Afrikaanse voëlname

Sing soos jy gebek is

Deur Pieter Scholtz

Voëls is altyd by ons: in die wildtuin, in die berge, by die see, buite ons voordeur, bo-oor die inkopiesentrum en selfs buite die hospitaal se vensters. Wanneer ‘n mens jou ore en oë oopmaak vir hulle, kom jy agter dat daar selde ’n plek buite is, waar jy hulle nie hoor of sien nie. In die droogste woestyne is daar voëls. Oor die diepste oseane is daar voëls. Selfs in stede sonder gras of bome sing voëls.

Behalwe dat voëls altyd om ons is, het hulle die mens van die begin af geïnteresseer, verwonderd gelaat – soos Noag verwonderd na die duif gekyk het. Hulle is die enigste lewende wesens wat van nature vere het en oor ver afstande kan vlieg. Wanneer jy eers in voëls begin belangstel, dan maak ’n deel van God se skepping oop wat jou nooit ophou fassineer nie. Al is navorsing oor voëls eeue oud, leer ons daagliks hoe min ons eintlik weet. Ons is steeds besig om nuwe spesies te ontdek en gedrag waar te neem wat onverklaarbaar is.

Toe Afrikaans sy voete begin vind het in ’n land met ’n benydenswaardige hoeveelheid natuurskatte (wat Nederland nié gehad het nie) moes daar ook Afrikaanse name vir voëls uitgedink word. Die maklikste sou waarskynlik gewees het om die Engelse name wat daar klaar was, of die wetenskaplike name te gebruik om die Afrikaanse name te ontwikkel. Maar die Afrikaner het hom eerder laat lei deur wat hy self gesien en gehoor het.

By sommige voëls verwys beide die Engelse en Afrikaanse name na een of ander kenmerk in die voël se veredrag wat ‘n mens kan sien, maar nie altyd na dieselfde ding nie:

  • Die Engelse Scaly Feathered Weaver is in Afrikaans ’n baardmannetjie. Die eerste ding wat jy sien as jy na die skattige klein voëltjie kyk, is inderdaad die donker veertjies op sy ken wat dit laat lyk of hy ’n baard het.
  • Die Engelse Thick-knees word in Afrikaans dikkoppe.  Alle voëls het dik knieë, so die Engels is in hierdie geval glad nie beskrywend nie, maar wanneer jy na ’n dikkop kyk, is die massiewe kop baie opmerklik.
  • Die Engelse Red-knobbed Coot word in Afrikaans ’n bleshoender.  Voëlkykers sal jou vertel dat die wit skild op die voorkop van dié voël die prominentste ding is wat jy op ’n afstand kan sien – dus ’n baie gepaste naam.

Dwerglangtoon
Foto: Michael Mason

Ander oulike (beskrywende) Afrikaanse voëlname wat gebaseer is op hoe die voëls lyk, is:

  • ‘n Slanghalsvoël se vreemde, gebuigde nek lyk werklikwaar soos ’n slang se kop en nek wanneer die voël in die water swem.
  • By die groot- en dwerglangtone is die tone belaglik lank. Dis so lank dat die voël maklik kan rondloop op lelies in die water. Dit lyk soms of hulle op die water self loop wat hulle die bynaam Jesusvoëls besorg het.
  • Die sneeubal het sy naam gekry van die mannetjie se bizarre gedrag om die wit vere op sy rug op te pof wat hom soos ’n wafferse sneeubal laat lyk. Hulle doen dit in die broeiseisoen as deel van hulle vertoonvlugte van boom tot boom om wyfies te beïndruk.

Sneeubal
Foto: Michael Mason

Baie Afrikaanse voëlname het onstaan gebaseer op wat naamgewers gehóór het – klanknabootsende name, dus.

  • Die hoep-hoep is een van ons wydverspreidste voëls en kom in feitlik alle habitatte regoor Suid-Afrika voor. Hulle is ’n algemene tuinvoël en hulle hoep-hoep-hoep-roepe weerklink reg deur die jaar.
  • Die katlagterfamilie se vyf spesies het almal sulke kekkelrige geluide wat so bietjie klink soos onderaardse laggeluide.
  • Een van die vinnigste maniere om te weet dat daar ’n bosveldtjeriktik in die omgewing is, is om te luister na een van hulle roepe wat onomatopeïes klink soos “tjeriktik”.
  • Die familie met van die vreemdste Afrikaanse name wat na die voëls se geluide vernoem is, is die koekoeke. Die koekoeke is ’n familie met luide roepe wat in die somer oor groot dele van die land weerklink. Daar is die bekende piet-my-vrou, die wydverspreide diederikie, die ek-wonder-hoe-lank-die-naam-nog-gaan-hou meitjie, en die pragtige mooimeisie wat in woude en klimaksboomveld gekry word. Wanneer jy mooi na hulle geluide luister, kom jy agter dat ons naamgewermense eintlik baie ander name vir hulle sou kon uitdink gebaseer op wat jy hoor, maar dit sal moeilik wees om nie na die groot grys koekoek met die rooierige bors te verwys as ’n piet-my-vrou nie.

Piet-my-vrou
Foto: Michael Mason

Mooimeisie
Foto: Michael Mason

Ander voëlname se oorsprong vind ons in die voëls se gedrag.

  • Waterploeërs is fassinerende voëls wat kos soek deur net bo die oppervlak van die water te vlieg en hulle ondersnawel in die water te druk en as’t ware die water te ploeg met hulle snawels terwyl hulle vlieg. Wanneer so ‘n oopbek ’n vissie voel, slaan die bo-snawel toe en lig die waterploeër sy vangs bo die water uit om te verorber.
  • Die laksmanfamilie se spesies het almal hulle familienaam gekry vanweë hulle gewoonte om die goggatjies, voëls, sprinkane en muise wat hulle vang aan dorings/lyndrade te hang en dus die doodsvonnis te voltrek, presies soos die laksmanne van ouds.
  • Die twee nuwejaarsvoëls wat deel is van die koekoekfamilie het hulle name – baie vreemd – gekry toe die naamgewers hulle eers begin opmerk het in die aanloop tot die nuwe jaar in laat Desember!
  • Bromvoëls is inderdaad bromvoëls, want soos hulle loop en jag, maak hulle geluide wat soos ’n gebrom klink. Selfs hulle roepe vroegoggend klink ’n bietjie brommerig.

Amerikaanse waterploeër
Foto: Michael Mason

Dan is daar die name wat uit legendes kom, byvoorbeeld die troupante. Die troupantfamilie se vyf spesies wat in Suid Afrika voorkom, het almal hulle familienaam gekry van die gewone troupant af. Die legende het dit dat in menige van die Afrika-kulture, ook in die Afrikanerkultuur, het die vere van die gewone troupant ’n kernrol gespeel in die aanloop tot, en by ‘n bruilof. In die Zulukultuur, byvoorbeeld, moes ’n paartjie met die vere van ’n gewone troupant aan mekaar gebind word. Sou dié vere loskom, moes hulle eerder nie trou nie. Daar word vertel dat Afrikanervroue hulle trourokke tydens die Groot Trek met gewone troupantvere versier het. Die pragtige voël is dus nóú in die kulturele erfenis van Afrika verweef.

Gewone troupant
Foto: Michael Mason

In die poësie figureer voëls ook baie sterk:

T.T. Cloete se luisterswaeltjies (oor o.a. hoe mense telefone gebruik om te skinder) en D.J. Opperman se Edms. Bpk: in hierdie gedig speel janfiskaal ‘n leidende rol, maar is steeds ondergeskik aan die “bakkapel”/die dood. En hoe kan ‘n mens dan ooit anders as om te verwys na die diepsinnige vraag van C.Louis Leipoldt aan die Sekretarisvoël (en ná 100 jaar van Afrikaans as landstaal geld die vraag des te meer: wat maak óns hier? Wat is óns doel op hierdie plek, hier en nou?):

Sekretarisvoël met jou lange bene
   Met jou penne agter die ore styf,
      Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
   Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
      Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

Daar is vele meer Afrikaanse voëlname wat wissel van die interessante tot die belaglike; doen jou asseblief ’n guns en blaai ‘n bietjie deur ’n Afrikaanse voëlgids. Daar sal jy vreugde vind in die rykheid en diepte van ons mooi taal.

Spring na

100 Jaar van Afrikaans

vir Afrikaanse gedigte, landskappe, boomname en veldblomname
100 jaar van afrikaans
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google