‘n Reisverhaal

Ons moes Ermelo toe. Ná Windhoek, Pretoria en Hartebeestfontein, moes ons Ermelo toe. Dit was hartjie-van-die-winter-yskoud, doodgeryp … diep Hoëveld.

In ons kar, ’n rooi Peugeot 504, was ons twee, ons drie voorskoolse seuntjies en Marion, ons hond. Op pad na ’n nuwe lewe … werk, dorp, mense, plek. Op die Hoëveld, waar dit wyd en oop is en ’n mens ver kan sien … of hoe lui Toon van den Heever se bekende woorde nou weer?

Dit was met die eerste rit dat die dammetjie my aandag getrek het. Rond met ’n hoërige wal aan die onderkant. ’n Ou dammetjie, met wintermos wat aan die wal klou, ’n ingeleefde stukkie waterwêreld daarbinne. Nie vandag se dammetjie nie. Verweer, deurleef, ’n dammetjie met jare se lê agter hom, baie spore …

So het ons, aanvanklik moeilik, maar later wel, nes geskrop op die koel en oop Hoëveld. Maar ons het gery, stad toe en Noord-Transvaal toe, lughawe toe, Middelburg en Witbank toe en met vakansies Namibië toe … Altyd op die pad langs die dammetjie verby.

Moenie dink dit was die enigste dammetjie op die pad nie. Nee! Daar is baie damme : sulke mensgemaaktes met reguit walle met die water opgedam aan die een kant; party sien jy van die water se kant, ander sien jy van die walkant. Daar is ronde sementdamme met ’n krip naby en ’n windpomp … soms sien jy die watertjie wat so saam met die draai van die windpomp spoeg-spoeg in die krip. Daar is ou damme waarvan die walle gebreek is en splinternuwe, oopgevlekte grond met nuwe walle waar die landhere besluit het om nóg water op te vang vir die groeiende kuddes. Hier en daar is daar ’n watertjie wat sommer self begin staan het in ’n laagtetjie in die veld. Maar dié word sommer gou droog.

Dan is daar nog panne ook. Groot en rond, maar nie koeëlrond nie; dié is immers deur die liewe Heer gemaak. Groot en rond en in natuurlike laagtes met riet of daarsonder. Die Hoëveld het baie water… party panne het vars water met plante en voëls, ander lê sommer net so – sonder dier of voël of riet …

So ry ons keer op keer deur die seisoene die pad by die dammetjie verby. In die reënseisoen is hy vol en beur teen die wal. Die mos pak groen rondom en kiewiete is vet en vrolik in die vlak watertjie. In die herfs sak die water ’n bietjie en weerkaats die ryp gras se koringkleur in die ronde poel.

Vele kere in die winter het ons in die vroegoggend daar verbygery, die water in die dammetjie kliphard geys van die koue. Toe was die Hoëveld nog vir weke snags onder vriespunt, ysdruppels aan die drade waardeur jy na die geyste water kyk. Spesifiek dáár het die kar se termometer telkens gewys hoe die temperatuur met ’n graad of twee val. Dan het ons gereeld die kolganse daar gekry, ook maar koud en bedremmeld.

In die lente was dit ’n vrolike gedoente, veral na die eerste reën. Dit was goeie reënjare, die lente was soos ’n geboorte na die slaap-stil winter. Die veld het in ’n verstommende groen uitgebars en die uitspansel het ’n kleurespel van wolke teen die blou lug geword. Dan het die tafereel bo hom in die weerkaatsing op die water herhaal. ’n Mens moes altyd gou kyk; in die ry móét alle kyk vinnig wees!

In die somer was daar klein parmantige gansies vol dons.

Maar dit was veral die afgelope klompie jaar dat die kyk ’n verhouding geword het. Vreemd ja, maar tog. Van ons kant af kry jy eers die stil pan aan die linkerkant, die bloekombos aan die regterkant met die verwaarloosde karavaan wat sommer net daar staan. Dan oor ’n hoogtetjie en plotseling, hier onder jou aan die sonopkant, lê die dammetjie. Jy kan amper jou hand uitsteek en aan die water vat. Die dammetjie lê dikwels loom en half aan die slaap in die son met die waaiende gras in die vallei af. As jy verby is, ’n entjie verder, kry jy weer ’n pan links, die een vol flaminke wat die water pienk kleur en vol patrone maak.

Ek en die dammetjie. Die dammetjie en ek … Nou het ons ook kleinkinders. Hulle het ouma se dammetjie geken. Dit was ’n baken op die lang pad en is keer op keer met afwagting begroet. En dan is ouma ook ingelig van die stand van sake daar. Is die kiewiete daar of die kolganse of vlieg die swerm vinke oor die dammetjie? Of staan die spekvet rooi beeste daar met hul groot dors? Draai die windpomp?

So het ons keer op keer op pad en met ’n vol dagprogram voor na die dammetjie gekyk, ons het gesien wat daar gebeur. In droogtetye het ek swaargekry saam met die water en die wal … die blink water al meer ingedruk deur ’n kring modder wat al harder word aan die kante. ’n Sirkel van droog. Dan het die windpomp, ’n entjie ondertoe, gewoerrr in die wind …

Maar die swaarste was die wal wat stukkend geraak het. Nie gebreek het nie. Soos ’n ou mens wat plooie kry. So het die dammetjie diep plooie in sy onderste wal gekry. En die water het daardeur begin syfer. Eers bietjie-bietjie, en toe al meer.

So met die verbyry, óf suide toe, óf noordwaarts, het my kwelling al groter geword. Waar is die boer? Hoekom doen hy nie iets nie? ’n Mens behoort tog nie onverskillig te staan teenoor sulke verwaarlosing nie!

Ek kan my ook verstout om te sê ek het die dammetjie se versugting gehoor: Help, asseblief!

Die verhouding het wedersyds al sterker gegroei …

Tot op ’n dag. Ons was op pad terug van die vuil en rokerige Witbank en al die kragstasies, haastig af na die skoon lug en oop heuwels, verby die prentjiespan vol flaminke, tot waar my stil dammetjie lê. Maar wat sien ons? ’n Oopgestote stuk grond tussen die dammetjie en die windpomp. Moenie dit vir my sê nie! ’n Nuwe damwal? Ag nee!

Toe maak ek werk daarvan om uit te vind wie die boer is. In die kar, op die pad, begin ek uitvind. Wie het kaart en transport van die grond waarop my dammetjie is? Ek vat nie nee vir ’n antwoord nie.

Tot my verbasing is dit iemand wat ek ken. ’n Gawe jong man. Hy het saam met ons kinders in die hoërskool se marsorkes gespeel. Nogal trompet, of was dit tuba? ’n Jong man met ’n fyn gees, uit ’n goeie familie, mense met aansien. Aha! My kop is deur. Die dammetjie gaan wen …

Ek bel. Heerlik om na jare weer te gesels. Hy is nou groot, al ’n pa van ’n spannetjie. Hy was ’n mooi skoolseun, lank. Ek sien die prentjie. Die jare stap. Nou die rede vir die oproep? Wilhelm, die rede is my dammetjie en die geskroppery onder die dammetjie en hoekom het julle nie al lankal die wal reggemaak nie? En my dammetjie kry swaar …

Watter dammetjie? Tannie se dammetjie? Op my grond? Verbaas.

Ja, sê ek. En ek verduidelik. By die eerste arm pan links verby, dis nou van Hendrina se kant af, dan by die bloekombos met die karavaan verby en dan my dammetjie aan die regterkant, knus teen die pad … voor jy die ryk pan vol lewe weer links kry. Dís die dammetjie!

’n Rukkie stilte. Ja, Tannie. O, dáái ou dammetjie. Dis my swaer. Hy skrop ’n nuwe damwal. Die diere word meer en daardie ou dam is gedaan .

Maar Wilhelm, julle mag nie my dammetjie breek nie! Dis my en my kleinkinders se dammetjie en die kiewiete en kolganse en die groot swerm vinke en die mos en die modder en die reënboog wat soms in die water lê, dis alles ons s’n. En ek wou nog sê die liewe Heer het die dammetjie gemaak en die verhouding is nie net aansit nie, dis regtig … toe sny die lyn uit en ek staan langs die pad met die foon in my hand.

Daar kom ’n boodskap deur. Dankie vir die gesels, Tannie! Ons lyne hier op die plaas maar treurig. Alles wat mooi is! Groete, W

Toe, na ’n week of twee, ry ek weer. Koel watertjie wat ek so stadig, stadig deur ’n strooitjie suig, orrel en saksofoon die kar vol en gedagtes wat ver paaie loop. Nie bekommerd nie. Dink nie eers oor die dammetjie nie. My span is mos nou groot en … by die pan verby, by die bloekombos verby oor die hoogtetjie …

Dammetjie is nie meer daar nie! Sy moedige wal, reg rondom, is meedoënloos platgestoot. Gevoelloos, wreed. Daar lê net ’n hartseer, nat kol. Mos weg. Baie jare se waterlewe weg. Geen voël, geen weerkaatsing. Net droef en verlate …

’n Ent agtertoe staan ’n uitdagende reguit grondwal.. Koel en koud en kil. Kurkdroog.
Hartloos.

Ouma, waar gaan ons weer ’n dammetjie kry? Ons soek, my lief. Maar ek sien nog nie een nie; miskien treur ek nog. Dit was immers 28 jaar… en dis nie meer lekker om die pad te ry nie …

 

deur ElsaCatharien Winckler

gepubliseer in Reisverhale, Saamgestel deur Marissa Greeff, 2016.

Somer- en winterskilderye van die dammetjie deur Drinie Jacob.

Maak kennis met die besondere kunstenaar: Drini Jacob. Kyk by Bydraes.