Die boerenôi – van tinktinkie tot knipmes!

Deur Friena Scholtz

Eendag, lank, lank gelede, het ‘n lieflike jonge dame met houtklompe aan, hier aan die suidpunt van Afrika, haar vreemde, Hollandse wortels kom insteek. Gou het sy, in hierdie wye en droewe land (N. P. Van Wyk Louw) kennis gemaak met die Khoi-San, die Franse, die Duitsers – en, helaas, die Engelse!

Sy sê self: Ek is ‘n arme boerenôi
By fele min geag
Mar tog is ek fan edel bloed
En fan ‘n hoog geslag.
Uit Holland het mijn pa gekom,
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk waar di druiftros swel,
Myn liwe mooie ma.
– J. Lion Cachet

Natuurlik is Afrika vir bleek, klompdraende meisies nie ‘n plek van maanskyn en rose nie, ons nôientjie het hoofpyn ontwikkel; boererate was gelukkig net ‘n klipgooi ver:

Tiktinkiis bloed en kraai se aptyd;
Fiir lepels honde blaf
Jakkals syn byt en wolf syn huid,
En ‘n ysterfark syn draf.
– C. W. Joubert

Ons boerenôi het sommer vroeg-vroeg gewys dat sy nie ‘n katjie is wat sonder handskoene gepak moet word nie – selfs vir vreemde oorheersing het sy nie die knie gebuig nie:

Engels! Engels! Alles Engels!! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, ons kerke, word ons moedertaal fermoor.
– C. P. Hoogenhout

Boerenooi het haar wortels net dieper in die rooibruin Afrikagrond ingewortel. Sy het gekom om te bly! Handdoek ingooi? Die aftog blaas? Met die kous oor die kop terug Holland toe? Nooit!

Sy ontwikkel haar eie ryk, geskakeerde taal, deur saam met agt jolly kêrels uit die Pêrelvallei (Randall Wicomb) woordeboeke, storieboeke, grammatikaboeke en skole die lig te laat sien sodat haar kinders kon floreer. Sy gee selfs ‘n koerant uit, en later tydskrifte … en mettergaan was haar invloed so sterk dat invloedryke manne soos liewe oompie Neelsie Langenhoven onder haar druk geswig het: hy het sy Engelse geskrifte vir háár moedertaal, soetste taal, ons pêrel van groot waarde, (C. J. Lan-genhoven) verruil! Hy en boerenooi was gou kop in een mus: hulle het saam teen die stamland se Hollands geveg: en kort voor lank kry ons pragtige boerenooi ‘n naam: Afrikaans – en sy kry amptelike status as landstaal!

Eers was sy ‘n fyn tinktinkie:

Telkens as hierdie volk van God afdwaal,
sal hy in Afrika se klip en kraal
herinner word hoe groot Hy is
deur die tinktinkietaal van Totius.
– D. J. Opperman

Tinktinkie sit nie stil nie! Gou word Tinktinkieafrikaans sterker, groter, magtiger – soveel so dat Afrikaans die uitsonderlike eer te beurt val om een van nét drie wondertale-ter-wêreld-status te bereik: ‘n taal wat binne 50 jaar uitgestyg het as Bybeltaal, maar ook as akademiese, ekonomiese, nywerheidstaal: “Koffiehuis” was ‘n huishoudelike naam, en “Volkskas” was op almal se lippe.

Tinktinkieafrikaans het natuurlik dikwels die wind van voor gekry – anders as in Holland (waar daar voorspoed soos water was!) het Tinktinkienooi hier met baie uitdagings klippe gekou! Soms moes sy water in ‘n mandjie aandra, ander kere yster met hande breek … maar Boerenooiplan het geweet sy is uniek!

My volk is geen volk nie maar ‘n volkie
wil ek doodlekker praat dan sê ek my ou volkie
met woorde weet ons meermale geen raad nie
Maar woordjies allamagtag moenie praat nie
dis woordjies hotjies woordjies haartjies
hoe liefies vry paartjies oppie straatjies
ons sukkel nie met name nie glo net in naampies
daarom so baie Japies, Sakkies, Boeties, Braampies
op hierdie ou planeetjie is daar nie nog ‘n volkie
wat met verkleinwoordjies kan werk soos my ou volkie
– Boerneef

Sy wéét hoe om ‘n appeltjie vir die dors te bewaar! Sy ontwikkel ‘n enigmatiese humor wat in haar mond floreer; dis immers iets wat sy tussen stof en hitte agter trekwaens tydens uitmergelende dae geleer het!

“Ja, veertig dae agtereen
En veertig nagte lank gereën –
Dis ‘n rekord tot op hede.”
“Meneer, mag ek Meneer iets vra?”
Maar alte seker, Japie. Ja?”
“Was die boere toe tevrede?”

– AG Visser

Tinktinkieafrikaans bars uiteindelik statig en kleurryk uit haar nate!

Sy laat haar nie knolle vir sitroene verkoop nie! Nie BELA nie, nie vlugtelingstatus beïndruk haar nie! Sy pak sommer die bul by die horings en siedaar! ‘n Spiksplinter-nuwe universiteit, en skole wat haar naam dra, gaan kragdadig voort met Tinktinkie se erfenis! Nie eers rooi hakskeentjies laat hierdie vrou oor die onderdeur loer nie – nee!

Daar skuil vir my iets manliks
in die bot manier van bome
– Ansa van der Walt

Sy ken nét een koers, en dis voorwaarts, want voor in die wapad brand ‘n lig! Sy toor met woorde en idiome, sy skep en pas aan:

  • Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang, (want Adam en Eva het toe ook mos Afrikaans leer praat!) is nie ‘n klein jakkalsie in haar wingerd nie!
  • *** en betaal, is (steeds) die wet van Transvaal (want ons noem hoeka die kind by die naam); ons draai mos nie doekies om nie!
  • Jagters gaan gerieflik bokveld toe en kokke steek die lepel in die dak! Melkboere skop die emmer en kosters hoor die doodsklok lui!
  • Die (o, só beskrywende) “tweegatjakkals” vir draadsitters en manteldraaiers word mettertyd (ongelukkig) eufemisties aangepas na ‘n “tweestertjakkals”.
  • En nét in Afrikaans kan pap “styf” wees, kan jy ‘n “lae” verhoog bou en ‘n “hoë” laagkoek bak! Net ons Boerenooi weet van ‘n “seekoeibul” en sy ken die roep van ‘n “korhaanwyfie”.
  • In Afrikaans kan ons rinkink, skoffel, tiekiedraai, kotteljons, en kattermaai, kwinkeleer, rebelleer én die kat in die donker knyp!
  • Visse word ‘spartelvars’ gevang en meisies loop in ‘knypbroeke’!

Tinktinkieafrikaans groei tot ‘n knipmes – 100 jaar van amptelike taalstatus sing in ons boerenooi se hart – maar steeds is dit het einde niet!

‘n Taal is soos ‘n knipmes, blink
hou hom skerp, gebruik hom flink.
En as jy hom die slag oopmaak
moenie aan sy skerpkant raak,
want soms is hy stomp, soms heel skerp,
hang net af hoe jy met hom werk.
****
‘n Woordmes wat sekuur kan sny
sal jou maklik deur die wêreld kry,
want kan jy nie sê wat in jou kop aangaan
sal die woordtekort jou bly beskaam.
– Lochner de Kock

Afrikaans – nou ‘n woordmes, ‘n knipmes – juig oor

My kat is geel soos ‘n papawer
met oë nes botterblommetjies
en ‘n voetstap ligter
as ‘n sonstreep oor die water.
– Lina Spies

Sy sing in dialekte:

‘n Proefiet van Jesus djy?
‘n proefiet?
Djy met jou palys-hys
Djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
– Adam Small

Want sy het baie monde wat haar koester, haar leef, en bid!

Tinktinkieknipmesboerenôi blom oor die toekoms! Sy weet die Here is steeds haar Herder; Hy hou haar en haar sprekers in sy hand … want

Hy was ons eerste lig oor die visier
Toe die kruitdamp oor Amajuba waai.
– D. J. Opperman

Eenhonderd jaar later bely sy, ‘n woordmes wat onverskrokke en trots sny:

Sy weet

van die woord, waarmee ons blink en vet
visse uit baie waters haal?
– N. P. Van Wyk Louw

Sy is elegant, modern en sjarmant. Sy sien kans om lank en gelukkig te lewe –vlymskerp en gereed vir uitdagings!

Spring na

100 Jaar van Afrikaans

vir Afrikaanse gedigte, landskappe, boomname en veldblomname
100 jaar van afrikaans
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from - Youtube
Vimeo
Consent to display content from - Vimeo
Google Maps
Consent to display content from - Google