100 Jaar van Afrikaans
Ons vier ons taal!
Studio EW plaas ‘n kort reeks tot die verjaarsdag op 8 Mei 2025. Ons luister na die ligte tred van ons jong taal, ingekleur met beeld en kleur, in ‘n kort reeks: skeppend en vol verbeelding is ons name van voëls, bome, plekname veldblomme, sterrestelsels en nog vele meer.
Geniet saam met ons!

Boomname in Afrikaans:
‘n heerlike erfenis
Deur Marissa Greeff
Withaak, blouhaak, geelhaak.
Wildeappelkoos, wildevy, wildemango, wildekoffie, wildekweper, wildelemoen, wildejambos.
So het die pioniers van ouds met volksname en streeksname probeer om sin te skep vir die woeste verskeidenheid plante van hierdie land met sy ongelooflike biodiversiteit.
Maar vandag, in die klein globale dorpie waarin ons woon het kundiges die behoefte om vanaf verskillende kontinente en in baie tale oor dieselfde plant te kan praat, en daarmee het ‘n dryf begin vir die standaardisering van name vir veral natuurlewe. Daarmee het Afrikaanse volksname of streeksname vir bome ‘n erg bedreigde spesie geword.
Afgesien van kleur en ooreenkoms met mak bome wat hulle geken het, het die ou naamgewers ook ander kenmerke gebruik om bome, struike, klimplante en gewone veldblomme van ander, soortgelyke-maar-iets-anders van mekaar te onderskei.
Ten einde bome wat aan iets anders herinner het ‘n naam te gee. Is ‘n hele boel valses geskep soos valsmaroela, valsmIspel, valsgeelwortelboom, valsgiftou, valskiepersol, valspaperblom.
En daarby was niemand bang vir lang aanmekaargerygde name nie. So is daar ook valspietersieliebos, valssilwerrosyntjie, ‘n akker vol goed met groot blare – grootblaarriviervaderlandswilg, dinge wat by riviere groei – rivierspikkelblaar en geelriviervy en in berge – bergwildemispel en bergdoringklipels en daarby ook die ongeewenaarde vratjievrugbliksembos.
Ander beskrywende name van meer praktiese aard is pypsteelboom, tontelhout, hardekool, lekkerbreek, die alom bekende worsboom, hondepisbossie, basterperdepis, botterlepelbos, snotappel, wurmbasvalsdoring, drolpeer en 1994 se boom van die jaar, huilboerboon. Net sodat julle weet, die vier bome van die jaar (in verskillende kategoriee) vir 2025 is witmekhout, kusrooimelkhout, tambotie en die erg bedreigde Clanwilliam seder – nie juis iets daar vir die binnelanders nie. behalwe tambotie wat aard in sekere Bosveldstreke en die Laeveld..
Woorde en landskap word een
SUSAN ALEXANDER, WINDHOEK
Die Namibiesgebore digter, Daniel Hugo, skryf in die voorwoord van die versamelbundel, Land van sonlig en van sterre, “Dit lyk soms of die Namibiese landskap spesiaal vir digters geskep is. Die wydsheid en die oergevoel wat aan alles – die duine, die berge, die vlaktes, die plantegroei, die droë en nat riviere – kleef, soek onbedwingbaar uiting in die poësie.”
Ek het enkele woordprentjies gaan soek om met mense wat lief is vir Afrikaans én Namibië, te deel.
SUSAN ALEXANDER, WINDHOEK

Tielman Van Lil het die Swakopmund ysterkaai afgeneem.
Ysterkaai
(Swakopmund)
ek staan handeviervoet
gesigkant na die branders
en wyl die koue strome
teen my beskulpte bene klots
slenter ‘n vars geslag vryers
oor my krakerige plankrug
soutbries in die hare
en alte mistig van oog

Die digter van hierdie gedig, Kobus Lombard, het al ses digbundels die lig laat sien. Alhoewel hy in Suid-Afrika gebore is, het hy op Gobabis grootgeword. Hy het die gawe om beelde uit die omgewing te gebruik om toeganklike en ryk verse te skep. Sonder pretensie gebruik hy ‘n beeld uit ons land om sy slapende vrou te teken:
Nagrus
(vir Zouna)
jou silhoeët lê stil
‘n gebed sonder woorde
jou asem vloei onsigbaar
soos ‘n rivier in die Namib


Piet van Rooyen vang die genadeloosheid vas wat hierdie land toon teenoor ‘n arme drommel wat verdwaal het.
kompas
kompas kompas in my hand
waar lê Gochas in die land?
sien jy waar my vinger roer
as jy deur my gaatjie loer
draai bietjie regs van noord se kant
neem ‘n bottel water want
die son kan soms ongenadiglik brand
en ‘n knipmes om ‘n houtkruis mee te kerf
want die pad na Gochas lei ver deur die land
en loop plek-plek
sommer dik deur die sand.



In Emmie Bedeker se eerste digbundel, Die Grondgeitjie roep, skryf sy dat die natuurskoon en eenvoud van Namibië hulle in die land hou. In die volgende gedig gebruik sy die natuurbeelde om ook haar gevoel vir haar geliefde uit te beeld.
Huab-nag
Ek hoor die grondgeitjie roep
daar waar die Melkweg en die Huabrivier saamloop.
In annabome het sterre vasgespoel.
Hoor jy ook die grondgeitjie roep?
‘n Mopanievuur maak ek vir jou
om jou pad hierheen terug te vind.
Luister tog na die grondgeitjie se verlang
hier waar die Melkweg in die Huab loop.



Nog ‘n kort liefdesgedig deur Susan Alexander gebruik ‘n unieke verskynsel in ons land as vergelyking:
Hoe klop my hart my lief …
hoe klop my hart
Rukkend, uit pas –
‘n wildeperd in die Namib


Ek sluit met ‘n gedig deur ‘n ouer digter. Marié Blomerus woon in Swakopmund. Sy het haar verwondering met die sterrehemel in ons land, só verwoord:
Plasse sterre
Plasse sterre
sterremere seë van sterre
by Nossob
staan jy oopmond
verstom
vir die verstommende sterre
so naby dat jy net maar jou hand kan lig
jou oop mond oop kan hou om strome
storms sterre te sluk

