Blog Archives

Neels!

6 Januarie. Wlotzkabaken langs die Atlantiese Oseaan, ’n heerlike sonskyndag oor die woestyn. Dis die einde van die vakansie en almal is al terug huistoe, die jaar moet begin. Ek lees die whatsapp-boodskap.

Graeme, De Rust, ’n skildery van Neels Coetzee, myne…hoe is dit moontlik? Hoe gebeur dit?

Neels Coetzee was ’n vriend van my, van ons, vir jare. Hy was ’n musiekonderwyser by ons hoërskool en het vir Rudo, ons oudste, klavierles gegee. Hy het ons tweede seun, Christiaan, gehelp met ’n kunsportefeulje met sy aansoek vir argitektuurstudie net na die millenium. So het hy, hier op die hoë hoëveld in baie gesinne se lewens ’n besondere rol gespeel. Neels was ’n kunstenaar met vele talente. Buiten sy kundigheid om tieners in die wêreld van musiek in te lei, was hy self ’n besondere pianis. Sy kunsuitlewing het ook oor vele genres in die kunswêreld gestrek; mosaiek, olieverf, potloodsketse , en altyd die klavier… hy het self ure voor die klavier deurgebring, sy slanke vingers vaardig oor die note en sy oë vasgenael op die bladmusiek. Dikwels het hy uit sy kop gespeel, die note op die notebalk, elk op sy plek in sy kop.

Op ’n manier was Neels tog ’n afvlerk voëltjie. Mens het die gevoel gekry dat hy met kneusplekke leef wat net nie heeltemal wou genees nie. Dit het te make gehad met sy ouerhuis en kinderdae. Hy, met sy kunssinnigheid, is nie regtig ernstig opgeneem nie. Mens sou kon sê dat hy steeds geworstel het met neerhalende opmerkings en ’n gebrek aan ondersteuning vir die wêreld wat hy so passievol liefgehad het… musiek en skilder. So asof ’n mineurmelodie in sy kop bly draal het…

Soos ’n ware kunstenaar, het hy ook nie ’n groot ophef gemaak van aardse goed nie. Sy waardevolste besittings was sy klavier, sy boeke en sy palet, kwaste en doeke. In sy wêreld kon hy sy hartsbegeerte uitleef, klavierspeel, verf. Groot was ons verbasing toe hy op ’n dag aangekondig het hy gaan verhuis, Oudtshoorn toe, Karoo toe. Dit was ook sommer gou, toe is hy weg. Sy huis leeg en in sy klaskamer was iemand anders. Hy gee musieklesse in Oudtshoorn, verf waar hy bly en voorsien aan ’n galerytjie of twee. Gou was die kunstenaarsdorpie, De Rust, vir hom ’n versoeking en vestig hy hom daar en geniet die interaksie met ’n mengelmoes van interessante en skeppende mense. Die inspirasie van die groot en wye en oop Karoo, omraam deur ’n horison van kartelberge in skakeringe van blou en bruin, het sy doeke al groter gerek en sy ure gevul. Die musiek het nooit agterweë gebly nie…

Ons het hom genooi om op ons stoep, op die koel en groen hoëveld, ’n klavierkonsert te kom hou. Gaste genooi, stoep vol rye houtstoele gepak, klavier laat stem, konsertklere aangetrek en met lang glase vonkel gewag vir Grieg en Debussey en Scarlatti, Mozart en Beethoven. Hy was ’n meester… in aandpak met sagte wit hemp en strikdas…die stoep en tuin ’n teater…en Neels ’n ster, die akteur, die musiek wat deur hom vloei en almal wegvoer na ’n ander dimensie waar drome leef, ontroerend, meesleurend.

Hy was ook ’n paar keer die virtuoos in die statige wit NG Kerk van George, middaguurkonserte: die impromptu energie van Scarlatti, die romantiek van ’n Amadeus… En onverpoos musieklesse gegee en al meer geskilder, groter en wyer doeke…om plek te maak vir die grensloosheid van Kannaland, daardie vergesigte wat soms so sag en deinserig op die horison verdwyn, ander kere sterk afgeëts die horison beklemtoon. Hy kon voorwaar die gemoed van daardie spesiale landskap aanvoel en op doek weergee.

So sien ons ’n Neels Coetzee in ’n gallery in die hart van Pretoria. In die Eikestad in die suide, hang sy werke tussen groot name… En dit verkoop en bring die verlatenheid en robuuste teenwoordigheid van daardie wêreld, wat sy wêreld geword het, in vooraanstaande huise. Hy verf die droë rivierlope en die ver berge in al die bloue, purpers en karmosyne van die landskap wat deur die son in ’n ewige kaleidoskoop van kleur en diepte getooi word. Maar jy sien die ware prentjie. Nie verdraai of skeefgetrek nie, en hy trek jou daarin…onweerstaanbaar!

Ons gaan kuier vir hom in De Rust. Sy huis hogerig, jy kan ver sien. Ons drink koffie uit ingeleefde bekers, sit saam met die klavier en esel met doek en verf in sy sitkamer , olie en terpentyn die lug vol. Hy vertel van Jans en sy skool, Vlakteplaas. Hy gee lesse daar. Leer die kinders anders kyk, maak hulle oë en ore oop vir ’n droomwêreld. In sy eie huis, wat ook sy ateljee is en sommer ook ’n musiekstudio, speel hy ure aaneen klavier en verf verbete.

Neels, ons het nie ’n skildery van jou nie! Daar neem ons die besluit: hy kom vir ons op Wlotzka kuier, in die Namibwoestyn, dan kom verf hy vir ons ons rooi sandduine en onbegrensde ruimtes. Dit is mos daar ook ’n bietjie soos die Karoo, oop en wyd met skoon winde wat deur eeue heen oor die duine waai. Ons moet tog ’n Neels Coetzee hê! Hy lag sy skamerige laggie, altyd effe ongemaklik met sy eie sukses, of dalk verbaas oor die erkenning vir sy werk. Tog, hy het ’n nuwe staanplek gevind in die Karoo, homself ontdek as ’n mens wat sy nis gevind het. Hy kon daar sy passie uitleef en daar was waardering. Hy kon sy siel daar uitstort op doek of voor die klavier en daar is met bewondering en erkenning na hom gekyk.

Weke gaan verby, dalk ’n maand, ons praat weer. Neels het sy huis verhuur, hy woon nou op die plaas van Jans, Oulap, in ’n klein huisie met deure en vensters wat wyd oopskuif en die buitekant innooi. Dis asof binne en buite ’n simbiose vorm, droom, landskap, die lugruim en die klanke van die klavier… Grense verdwyn, alles word een. Sy kwaste kras oor die doek in sonsondergangkleure en vloeiende lyne, sy vingers speel oor die wit en swart note.

Maar, sê Neels, ek is siek, ek het pyn. Is gereeld by dokters. Ek is bekommerd.

Tog kry hy ’n groot opdragwerk. ’n Besondere skildery van die Klein Karoo vir ’n bekende sakeman in die Kaap. Hy trek sy asem in en begin werk. Hy skilder aaneen. Sy onderwerp is by hom en rondom hom. Hy skilder met dringendheid, dis asof sy onderwerp, die Klein Karoolandskap, oor die rante van die doek tuimel… Hy voltooi en lewer. Nog ’n bestelling volg. Amper skaam sê hy vir wie…

Ek kry ’n oproep. Elsa, raai wat het ek met die geld van my mees onlangse en grootste opdragskildery gedoen? Hy was nooit ’n man vir vertoon nie, het homself ook nie so geag om hom te omring met luukshede nie. Wat sou dit wees?

Ek het vir my ’n vleuelklavier gekoop! Hy staan op my stoep, ek speel en speel, my bladmusiek se ore verweer. Die klanke en die melodieë maak bokspringe oor die veld en plas deur die strome en sit saam met die voëls hoog in die bome…Ander kere …’n heimwee, ’n verlatenheid. Hoor ek legatoklanke in sy stem?

Neels het kanker, ’n aggressiewe kanker. Meer dokters, meer weg, die musiek meer ’n mineurtoon, nostalgie en ’n hartseer oor die landskap…Sy kragte minder vir verf, vinnig uitasem, die kwaste word droog, die bladmusiek op ’n hoop.

Ons gesels die laaste keer. Sê Neels: Elsa, julle het toe nooit ’n skildery gekry nie. Ek wou nog so graag die grens oorsteek na julle duineland, wou dit so graag op my doek vasvang, vir julle… Dit was nie moontlik nie. Ek het my laaste skilderytjie vir ’n vriend gegee wat my ondersteun het die laaste weke voor ek na die hospice gegaan het. Hy het my seer bene gevryf, my geswelde voete versorg.

Dit is goed, Neels. Dankie dat jy met jou werk en droom en lewe ons oë en ore so oopgemaak het en ons lewens so verryk het!

Dit was ’n week voor sy dood.

Nou is dit meer as twee jaar later. Ek staan op ons stoep op Wlotzka, kyk uit oor die woestyn en hoor die branders agter my breek. My foon piep met ’n boodskap: Graeme van De Rust. Hy het van my en my verbintenis met Neels gehoor. Toe onthou hy ’n gesprek en hy weet een ding verseker: hy het ’n Neels Coetzee en dit wil hy vir my gee. Dit is my skildery!

Ek raak yskoud en voel die hoendervleis teen my bene opkruip. Hoe gebeur dit?

Hy is die man wat Neels se bene en voete versorg het toe hy nie meer kon loop nie. In ’n gesprek met Annemarie, met wie ons in Ermelo kort gelede gekuier het, en wat na De Rust verhuis het, het Graeme van my vriendskapstorie met Neels gehoor. Hy het geweet hy moet my vind. Neels het hom ook vertel van ons, van ons konsert en dat ons nog een beplan het.

Pos ek vir jou die skildery? Hoe maak mens nou?

My skildery is nou veilig by my. Ek het dit self in De Rust gaan haal. Twintig oor vier die Saterdagoggend hier weg, gevlieg tot in George, my sussie Lucia het my daar gekry en ons is oor die Outenikwaberge Oudtshoorn en De Rust toe. Ons het in ’n snikhete warm kamertjie vir Graeme ontmoet en die kleinood ontvang. Ons al drie se trane het oor ons warm, rooi wange geloop.

Ek en Lucia en die klein skildery het in ’n jagtershuisie van klip alleen onder ’n strepie sekelmaan in die pikdonker Karoo gesit die nag. By ons vuurtjie gekuier en geluister na die baldadige klaviermusiek van Chopin, die dromerigheid van Debussey, die hartstog van Mozart en die speelsheid van Grieg, saam met die groot stil van daardie onbegrensde wêreld. Dit was so asof jy die vleuel kon sien met Neels in sy aandpak en strikdas meegevoer…’n eenheid van musiek en wêreld, van gees en werklikheid, van gister en vandag… Hy en die vleuel was die onderwerp van die nagskildery, die kwashale die melodie…

deur ElsaCatharien Winckler

gepubliseer in Reisverhale, Saamgestel deur Marissa Greeff, 2016.


Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google