Kers gedigte
Kersfees
Saam met die planne
om Kersetes op te dis
tussen inkopies en kitsklanke
is daar ‘n diep heimwee
na gister wat soos getye
uitgespoel het. Net ‘n paar
verweerde skulpe bly agter.
Ek het heimwee na die eerste
Kersnag toe die maan
soos ‘n boot vol engele
gewieg het en die sterre
lig op die veld gedrup het.
Engelkore het eeue geoefen
vir die vaart en gejuig:
“Eer aan God, aan God die eer.”
Nie in ‘n rykmansbuurt nie,
ook nie in ‘n tweestêrhotel
of rumoerige losieshuis nie,
maar in ‘n krip het die geboorte-
pyne begin, eers stadig
en toe onkeerbaar.
Met ‘n kreet van verligting
vir die verlossing
het hy uitgebeur.
Bloed is van sy lyfie
afgespoel, in doeke
is God se eersteling
toegevou. Die seuntjie
het my stille nag
heikige nag gemaak.
Cas Vos ~ VOOR-BODE
Geloofsbelydenis
Ek stamel eeu-ou woorde oor my God:
Vleeswording, Lyding, Kruis en Gees.
Ek glo dit alles, Heer, maar weet hoe bot
ek is in my probeer om mèns van God te wees.
I L de Villiers ~ Leitourgos
Kersliedjie
– DJ Opperman
Drie outas het in die haai Karoo
die ster gesien en die engel geglo,
hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met ‘n jakkalspad
al agter die ding wat skuiwend skyn
op ‘n plakkie, ‘n klip, ‘n syferfontein,
oor die sink en die sak van Distrik Ses
waar ‘n kersie brand in ‘n stukkende fles,
en daar tussen esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.
Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gelê voor God se klong
en die Here gedank in gesang en gebed
vir ‘n kindjie wat ook dié volk sou red …
Oor die hele affêre het uit ‘n hoek
‘n broeis bantam agterdogtig gekloek.
Kerstyd
– Kobus Lombaard
Elke jaar
die vyf en twintigste
van die twaalfde maand
word Immanuel
In doeke van papier
aan die voet
van ‘n supermarkboompie
toegedraai
en terwyl kalkoene
groudbruin
om hul vulsels sis
staar net nog skaap-
wagters
en die wysste van
manne
verwonderd
na ‘n ster
bo die krip
‘n Wens vir Kerstyd
– deur Sussa
Ek wil na die stilte luister en lank- stadig na jou kyk
Ek wil sag word in jou naby-wees en jou oë se blou vir my vat.
Ek wil hoor hoe die vrede aan ons voordeur klop
En vars blomme op die tafel in die verbygaan loop-ruik.
Ek wil diep dankbaar buig bid en ʼn blywees-lag
in my praat en loop vasbind…… van nou af tot altyd ver vorentoe!
En ek wil wéét dat God ook hier is: Binne, by en met ons,
Warm-sag in Sy liefde, vriendelik soos kerslig…..
Dis my wens vir ons vir Kersfeestyd van nou,
Voordat ons hierdie jaar ook toevou en wegbêre.
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
Die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik so laat geword?
Olga Kirch
Nou Spreek en weer bekendes aan
Uit: Negentien gedigte 1972