoëveld, ’n klavierkonsert te kom hou. Gaste genooi, stoep vol rye houtstoele gepak, klavier laat stem, konsertklere aangetrek en met lang glase vonkel gewag vir Grieg en Debussey en Scarlatti, Mozart en Beethoven. Hy was ’n meester… in aandpak met sagte wit hemp en strikdas…die stoep en tuin ’n teater…en Neels ’n ster, die akteur, die musiek wat deur hom vloei en almal wegvoer na ’n ander dimensie waar drome leef, ontroerend, meesleurend.

Hy was ook ’n paar keer die virtuoos in die statige wit NG Kerk van George, middaguurkonserte: die impromptu energie van Scarlatti, die romantiek van ’n Amadeus… En onverpoos musieklesse gegee en al meer geskilder, groter en wyer doeke…om plek te maak vir die grensloosheid van Kannaland, daardie vergesigte wat soms so sag en deinserig op die horison verdwyn, ander kere sterk afgeëts die horison beklemtoon. Hy kon voorwaar die gemoed van daardie spesiale landskap aanvoel en op doek weergee.

So sien ons ’n Neels Coetzee in ’n gallery in die hart van Pretoria. In die Eikestad in die suide, hang sy werke tussen groot name… En dit verkoop en bring die verlatenheid en robuuste teenwoordigheid van daardie wêreld, wat sy wêreld geword het, in vooraanstaande huise. Hy verf die droë rivierlope en die ver berge in al die bloue, purpers en karmosyne van die landskap wat deur die son in ’n ewige kaleidoskoop van kleur en diepte getooi word. Maar jy sien die ware prentjie. Nie verdraai of skeefgetrek nie, en hy trek jou daarin…onweerstaanbaar!

Ons gaan kuier vir hom in De Rust. Sy huis hogerig, jy kan ver sien. Ons drink koffie uit ingeleefde bekers, sit saam met die klavier en esel met doek en verf in sy sitkamer , olie en terpentyn die lug vol. Hy vertel van Jans en sy skool, Vlakteplaas. Hy gee lesse daar. Leer die kinders anders kyk, maak hulle oë en ore oop vir ’n droomwêreld. In sy eie huis, wat ook sy ateljee is en sommer ook ’n musiekstudio, speel hy ure aaneen klavier en verf verbete.

Neels, ons het nie ’n skildery van jou nie! Daar neem ons die besluit: hy kom vir ons op Wlotzka kuier, in die Namibwoestyn, dan kom verf hy vir ons ons rooi sandduine en onbegrensde ruimtes. Dit is mos daar ook ’n bietjie soos die Karoo, oop en wyd met skoon winde wat deur eeue heen oor die duine waai. Ons moet tog ’n Neels Coetzee hê! Hy lag sy skamerige laggie, altyd effe ongemaklik met sy eie sukses, of dalk verbaas oor die erkenning vir sy werk. Tog, hy het ’n nuwe staanplek gevind in die Karoo, homself ontdek as ’n mens wat sy nis gevind het. Hy kon daar sy passie uitleef en daar was waardering. Hy kon sy siel daar uitstort op doek of voor die klavier en daar is met bewondering en erkenning na hom gekyk.

Weke gaan verby, dalk ’n maand, ons praat weer. Neels het sy huis verhuur, hy woon nou op die plaas van Jans, Oulap, in ’n klein huisie met deure en vensters wat wyd oopskuif en die buitekant innooi. Dis asof binne en buite ’n simbiose vorm, droom, landskap, die lugruim en die klanke van die klavier… Grense verdwyn, alles word een. Sy kwaste kras oor die doek in sonsondergangkleure en vloeiende lyne, sy vingers speel oor die wit en swart note.

Maar, sê Neels, ek is siek, ek het pyn. Is gereeld by dokters. Ek is bekommerd.

Tog kry hy ’n groot opdragwerk. ’n Besondere skildery van die Klein Karoo vir ’n bekende sakeman in die Kaap. Hy trek sy asem in en begin werk. Hy skilder aaneen. Sy onderwerp is by hom en rondom hom. Hy skilder met dringendheid, dis asof sy onderwerp, die Klein Karoolandskap, oor die rante van die doek tuimel… Hy voltooi en lewer. Nog ’n bestelling volg. Amper skaam sê hy vir wie…

Ek kry ’n oproep. Elsa, raai wat het ek met die geld van my mees onlangse en grootste opdragskildery gedoen? Hy was nooit ’n man vir vertoon nie, het homself ook nie so geag om hom te omring met luukshede nie. Wat sou dit wees?

Ek het vir my ’n vleuelklavier gekoop! Hy staan op my stoep, ek speel en speel, my bladmusiek se ore verweer. Die klanke en die melodieë maak bokspringe oor die veld en plas deur die strome en sit saam met die voëls hoog in die bome…Ander kere …’n heimwee, ’n verlatenheid. Hoor ek legatoklanke in sy stem?

Neels het kanker, ’n aggressiewe kanker. Meer dokters, meer weg, die musiek meer ’n mineurtoon, nostalgie en ’n hartseer oor die landskap…Sy kragte minder vir verf, vinnig uitasem, die kwaste word droog, die bladmusiek op ’n hoop.

Ons gesels die laaste keer. Sê Neels: Elsa, julle het toe nooit ’n skildery gekry nie. Ek wou nog so graag die grens oorsteek na julle duineland, wou dit so graag op my doek vasvang, vir julle… Dit was nie moontlik nie. Ek het my laaste skilderytjie vir ’n vriend gegee wat my ondersteun het die laaste weke voor ek na die hospice gegaan het. Hy het my seer bene gevryf, my geswelde voete versorg.

Dit is goed, Neels. Dankie dat jy met jou werk en droom en lewe ons oë en ore so oopgemaak het en ons lewens so verryk het!

Dit was ’n week voor sy dood.

Nou is dit meer as twee jaar later. Ek staan op ons stoep op Wlotzka, kyk uit oor die woestyn en hoor die branders agter my breek. My foon piep met ’n boodskap: Graeme van De Rust. Hy het van my en my verbintenis met Neels gehoor. Toe onthou hy ’n gesprek en hy weet een ding verseker: hy het ’n Neels Coetzee en dit wil hy vir my gee. Dit is my skildery!

Ek raak yskoud en voel die hoendervleis teen my bene opkruip. Hoe gebeur dit?

Hy is die man wat Neels se bene en voete versorg het toe hy nie meer kon loop nie. In ’n gesprek met Annemarie, met wie ons in Ermelo kort gelede gekuier het, en wat na De Rust verhuis het, het Graeme van my vriendskapstorie met Neels gehoor. Hy het geweet hy moet my vind. Neels het hom ook vertel van ons, van ons konsert en dat ons nog een beplan het.

Pos ek vir jou die skildery? Hoe maak mens nou?

My skildery is nou veilig by my. Ek het dit self in De Rust gaan haal. Twintig oor vier die Saterdagoggend hier weg, gevlieg tot in George, my sussie Lucia het my daar gekry en ons is oor die Outenikwaberge Oudtshoorn en De Rust toe. Ons het in ’n snikhete warm kamertjie vir Graeme ontmoet en die kleinood ontvang. Ons al drie se trane het oor ons warm, rooi wange geloop.

Ek en Lucia en die klein skildery het in ’n jagtershuisie van klip alleen onder ’n strepie sekelmaan in die pikdonker Karoo gesit die nag. By ons vuurtjie gekuier en geluister na die baldadige klaviermusiek van Chopin, die dromerigheid van Debussey, die hartstog van Mozart en die speelsheid van Grieg, saam met die groot stil van daardie onbegrensde wêreld. Dit was so asof jy die vleuel kon sien met Neels in sy aandpak en strikdas meegevoer…’n eenheid van musiek en wêreld, van gees en werklikheid, van gister en vandag… Hy en die vleuel was die onderwerp van die nagskildery, die kwashale die melodie…

deur ElsaCatharien Winckler

gepubliseer in Reisverhale, Saamgestel deur Marissa Greeff, 2016.


Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google