Vroue pioniers in Afrika
Ons onthou dapper vroue met waagmoed en avontuurlus wat die magiese Afrika lank terug ontdek het.
Ons droom steeds die droom…
Ons volg in die voetspore van Dian Fossey, Margarete Trappe, Karen Blixen, Kuki Gallman uit die destydse Oos Afrika en meer.
Dian Fossey het haar lewe gewy aan die bergrorillas van sentraal Afrika. Sy is steeds was ‘n inspirierende diereliefhebbers en baanbreker natuurbewaarder.
Margarete Trappe, dogter van ‘n vroue-loods, was die eerste vroulike grootwildjagter in Oos-Afrika en hierdie is haar storie
Skrywer, koffieboer en reisiger met ‘n hunkering na Afrika. Leer Karen Blixen beter ken in ons nuutste plasing.
Dian Fossey
1932-1985
Dian Fossey is gebore en getoë in Kalifornië, Amerika. Sy was van kleinsaf ‘n diereliefhebber, het op ses al begin perdry. As ‘n jong student het sy haar as arbeidsterapeut bekwaam. Sy was altyd betrokke by diere en dit was haar passie. Tog het sy gedroom van die oorvloed van wild in Afrika en het sy begeer om self hierdie ver kontinent te besoek.
In 1963 het haar droom waar geword. Met al haar spaargeld en ‘n banklening, het sy Kenia, Tanzanië (toe nog Tanganjika), die Kongo (toe Zaïre) en Zimbabwe (die ou Rhodesië), besoek. Die laaste twee besoeke was aan die Olduvai Gorge in Tanzanië en Berg Mikeno in die Kongo. Díe besoeke het haar lewe vir altyd verander nadat sy vir Louis Leaky in Olduvai ontmoet het en ook dr George Schaller, baanbreker tov navorsing op berggorillas, in die Kongo.
Dr Louis Leakey en ook dr Schaller het ‘n groot rol gespeel in die vaslegging van haar missie en visie vir haar lewe. Sy het besef dat sy op hierdie ver kontinent wil woon en werk en navorsing doen oor die skaars berggorilla
“I believe it was at this time the seed was planted in my head, even if unconsciously, that I would someday return to Africa to study the gorillas of the mountains.” — Dian, “Gorillas in the Mist”
In die Kongo het sy twee natuurfotograwe ontmoet, Joan en Alan Root. Hulle het dit vir haar moontlik gemaak om onder moeilike omstandighede in die Virungaberge die gorillas te besoek. Nou was haar besluit geneem: sy wil in díe berge kom navorsing doen oor hierdie misterieuse diere, waarvan die wêreld so min weet.
Terug in Amerika het haar pad weer met dié van Louis Leaky gekruis, hy was beïndruk met haar artikels en fotos van haar Afrikabesoek en het haar die geleentheid aangebied om met haar droomstudie te begin. Hy het begin om fondse bymekaar te maak vir so ‘n studie.
In 1966 was die fonds groot genoeg en reëlings is getref dat sy na Kenia kon vlieg. Sy het ‘n ou Landrover met ‘n seilkappie gekry…met die naam Lily, en weggespring na die Kongo en die Virungas. Oppad soontoe het sy by Jane Goodall aangegaan by die Gombe Stream Research Centre waar Jane navorsing gedoen het oor die sjimpansees.
In díe tyd het Alan Root haar gehelp met permitte, saam met haar na die Virungas gery en ook mense help oplei wat vir haar as spoorsnyers kon dien. Hy het ook gehelp om die eerste kamp op te slaan en ingerig te kry. Na sy vertrek, het sy besef hoe alleen sy is. Tog het sy aan die werk gespring en na haar eerste besoeke aan die gorillas was sy opnuut opgewonde en gedrewe.
Sy het gewoond geraak aan die lewe in Kabara. Haar tent was slaapkamer, badkamer kantoor en ook waskamer. Een keer per maand het sy afgegaan tot by Lily, haar Landrover, gery na ‘n klein dorpie om haar voorrade aan te vul. Haar dieet het bestaan uit aartappels en blikkies kos. Vars vrugte en groente was selde op die spyskaart.
Tog het haar studie momentum gekry. Haar spoorsnyer, Sanweke was baie werd en het haar baie geleer van spoorsny. Hulle het drie groepe gorillas geïdentifiseer vir die navorsing teen die hange van Berg Mikeno.
“The Kabara groups taught me much regarding gorilla behavior. From them I learned to accept the animals on their own terms and never to push them beyond the varying levels of tolerance they were willing to give. Any observer is an intruder in the domain of a wild animal and must remember that the rights of that animal supersede human interests.” — Dian, “Gorillas in the Mist”
Dian Fossey het haar eie styl ontwikkel om die gorillas op hul gemak te stel. Sy het hulle gedrag nagemaak: handeviervoet beweeg, aan selderystokkies gekou, haarself gekrap en gevryf en ook hulle geluide nage-aap. Dit het hulle vertroue gewen. Sy het hulle ook geïdentifiseer deur hul neusdrukke, soos vingerafdrukke, aan te teken. So kon sy hulle uitmekaar ken.
Die politieke opstand in 1967 in die Kongo het Dian genoop om haar navorsing te skuif na die Virungas aan Rwanda se kant. Dit het fyn dinkwerk en berekende planne geverg om veilig uit die Kongo te kom.
Mense wat oor haar pad gekom het, het ‘n groot rol in haar suksesverhaal gespeel. Wonderlike bydrae het gekom van Rosamund Carr in Rwanda en ook ’n Belgiese vriendin Alyette DeMunck. Hulle het die wêreld geken en het haar touwys gemaak in die Volcanos National Park, waar sy toe haar navorsing voortgesit het. Hier was meer bestaansboere, meer vee teen die hange van Berg Karisimbi. Dit was ‘n bedreiging vir die gorillafamilies. Tog was sy totaal aangedaan en opgewonde toe sy bo staan en die hele reeks uitgewerkte vulkane kon sien, deel van die Groot Skeurvallei van Afrika…
Hier het sy die Karisoke Navorsingstasie gevestig, ‘n permanente basis vanwaar die werk kon plaasvind.
“Little did I know then that by setting up two small tents in the wilderness of the Virungas I had launched the beginnings of what was to become an internationally renowned research station eventually to be utilized by students and scientists from many countries.” — Dian, “Gorillas in the Mist”
In 1968 het National Geographic ‘n fotospan gestuur om haar werk te fotografeer en te dokumenteer. Die artikel en fotos het haar wyd bekend gestel en ook bygedra tot beter fondsing vir haar navorsing.
Sy het verder gestudeer en met ‘n Ph.D haar studie van die gorillas voortgesit. Tog het stropers en die druk van die plaaslike bevolking vir meer grond en dus ‘n bedreiging vir die natuurlike habitat van die gorillas, haar gedwing om ‘n anti-stropings eenheid op die been te bring. Dit het haar in konflik gebring met die plaaslike mense.
Dit was moontlik om besondere verhoudings op te bou met individuele gorillas soos haar geliefde Digit…wat later doodgemaak is deur stropers. Sy het in hierdie tyd ook die bekende boek, Gorillas in the Mist, geskryf. Dit het aanleiding gegee vir die maak van ‘n fliek met dieselfde titel.
Dian Fossey is kort voor haar 54ste verjaarsdag, op 27 Desember 1985, tragies vermoor. Haar moordenaar is nooit gevonnis nie. Sy is begrawe in ‘n klein gorilla-begraafplaas agter haar blyplek, langs die graf van Digit.
Haar laaste inskrywing in haar dagboek was:
“When you realize the value of all life, you dwell less on what is past and concentrate on the preservation of the future.” — “Gorillas in the Mist”
Lees gerus:
Gorillas in the Mist deur Dian Fossey
Woman in the Mist deur Farley Mowat
Kyk gerus na die fliek:
Gorillas in the Mist
Danksy die pionierswerk van Dian Fossey groei gorillagetalle stadig maar seker. Toeriste kan na die gorillas gaan kyk hoewel dit baie duur is.
Tog word die fondse aangewend vir bewaring.
Daar bestaan nou simbiose tussen die plaaslike bevolking, die parke en bewaring.
Margarete Trappe
1884-1957
Die lewe van Margarete Trappe is ‘n uitsonderlike storie! Haar nalatenskap in die destydse Oos Afrika is en bly merkwaardig. Sy was van Duitse afkoms, maar het later Britse burgerskap aangeneem om haar plaas te behou. Hul tuiste en plaas was teen die hange van Meru, Ngongongare en Momella. Dit was in die distrik van Arusha, in die destydse Tanganjika.
Margarete het van kleintyd gedroom om in Afrika te woon en te werk. Sy was 23, pas getroud met Luitenant Ulrich Trappe, toe hulle in 1906 na die destydse Duits-Oos Afrika geëmmigreer het. Met ossewaens, kokke, geweerdraers, bediendes en spoorsnyers het hul die byna 500 km afgelê van Tanga aan die Ooskus tot aan die voet van Meru. Die uitsig was asemrowend, Kilimanjaro in die verte. Vandag is dit deel van die Arusha Nasionale Park. Die Trappes het geboer met beeste, bokke, perde en hul was liefhebbers van die bos en die wilde diere van Afrika. Hul eerste huis was gebou van piesangblare, later ‘n mooi, stewige steenhuis.
Margarete het as jong vrou ‘n studie gemaak van medisyne en gesondheid in Silisië, Pole. Hier, in Afrika, het sy geïnteresseerd geraak in die Masai se tradisionele medisynes en praktyke. Sy het al haar kennis ingespan om oor ‘n wye gebied mens en dier medies te versorg. Margarete was ‘n uitstekende ruiter. Sy en haar perd, Comet, was ‘n bekende gesig in Arusha in daardie dae. Sy was ook ‘n vernuftige skut en het bekend gestaan as die ‘White Huntress’, ‘n legende in haar tyd. Tog het sy volgens etiese beginsels gejag. Dis dalk hoekom sy ons, tot vandag toe, so bëindruk… sy het alle mense, die natuur en die diereryk met groot respek bejeën. Vir daardie tyd, ‘n besondere kenmerk. Die boerdery was suksesvol; botter is gemaak en wyd versprei, groente gekweek en daar was selfs ‘n blommeboerdery.
Na en tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Trappes ‘n besondere rol gespeel. Na die oorlog moes Duitsland die kolonie afstaan aan die Britte, Margarete en haar gesin het toe Britse burgerskap aanvaar om haar plaas te behou. Alles op Momella was verwoes, hulle moes voor begin. Sy en haar vier kinders was nou alleen op die plaas. Die oorlog het skeiding gebring, haar huwelik is beëindig. In 1928 het sy haar lisensie gekry om as professionele jagter Europeërs op jagsafaris te neem. Hiermee was sy uitstekend en dit het fondse voorsien om die plaas weer op te bou. Sy was bekend daarvoor dat sy veral koninklike groepe van daardie jare in Tangajika geneem het om trofeejag te doen. Afrika se eerste vrou as professionele jagter!
Toe kom die Tweede Wêreldoorlog. Weer is die plaas verwoes, interneringskampe het gevolg vir die hele gesin. Na die aaklige oorlog, het sy teruggegaan na haar plaas, weer reg vir opbou.
Hierdie keer het die klem verskuif van jag na foto- en filmsafaris. Die bewaring en bestudering van die natuur, die diere en die wonderlike stuk wêreld wat sy so lief gehad het, was weer eens haar prioriteit. Sy het met haar nuwe onderneming haar gesin versorg en geleenthede vir haar kinders gegee.
Momella was en is vandag nog ‘n plek waar legendes en mites ‘n misterieuse rol speel. Die stil landskap tussen die twee groot bergreuse, Meru en Kilimanjaro, het vandag nog ‘n spirituele bekoring.
Margarete, ma van vier, ouma en vrou van vele passies en talente, het in 1957 op haar plaas gesterf. Sy is ook daar begrawe. Haar seun Rolf het die boerdery voortgesit. Dit word vertel dat ‘n trop olifante die drie dae voor haar dood om die huis bly staan het, die nag na haar begrafnis by haar graf gaan waak het.
Lees gerus:
Between Two Fires: The African Saga of Margarete Trappe
deur Fiona Claire Capstick
Karen Blixen
1885-1962
Karen Blixen was ‘n Deense skrywer. Sy het ook in Engels geskryf onder die skrywersnaam Isak Dinesen. In Duitssprekende lande het sy geskryf as Tania Blixen.
Karen het 18 jaar in Kenia geleef. Na ‘n mislukte huwelik, het haar skrywersloopbaan meer momentum gekry. Sy het in 1931 teruggekeer na haar vaderland en het Afrika nooit weer besoek nie.
Haar nalatenskap is besonders omdat sy ‘n spesiale bydrae gelewer het tov die verhoudinge met die Masai, as ‘n fynbesnaarde Europeër het sy ‘n sinvolle, passievolle lewe gelei in uitdagende omstandighede in ‘n ver, vreemde kolonie.
Sy inspireer ons met haar stories, haar verbeelding en haar liefde vir avontuur. Afrika was ‘n ontvanklike agtergrond hiervoor…soos nou nog vir ons.
Brief van die Deense Koning: Karen het ‘n leeuvel as geskenk aan die koning gestuur. Sy ontvang ‘n brief as bedanking. Díe brief het sy dikwels op haar plaas as geneesmiddel gebruik, deur dit op ‘n wond of orgaan van ‘n pasiënt te sit. Dit het dan verligting gebring. Sy het later gesê: ,brown and stiff with blood and matter of long ago”
Haar huis se naam was: Bogani house…’n huis in die bos. Die voorstad van Nairobi met die naam KAREN, is vandag op haar plaas en haar huis, as museum kan daar besoek word.
Karen, onder die skrywersnaam Isak Dinesen, was twee keer benoem vir die Nobelprys. Uit haar pe het vele bundels met kortverhale verskyn, asook novelles. Afrika en Kenia, haar plaas aan die voetheuwels van die Ngong hooglande, was haar lewelank vir haar ‘n inspirasie.
Die 50 krone banknoot in Denemarke het in 1997 die portret van Karen Blixen op gehad, haar foto het ook twee keer op ‘n seëlreeks verskyn.
Lees gerus:
Out of Africa,
Babette’s Feast and other stories
Seven Gothic Tales
Shadows on the Grass
Kyk na:
Out of Africa
Babettes Feast