Vier die lewe, hierdie Oktober met ‘n POSSTUK!
Dit kan ‘n poskaart wees of ‘n brief of ‘n telegram.
Kies iemand wat in jou gedagtes is. Neem ‘n oop vel papier en skryf dit vol woorde wat uit jou hart kom. Vou dit op, sit dit in ‘n koevert, skryf die adres voorop, plak ‘n seël voorop en gaan pos jou brief.
Dan wag jy dae, dalk ‘n week of twee, dalk ‘n maand.
Op ‘n dag kom die posman met ‘n brief, jou antwoord. Hardloop na die posbus voor naby die straat, haal jou brief uit en gaan sit lekker rustig. Kyk na jou brief…die naam, die adres, gewoonlik in ‘n geliefde se handskrif geskryf. Draai die koevert om, skeur die koevert versigtig oop en haal jou brief uit. Haal diep asem en begin lees…
Koop op jou volgende reis ‘n poskaart. Een wat ‘n mooi foto voor op het van die plek waar julle is. Skryf vir jou geliefdes ‘n kort brief agter op die poskaart. Dit is wonderlik om so ‘n gedagte te ontvang vanuit die verre wêreld. Weer ‘n naam en ‘n adres, ‘n seël en in die posbus.
Hoe lekker was dit nie om ‘n telegram van gelukwensing te ontvang nie, of hoor van ‘n nuwe babatjie? Maar ook baie swaar as die telegram ‘n hartseer boodskap dra.



Wat ‘n rykdom was seëls nie? Reekse met historiese geboue, of inheemse blomme of bome of diere. Of ‘n reeks wat spesiale hoogtepunte in die geskiedenis herdenk het.
Die seëlversamelaars. Wat het van hulle geword?
Die lieflike versamelings met waardevolle seëls, reekse, Eerstedagkoeverte. Albums vol keurig versorgde bladsye vol waardevolle seëls, gerangskik volgens datum, tema en land van herkoms.
Vandag stuur ons ‘n epos, ‘n boodskap. Dit verdwyn, dit haal geen laai of mooi boksie waar dit knus gaan lê vir later uithaal en herlees nie.
Ons wêreld het ‘n kits-wêreld geword, vining, maklik en oppervlakkig.
Skryf tog ‘n verjaarsdagkaartjie, dit haal dalk net ‘n laai met ander waardevolle geskrifte.
‘n Kleinkind of kind ontdek dit dalk net en druk dit styf teen haar hart vas en onthou jou handskrif, jou papier,iets van jou gees…



