Die boodskap aan Maria
N.P. van Wyk Louw
Sy’t deur die skaduwee gegaan
in die soet lentenag,
skraal-wit en skemerig en nog sku
van naamlose verwag;
soos ‘n groot nagblom oop
waaroor die motte bewend hang,
so was sy onder die sterre, in haar
onwetende verlang.
Maar toe Hy kom, het sy geweet.
Geen stem was daar,
net enkele sterre donkerder
en blydskap soos ‘n tent óm haar;
en alle verlange buitekant
het trug- en tuisgekeer
tot innigheid, en rus gekry
soos waters in ‘n donker meer,
en huiswaarts oor die paaie het sy
gepeins dat vreugde só kon wees:
vervuld en woordeloos, en stil
geglimlag oor haar verre vrees.
Stille Nag
Anton Goosen
vure brand oor die land, meneer,
en dit skroei die hart wat dans, meneer,
niemand lag en niemand sing, meneer.
more is so ‘n lang tyd ver, meneer.
die land wat brand, is my land, meneer.
die land wat brand, is jou land, meneer.
als moet voor, uit niks begin, meneer.
ons bloei almal ewe seer, meneer.
asseblief, asseblief, meneer,
laat die vredesvure vlam, meneer,
vrye vrede vra ‘n kruis, meneer,
‘n kruis die berg uit op die rug, meneer.
Oukersnag
Kobus Lombard
54 jaar al
vier ek die dag met kleur
kleintyd was dit rooi en wit
soos Kersvader se jas en baard
lank daarna was dit bruin
soos kalkoene op gedekte tafels
gisternag
toe die ster bo my tent bly staan
het ek die boodskap eers verstaan:
om sy ware kleur te sien
sal ek laag oor die krip moet buig