Nederlandsche Adam word Afrikaans

Deur Frans Boshoff

In 1652 het Adam en Eva saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom, vertel Frans Boshoff. Adam en Eva het daardie seevaart meegemaak rustig binne-in die Bybel. Adam en Eva was toe nog Nederlandschsprekend. Hulle het heel in die begin ‘n ereplek gekry in hierdie Bybel.

Hierdie Bybel was bekend as

Bijbel dat is De Gansche Heilige Schrift, vervattende al de Kanonieke Boeken des Ouden en Nieuwen Testaments, door last van de hoog heeren Staten Generaal der vereenigde Nederlanden 

en

 volgens het besluit van de synode nationaal, gehouden te Dordtrecht in de jaren MDCXVIII en MDCXIX uit de oorspronklijke talen in onze Nederlandsche getrouwelijk overgezet.

Nadat Adam mens geword het, het hy al die voëls en diere name gegee. (Genesis 2:19). Maar self was hy eensaam en alleen. Terwyl Adam slaap neem die Here God toe ‘n ribbebeen uit die mens en bou dit tot ‘n vrou en bring haar na die mens.

Hier hoor ons vir die eerste keer hoe Adam praat… in Nederlandsch: “Toen zeide Adam: ‘Deze is ditmaal been van mijne beenen, en vleesch van mijn vleesch! Men zal haar manninne heeten, omdat zij uit den man genomen is.”

State Generaal

1933

2020

So het Adam en sy vrou Nederlandsch bly praat. Hulle het wel agtergekom dat die spreektaal geleidelik verander het. Verskillende invloede van buite het op die Bybellesers se taalgebruik ingewerk. Adam en sy vrou het raakgesien dat met die huisgodsdiens en eredienste steeds deftig uit die Staten Generaal Bijbel voorgelees is, maar in die gebede en gesprekke het geleidelik ander woorde ingesluip. Die Bijbelstories soos vertel voordat die kinders gaan slaap het was ook nie meer soos dit in die Staten Generaal Bijbel opgeteken is nie.

In die oorspronklijke taal, toe Adam Hebreeus gepraat het, kon hy gebruik maak van besondere woordspeling in sy uitroep, want toe hy die vrou gesien het het hy in Hebreeus haar isha genoem omdat sy volgens hom uit die ish geneem is. Adam wou later dieselfde woordspeling ook in die Nederlandsch laat opklink. Daarom kies hy toe in die Nederlandsch: “Men zal haar manninne heeten, omdat zij uit den man genomen is.”

Adam was baie ingenome met sy maninne en na aanleiding van al die voëls en diere waarvoor hy reeds name gegee het noem haar toe Eva. (Gen. 3: 20).

State Generaal

Adam en Eva kon agterkom dat die Nederlandsche spreektaal al vinniger verander. Die suiwerheid en korrektheid staan nie so hoog op nie. Sommiges verstaan dit eintlik ook nie meer nie. Dit begin vir Adam en Eva voel asof dit nog net in die eredienste is waar Nederlandsch nog gebruik word en ook nie meer so suiwer nie. Hulle begin stemme hoor wat sê dat die kerktaal behoort te verander. Hulle hoor dat al meer mense en gelowiges van die nuwe taal begin praat as Afrikaans.

In 1925 word Afrikaans amptelik erken as ‘n nuwe taal en een van die tale in Suid-Afrika. Adam en Eva wou graag ook hierdie nuwe taal aanleer. In 1933 praat Adam sy eerste woorde vir die eerste keer in Afrikaans: Toe sê die mens: “Dit is nou eindelik been van my bene en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word” Die spelling het heelwat verander. Alhoewel hy manninne verkort het na mannin het Adam steeds gedink die woord sal inslag vind in die nuwe taal, Afrikaans.

In 1953 besluit Adam dat hy sy eerste poging, sy bene wil verander na die meer omskrywende woord sy gebeente. Gebeente is nader aan die eintlike betekenis van sy wese, sy menswees, as die gewone bene.

In 1983 besef Adam en Eva dat Afrikaans reeds heelwat ontwikkel het en “Toe sê die mens: Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy vrou genoem word want sy is uit die man geneem.”

Adam het besef sy eerste poging mannin het nie inslag gevind nie, nie as die vroulik van man nie en ook nie as ‘n nuwe woord in Afrikaans nie. Afrikaans gebruik vrou as die vroulik van man.

Adam en Eva was bewus van baie veranderinge, oral, maar veral op die gebied van vertalings en die taalkunde. Hulle is ook bewus van baie verskillende pogings om die Kanonieke Boeken des Ouden en Nieuwen Testaments…uit de oorspronklijke talen in onze Afrikaans over te zet.

Adam se jongste uitspraak vind ons in 2020: “Toe sê die mens: ‘Hierdie een is dié keer been uit my eie gebeente, vlees van my vlees. Hierdie een sal “vrou” genoem word want sy is uit die man geneem.’”

So het Adam en Eva se taalgebruik oor die jare, maar veral oor die afgelope 100 jaar verander en ontwikkel. Die woordeskat het vinnig uitgebrei. Dit is nou moontlik om die suiwerste, akkuraatste beskrywings en die diepste menslike gewaarwordinge in Afrikaans te sê. Dit is nou moontlik om die Here God te aanbid en te loof in Afrikaans!

Mag die Here dit so beskik dat daar in die volgende honderde jare steeds gebid en gesing sal word in Afrikaans!

Spring na

100 Jaar van Afrikaans

vir meer Afrikaanse skatte

100 jaar van afrikaans
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google