Anthonie span die seile
Dit was Anthonie Botha se droom – seil, die see en die ver, oop horison wat so onweerstaanbaar wink. Sir Robin Knox-Johnston se boeke en inspirerende storie van sy alleenvaart om die aardbol in 1969 het bygedra om Anthonie te inspireer om dit ook te doen. En hy het, skryf ElsaCatherien Winckler.
Die Clipper Round the World Yacht Race vind elke tweede jaar plaas. Amateur bemanning betaal om aan een of meer bene van die resies deel te neem. Elf identiese seiljagte van Clipper Ventures neem deel en professionele skippers en ander gekwalifiseerde bemanningslede lei elke span op wat aan die tien maande-lange wedvaart gaan deelneem. Die wedvaart samel ook geld in vir die Verenigde Nasies se kinderfonds, UNICEF.
Anthonie – mediese dokter op Ermelo vir die afgelope 40 jaar – se avontuur was ‘n gesinservaring. Sy vrou, Lizélle en hulle gesin het die droom van die begin af met geesdrif ondersteun en almal het intens in die logistiek en omvang van die reis belang gestel. Anthonie moes voor die reis drie keer Engeland toe gaan vir voorbereiding en opleiding.
Maar Lizélle was op die wal toe die eerste wegspringskoot op 1 September 2019 by South End, Engeland, gedawer het. Sy het die Unicef, die seiljag waarop Anthonie was, ingewag op die hawe in Punta del Este in Uruguay. Die hele gesin het hulle weer weggewuif met hul vertrek uit die Kaapstadse hawe op die volgende been na Fremantle in Australië.
Anthonie, seeman op 18 in die Vloot in Simonstad, sê 50 jaar later oor die seiljagvaart tussen die kontinente deur, die hele ervaring was een groot hoogtepunt. “Net na ons wegspring vanaf South End het ons die Baai van Biskaje se berugte 40 tot 60 knope wind van agter ervaar. Al 24 van ons moes daardie nag agter op die boot sit sodat ons gewig die boot kon stabiliseer en meer beheerbaar maak. Ons het letterlik aan mekaar vasgeklou, die spoedmeter dopgehou, gejuig en geskree as die boot se spoed met tye 35 knope was. Dit was ‘n onvergeetlike nag!”
Anthonie vertel die boot is voor die wedvaart nuut uitgerus met toue, seile en noodtoerusting wat deurlopend en veral in elke hawe geïnspekteer is. Noodonderhoud aan die meganiese komponente soos die dieselenjin, kragopwekker en watermaker is op die boot tydens die reis gedoen en groter herstelwerk is by hawens gedoen. Die bemanning moes dikwels met ‘n naaimasjien geskeurde seile aanboord regmaak.
“Ons was in twee spanne verdeel wat mekaar bedags elke ses ure afgelos het en snags elke vier uur. Almal het gehelp met navigasie, met die stuur van die boot en met die seile. Ons het ook kosgemaak, toilette geskrop, boot skoongemaak, genavigeer, veiligheidstoerusting nagegaan en noodsaaklike onderhoud gedoen.
Life at 45 degrees was wel ‘n uitdaging. Die boot het meestal teen 45 grade oorgehel as die wind sterk gewaai het. Om onder in die boot te beweeg, kos te maak, aan en uit te trek en op jou bed te klim, het dikwels akrobatiese vernuf geverg.
Vir baie bemanningslede was die onverwagte windstorms (“squals”) op die oop see vreesaanjaend. “Swart wolke pak saam, kom dreigend nader en dit lyk asof ‘n groot, onsigbare hand die water optel en laat val. Dan moet ons die seile baie vinnig stryk en die boot voorberei word vir stormsterk wind, donderweer, weerlig, vlae reën en hael. So ‘n windstorm duur net ‘n kort rukkie, dan moet ons spring om die seile weer te span en resies te jaag.”
As mediese dokter was Anthonie verantwoordelik vir die hantering van noodgevalle en siektes volgens riglyne van Praxes, ‘n Kanadese telemediese diensverskaffer wat 24/7 beskikbaar was vir mediese hulp en raad. “Benewens kleiner beserings soos snye, kneusings en gebreekte ribbes was ons enigste ernstige ongeval ‘n bemanningslid wat dringend ‘n blindedermoperasie moes kry. Ons was al twee weke van Kaapstad af op pad Australië toe en moes omdraai Durban toe. Dit het ons tien dae laat gemaak in Fremantle, Australië.”
Op die drie bene van die wedvaart waaraan hy deelgeneem het, het Anthonie ‘n hegte vriendskap gesmee met drie ander bemanningslede, almal bo 60 – Mike en Lindsay uit Engeland en Mario uit Colombië. “Ons het later vir John, ook van Engeland en net 58 jaar oud, as erelid van die ‘bende’ toegelaat.”
Lizélle sê vir hulle as gesin en famiie- en vriendekring, was dit ‘n weergalose ervaring. Almal was meegevoer en het die vordering van veral die Unicef, met opwinding gevolg. Selfs die kleindogters kon elke dag sien waar trek Oupa nou.
Die Covid-19 pandemie het die Clipper Seiljagresies van 2019/20 in Subic Bay in die Filippyne ingehaal. Gelukkig was Anthonie se drie bene afgehandel en die herinneringe en ervaring vir altyd syne.
Deur ElsaCatherien Winckler
Hierdie artikel het onlangs in die Plus 50 verskyn. Soos dit is met tydskrifte, is die plek beperk. Omdat di took in die grendeltyd op die rake was, was dit moeilik om in die hande te kry. Hier is dus nog fotos om hierdie uitsonderlike ervaring in beeld vir ons toeganklik te maak.
Geniet en droom en doen ook sommer…
Dankie Anthonie en Lizélle!