Pret en plesier met plekname
Deur Matilda Burden
Afrikaanse plekname laat die taal sing… dit is prosa op sy eie en poësie op sy beste. Sê die volgende name hardop dat jy die digterlikheid kan hoor:
Assegaaibos Amandelboom Allemorgensfontein
Broederstroom Blyvooruitsig Beeldhouersfontein
Dronkvlei Draghoender Drienetsfontein
Gougedink, Grootvadersbos, Gestoptefontein
Krapmekaar Koffiemeul Koesterfontein
Liefland Langtoon Lepelfontein
Maanhaarrand Matroosberg Mooimeisiesfontein
Ontgin Oppaslaagte Oorvloedfontein
Paleisheuwel Poffertjiesgat Puntjiesfontein
Riemland Rondomfraai Roepersfontein
Skoonsustersbos Seweweekspoort Sieraadsfontein
Treintjiesplaas Tandjiesberg Trompetterfontein
Witklip Warmviool Wonderfontein
Afrikaans is ‘n taal wat soveel moontlikhede bied om name mooi te laat klink. Een van hierdie moontlikhede is die feit dat twee of meer naamwoorde wat na ‘n enkele voorwerp verwys, as een woord vas geskryf word. Wanneer dit by plekname kom, heg die spreker sommer ook byvoeglike naamwoorde (Mooikloof), werkwoorde (Treurfontein), telwoorde (Driekuil) en bywoorde (Stadigfontein) aan ‘n selfstandige naamwoord, teenstrydig met alle taalreëls, want dit is mos een plek! Dis interessant dat “Blue Fountain” om een of ander rede net nie so mooi klink óf lyk soos “Bloufontein” nie… en kan ‘n mens “River without end” enigsins vergelyk met “Riviersonderend”?
Die naamgewers van veral plaasname gedurende die 18de, 19de en vroeg 20ste eeu was die gewone volksmens. Hulle het hulle laat inspireer deur die natuur, veral die aanwesigheid van water, maar ook deur egos (vandaar die honderde name met voorname en vanne daarin geïnkorporeer). Die meeste van die plaasname verwys na een of meer natuurelement soos ‘n koppie, berg, krans, heuwel, dal, vallei, rivier of fontein, of na diername soos leeu, olifant, koedoe, buffel, renoster, jakkals en ook verskeie voëlsoorte (Rooikoppie, Olyfberg, Seinheuwel, Verlorenvallei of Koedoefontein). Benewens die persoonsname waarna reeds verwys is, is daar ‘n groot aantal wat na emosies of gemoedstoestande verwys (Geluksfontein, Verdrietfontein, Dankbaar, Weltevrede, Onrusfontein, Blyfontein, Nooitgedacht, Vroliksfontein,).
Maar dan het die humorsin gelukkig ook dikwels ‘n rol gespeel. Kyk maar na Flip-se-gat, Moertjiesklip, Tandskoonmaak, Krapmekaar en Lelikbakkies.
Met al die voorbeelde wat in hierdie artikel gegee word, is plekname wat persoonsname bevat, vermy, want dit gaan hier oor die prag van die taal. Daarom is die fokus op gewone woorde wat saamgevoeg is as samestellings.
Hoewel die tweede stam of uitgang “fontein” verreweg die volopste is van tweede stamme in Afrikaanse plekname, is daar ook talle ander wat eenvoudig pragtige samestellings oplewer. En weer eens klink dit so ‘n lied as ‘n mens hulle lees:
Vrouwenspan, Hakskeenpan, Verneukpan, Kalkpan, Witpan, Gruispan
Kareepoort, Moordenaarspoort, Pampoenpoort, Noupoort, Vriespoort, Wydpoort
Boplaas, Badplaas, Bergplaas, Hoeksplaas, Kroonplaas, Komsplaas, Middelplaas, Rivierplaas, Walplaas
Allemanskraal, Biesieskraal, Danskraal, Doodenkraal, Hoogekraal, Hooikraal, Katjieskraal, Kweekkraal, Lammerkraal, Oudekraal, Rondekraal, Ruiterboskraal, Sandkraal
Bloemendal, Citrusdal, Genadendal, Vredendal
Platbakkies, Lelikbakkies, Frummelbakkies
Brandvlei, Ertjiesvlei, Generaalvlei, Groenvlei, Kleinriviersvlei, Seekoeivlei, Stormvlei, Swartvlei, Tamboekievlei, Verlorenvlei, Voëlvlei, Witvlei, Wamakersvlei
Bamboesberg, Bantamberg, Dwarsberg, Kompasberg, Kasteelberg, Losberg, Prentjiesberg, Suurberg, Vuurdoodberg, Waterberg, Wolkberg
Buffelskloof, Duiwelskloof, Karkloof, Kranskloof, Onderkloof, Oorlogskloof, Plattekloof, Stofkloof, Teewaterskloof, Vagevuurskloof, Wilgenhoutskloof,
Swaershoek, Winterhoek, Olifantshoek, Vishoek, Windhoek, Houhoek, Witsieshoek, Noordhoek, Waaihoek, Oshoek, Kwaggashoek, Gryshoek, Doornhoek
Klawerkuil, Moordkuil, Langekuil, Driekuil, Viskuil, Rietkuil, Koffiekuil, Kraankuil, Leeukuil, Kiewietskuil, Vetkuil, Ryskuil, Blouboskuil
Buffelsnek, Kloofnek, Langnek, Kwaggasnek, Soutpansnek, Slagtersnek
Een aspek van Afrikaanse plekname wat regtig pret oplewer, is die vervorming van name in die volksmond wat volksetimologie genoem word. Mense spreek dit uit soos hulle dit hoor, óf vervorm dit omdat dit makliker sê, óf dit word uit Engels of ‘n Afrika-taal na Afrikaans vervorm.
Baie van ons bergpasse is in die 19de eeu met bandiet-arbeid gebou. Gevangenes moes op die paaie gaan werk, en as hulle tronkstraf verstryk het terwyl hulle daar besig was, kon hulle daarvandaan ontslaan word. Op een van die draaie in die Prince Alfredspas tussen Knysna en die Langkloof, staan ‘n naambord met die pragtige naam Tiekieliefdraai. Wanneer die gevangenes ontslaan is, het hulle ‘n “ticket of leave” gekry en dit het in die volksmond vervorm na “tiekielief”.
Die wildsbokkie ourebia ourebi is algemeen bekend as die “oribi”, wat in Afrikaans vervorm het na “oorbietjie” – vandaar die naam Oorbietjiesfontein
Daar is baie voorbeelde van vanne wat in Afrikaans vervorm het om dit makliker uit te spreek. So kry ons Laubscher of Loubser wat vervorm het na Lospers om die plaasnaam Lospersplaas te skep.
In enkele gevalle is die korrekte naam van ‘n plaas nog die amptelike vorm, maar mense van die omgewing het ‘n makliker uitspraak gevind. So het Kuikendieffontein Kuikentjiefontein geword, Wolvenhuisfontein het Wolwysfontein geword.
Kom ons sluit af met ‘n klompie name waaroor die leser kan bly wonder en raai… wat is die storie agter dié plekname?
Vryboom en Vryfontein, Verdrietfontein, Moedig, Dalkies, Opblaas, Oorkruis, Benoudsfontein, Beginsel, Winkelhaak, Diewedraai, Plesierhoogte…
