Die bobbejaan val nie ver van die boom af nie

Deur Willem Theron

Een van die lekkerste dinge in my dag is om my ou maat Leon te bel en te vra hoe dit met hom gaan. Om dan klokslag, jaarin en jaaruit, en selfs uit sy bed in die Urologie-hospitaal te hoor : “Klopdisselboom, ou Blou, klopdisselboom. En dan weet ek presies hoe dit met hom gaan, want waar kry jy so ‘n lekker goedvoel uitdrukking in Ingels?! Nee wat, dis net in ons mooiste taal wat jy daai klop-klop-klop disselboom van oupa Willie se perdekar kan hoor as hy daar deur die driffies van die Hartbeesrivier by Kakamas gaan. Ja nee, ou Leon kan nog ordentlike Afrikaans praat (seker darem ook omdat hy al tagtig is).

Nee kyk, as daar ‘n ding is wat my dwars in die knop of in my dop (ag, ek bedoel die krop) steek, is dit dat ons jongmense nie meer ons Afrikaanse spreekwoorde ken nie. En dié van hulle wat nog probeer, span gereeld die bobbejaan voor die osse of andersom. My eie telg bel my een oggend op pad werk toe en vertel dat hy daai dag vinger aan die wiel sal moet sit as hy deur sy werk wil kom. Toe ek hom vriendelik daarop wys dat ‘n skouer dalk beter resultate sal oplewer, was sy verweer dat hy eintlik net bedoel het dat hy vinger sal moet trek. Darem nie skouertrek nie! Ek wou nog voorstel dat hy dalk eerder sy baas om sy vinger moet probeer draai as hy nie oor die vingers getik wil word of sy vingers wil verbrand nie, maar besluit toe om maar eerder stil te bly. Soos ‘n bedliggie wat als sien en hoor, maar tjoepstil bly.

En dan kry jy die ouens wat in briewekolomme rugbyafrigters maan om die bul by die stert te pak, ou koeie uit die sloot te grawe en dan van hulle ontslae raak. En “coach”, onthou hoe meer haas hoe minder hond en val die bal op die grond. Ou Hoffie van Jeffreysbaai stuur toe mos vir my eenmaal hulle firma se fiksheidsinstruksies. So met permissie: “Hierdie firma se werknemers benodig geen fiksheidsprogram nie, want almal kry genoeg oefening met hul daaglikse program. Soos om die bobbejaan agter die bult te gaan haal, die wind uit mekaar se seile te neem, breë rieme uit ‘n ander se vel te sny, klippe in mekaar se pad te rol, die kat in die donker te knyp, mekaar van die wal af in die sloot te help, ou koeie uit die sloot te grawe, die kar voor die perde te span, met ‘n ander se kalwers te ploeg, slapende honde wakker te maak, hulle gewig rond te gooi, berge van molshope te maak, twee rye spore te loop, dooie perde op te saal, stof op te skop, hare te kloof, spek te skiet, jakkalsdraaie te gooi, hase op te jaag, mekaar die loef af te steek en die werkprogram in die wiele te ry.” Inderdaad ‘n besige firma!

Langs my rekenaar is my oorlede skoonpa se kostelike boekie van Kritzinger en Sabbagha, “Afrikaanse Spreekwoorde en Uitdrukkings” wat al daar in die sestigerjare gedruk is. Driehonderd sewe en vyftig bladsye se juweeltjies wat reg is om herontdek te word. Ek sê “herontdek”‘ want ek was verstom om te sien hoe min van die meer as seweduisend spreekwoorde en uitdrukkings nog deel is van ons daaglikse gesprekke. En ons kindertjies en kleinkindertjies staan verstom as jy hul vra wat die of daai beteken. Ek moet maar seker voor my eie deur vee en die boekie weer van hoek tot tand deurwerk voor ek eendag lepel in die muur steek. Terloops, een van die uitdrukkings is juis: “So skaars soos ‘n tweedehandse doodskis.”

So vriende, mag dit met julle klopdisselboom gaan van Dan tot Berseba, maar onthou: Rome is nie in een dag gebou nie! So pak die koei by die horings, maar onthou dis nie die koei wat die hardste bulk wat die meeste melk gee nie. Terselfdertyd kan jy nie ‘n koei die bulk belet nie. En moet maar nie te hard wees op die jongklomp oor hul Afrikaanse taalgebreke nie, want jy het dalk ook nog groen koring op die land.

En om mee af te sluit : “Kinders is ‘n seën van die Here, want hulle hou die mot uit die klere.” Ja, dis so seker as amen in die kerk!

Spring na

100 Jaar van Afrikaans

vir Afrikaanse gedigte, landskappe, boomname en veldblomname
100 jaar van afrikaans
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google