Die Ontwikkeling van ons Afrikaanse luisterlied
Deur Elna Schoeman
Min of meer alles, in die lewe, begin klein.
`n Spontane, eerlike, aanpasbare begin kan oorleef, groei en blom. Afrikaans is in 1925 amptelik as taal erken toe die Genootskap vir Regte Afrikaners al 50 jaar bestaan het.
Maar die Afrikaanse sing-kultuur het met klein treetjies begin.
Tydens die Eerste Wêreld Oorlog het `n 17-jarige Chris Blignaut “Ou Tante Koba”, “Ou Ryperd” en “Jan van Til” in die voorvertoning by stilfilms in Johannesburgse bioskope gesing.en die gehoor was gaande.
Die Soetsangers, Cissie en Willie Cooper het 100 jaar gelede vol sale getrek met ‘n eie orkes en eie komposisies soos “Die Donkie”, “My hartjie my liefie”, “Oom Bossie van die Bosveld” en “Dawid de Lange”. “Jy is my Liefling” wat Min Shaw bekend gemaak het, was ook hulle lied..
In 1938 skryf Stephen Eyssen, sanger, komponis, van veral koorwerke, skilder en skoolhoof “Saam na die noorde, saam met die wa”, as Eeufeeslied ter herdenking van die Groot Trek. “Uit die chaos van die eeue”, “Jan Pierewiet”, “ Ai, ai, die Witborskraai” en “Kimberley se trein”, kom ook uit sy pen en hy toonset o.a. “Wat maak Oom Kallie daar?” deur Langenhoven geskryf.


Toe kom die liedspoor in die eter.Dit was op die radio dat Al Debbo direk “Hasie” gesing het wat Pieter de Waal en Nico Carstens gekomponeer het. Binne enkele dae sing en fluit Suid Afrika:
Jou bruinoog nooi, jou donkerkop, Jou Pannekoek jou lolliepop.
Jou toetsie toet jou sonnestraal, vir jou kom ek nog haal.
Jou suikerriet jou witbeskuit, jou mebos-stroop jou moskonfyt.
Jou heuningnes, jou vleispastei, vir jou wil ek nog kry.
Hasie, hoekom is jou stert so kort? 3x Wat het van jou stertjie geword?

In die veertigerjare neem Hendrik Susan, Afrikaanse ligte musiek” na die mense toe. Hy het musiek gespeel soos “Oom Bossie van die Bosveld” en “Boegoeberg se dam”, en sy geselskap was die eerste dans- en Boere-orkes in die land.
Tot vandag toe het Frans en Sannie Briel, ‘n spesiale plek in Afrikaanse populêre musiek. Liedjies soos “Een aand op `n trein na Pretoria”, “Vaarwel my Mammie” en “Enjin no. 5” wat `n vertaling van `n soortgelyke Amerikaanse lied was, uit hulle pen.
“Een aand op `n trein na Pretoria, die weer was bitterlik koud.
In `n hoekie sit `n meisie, sy lyk vir my skaam en benoud.
Die kondukteur die vra haar `n kaartjie, sy sê sy het nie geld om een te koop,
‘Maar ek moet gaan na Pretoria, al moet ek ook daar na toe loop’”

Betty Misheiker sien die leemte in ons liedere skatkis… daar is weinig kleuterliedjies.
Sy skryf immergroen liedjies soos “Almal dra `n jas”, “Ek`s mier ”, “Ek`s `n dapper muis”, “Die Lappop”. Anna Rudolph raak veral bekend vir “Oom Jan sny Koring op die land”.
Jan Pohl, hoof van musiekprogramme van die Afrikaanse diens dra die welbekende “Daar onder in die vlei stap ‘n mannetjie” by tot ons liedjies. Taffie Kikillus en Danie Pretorius, Boeremusiekmakers, skryf die gewilde “Daar`s `n hele klomp brakke op Turf-fontein”. Jim Reeves neem hulle “Vêr in die ou Kalahari” op!
Pieter van der Byl en Fanus Rautenbach skryf oor die tronk in Roelandstraat, Kaapstad.
O hier`s ek weer in die Roelandstraat
Voor die deur van die magistraat.
O alle basie wat het ek gemaak?
Toe kry ek nege maande bo in die Roelandstraat…
Ben E Madison se “Groen koringlande” en “`n Ruiter op die Windjie” is salwende nostalgie.
Operaster Gé Korsten betree die Luisterlied-genre in 1966 met sy langspeelplaat: “Gé Korsten sing uit die hart”. “Hoor my lied”, “Sing seeman sing” en veral “Liefling” se spore is onuitwisbaar, soos ons steeds op Loftus hoor. Groep 2, Sias Reineke en Gert van Tonder, lewer in 1967 die “Ou Kraalliedjie” en Gert se “Sproeitjies” is immergroen. Nick Taylor is suksesvol met “Stille rivierstroom” en Des en Dawn sing “Die gezoem van die bye” oorsee!
Carike Keuzenkamp, raak bekend met die liedjie “Timothy” uit “Die Professor en die Prikkelpop”. Deur die jare het sy met Bettie Misheiker se kinderliedjies verder geloop met o.a. “Hompie Kedompie” die “Riekietiekie trein”, “Heidi” en Anton Goosen se “Byeboerwa”.
Tot ongeveer 1976 het die luisterlied in Suid Afrika grootliks vermaak en gesus. Maar in 1979 staan ‘n nuwe generasie komponiste en sangers op.


Dit begin met “Musiek en Liriek” aande in kroeë, restaurante, klein dorpies en stede rondom Johannesburg en Pretoria, gevolg deur die gelyknamige TV program. Koerantopskrifte lui “Afrikaans kry `n nuwe klank”, “Die ewolusie van die Afrikaanse lied”. Sentiment maak plek vir relevansie.
“Ek verlang na jou”, “Harlekyn”, “Mooi Griekeland”, “Trein na Matjiesfontein” asook “Waterblommetjies” en “Jantjie” geskryf deur Anton Goosen lewer in 1979 vir Sonja Heroldt vyf goueplate.
Koos du Plessis, teruggetrokke koerantman se eerste plaat “Skadu`s teen die muur” maak opslae. Koos se “Kinders van die wind” gesing deur Laurika Rauch is in 1989 vir nege weke op die top 10 van RSG. Die liedjie word in 2004 bekroon as die liedjie van die eeu.
‘n Toonsetting van Ingrid Jonker se gedig, “Toemaar die Donkerman” is op Laurika se eerste album “Debuut”. `n Wêreld van bestaande gedigte wat goeie lirieke is, gaan oop vir die sangers. Later sou Chris Cameleon `n hele CD publiseer met toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte.
Nou tree Jannie du Toit, Clarabelle van Niekerk, Laurika Rauch, Louis van Rensburg, Koos Du Plessis, Mynie Grove, Coenie de Villiers, Anton Goosen, Lucas Maree na vore. By Jannie du Toit se huis in Pretoria sing en slyp musikante hul nuwe komposisies Vrydagaande van 1981 tpot 1983..
Gereelde besoekers was Koos Du Plessis, Anneli van Rooyen Lucas Maree, Janita Claasen, Richard van der Westhuizen, Ruben Lennox, Karen Houghaardt en andere.
Die eerste “ Afrikaanse Musiekfees” gebeur op 1 Mei 1982.


Anneli van Rooyen neem die konsep van “Kerslig, Vers en Melodie” na die Staatsteater en daarmee kry die luisterlied professionele status en kry die kunstenaars `n verhoog.
Die Alabama Studentegeselskap van Potchefstroom Universiteit se optrede op die platteland maak ligte musiek gewild en bekend en baie sangers het hulle verhoogskoene by Alabama aangetrek, soos Rina Hugo, Johan van Rensburg, Suzette Eloff en Amanda Strijdom.
Jannie du Toit sing steeds, sy eie en ander se musiek. Dis vasgevang op 20+ albums. Hy skryf lirieke en komponeer nog. Hoeveel armer sou ons gewees het sonder “`n Liedjie vir jou”, “Boshoek”, “Die Eggo van jou oë”, “Laat U Koninkryk kom” ens. Die vennootskap tussen hom en Christa Steyn het Afrikaanse musiek verdiep en verryk.. Sy lirieke stem jou telkens tot nadenke:
Uit: Ensemblespel
“… Ligte doof, dik gordyn
Word getrek oor ons toneelspel
Applous het verdwyn
En ons verskyn
In die soeklig van die naakte waarheid… “


Johannes Kerkorrel, gebore Ralf Rabie, tree op die voorgrond in 1986. Sy liedere, in die “rock” styl, het politieke kritiek gelewer, so ook sy band, “die Gereformeerde Blues”. Hy verloor sy werk as joernalis by Rapport a.g.v. die lied “Sit dit af, sit dit af”. Hy begin die Voëlvry beweging, waarvan Koos Kombuis ook deel is. Kerkorrel tree solo op in Amsterdam in 1990. Sy vriendskap met Stef Bos versterk bande tussen België, Vlaandere, Nederland en Suid Afrika.
“Gee jou hart vir Hillbrow” vergestalt Ralf Rabie se hart.
“Kaalvoet kinders in die straat
Wys parkeerplek aan
En hou dan die hand, en hou dan die hand…
Ooh, gee, gee, gee,
gee, gee, gee
Jou sente jou drome, jou klere vol gate
Gee jou hart vir Hillbrow”

Nog `n groot fonds vir Afrikaanse musiek van 1990 tot nou is die bydraes van Coenie de Villiers.
Uit “My kind”
“Jy`s been van my gebeente,
jou vlees is van my vlees…
en as jy ooit sou weggaan,
word ek weer oombliklik wees…”


Net so mooi is ook “Die see by Paternoster”, “`n Hart van glas”, “Daar`s `n plek wat ek van weet”
Laurika Rauch (29 albums) dra “Op Blouberg se strand”, “Groete aan Mannetjies Roux”, “Blou”, “Die Nostalgie”, “Ma en Pa” by.
Uit: “Kyk hoe glinster die maan”…
“Die winde van die winter
Het my kinderhart ontnugter
Ek en boetie kry `n rooi jas in die laai.
Jonk van jare oud van dae
Huil ek hartseer in my kamer,
Want die fantasie het soos `n droom verdwyn…”

Amanda Strydom, kabaretster, trek vol sale met haar warm stem en oortuigende vertolkings. Treffers uit haar pen is “My kamer”, “Ek loop die pad alleen”, “Slippers van satyn” “Sara stoep sit”, “Kerse teen die donker”.
Uit: “Pelgrims gebed”.
“Vader God U ken my naam
My binnegoed en buite staan
My grootpraat en my klein verdriet
My vashou aan als wat verskiet.
Alle Pelgrims kom weer huistoe…”

Stef Bos se bande met Suid-Afrika het opnames saam met kore en ander Suid Afrikaanse sangers tot gevolg. Kosbare juwele stroom uit sy Belgiese pen.
Uit: “Taal van my hart”
“… Vroeër was ek ryk aan woorde
Nou is ek stiller, ek het verander
Hoor die taal van hart
Al klink ek soms gebroke
Gebroke en verward…”

Op die TV blom Steve Hofmeyer in “Agter elke man” en die lied word `n treffer.
Nou kry die Luisterlied bekwame begeleiers soos Christa Steyn, Mauritz Lots, Zanta Hofmeyer, Susan Mouton, Janine Neethling, Matthys Maree, Charl du Plessis en by “Afrikaans is Groot” volledige orkeste.
Christa Steyn se bydrae as liedjieskrywer, sanger, komponis, briljante pianis en begeleidster verdien vermelding. “Geelmadeliefies”, “Aan die einde van die reënboog”, “Eerste liefde”, “Negentien September” is maar `n paar.
Groepe en sangpare soos “Cut glass”, Heuwels Fantasties, Romanz, Drie Tenore, Melktert kommissie, die Cambell`s, Coleske`s, Eden, Spoegwolf, Touch of Class, Wildebeest, “die Broers” se musiek is steeds vernuwende klanke in Afrikaans.
André le Roux du Toit, of Koos Kombuis gee vir ons vele musiek geskenke. “Lisa se klavier”, is `n gunsteling.

Die musiekprogram “Noot vir Noot”, wat Stemmet van 1991 tot 2019 aangebied het, saam met Kunstefeeste en die harde werk van vele kunstenaars, het Afrikaanse luisterliedjies op `n trippelbaansnelweg geplaas.
Randall Wicomb verhef die ou vyftigs se rymelary rympies soos “ Die son’tjie sak mos weg” tot heerlike luister en saamsing musiek. Steve Hofmeyer gebruik die vrot pampoen en stukkende skoen uit, “Die Lappop”.Karen Zoïd sing “Afrikaners is plesierig”, dat jy dit nie kan glo nie…
Saam met Francois van Coke sing sy “Toe vind ek jou”..
Geen pretensie, geen beheer.
Ek het genoeg gegee…ek sweer…
Almal kan assosieer met die nuwe generasie as Jak de Priester sing van Sally Williams nougat:
“Ek het jou dopgehou, met `n jas in jou hand
Deur doeane gespook na `n nuwe land…”

en Josua na die reën sing
“ Breek my hart oop, laat dit reën.
Soms moet `n mens eers sterf om werklik te leef.
Strooi my vrees dan oor die see,
Laat die wind my neem…”
Bok van Blerk (Louis Pepler) word bekend met die liedjie oor Generaal de la Rey.
Elvis Blue (Jan Hoogendyk) skryf en sing akkuraat oor die lewe in “Toe ons jonk was:
Kon ons eet net wat ons wou
Ons kon speel en langpouse hou
Ons was fine daarmee om net hande vas te hou….
en ons ouers was die mooiste man en vrou…
toe ons jonk was…”


Valiant Swart (Pierre Nolte) se Song vir Katryn. Is vol nostalgie:
“Jakaranda strate
Roep my vanaand
Ek luister na die liedjie op die wind
En volg my hart waar hy gaan…”
Snotkop (Francois Henning) word die ikoon van kletsrym en moedig baie kunstenaars om die genre te betree. Sy energie en blatant-eerlike, slim lirieke, is vars en gewild.
Uit “AVBOB se stoep”
Whop daar klap die skote
Vanaand is weer `n grootte
Hier`s hy nou, Aha my bra
Brannewyn is `n bliksem
hy brand maar ek wil inklim
aha , Paklsae

Fatman (Johan Brummer) sing “Ons gaan dorp”….en die kostelike musiek video stel hom bekend aan Suid Afrika.
Theuns Jordaan begin sy loopbaan met Loslappie en “Soos Bloed”, “Vreemde stad” en “Tjailatyd” word groot treffers.
“Soos bloed, so is jy vir my…
Soos asem, vloei jy dwarsdeur my
Soos tyd, so vlieg als verby…
Ek vra jou bly by my
die paaie in my stilraak…

Talentkompetisies op die TV soos Idols, die Kontrak en die uitsending van kunstefeeste, vind nuwe talent. Die afgelope twee dekades is daar ‘n nuwe generasie sangers op die planke en oor die eter. Geen CD`s word meer gemaak nie. Musiek is nou op die internet en dis nie gratis nie. Die treffers is op Instagram en YouTube.
“Bands’ het interessante en oorspronklike name soos “Die Piesangskille”, “Appel”, “ONS”, “Jan,Jan,Jan”, “Heuwels fantasties”, “Spoegwolf”, “Bitterblou”, “Prop”, “Adam”, “Sensasie”, “Danny Smoke” om maar `n paar te noem.
Die ouer oor word geirriteer deur die deurgaans skerp hoë elektroniese klank en die amper oordonderende ritme van elektroniese perkussie wat dikwels die lirieke verswelg.
Opvallend in die nuwe generasie is die sterk tema van landbou in liedjies. Plaas, boer, reën, droogte, damme, beeste en skape word besing. Selfs die skuur-dansbaan met meel op, is gewild.
Daar is `n teruggryp na `n Bosveldkamp en die jag. Vure, hardekole, braaibroodjies, koffie, biltong, braai en brandewyn, sterre, slaapsak, tente en die natuur is gewild.
Daar is ook eksplisiete en suggestiewe lirieke oor boude, soene, kort broekies, vryery en die vuurwarm behoefte aan die ander een se seksie lyf.
Opvallend is die nuwe generasie ouer kunstenaars se liedere in hulle nuwe komposisies. “Neem my op vlerke” is minstens in 3 nuwe liedere kunstig ingewerk. Ivan Roux se liedjie “Pitte” spoeg “Saai die waatlemoen” se pitte uit.
Ruhan du Toit gebruik Rozanne Botha se lied, “Kan `n man dan nie meer groter visse vang nie?” as koor vir `n vrolike vakansielied.
“Sensasie” verwerk Laurika en andere se musiek, met meer “up-beat” agtergrond, baie suksesvol.
Nog `n mooi verskynsel is die wye gebruik van Afrikaanse idiome in die nuwe generasie se musiek. Juanita Claasen gebruik Afrikaanse uitdrukkings in “Oulik verby” soos: “Jan, Jan, Jan jy is `n bielie van `n Bosveldbul”, “Heuning om die mond”, “Kaatjie van die baan”… tipies Afrikaanse uitdrukkings waarmee almal kan assosieer.
Bobby sing “Spieëltjie, spieëltjie, sê vir my”
Gemengde taal, vloekwoorde en Christelike waarhede word gemaklik by lirieke ingewerk.
Streng waterskeidings tussen geestelike liedere, kunsliedere, luister- en dansliedere is weg.
Die nuwe generasie beproef elke opsie.
Ons sing graag saam in die eeu-oue taal en as daar slaggate kom in lemoene, pampoene, polisiekarre en baby`s, maak ons dit heel en beter.
Ons Afrikaanse liedereskat is dinamies, groot, veelsydig en kosbaar.
Ko` laat ons sing…
