Ons reis deur Afrika
30 November 2019
Ons is op pad. Nou is die wapad ons woning vir sestig dae… Ons deel graag hoogtepunte met jul, hier en daar ‘n foto. Ons sien uit na die Zambezi, die Kafue, Meru en Kili en dan die juweel daar bo… Dankie vir al jul meelewing! Ons is opgewonde.
THE JOURNEY IS THE DESTINATION
Ons vertrek van Pretoria, vanaand naby Francistown en more kry ons die ander drie voertuie en vriende by Namwi, by Katima in die Caprivistrook. X
2 Desember 2019
Looking at the thick bush we passed in the dark, feeling the cool wind of the night and smelling the good smell of Africa, I was altogether happy.” Ernest Hemingway
3 Desember 2019
Dit is drie Des. Ons het ‘n rustige oggend langs die Kafue. Dit was gister ‘n lang dag deur Zambië se westelike vloedvlakte, na ‘n sukkelende gedraal om deur die grens te kom. Ons het al langs die Zambezi gery tot by Mongu. Daar by ‘n Shoprite ‘n paar goed gekoop, saam met ‘n skare locals wat mieliemeel, wat op ‘n uitverkoping was, gekoop het… ‘n gemaal tussen die rakke.
Daarvandaan wes na die Kafue. Die pad is ‘n uitdaging. dongas en slaggate kwalik sigbaar onder ‘n flikkerende en blitsende aandhemel. Ons ry in die donker onder die skouspel in tot op die wal van die rivier. Dit reën iewers naby, die taai nat turf pak onder ons skoene aan. Mark, die kampopsigter, maak vir ons ‘n groot kampvuur, ‘n klein sekelmaan kyk vir ons deur die wolke, sterre kom uit. Dit word ‘n magiese aand in die diep bos van Afrika…die donker sterredak, die groot water wat in die weerlig blits, die afwagting wat so aan jou gees kom roer…
Wat ‘n rivier is die Kafue nie! Groot en stil kronkel die waterslang in ‘n oer oue spoor oor die kontinent; en die visarend roep.
Die son het jubelend en sierlik oor die oostekim opgekom, die oggend was ‘n juweel.
Nou na Lusaka, en Forest Inn.
5 Desember 2019
Ons het uiteindelik wifi. Kamp vanaand in die noorde van Zambië. More in Tanzanië! Hoor Kenia spoel weg. Het vandag gumboots langs die pad gekoop…bid jou aan.
7 Desember 2019
Die Kasanka Park was ‘n verfrissende en verrassende belewenis…kaalstam bome,’n ruie boswêreld met oop vleilande tussenin en blink panne. ‘n Idilliese prentjie is dit met swaar vol wolke wat oral op die horison lê…jy kan amper nie glo dis waar nie! En dan die reuse vlêrmuise…meer as 13 miljoen. Ons het gaan kyk. Toe die son sak het hulle saam opgestyg voor ‘n karamel en goue Abendhimmel…mens weer herinner aan die oerritme wat sò als bepaal.
Daarna die droom van Steward Gore Browne, Shiwa Ngandu. Ons ry tussen reuse bome deur, jy kry sommer gou die gevoel hier was lank terug iemand met ‘n eie plan. Mens ruik die bloekom en verstom jou aan die dansende stamme van die inheemse bome met hul blaredak in lagies. Dan staan daar skielik die mooiste huisies, rooi bakstene met kleiteël dakke, ’n anderboustyl, ‘n ander argitek as wat die wêreld gewoond is. Lanings vaalstam ou bloekombome, vol knoetse en knobbels merk bestaande en vergane paaie.
En skielik is jy voor die mooiste ingang na die herehuis, mak kwaggas wei daar. Ons stap deur met ‘n paadjie, omraam deur ‘n laning bome, gedraaide verweerde bas om die ou stamme. Wat ‘n droom, wat ‘n storie!
Ons sluit die dag af in die stomende warmwaterbron by Capishaya…Salig!
Nou is dit dag sewe. Ons maak roete aanpassings: soek stiller grensposte, minder lorries. Na kajuitraad, of eerder ,bonnet’raad, ry ons nou na die Tanganyika meer. Ons slaap hier vanaand langs een van Afrika se groot mere. More Tanzaniê in.
… Word vervolg