Hierdie is Deel 1 van die vertelling van ons epiese reis in Desember 2019 en Januarie 2020 van Ermelo en Windhoek na Ethiopië. Die joernaal is saamgestel uit WhatsApp boodskappe, een elke paar dae, wat vertel van indrukke en belewenisse op die pad. Die konvooi het uit vier voertuie bestaan, ses dames, twee mans: Chrisna en Corna, Andriëtte en Annemarie, Riéth en Louis, Woldemar en Elsa.

Ingesluit is ook vertellings van Andriëtte wat gereelde Facebookinskrywings was. Daar volg nog twee dele na Deel 1.

Geniet die reis!

Ons Reis deur Afrika

30 November 2019

Ons is op pad. Nou word die wapad ons woning vir 60 dae… Ons deel graag hoogtepunte met julle, die lesers en hier en daar ‘n foto. Ons sien uit na die groot riviere, die Zambezi, die Kafue, en die berge, Meru en Kili en dan die juweel daar bo… Dankie vir jul meelewing! Ons is opgewonde.

 

The Journey is the destination

Ons vertrek van Pretoria, slaap naby Francistown en kry die ander drie voertuie en vriende by Namwi naby Katima in die Caprivistrook.

 

 

2 Desember 2019

Nou is ons bymekaar: vier voertuie, interessante geselskap. Namwi, op die wal van die Zambezi is ‘n voëlparadys, die charisma van Afrika alomteenwoordig… Die grensposte is geen teleurstelling nie…

Vir 3 km staan gelaaide lorries en wag, die verkeer is chaos en die beamptes drink tee. Ons het horlosies, hulle het tyd.

Ons roete vandag is deur Zambië noordwaarts al langs die kronkelende Zambezi, groot bome en ‘n veranderende landskap, vanaand is ons langs die Kafue. Hier is mens bewus van groot riviere wat in ou spore oor ‘n kontinent vloei, stil en breed, onder ’n wolkehemel so vol belofte!

 

3 Desember 2019

Ons het ‘n rustige oggend langs die Kafue. Dit was gister ‘n lang dag deur Zambië se westelike vloedvlakte, na ‘n sukkelende gedraal om deur die grens te kom. Ons het al langs die Zambezi gery tot by Mongu. Daar by Shoprite ‘n paar goed gekoop, saam met ‘n skare locals wat mieliemeel, wat op ‘n uitverkoping was, gekoop het… ‘n gemaal tussen die rakke.

Daarvandaan wes na die Kafue. Die pad is ‘n uitdaging; dongas en slaggate kwalik sigbaar onder ‘n flikkerende en blitsende aandhemel. Ons ry in die donker onder die skouspel in tot op die wal van die rivier. Dit reën iewers naby, die taai nat turf pak onder ons skoene aan. Mark, die kampopsigter, maak vir ons ‘n groot kampvuur, ‘n klein sekelmaan kyk vir ons deur die wolke, sterre kom uit. Dit word ‘n magiese aand in die diep bos van Afrika…die donker sterredak, die groot water waarin die weerlig en sekelmaan kaats, die afwagting wat so aan jou gees kom roer…

Wat ‘n rivier is die Kafue nie! Groot en stil seil die waterslang in ‘n oeroue spoor oor die kontinent; en die visarend roep.

Die son het jubelend en sierlik oor die oostekim opgekom, die oggend was ‘n juweel.

Nou na Lusaka, en Forest Inn.

 

5 Desember 2019

Ons het uiteindelik wifi. Kamp vanaand in die noorde van Zambië. More in Tanzanië! Hoor Kenia spoel weg. Het vandag gumboots langs die pad gekoop…bid jou aan.

 

7 Desember 2019

Kasanka Park was ‘n verfrissende en verrassende belewenis…kaalstam bome,’n ruie boswêreld met oop vleilande tussenin en blink panne. ‘n Idilliese prentjie is dit met swaar vol wolke wat oral op die horison lê… Jy kan amper nie glo dis waar nie! En dan die reuse vlermuise, meer as 13 miljoen. Ons het gaan kyk. Toe die son sak het hulle saam opgestyg voor ‘n karamel en goue

,Abendhimmel’… mens weer herinner aan die oerritme wat sò als bepaal.

Daarna die droom van Steward Gore Browne, Shiwa Ngandu. Ons ry tussen reuse bome deur, jy kry sommer gou die gevoel hier was lank terug iemand met ‘n eie plan. Mens ruik die bloekom en verstom jou aan die dansende stamme van die inheemse bome met hul blaredak in lagies. Dan staan daar skielik die mooiste huisies, rooi bakstene met kleiteël dakke, ’n ander boustyl, ‘n ander argitek as wat die wêreld gewoond is. Lanings vaalstam ou bloekombome, vol knoetse en knobbels, merk bestaande en vergane paaie.

En skielik is jy voor die mooiste ingang na die herehuis, mak kwaggas wei daar. Ons volg ‘n paadjie, omraam deur ‘n laning bome, gedraaide verweerde bas om die ou stamme.

Wat ‘n droom, wat ‘n storie!

Ons sluit die dag af in die stomende warmwaterbron by Capishaya…Salig!

Bo: Kasanka

Bo: Shiwa Ngandu – Africa House

Bo: Capishaya

Nou is dit Dag sewe. Ons maak roete-aanpassings: soek stiller grensposte, minder lorries. Na kajuitraad, of eerder, bonnetraad, ry ons nou na die Tanganyikameer. Ons slaap hier vanaand langs een van Afrika se groot mere. More Tanzanië in.

Tanganyika meer

 

Andriétte se beskrywing van ons vertrek op 8 Desember by die Tanganyikameer. Fokkelientjie is Chrisna, ons toerleier, se kleurryke safarivoertuig:

Na ‘n nag se lekker rus, is ons weer vroeg in die pad. ‘n Toeris, wat van die noorde af kom, raai ons aan om nie verder op die Great North (pad), Tunduma toe te ry nie. Ons ken die Tundumagrenspos as die nagmerrie-grenspos op ons hele roete, daar spandeer mens maklik 4 ure. Volgens hom is daar ‘n enorme klomp lorries op die pad en word daar ook aan die slaggat-besaaide pad gewerk. Na bonnetberaad; soos Elsa sê, besluit ons ons gaan liewers wes uitwyk en by Mbala oor die grens. Slaap by Mpulungu …….lê aan die suidelike punt van Lake Tanganyika en ons word, soos 6 jaar gelede, deur ‘n vriendelike Charity ontvang. Sy reël ook sommer gou-gou dat ons wasgoedjies gedoen word. Dalk nie so ‘n slim besluit nie, want die hemele gaan oop en dit stortreën. Die halfdroog of liewer halfnat wasgoedjies hang nou knus op ‘n wasgoedlyntjie in my kar. Raai wie se kookbeurt is dit…die uwe s’n (appelkooshoender….), so dié sjef moes dit net warm maak, rys by kook en ‘n slaaitjie maak. Die poeding was Oreokoekies

Ons groet vir Charity en vat die dag met nuwe verwagtinge. Ons beur teen die bulte uit…die karre is swaar gelaai. Fokkelientjie gooi heelwat meer dampe af, as wat van ‘n ouer vrou verwag word. Ek ry tot op haar agterstewe en sien die “ou mens” verloor vog. Diagnose: die brackets wat die pyp vashou, wat die 2 dieseltenks verbind, het gebreek. Die pyp gaan lê op die uitlaatpyp en brand ‘n gat in. Soos net in Afrika is dié probleempie baie vinnig en goedkoop opgelos en was Fokkelientjie weer stert in die lug. Ons is sonder slag of stoot, deur grenspos. Was 8 ure agter stuurwiel met ‘n gemiddelde spoed van so 45 kmh. Gery op paaie wat totaal weggespoel het, tot nuutste teerpaaie met ergere Afrikaverkeer. Slaap vanaand op Utungela koffieplaas. Baie mooi!

 

12 Desember 2019

Tanzanië is ‘n verrassing: mooi geboude huisies met die interessantste sinkdakke, allerhande tierlantyntjies en kleure. Landelikes woon in dorpies, nie meer die wêreld vol nie. Ons ry op goeie teerpaaie, te veel spoedhobbels, 50 km spoedgrense en spietkops in wit uniforms en kameras op verskuilde plekke. Ons het goeie verskonings, verbeeldingryke redes, en oorleef…

Dit bly reën, sak sommer so uit. Soms kom ‘n warm tropiese son uit, as jy weer sien, val die strome water weer…ons is nat, en ons goed. Haha!

Die landskap is magneties, wissel tussen groot grasvlaktes vol langsteelbome met sambreelkruine en groen kremetarte, sommer baie. Lyk amper soos ‘n landery. Granietkoppe, bergpasse en kronkelende riviere kleur die wêreld in.

Ons sien die Ngorgoro met ‘n kruin van wolke, Ol Donyo Lengai, in die verte en ry langs die Manyarameer verby…en toe maak die wolke oop, Meru kyk op ons af onder ‘n amper vol maan. Magies!

Ai, in Arusha is die verkeer ‘n uitdaging! Toektoeks vervoer passasiers en ry die paaie vol, motorfietse of fietse gelaai met suikerriet/houtskool/passasiers/honde/bokke en taxis en mense…

’n chaotiese gewoel. Ons reël ‘n taxi vir noodsaaklikhede soos gas, ‘n skakelaar vir ons watertenk, ens. En natuurlik moet ons na die mooigoed ook kyk…

Masaidoeke,antieke krale , verstommende Afrikakuns en immer iets vir ons kleinkindertjies… Dit was groot pret! En ons is papsopnat.

Onder: Meru en maan

 

Nou is dit Kenia. Hier is dit wragtag nat. Julle het mos gewaarsku?! Die riviere loop walle bruin water, teen die koppe en teen die berge blink die strome en plons oor watervalle. Die lug bly ‘n blou kristal met die wolke onheilspellend saamgepak oor die hele horison.

Ons is bewus van ‘n sterk Indiese en Mosleim teenwoordigheid: argitektuur, universiteite, moskees, kleredrag…

Vanoggend het ons by Kampfontein verbygery, wes van Arusha. Hier het my ouers in die middel 1950s gewoon en gewerk. Die kerkie vir die Afrikaners en ook ‘n skool en koshuis is nou ‘n Duitse Teologiese  Kollege. Die monumentjie ter nagdagtenis aan die boere en hul bydrae, is van die pad sigbaar. Hier lê so véél stories, mens kan nie anders as om nostalgies te raak oor die ou spore van ons mense wat oor Afrika se savannas lê nie…

 

Kenia

 

 

Vanaand kamp ons by Nanyuki, aan die voet van die Keniaberg. Dis die plek waar Joy Adamson en haar man George, die leeutjies grootgemaak het van Born Free’. Elsa het by hulle agtergebly en haar welpies is uiteindelik in Serengeti vrygelaat. Forever Free!

Kentrout, ‘n spesiale kampterrein wag ons in, met diep koloniale spore, varkore en tuinery, wat van ‘n eertydse anderse lewe getuig.

Links en middel: Noorde van Kenia. Regs: Nanyuki

 

Ons bly ry in die valleie in en om die Groot Skeurvallei van Afrika.

Ons moet soms stil staan en diep asem haal…

Moreaand, saam met die vol maan, is ons op die grens met Ethiopië, Moyale. Wat ‘n gedagte!

 

Ons jubel saam oor wondelike reën in SA en ons kry omtrent ‘n dokumentêr van die reën in Namibië. Wat ‘n seën!

15 Desember 2019

Ons het onder die vol maan uit Kenia gery, sy magiese bekoring saam met ons gebring. Ons het in die Nature Conservation Camp in Moyale geslaap, nou is ons in Ethiopië.

Hier is dit nie grappies nie; dit voel wilder, verder, waarlik anders en verseker Afrika… meer die ou, amper donker Afrika. Die wêreld van Cutting for Stone…’n onvergeetlike verhaal.

As ons gedink het die verkeer in Arusha was erg, is hierdie veel erger. Donkiekarre, beeste, skape en bokke, toektoeks, motorfietse en baie mense is almal saam op die pad. Ons bestuurders moet regtig wakker wees.

Ons het gisteraand langs die Awassameer geslaap, die visarende het ons vanoggend in ‘n koor wakker geroep. Hoe is dit dat daardie klief deur die lug, altyd ‘n glimlag en ‘n ver gedagte afdwing?

Ons ry nou deur koringwêreld, modderhuisies, grasdakke en almal toegedraai in lappe. Lang, skraal figure met fyn gesigte…Mens wonder wat word als verbloem deur die baie lae lap?

Nou lê die Baleberge voor ons: hoog en koud en ongerep en verlate…

Ons sien uit!

Oor tien dae is dit Kersfees. Ek en Riéth het gister ‘n salige wegglip-tee in ‘n restaurant gedrink, in Awassa, die bestuurders het brandstof gesoek…lang rye toektoeks en motorfietse wat vir petrol wag. Toe speel Amazing Grace…ook hiér is Sy verstommende genade, die suiderkruis en die reëlmaat van son en maan.

 

In Andriétte se woordeBaie lekker gekamp by Wondo Genet Hot Springs. Vroeg vanoggend opgestaan om te gaan voëls kyk. Sien ‘n klomp lifers/nuwe spesies. Ons ry terug na Shashemeni om Oromo tradisionele klere te gaan koop. In die chaotiese verkeer van lorries, taxi-bussies, toektoekies, donkiewaentjies, skape, bokke, beeste en mense wat na hartelus oor die straat loop, gebeur dit dat Louis en ‘n toektoekie teen mekaar verby skuur en net daar besluit die toektoekie-eienaar dat dit veroorsaak het dat sy voorruit gebars het en met ‘n vriendelike polisieman byderhand, besleg hulle die saak daar in die straat. ń N$1000 later uit Louis se sak, ry ons daar weg. Om net tot verhaal te kom, stop ons by ‘n koffieshoppie en drink tradisionele Ethiopiese koffie met wierook en al wat op kole in ‘n houertjie gebrand word. 60km later trek ons af by Lake Langano……..dankie tog……geen verkeer en bedelende mense…….ek dink bedel is die nasionale sport van Ethiopië. Chrisna en Riéth besluit om vd massas bruin water gebruik te maak en begin summier wasgoed was en detail aandag word gegee aan die fyner goedjies soos toonnaels verf ens. Louis begin sleg voel…….koue koors ens. Gelukkig kan ons toets vir malaria, waarvoor hy dan ook positief toets. Hy begin dadelik met ń kursus Cuartum en hy behoort sommer vinnig beter te voel. Wollie & Elsa kook vanaand …skaapboud In Weber. Heerlik!

 

Dit is die mooiste oggend by Lake Lagano en ons weet ons moet die laaste stilte en vrede geniet voor ons Addis tref of sal ek sê voor Addis ons tref. Ons gaan kamp weer, soos 8 jaar gelede,by Wim’s Holland House. Die stad het in 8 jaar dramaties verander met die mooiste nuwe wolkekrabbers en oorweë. Vroeg die volgende oggend sluit Annemarie, wat ingevlieg het van Windhoek af,by ons aan. Vir 4 weke sal ek ook nou geselskap in die kar hê en ‘n paar oë wat kan help kyk, wanneer alles wat leef en beweeg op jou afstorm, terwyl jy jou pad probeer vind……..wat die radio soms kan bevrou, op die gps kan help kyk, terwyl ek soms soos ‘n slagorkesdirigent moet lyk, soos ek ratte wissel. Ons slaap 2 aande by Wim’s. Ons vat taxis om bietjie voorrade aan te vul, markte te besoek ens. Na 2 dae in Addis val ons weer in die pad, maar eers moet ons brandstof ingooi en die mees misterieuse ding gebeur……nie my of Louis se Cruisers se immobiliseerders wil werk nie, ook nie dié aan ons spaarsleutels nie. Ek het gelukkig ‘n ekstra “sleutel” waarmee ek die immobiliseerder kan bypass. Intussen laat kom die vulstasie “auto”- elektrisiëns wat aan Louis se kar kan werk. Die toeval is vir my net te groot, Dat 2 karre gelyktydig so ‘n probleem het. Dis waarom ek dink dit kan dalk ‘n sein of iets wees. Chrisna se kar het nie meer ‘n imobiliseerder nie. Ons kry terugvoer van kenners in Namibië dat dit kan gebeur wanneer mens deur elektriese velde beweeg…….dis my verstaan van dit en dat ons net uit die gebied uit moet beweeg, wat toe so is, maar intussen het dié “manne” mos nou al aan Louis se kar begin werk en eintlik meer kwaad as goed gedoen, met dié dat sy kar se flikkerligte en ruitveërs nou nie meer werk nie. Ons ry so 50 km uit die stad en slaap in die mooiste Forest Reserve………paradys, met mooiste bome en voëls. Ons eet heerlik aan Corna en Chrisna se stroganoff en njokkie.

Onder: Mark in Addis Abeba

Onder: Oppad na en in die Bale Berge

Onder: Bale Berge

 

21 Desember 2019

Die Baleberge is hoog en oud en plek-plek toegegroei onder die mos. Die Sanettiplato is 4200m bo seevlak met, Afro-alpinynse vleie op die plato. Helder poele yswater, wit plate sewejaartjies, ons sien die skaars Ethiopiese wit wolf en elegante, beeldskone kraanvoëls wag ons in.

Oral is skaars en spesiale voëltjies, dit is ‘n voëlkyker se droom… ‘n yswindjie waai dwarsdeur jou.

Addis Abeba is ‘n ervaring. Mense, baie mense, Moslem, Christen, Ortodoks, tradisioneel en modern… Díe stad is voorwaar ‘n wêreldstad, hoë geboue, nuwe wolkekrabbers, party klaar en blink, baie onklaar met ysterstawe of betonpanele wat op die boonste verdieping in die lug bly staan; paaie vol verkeer en voetgangers en verkopers. Dis ‘n bont bewegende mengelmoes van mense en produkte en voertuie… tog sien jy die hoë vesting van die OAE.

 

Mens wonder waarheen is ons kontinent oppad, so kreunend onder so baie mense?

Dis ‘n ware reis, Riéth het tekens van hoogtesiekte gehad, Louis het positief getoets vir malaria, die medikasie gelukkig so effektief, en toe karprobleme en backyard mechanics

Laasnag het ons in die Menagesha Forest gekamp, teen die hang van ‘n ou vulkaan. Die park is die oudste park in Afrika, bestaan van die 14de eeu af, reuse bome wat hoog in die lug op troon en onder, ‘n feetjiesbos.

Vandag is ons op ‘n slakkepas oppad noorde toe. Ons sien uit om die stad, die massas en die krotbuurte agter te laat…hoe noorder, hoe meer Christene, hopelik minder van die temerige geneul van die Moslems vroeg in die oggend!

Weet jy hoeveel arm, honger mense het díe wêreld? En dis nou vier dae voor Kersfees, ons verlang…

 

Word vervolg

 

Deur ElsaCatherien Winckler