Ons is aan die pak. Oor ‘n paar dae klim ons in ons Amarok en vat die pad deur die Noord-Kaap na ons woestynland. Maar ons moet gou kuier en groet.
Op Mei se volmaanaand, ‘n Woensdagaand, kom Frans en Theodora en Christine rondom sesuur. Ons skink gou vir elkeen ‘n glas borrelende vonkelwyn, haas ons agtertuin toe, klim op met die skuins trappies van die kleintjies se klimraam, staan op die dek en wag… Met ingehoue asem kyk, eers ‘n bietjie van ‘n gloed, dan die baldadige ronding van ‘n vol geel skyf wat met stadige selfvertroue agter die horison uitkom. Ons is só opgewonde, dis soos die eerste keer. Ons drink ‘n gesondheid op die maan wat so véél geheime bewaar, die ewige volmaan wat ‘n vreemde roering in jou gees bring…keer op keer.
Ons sit op die klimraam se platform en laat die maan, wat nou met ‘n vol gesig op ons neerkyk, sy spel van emosie en bekoring met ons speel…só heerlik, só blywend ongewoon.

Terug in die huis, om die kombuistafel, in kerslig, kuier ons, gesels, lag en droom. Vertel vir mekaar van ons planne, as ons tog net weer kan reis. Die Boshoffs wil Kanada toe, na Corneli en die kleinkinders. Maar, sê Theodora, sy wil graag barbiepopklere saamvat vir Stefani, vier jaar oud en verknog aan haar barbiepoppe. Spesiale popklere is daar skaars. Theodora het ‘n droom, Christine begin planne maak. Sy hou van mooi en van sag en van klere, elegant en ongewoon. Ons, wat oppad is Namibië toe, die Suide, se koppe is vol prentjies van grafiese landskappe met kleure en duine en waaiende grasvlaktes. Die gesprek haak vas by daardie oer wêreld wat steeds hiberneer… nou met ‘n lang glas rooiwyn in die hand beraam ons planne vir ‘n gesamentlike Namibië besoek. Maar ons gaan vlieg, sommer vroeg volgende jaar, twee vliegtuigies…ons is opgewonde.
Twee dae later verdwyn ons op die lang pad en in ‘n skoon en ongerepte land in.

Klik op fotos vir vol weergawe

‘n Week daarna gaan kuier Theodora by Christine, hulle beplan popklere vir Stefani. Theodora vertel van die vrolike blondekoppie en haar passie vir haar barbiepoppe. Die vooruitsig om te kan gaan kuier is daar, hulle pluk hulle vere reg. Maar, die volgende dag is Theodora siek, nog ‘n dag, covid.

Christine is ‘n meester…kleur, tekstuur en styl is deel van die beplanning. Die barbies pronk in modieuse uitrustings, gebrei. Die klein handjies van dogtertjies trek dit makliker aan as materiaalkleertjies. Nog vriendinne val in, Lizélle, Leonie, Lena. Die droom kry vlerke.

 

Ons gesels per whatsapp: 

Theodora: Liewe Elsa, ek kyk na jou fotos. Die natuur is so mooi. Waar is julle?

Ek: Die fotos is op ons safari deur die Suide geneem. Die land se vergesigte en vistas is weergaloos. Mooiste wense vir julle! 

Sy: Ongelooflike natuur. Volgende jaar trap ons spore daar…

Maar Theodora word sieker, hospitaal. Die breipenne van die vriendinne knikker rondom die fyn wol. Al vinniger…so saam met die sieker word. So asof die mooie popklere hierdie siekwees-gety sal laat draai, daar kom ‘n dringendheid daarin, brei en bid, sommer saam.

Toe kry ons die nuus: oorgeplaas stad toe…  

 

Ons gesels per whatsapp. Dis weer volmaan:

Ek: Ons bid vir die Here se seën en wonderlike genesing hier uit die woestyn onder die helder lig van die volmaan.

Theodora: Dankie! Dat die genesende woestynwinde sy gebede vir my waai….   

Ek: Woestynwens: Vanmiddag stuur die woestyn ‘n wasige miskombers met spatsels goue son vir jou!

Die seebries waai ryke asem oor jou en die ou sandaarde anker jou stewig vas aan hierdie lewe.

Sy het hierdie woestynwens nooit gelees nie. Sy het sieker geword, ventilator, intensief…

Die maan is weer koeelrond. Ons staan en tuur oor Chrissiesmeer na die horison en sien weer die asemrowende botterbal wat oor die horison hang. Toe kom die boodskap: sy is weg, dis verby.

Ons almal se harte is seer, ons is verslae. Dit is so ontydig, dis tog eintlik onmoontlik. Sy was op so ‘n goeie plek, so vol ligte energie.  

Nou is Corneli hier. Ons reël ‘n geleentheid, drink saam tee. Christine nooi die vriendinne wat saam gebrei het, of gestik het. Ons sit, op ‘n koue winteroggend, saam waar Theodora, net meer as twee maande gelede, vertel het van haar droom. Ons verwonder ons aan almal se fyn vakmanskap: wye rompies, bypassende hoedjies en handsakke, modieuse baadjies met serpe… ‘n volledige uitset. Ons het ook gesorg vir ‘n bypassende klein reissak vir die uitset. Die poppe kan inpas, knus op die kleertjies lê. Hier is ons almal, die popklere ook. Hoe leeg kan ‘n plek wees?

Corneli is terug Kanada toe met die klein reissak met haar ma, Theodora Stephanie, se droom, ook ‘n sakkie vol barbiepopskoentjies wat sy in haar ma se kas gekry het. Nou speel klein Stefani daar ver, daar is genoeg uitrustings vir al haar barbiepoppe. Haar ouma se geskenk was ‘n droom, een wat waar geword het en wat voortleef in die spel van ‘n klein dogtertjie. 

Drome is soos die maan. Dit laat hul nie vashou nie, dis vry en sonder perke. Die vliegtuigies sal vlieg en op ver plekke land. Oumas, mammas, dogtertjies, vriendinne, maak spore, droomspore, in die gewone lewe, oor wye onaangeraakte wêrelde, oor ver woestyne en kontinente. Dit leef

Deur ElsaCatherien Winckler

Klik op fotos vir vol weergawe