Illusie

Tinka woon in die woestyn. Sy woon alleen met haar kat. Nie dat sy veel alleen is nie. Sy kuier , sy werk, sy drink wyn, sy sorg, sy lees en luister en droom.
Tinka het oor die wereld heen gewoon. Orals waar sy was, het sy dinge versamel. Dit het sy nou hier, in die woestyn, om haar ingebou, uitgehang, geïnstalleer. Eintlik was sy ‘n verpleegsuster, in Johannesburg en Pretoria, Bloemfontein, ook in Abu Dhabi, in Haarlem. Sy het gewoon in Texas, Singapoer, Holland. ‘n wereldburger is sy. Nou woon sy hier waar die warm woestynwinde mens soms heel weg waai, ander kere die suidwester wat jou vasgryp in sy ysige greep.
Soos altyd, dink sy prentjies uit, droom. Die prentjies maak sy op die vloere, teen die plafon van haar huis en teen die mure. Sy tooi haar huis reg rondom met stories…saamgestel uit wat sy ookal hier rondom haar kan vind. Sy verf en plak, sy werk met spoelhout, met klippe van allerhande kleure en vorms. Sy maak steeds bymekaar. Hoor sy van ‘n veiling van ongewone boumateriaal, is sy daar. Dan kom bou sy ‘n vreemde toring, die skroef van ‘n boot kry ‘n plek en ‘n ou seilboot staan reg vir kuier. Al die versamelstukke van die vér wereld, word ook uitgestal, opgehang en gebruik.

Sy woon nou al jare lank hier. Sy het deur al die kontinente gereis, sy het tennis gekyk op Wimbledon, Roland Garros, Amerika en Autralië. Sy het op eksotiese eilande vakansie gehou, idilliese plekke gesien en besoek…op fietse, treine, busse, huurkarre, taxis en bootjies op die see en te voet. Vêr plekke en vreemde avonture het haar altyd bekoor.
Hierdie woestyn huis is ‘n prentjie. Aan die balke van die motorhuise hang ‘n klomp ou ligte met antieke lampglase, koperemmers, vreemde gereedskap. Moenie dink dis ‘n deurmekaarspul nie. Nee! Daar is ‘n orde. Stadigaan kry die een verhaal na die ander ‘n staanplek in hierdie ruimte. Wat ongesê gebly het, is dat die plek waar Tinka woon in die woestyn, is ook langs die see. Buite in die fel son van die woestyn spoel walvisbene oop. Dit bring sy na haar huis en bou ‘n heining, ‘n ingang, bêre die res bymekaar vir latere gebruik.
Tinka word ouer, is al amper oud. Wat sal van haar huis word as sy nie meer daar is nie? Sy moet ‘n testamenst skryf. Wat sal sy daarin skryf? Sy het nie ‘n kind nie, sy is lief vir haar broer se kinders. Hulle wil graag haar plek hê. Maar hulle sit nie om dieselfde vuur nie, twee weerbarstige kêrels. Gaan hulle haar plek oppas?
Wie? Wat ?
Dis nie dat sy nie mense in haar lewe het nie, sy het vriende regoor die wereld. Oral waar sy gewoon het, het sy mense leer ken en hulle vir haar. Dan het hulle haar nooit weer vergeet nie. Hulle kom kuier: Edith uit Amerika, Alexandra uit Australie, Amanda uit Windhoek. Ook skoolvriendinne uit die Vrystaat. Die paar mense wat permanent saam met haar op die dorpie bly, kuier graag by haar, drink wyn en dan maak sy lekker kosse. So, sy het baie mense in haar lewe, almal geliefdes. En dan het sy haar werkers. Gorrie en Felix. Hulle werk van Maandag tot Vrydag om haar te help om aan haar planne gestalte te gee. Hulle bou mure met wynbottels, messel interessante naamborde in die mure in, maak patrone met klippies en veelkleurige mosaikpatrone volgens Tinka se plan. Hulle skuur en saag die mooi hout waarmee die huis gebou is, maak rakkies en rame en dakkies en vloere vol sprokies.
Hulle werk al baie jare vir haar. Sy gee om vir hulle en hulle is lojaal aan haar. Hulle ken haar ook goed. As hulle droogmaak, word Tinka moedeloos en vreet hulle uit. Dan is sy weer jammer, maak op met lekker borde kos. Hulle het ‘n verstandhouding, Geduld met mekaar.
Moet hulle dalk eendag die huis erf?

Eintlik wil Tinka eendag net verdwyn, een word met die ruimte om haar. Sy wil deel word van die skyn van die vol maan in die vroegaand oor die woestyn, of hang in die sekeltjie wat so laag oor die seehorison hang voor die dag begin. Sy en die maan het ‘n verhouding. As die maan so vir weke wegkruip agter die digte mis, dan raak sy onrustig. Sy stap snags uit en soek, verwonder haar aan die oneindige sterrehemel. Hier, op ‘n donker aand, wil sy die sterre pluk, dit voel eintlik vir haar of sy strome sterre kan insluk. So is die nagte waar Tinka woon. Só maak Tinka.
Dikwels klim sy in haar ou Landi en ry in die woestyn in. Dan soek sy steentjies, klippies, besondere stukkies hout. En soms raak sy sommer net verlore en sit en droom en laat toe dat die wydtes en vergesigte in haar siel kom lê. Ander kere ry sy dieper en dieper in tot sy halfedelgesteentes kry: toermalyn…rooies, groenes, bloues. Rooskwarts in die kleur van die sand en ligroos. Ook pers amatis, liggroen akwamaryn en nog baie ander. In haar kop sien sy al die prentjies wat sy kan maak. Kom sy dan by haar huis, is sy haastig om aan die werk te spring om die beelde op oppervlaktes neer te lê.
Wat sal tog eendag van díe plek word? Wat moet sy in haar testament skryf?

Sonskyndae, met springgety, as die see ver terugtrek, is Tinka op die rotse. Sy pluk mossels, spoel uit en maak skoon. Op sulke dae is dit ‘n doenigheid in die kombuis. Dan kook sy sop, bottels word voorberei en mossels word ingelê met lourierblaar, naeltjies en swart peper. Die lekkerny word dan uitgedeel aan almal wat inloer, kom groet of sommer net bly vir ete en kuier.
Die seeklippe hou Tinka lang ure besig. Sy tel verskillende vorms en kleure op, sorter dit soort by soort. Sy kan ure langs die strand stap om skulpe en klippies op te tel. Soms gaan sit sy sommer op die droë sand en staar uit oor die oseaan, haar gedagtes loop ver paaie. Die see roer haar, die ewige kom en gaan van die branders, die getye. Sy dink ook oor haar lewe… Tog maak die see haar onrustig. Dan gaan sy terug na haar huis. Sy voel of sy swewe, of als sweef in die groot heelal.
‘n Testament? Tinka loop stadiger, sy gee meer en groter opdragte vir Gorrie en Felix. Sy kan nie meer swaar goed optel nie, sy besef sy word swakker. Sy lê snags wakker en wonder. Sy moet ‘n plan maak.
Is Tinka regtig? Is die huis regtig ‘n huis? Is dit nie dalk net ‘n droom nie? Die hele prentjie is eintlik onwerklik. Sy glo aan die goedheid en liefde, Sy is in voeling met die groot heelal. Op helder maanligaande lyk die huis so surreëel, soos iets onmoontlik op ‘n stukkie woestyn…
Op ‘n dag is Tinka weg. Haar huis is weg. Al die stories en prentjies en klippeverhale, die dorpie is weg…
Was daar ooit ‘n testament? Die erflating?
Was dit ooit daar?
Deur ElsaCatharien

